Bladsye / Pages

Wednesday, February 20, 2013

Kelwyn Sole - Land Dreaming (2006)



Kelwyn Sole. Land DreamingUniversity of KwaZulu-Natal Press, 2006. ISBN 1 869 14078 8.

Resensent: Joan Hambidge

Die sogenaamde langer gedig of prosa-vers het ‘n lang tradisie, onder andere in die Franse digkuns. Binne die Amerikaanse digkuns het veral Delmore Schwartz en James Dickey, twee uitnemende beoefeaars van die langer vers, geimponeer omdat die volgehoue spanning van die gedig nooit verlore gaan nie. Dieselfde geld Ezra Pound en Breytenbach in Voetskrif.

Kelwyn Sole bied sy verse pertinent aan as prosa-gedigte: gedigte wat dan opsetlik die konvensionele struktuur van die korter gedig op sy kop keer. Daar is dus nie ‘n strofe wat ryme herhaal of ander ooglopende bindingsmiddele nie. Maar hoekom lees mens hierdie prosa-verse en jy weet dit is nie ‘n kort-kortverhaal nie?

Is die prosavers dikwels nie maar net ‘n verskoning vir die digter wat nie in staat is om dit in iets korters óm te tower nie?

Die behendige Kelwyn Sole beantwoord al die vrae vir die leser in sy voortreflike bundel waar die gedigte weifel tussen die kort-kortverhaal en die rasegte vers soos ‘n vreeslose touloper wat van een hoë gebou na die ander beweeg, terwyl die skare onder toekyk. Gaan hy val? Gaan hy dit maak?

Oor hierdie soort gedig is al die volgende geskryf: "Just as black humor straddles the fine line between comedy and tragedy, so the prose poem plants one foot in prose, the other in poetry, both heels resting precariously on banana peels." En dit is die woorde van Peter Johnson, die redakteur van The Prose Poem: An International Journal.

Die kort versreëls is hier afwesig, maar hierdie soort gedig word gekenmerk deur fragmentasie, herhaling, ryme en saamgeperste seggings, aldus Johnson. Hierby sou ‘n mens kon voeg dat die prosagedig te onderskei is van die kort-kortverhaal, omdat dit met sterk poëtiese beelde werk.

Bekende voorbeelde is Baudelaire, Jorge Luis Borges, Octavio Paz, Pablo Neruda en natuurlik: Gertrude Stein met haar sterk ekspressionistiese gedigte word hier vermeld. In Afrikaans is Toast Coetzer se “Plaasroman II” (opgeneem in Nuwe Stemme 2) ‘n knap voorbeeld van hierdie soort gedig.

Neruda se bekende “The sea” is eweneens ‘n klassieke voorbeeld.

En Kelwyn Sole beweeg behendig oor hierdie hoë afgrond en laat die gedig in prosavorm vers word. In “Textual Bioscope: a brief history of South African film” neem hy die kleinburgerlike opset van die Suid-Afrikaanse film in oënskou ( ja ook die smart van Katrina), terwyl in die gedig “I live in a house” die Freudiaanse siening van die huis as self ontgin:

I live in a house without gardens or paths or miracles.
I live in a house which is protected from the knives of the street by
snails, birds and incantations. I live in a house which shudders
with the praise songs of passings cars filled with sunglasses and guns and

.........................................

.......I live in a
house which is slowly becoming my body.

Daar is by Sole sterk vormbeheer en ‘n spel met die konvensie. Bykans ‘n soort one-two-chachacha. Hy volg nougeset die patrone van die dans wat hierdie soort gedig inhou.

Of, nes jy dink die gedig gaan oor die glas stort, dan word dit teruggeruk...

“In dreams lurk responsibilities” word ‘n gesprek aangeknoop met die Amerikaanse digter, Delmore Schwartz, eweneens bekend vir sý lang, uitgesponne verse. Die vers van Sole handel oor ‘n reeksmoordenaar en die algemene gevoel van paranoïa wat die moderne stadsmens teister. Die gedig word met verdere sub-tekste gelaai wanneer ‘n mens weet dat Schwartz vir lank in ‘n lykshuis gelê het as ‘n onbekende...

“With Mayya in the dark” gebruik die konvensie van musiek (as interspel) om ‘n liefdesbegeerte te verwoord.

Daar is verse wat striemende kommentaar lewer op die verval en misdaad van die nuwe Suid-Afrika, van vertreuselde drome...

“This is not a chain letter” sinspeel op al daardie e-posse wat ‘n mens ontvang (ongevraagd). Hierdie een is uit Dar-es-Salaam en jy kan gebruik maak van die spirituele dienste wat jou teen die booshede sal beskerm!

Die bundel tree in gesprek met die alledaagse folklore van die nuwe Suid-Afrika in al sy gedaantes. Daar is dikwels ‘n siniese blik op die wêreld; hoe dan anders en gedagtig aan Sole se polemiese stukke in die verlede oor die rol van die digkuns binne ‘n gemeenskap, lewer hierdie gedigte skerp kritiek op ons gemeenskap en nuwe magsvergrype.

Pietersburg is immers nou Polokwane (“Gardening tips”) en die digter imponeer met sy enorme kennis van Afrika-terme en voëllewe. Hierdie satiriese gedig (wat eindig met die versugting dat ons ‘indigenous’ moet dink!) wys op die grotekse misverstande tussen kulture.

Die gebruik van droom/drome word ‘n leitmotif in hierdie bundel wat ook die voorheen-stemlose persoon aan die woord stel.

Die leser word van ‘n handige glossarium voorsien en goddank die Afrikaans in hierdie bundel is korrek!

Dit is ‘n bundel geskryf met ‘n sterk, beslis nie weifelende, hand.

Terloops, James Dickey, die digter was ook verantwoordelik vir die roman Deliverance waarop die uitmuntende film gebaseer is. Hy het verder beroemdheid verwerf vir sy uitpsraak dat hy die digter Sylvia Plath se digkuns absoluut pateties en selfingenome gevind het. Min uitsprake ewenaar egter sy gedig “Affair” waarin die wanhoop van twee minnaars in ‘n motel uitgebeeld word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]