Bladsye / Pages

Saturday, February 2, 2013

Louise Viljoen - Ons ongehoorde soort (2009)



Louise Viljoen. Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie KrogSun Press , 2009. ISBN 978 1 920109 98 1.

Resensent: Joan Hambidge

Louise Viljoen is ‘n gesaghebbende literator en veral haar werk oor Antjie Krog en Breyten Breytenbach kan as belangrike bydraes in ons literatuur beskou word. Ons ongehoorde soort is ‘n versameling van artikels wat in boekvorm verskyn by Sun Press. Op die buiteblad staan Lady Anne in ‘n koringveld: met ‘n das en baadjie aan. Die foto som haar ambivalente posisie as digter op. Mannin en boerdogter doer uit Kroonstad. Sy het immers op die skoolbanke al aandag getrek met haar grensoorskydende, eerlike, kompromislose verse. Die jong dogter wat na die onnie met haar seksuele ogies kyk, ‘n vers skryf vir haar ma en vanaf ouderdom agtien die Afrikaanse digkuns verryk én verruim het met haar lyflike en politieke gedigte.

Dikwels was daar omstredenheid oor haar politieke posisie (hieruit vloei Relaas van ‘n moord); ‘n ovulasie-kaart laat feministe proes en die ouerwordende grootmoeder
gebruik die p-woord en gooi haar pis in die blombedding.

Viljoen karteer die volledige Krog in hierdie ryk geskakeerde en uitgebreide studie wat veral op die digkuns fokus. As die leser nie vrede het met Krog se liggaamlike uittogte nie, verduidelik Viljoen vir ons presies hoe dit inmekaar steek: die groteske aldus Bakhtin en die abjekte volgens Kristeva gee vir ons sleutels. Veral twee strome word in haar werk deur Viljoen gekarteer: die stryd teen die Afrikanernasionalisme en die deelname aan die bevrydingstryd en dan die opstand teen die mangesentreerde samelewing waarbinne sy haar bevind. (Hierom dan ook die verse waar sy in opstand kom teen Opperman en die kanonisering van die Afrikaanse digkuns.) Juis deur die vroulike liggaam as grotesk voor te stel, soos in Verweerskrif gebeur, word die samelewing se siening van die vrou as afwykende geparodieer, argumenteer Viljoen (220). 
  
En dit is wat hierdie studie so leersaam en nuttig maak. Viljoen knoop al die drade saam en die Krog-leser (-liefhebber) kan dus deelneem aan ‘n gesprek oor hierdie komplekse digterskap.

In die nege afdelings word die vroulike tradisie; die geskiedenis, die teks as transparent; identiteit in ‘n postapartheid Suid-Afrika; die reisende digter; vertaling(s); die verhouding met die biologiese moeder onder die loep geneem.

‘n Boeiende, en waarskynlik onbekende bydrae van Viljoen, is die vergelyking van ‘n gedigsiklus van Leipoldt met ‘n siklus van Krog. Beide siklusse word teen ‘n prosateks van die outeur geplaas en die verskille word vir die leser oopgemaak. Die reis met ‘n poësiekaravaan tot Timboektoe word ‘n ondersoek na mites en legendes. Dit weer heraktiveer Leipoldt se sieninge van sy reis deur ‘n eksotiese landskap.

Skuldgevoel, plig, begeerte, transgressie – alles psigologiese merkers van die reisende digter, voer Viljoen aan in navolging van ander teoretici en sy kontekstualiseer haar sieninge. Oraliteit is eweneens ‘n belangrike aspek van Krog se digkuns, veral omdat sy bely in gedigte dat haar verse in klank(e) onstaan. Dit word eweneens deel van ‘n hibridiese werkswyse. Krog is immers die Dogter van Jefta, altyd buite die orde van haar samelewing én die nosie van aanvaarbaarheid. 

Viljoen verduidelik vir die leser die belangrikeid van ‘digter wordende’ in plaas van digter wees / is. Dit is hierdie proses, hierdie durende soeke na identiteit, wat die digkuns van Antjie Krog al vir soveel jare belangwekkend maak. Krog verskuif telkens veilige grense en Viljoen verwys na die hoofkarakter in J.M. Coetzee se Diary of a bad year (2007) se reaksie op ‘n Krog-voorlesing oor die radio! (203).

“A brave spirit”. Dis hoe ‘n mens hierdie digterskap kan opsom en danksy ‘n deeglike en sober leesverslag van Louise Viljoen word die belaglike aanvalle (soos die gebruik van vloekwoorde en “poetry”) op Krog se digterskap netjies onthoof.

Die studie is voorsien van ‘n nuttige indeks wat die speurtog vergemaklik. Dit is ‘n teks wat elke dosent behoort voor te skryf. Die studie is teoreties op datum en Sun Press verdien alle lof. Ongehoord dan in die sin van wat nog nie gehoor is nie, en waarvan nog nog nie kennis geneem is nie.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]