Bladsye / Pages

Sunday, February 3, 2013

Johann de Lange - Tweede natuur (2000)



Johann de Lange. Tweede natuur. Tafelberg Uitgewers, 2000. ISBN 0 624 03923 4.

Resensent: Joan Hambidge

Johann de Lange se digkuns het die kontoere van die Afrikaanse kanon verander en veral in sy bundel Nagsweet (1991), het hy die terrein vandie grensoorskrydende diskoers betree.

Telkemale vernuwe hierdie skrywer homself. Beskryf hy die gewaarwording van die "vleiswond" of dit "wat sag is vergaan". De Lange is nie net digter nie. In Vreemder as fiksie (1996) het hy ook die postmoderne terrein betree in verhale wat die grense tussen fiksie en werklikheid problematiseer. Dikwels tot die chagrin van die behoudendes wat net op die teksoppervlak die verhale as 'skokkend' of 'gewaagd' lees.

Selfs die Vrystaatse Biblioteekdiens het 'n paar jaar gelede 'n verslag - vir 'n aand se lekker lag - oor Nagsweet uitgebring en ek dink die Vrystaatse joernalis, Andreij Horn moet verbied word om ooit weer 'n ernstige boek in hierdie land te resenseer.

Sy jongste bundel verhale heet Tweede natuur waarin die sogenaamde beginsel van distansie ondersoek word.In dieselfde mate as wat die skryf van 'n gedig vervreemding impliseer, is die seksuele opwinding gekoppel aan die gebruik van Ecstasy (E) 'n dimensie wat hier bevreemdend en "nuut" ondersoek word.

Die skrywer het sy voorgangers in William Blake, Coleridge, De Quincey, in Last exit to Brooklyn, in die werk van die sogenaamde Beat-generasie (Kerouac veral), in die digkuns van Allan Ginsberg en Thom Gunn. Daar is ook Hunter S. Thompson se Fear and loathing in Las Vegas. Ook die films van Rainer Maria Fassbinder en natuurlik Polanski. Ook The Exorcist behandel ook hierdie dimensie van die "ander blik".

Soos die titel egter aandui, is die skrywer op soek na 'n diskoers, naamlik die beskrywing van die Ander. In hierdie dun, maar veelsinnige boek, is die Ander 'n vervreemdende ervaring van die Self soos gesien in spieëls van toilette. Jacques Lacan wat waarskynlik van die belangrikste studies oor die vorming van die self geskryf het, se eerste studie het terloops oor paranoïa gehandel. En hierdie emosie is dikwels aanwesig in die vertellinge van hallusinasie en van geld skuld aan dwelmhandelaars en polisie wat kan toeslaan.

En dit is juis hierdie méconnaissance of mislesing van die self wat De Lange so goed vasvang. Die nosie van die self is vir Lacan een van versplintering, van nabootsing, van 'n soeke na die Ander wat die weergawe of projeksie van jouself is. Nou is dit so dat skrywers op 'n primitiewe en primordiale vlak hierdie soort problematiek uitwerk wat waarskynlik net bewys hoe "waar" hierdie soort ervaring is.

Toe die film Trainspotting so opslae gemaak het en by die jeug gewild was, het ek gedink: 'n mens moet hierdie fenomeen probeer verduidelik. Hoe gebeur dit?

Dieselfde geld die beskrywing van die sogenaamde rave-kultuur. Waarom word mense deur E aangegryp? De Lange ondersoek al hierdie kwessies in 'n boek wat 'n mens eintlik van agter na voor moet lees (al is die hoofstuk-indelings rondom die drugnaam gebou).

Daar is iets sjamanisties in hierdie verhale wat tyd/ruimte, begin/eindes ophef en gelykstel. Die openingsverhaal "strip poker" speel in op die mens se ontmoeting met die duiwel en De Lange aktiveer, terloops, in al hierdie verhale die Groot Boek en Dante se Heilige Komedie oor die Hel en Hemel.

Boonop 'n variasie op die Walpurgisnacht. (Hier is die verblufde ek se diere die offergawe wat die leser in die maag tref.) Met die lees van hierdie slot word die leser subliminaal voorberei op die offergawe wat volg. Die spreker self "offer" sy liggaam vir dwelms en seksuele plesier.

De Lange verwys ook na sy persona as "Johann", as 'n naked I wat paradoksaal bevreemdend inwerk op die leser se ervaring van die gegewe. In  die tweede verhaal is daar dan ook kodes waarin 'n soort Danteske hel beskryf word met die plesier (en angs)wat die ervarings meebring. The unbearable fuckedness of E-ing staan daar op bladsy 21.

Daar is talle passasies wat 'n mens wil aanhaal. Die verwysings na die weerwolf of in opposisie hiermee, Alice in Wonderland.

Oor presies wat in die bewussyn gebeur, word baie goed (en digterlik) beskryf (soos veral op bladsy 52, 65, 73: "My kop is 'n groot biblioteek van beelde & kennis & tyd. My tong is 'n dealer wat visoene verkwansel. Dr. Hoffman wat op sy fiets ry, die bekende straat omgeskep in 'n Dali-landskap.")

Johann de Lange skryf net oënskynlik oor die rave-kultuur. Onder draai die duiwels van 'n allemintige aantal Middeleeuse en moderne tekste rond.  En dit wil gedoen wees om jou verwysings so netjies te verdoesel. Dis veral vir die chemiese generasie maar ook vir diegene wat 'n behendige stuk skryfwerk wil lees waar selfs Van Wyk Louw se Gestaltes en diere aanwesig is.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]