Bladsye / Pages

Wednesday, February 20, 2013

Stephen Gray - Shelley Cinema and Other Poems (2005)



Stephen Gray. Shelley Cinema and Other PoemsProtea Boekehuis, 2005. ISBN 1 86919 095 5.

Resensent: Joan Hambidge

Stephen Gray het veral bekendheid verwerf as ‘n kenner van sowel Herman Charles Bosman se lewe en werk as oor Beatrice Hastings, die skrywer bekend om haar vele skuilname, se letterkundige bydrae. Ms. Hastings was vir ‘n ruk lank Modigliani se minnares. Gray het eweneens belangrike werk as kritikus gelewer waarvoor hy ‘n paar jaar terug bekroon is.

In 1994 verskyn sy Selected Poems en sy jongste bundel – ‘n nogal lywige een daarby – heet Shelley Cinema.

Dit is ‘n bundel wat spreek van geweldige erudisie en ‘n behendige omgaan met die Engelse en groter Europese tradisie. Dit spreek van sarkasme, satire en dikwels ‘n aserbies-bitsige blik op die menslike lot.

Die punt is: jy kan hierdie bundel nie neersit nie. Jy word aangegryp deur die kamp-aanslag en die dikwels meedoënlose raakklap van dit wat die spreker erger, irriteer of besig is om op te stuur. (‘n Freudiaan sou vermoedelik kon wys op ‘n obsessie met vroulike geslagsorgane, veral van koeie, gevind in ‘n McDonald’s Burger of  ‘n Italiaanse salamie.)
En hoekom nie?

As Roy Campbell moedeloos uitgeroep het o waar o waar is die “bloody horse” in die Engels-Suid-Afrikaanse poësie, dan vra Gray dit steeds. Syne is waarskynlik ‘n satiries-spuitende perd, maar die behendigheid het my dikwels geïmponeer.

“Shelley Cinema”, die titelgedig wat die voorlaaste afdeling behels, karteer Shelley en Mary, die skrywer van Frankenstein, se lewe. Die lang epiese vers word ‘n verslag van die impak van die Twin Towers se val op ons psige. Die gedig is grieselig in aanslag, en mag selfs onbehoorlik wees vir sommige lesers.

and above the Twin Towers the smoke
        of human flesh appals,
poor Shelley is roasted now, his blue
            eyes like broken glass,
and all the charred smoke rises and rises    (p. 80)

‘n Soort postmodernistiese fantasie soos David Lynch se Blue Velvet.

Die digter bely dat hy Italiaans begin leer het en die gesprek met Montale en probleme rondom die vertaling van ‘n ingewikkelde digter, is uiters leersaam. 

Soos dit ‘n skerpsinnige kritikus en leser betaam, word tersaaklike kwessies van die dag onder vers gebring: die graf van Sarah Baartman; die ironie dat Senghor ou konserwatiewe digters vertaal het soos Yeats, Eliot, Hopkins en Dylan Thomas. (Hoe ironies klink die pryslied van Jeremy Cronin nie op nie! Hy spreek die hoop uit, op die agterblad, dat die digter nog vir baie jare prolifiek sal bly dig. En ja, uit Cronin se werk weet ons dat die regte politieke sentimente en ‘n goeie gedig het nie veel met mekaar te make nie. Cronin is ‘n verbluffende digter desnieteenstaande sy politieke sienswyse.)

“On a Lock of Pushkin’s Hair” word die “neat poetry” van hierdie digter geplaas teenoor ‘n nuwe sosiale orde, terwyl in “Chain letter” die digter die konsep van die kettingbrief gebruik om die impak van ‘n gedig op die leser te beskryf. Wanneer jy dan hierdie gedig ontvang, moet jy iemand soen wat jy liefhet...

“Send no money. Do not ignore this poem, it works” (p. 67)

Gaan lees gerus hierdie gedig!

Die bundel begin myns insiens met minder imposante verse soos “David at Settlers bar" (p. 13) en die weergawes van seksuele plesiere is vir my smaak nie altyd genoegsaam tot gedig omgetower nie.

Is die ervarings dalk nog te na aan die spreker/waarnemer?

Die knap reeks "64 Short Poems" wys Gray op sy beste: ‘n skerp waarneming – ook ‘n katterige een – word in ‘n kwatryn opgevang. Dit is hier waar Gray sy skerpste sintuig openbaar, naamlik daardie onvertaalbare Engelse kwaliteit: ‘wit’.

“Somewhere over the Rimbaud Nation” heet een en hy speel klaar met Kelwyn Sole se politiek-korrekte verse en akademici se breedsprakige artikels wat hy gelukkig as kladpapier kan gebruik!

Enige mens, instansie of persoon wat hom of sigself ernstig opneem, word hier opgestuur. Met ‘n skerp satiriese pen. Krog se digkuns waarin die man uitgestal word of selfs ‘n bisarre fantasie waarin Olive Schreiner in Playgirl aangetref word.

On Some South African Poets

About reviewers they complain in long retorts:
I’m there with you, I also undergo ‘em:
Misread, misunderstood, however much they hate bad sports
I sympathise, but where’s the bloody poem?   (p. 93)


On Some South African Academics

From theses to faeces they externally examine,
From Plaatje to potty-talk they theoretically strain;
Publish intellectual words on dunnies full of turds and jasmine –
Scented Sanpic. Their pages do absorb, I can’t complain.  (p. 107)

En die volgende Auden-aanslag het my laat glimlag:

The Louvre

Which way to the Mona Lisa?
Beyond the allegory of this world
And all its ills, and about Africa
They were always wrongt, the old masters.   (p. 105)

En inderdaad bly die vraag staan : waar is Roy Campbell se vurige aanslag in die huidige plaaslike Engelse digkuns? Of is jonger digters tog besig om vuriger, driftiger en minder polities-korrek te dig?

Ek dink daar is beslis dinge aan die roer!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]