Bladsye / Pages

Wednesday, February 20, 2013

Zoë Wicomb - Playing in the light (2006)



Zoë Wicomb. Playing in the light. Umuzi, 2006. ISBN 1 415200017.

Resensent: Joan Hambidge

Politiek-korrekte romans mis dikwels die werklike krag van die groot roman wat buite die gemeenskap se kodes en klassifikasies op die universeel-menslike ingaan. Diegene wat sou dink dat Zoë Wicomb se jongste roman Playing in the light – ‘n uiters ironiese titel - in hierdie kategorie val, begaan ‘n fout.

Dit is ‘n roman in die post-apartheid, nuwe-Suid-Afrika gesitueer met ‘n volledige analise van menswees. Wicomb doen dit uiters intelligent want dit gaan om hierdie roman om’n soeke na universele identiteit: hier dan die wit/swart-kwessie wat in uiters vernuftig ondersoek word in die roman. Die leser is bykans in Sjinese boksies, waar die een ontdekking lei tot ‘n volgende...

Wicomb, gebore en getoë in Namakwaland, laat haar hoofkarakter dikwels Afrikaanse woorde gebruik, maar heeltemal korrek as in die meeste Engelstalige romans. Tans woon sy in Glasgow waar sy onder andere kreatiewe skryfkursusse aanbied aan die Universiteit van Strathclyde.

‘n Vrou, Marion is die eienaar van ‘n reisagentskap, maar alreeds in hierdie bedryf word haar vreemde lewenshouding beskryf. Sy het weliswaar nie ‘n reisfobie nie, maar tog wonder sy: waarom sou mense die wêreld eerstehands wou sien in hotelle waar die higiëne bedenklik is, waar ‘n mens moet onderhandel in ‘n vreemde taal en gewoontes probeer verstaan, alles binne die duur van ‘n paar weke? ‘n Mens sou dit tog in films of op televisie net so goed kon sien...

Dit alles meen sy het te make met die moderne wêreld se beheptheid met outensiteit (p. 40) en hierdie passasie is van belang vir die res van die roman in die soeke na identiteit en bloedbande. Die beskrywing van haar verhouding met ander word uiters oortuigend hanteer.

Deurgaans word die simbool van die meermin (ons hoor dit alreeds in haar naam) om die proses van transformasie aan te dui en die gevoel van die “unheimliche” vir die leser verder te beklemtoon.

Die helder beskrywings van Kaapstad – veral Tafelberg – en Clanwilliam verdien vermelding. Leipoldt maak hier ‘n buiging en wanneer Marion Skotland besoek, verwys sy na F.W. Reitz se “Klaas Geswind en syn perd” wat gebaseer is op Burns se “Tam O’Shanter”. Marion onthou in die vreemde die bekende reëls so:

Aleksander Klipsalmander
Trap hulle algar met malkander

 ‘n Mens vind in hierdie oorrompelende roman dikwels verwysings na die Afrikaanse leefwêreld en uitdrukkings soos “Ag” wat die gevoelslewe van die karakter benadruk. ‘n Mens kry eweneens die gevoel dat die roman dalk in Afrikaans bedink is en toe in Engels geskryf is?

Op ‘n vernuftige wyse verskaf Wicomb vir die leser sleutels in haar roman. Sy verwys na Nadine Gordimer se The Conservationist en J.M. Coetzee se In the Heart of the Country. Deur háár karakter se, nogal naïewe reaksies op hierdie twee romans, en op Afrikaanse gedigte, word die roman van ‘n wyer reikwydte voorsien. Só sluit sy aan by ‘n tradisie van ontheemding en die soeke na identiteit. Marion bely dat sy “a colonial at heart” is; tog doen hierdie roman presies wat postkoloniale tekste doen: die reis in die verlede in en die soeke na die komplekse (ras)oorspronge is so kenmerkend van wat Cixous “nostalgeria” genoem het. ‘n Nostalgie oor Afrikaans slaan soms deur wanneer die karakter Afrikaanse klanke oproep.

Die leser bly deurgaans bewus van hoe die landskap ervaar word.

Die roman het my geboei vanweë die skerp spanningslyn en die ontdekking van nuwe ‘waarhede’ en die besondere boeiende beskrywing van onder andere Clanwillian en Skotland. Boonop eindig dit ‘n slim wyse wanneer dit blyk dat Brenda, haar swart werker, ‘n storie beoog oor Marion se vader se lewe. Lojaliteit word dus so bevraagteken en nog Sjinese boksie as’t ware geopen, al word die deur met ‘n klik-geluid gesluit.

“Playing in the light” is die beeld wat sy gebruik om bruinmense se “playing for white” voor te stel. Maar met ‘n besoek aan ‘n biblioteek ontdek sy dat hierdie posisie buite enige sisteem bestaan.

Dus ‘n enorm aangrypende roman wat uiters vaardig geskryf is. By ‘n tweede lees, sien jy die slim spel met voete en lig; die belangrike intertekste wat die leser op die spoor bring van universele kwessies.

Die verhouding met Geoff en die herinneringe aan Annie uit die verlede word eweneens raak beskryf. Outa Blinkoog kan die leser sien voor haar.

Veral Marion se binnespraak word helder beskryf: wanneer sy die Magic Box uithaal om die foto’s van haar ouers en hul huwelik te bekyk, word die pynlike implikasies van hul lewe vir die leser oorduidelik.

Ek was mateloos onder die indruk van hierdie roman se vlotheid sonder om ooit die komplekse temas van leuens/verraad/voorgee te verloën.

Toni Morison en J.M. Coetzee het vorige romans van Wicomb hoog aangeskryf en hierdie roman verdien alle blootstelling, sowel binnelands as buitelands vanweë die genuanseerde, nie-raserige wyse waarop die tema aangebied word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]