Saturday, April 24, 2021

Rubriek | Vuur en biblioteke | 2021


Hoe beskryf 'n mens die enorme impak van die brand aan die Universiteit van Kaapstad?
 
'n Brandende biblioteek. Die verwoesting wat alles tot roet reduseer.

Verlede week ontmoet ek en my kollegas en ons is vuur en vlam (ja kyk na die beeld) oor ons werk. Om die studente werklik te sien, behalwe vir die verpligte aanlynklasse, maak ons blymoedig. Die lesings vóór Sondag 18 April is wonderlik. As dosent van die poësie doseer die uwe kanonisering en hoe verdwene digters altyd terugkeer. Soos Olga Kirsch, byvoorbeeld, wat nou onlangs deur Johann de Lange en Bernard Odendaal in hul onderskeie digbundels vereer word.

 

Ek skryf aan my lesings Sondagoggend sodat ek dit kan oplaai Maandag. Oor die lykdig in Afrikaans en die teorie van Barthes en Eco. Die tekensisteme ín gedigte. Semiologie en semiotiek. Die teken as teiken. Die teikenende teken.

 

Sondagoggend lui my foon. 'n Kollega deel my die nuus mee van die brand en die hele Sondag ontvou dit soos 'n film in slow motion.

 

Is jou boeke veilig?

 

Sowat 'n jaar gelede het ek boeke uit my kantoor boks vir boks van die kantoor af huis toe gebring. My huis, alreeds 'n argief-cum-biblioteek, was reeds oorvol. My buurman bou vir my rakke in my garage waar die ander boeke beskut staan.

 

Digbundels, romans, reisboeke, teoretiese handleidings ...

 

'n Vriendin se seuntjie van 7 skud die kop, omdat ek dan in 'n biblioteek bly? Selfs die kombuis het boekrakke. 'n Lewe-met-boeke. Toe my reistas eenkeer te laat in Bogóta aankom met Air France (Air Chance?) se ewige stakings,  is ek meer besorg oor die verlies van Louis Eksteen se Afrikaanse sinoniem-woordeboek as my klere. Blymoedig is ek wel toe Umberto Eco ook uit die tas spring.

 

Waarheen neem hierdie brand 'n mens ? Dat alles van waarde werklik weerloos is? Dat alles val wat pronk en sieraad was? Na Edmund White se The burning library? Oor die geskiedenis van biblioteke wat al afgebrand is in die geskiedenis? 'n Onder-grondse biblioteek in Varanasi?

Dertigduisend boeke het glo in die semiotikus, romanskrywer en kenner van die Middeleeue, Umberto Eco (1932 - 2016) se private biblioteek gestaan. Vir hom was die konsep anti-biblioteek die uitdaging. Hoe meer jy lees, hoe meer ongelese boeke sal daar steeds op jou rak bly staan. (Umberto Eco’s Antilibrary/ Why Unread Books Are More Valuable to Our Livesthan Read Ones – Brain Pickings. Besoek 19 April 2021).


Wat hy egter van ons ellende sal maak, is wel duidelik, hierdie man, altyd met 'n sigaar in die hand die ene sprezzatura (bestudeerde nonchalantheid). Jy kan wél filosofeer oor die anti-biblioteek as dit bestaan.

 

Sondagoggend lees ek Leipoldt vir 'n lesing om iets te sê oor sy lieflike landskap- en reisgedigte. Gelukkig hoor ons sekere dokumente het bewaar gebly en die Bolus herbarium glo ook.

 

Soos boeke na veilige staanplekke geneem is, kyk ons terug na ons ouer digters en die enorme werk wat hul gedoen het

 

Gelukkig is die Afrikaanse afdeling se boekery in die Herzogkamer veilig, al dop die verf van die mure af.


Uit my Oosterse dagboek 

 

I.D. du Plessis 

se nalatenskap in 1932 

bemaak aan die JBM Hertzog- 

studiesaal no. 81 / 898 

bevat potloodmerke  

in die kantlyn 

wanneer hy Leipoldt lees: 

die betowerende invloed 

van die Ooste 

soos die Boeroeboedoer-tempel.

 

Dit merk hy en so gaan haal hy 

via C. Louis die bontgeblomde batik- 

doek van sý gedig 

met die singende duiwe van Bali. 

 

En in 2021

skryf ek in my verbeelding 

'n reisvers na 'n slopende brand

met emosies eerder as feite: 

'n vaarwel aan Insulinde

en 'n nuwe optog na Djokjakarta

 

danksy hierdie optekenaars. 

 

© Joan Hambidge

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Gedig | Joan Hambidge - Swart April 2021 | 2021

 Swart April 2021

 

Is poësie nog moontlik

- vra Adorno -

na Auschwitz?

 

Die argiewe en dokumente

in my tuisbiblioteek

verklap 'n beheptheid

 

met woorde sinne

om sin te maak

van myself én ander se

 

woorde sonder omhaal

of afhaal "April

is the cruelest month"

 

onthou ek Eliot

se gevleuelde woorde

in 'n tyd toe vuur

 

'n biblioteek

ontbrand uitbrand afbrand

geen mense nou dood

 

net boeke opskryfsels

vertalings transkripsies

bleek bleker Bleek Lloyd

 

C. Louis Leipoldt

se al-die-veld-is-vrolik

in die leeskamer dalk uitgewis?


© Joan Hambidge 

Saturday, April 3, 2021

Rubriek | Joan Hambidge – Nostalgie | 2021

Foto: Philip de Vos


Soveel Afrikaanse tekste is tans nostalgies. Maar het hierdie wêreld ooit bestaan of verlang 'n mens na 'n geïdealiseerde plek in jou jeug? 

 

Of 'n mens nou luister na Rachmaninoff of Cesária Évora aktiveer dieselfde emosie: nostalgie. En hierdie woord het binne verskillende kulture ander betekenisse. Komorebi (Japannees) wys op die lig en blare wanneer die sonlig deur die blare skyn. Saudade in Portugees beteken 'n intense verlange na iets of iemand wat afwesig of weg is. Die bekende lied, die fado, wat ontstaan het in die 1820's is gekoppel aan hierdie melancholie. En melancholie staan ook baie na aan rou, aan verlies. Die volgende woorde word opgeroep wanneer 'n mens nostalgie intik:

 

Spyt, herinnering, onthou, sentimentaliteit, verlange, heimwee  ... in Frans lees ons mal du pays (homesickness). Sehnsucht in Duits.

 

En hoe mooi vertolk Mimi Coertse nie Heimwee nie wat Coenie de Villiers en Jan Blohm so grinterig sing in hul duet met die nostalgie wat steeds deurskemer.


In my kantoor staan 'n Japannese afdruk wat 'n man my geskenk gegee het in Nagasaki toe ek vir hom 'n R100-noot gegee het vir sy versameling teen die muur, met note van regoor oor die aardbol. Bestaan daardie eetplek nog? Die afdruk staan in my kantoor gesluit al vir langer as 'n jaar aan die UK. Hoe verlang ek nie nou na daardie ruimte nie.

 

Op een van my reise in Suid-Amerika het iemand vir my noot uit Angola persent gegee - vir my 'n simbool van melancholie. Hier was 'n slopende oorlog gevoer en oor daardie land het ons almal voorstellings gemaak uit die vele tekste wat ons daaroor gelees het.

 

Dez Kwanzas. Agterop twee bokke met horings in mekaar gevleg. En na regs die gesig van 'n man. Beeld van 'n dooie mens?

 

Hélène Cixous, die Franse filosoof (wat Derrida as een van die grotes uitgesonder het) praat van nostalgeria, die verlange na die jeug wat sy beleef het as jong mens in Algerië. Soos vele denkers in Frankryk, moes sy haar plek oopveg as denker in Europa. Die geborgenheid van haar jeug en die verlange na haar moeder staan opgeteken in haar pragboek: Portrait of Jacques Derrida as a Young Jewish Saint (2001).

 

In Botswana, so vertel 'n man my op 'n reis daar, oorstroom 'n rivier en die hewige reëns sny 'n ma-olifant van haar kleinding af. Vir drie dae roep die ma van die anderkant na hom ... En dan vertrek sy saam met die trop, terwyl die outjie alleen agterbly. In Japan het ek geweldige verlange na my heimat ervaar en selfs 'n gegraveerde pen verloor.

 

Komorebi

 

Tussen lig en donkerte

op die sinkansen na 'n futon

tussen Tokio en Nagasaki

 

verloor 'n pen my

tel tankas en haikoes op

bloeisels in Kioto

 

by die vele tempels

onthou ek nou 

dat dié heilige stad

 

tsoenami's, aardbewings, 

atoombomme,

oorleef het.

 

© Joan Hambidge

Monday, March 29, 2021

Resensie | Gerard Scholtz – Stipstaar | Fluisterbos, 2021

Gerard Scholtz – Stipstaar. Fluisterbos, 2021. ISBN 978 0 620 89603 0 

Resensent: Joan Hambidge


Een van die mooiste haikoes in Afrikaans is geskryf deur Eveleen Castelyn: 

 

Roosblare bêre 

hartvormig in die laaie 

die as van liefde 

 

Uit: Minder as die engele (1990). 

 

Tony Ullyatt se River Willows dra die sub-titel: Senryū from lockdown. Tydens die pandemie het die digter elke dag só 'n vers geskryf en na 83 dae was daar 111 gedigte. Dis treurverse. Maar terselfdertyd vind ons hier 'n ervaring van die oomblik 'n besinning oor die verganklikheid van alles en die vreugde van die natuur. 

 

Day 55 

 

a gaggle of birds 

quite lovely to listen to 

and envy as well 

 

In Dag 24 tree hy in gesprek met Bashõ, die meester van die Japannese kort vers. 

 

Haiku (俳句 met die wending (of snypunt), genaamd kireji, handel oor seisoenale wisselinge met 'n 5/7/5-patroon. Masaoka Shiki het hierdie stylverskynsel sy naam gegee aan die einde van die negentiende eeu. Elke taal het egter alreeds buite Japan sy eie tradisie gevestig teenoor die rasegte een in Japan wat in een reël weergegee word teenoor die Engelse en Afrikaanse een in 3 reëls. 

 

Matsuo Bashō is een van die beroemdste eksponente met die bekende 

 

Quietly, quietly, 

yellow mountain roses fall – 

sound of the rapids. 

 

Die haikoe sluit aan by die tanka wat eweneens voortreflik deur Castelyn ver-beeld is. Soos in die werk van Hélène Kesting saam haar eggenoot, Deon in die bundel Klein akkoord (1979). 

 

Hierdie boek is ongelukkig uit druk uit. 'n Paar is bewaar in Groot verseboek. 

 

Ons vind wel vele boere-haikoes in Afrikaans by gevestigde digters.

 

Scholtz wys daarop dat hy hierdie verse op sy vingers trommel tydens dag- of nagreise op daardie oomblik wanneer skoonheid, gedagtes, woorde of 'n ou versreël onverwags oopgaan of opduik. 

 

Hierdie bundel is wonderbaarlik mooi uitgegee en moet saamgelees word met Raymond M. Smullyan se The tao is silent (HarperSanFrancisco, 1977) wat hierdie denkwyse vir die leser oopmaak. 

 

Stipstaar is die regte benadering tot die lees van hierdie klein verse:

 

die blare verwaai 

in die trae middagwind 

word afskeidsbriewe 

(104)

 

Die blare word afskeidsbriewe (konkrete beelde) wat die verhulde abstraksie (pyn en verlies) oordra. 

 

wit vrugtebloeisels 

val swewend na benede 

dit sneeu in die boord 

(91) 

 

Die vrugtebloeisels wat val lyk soos sneeu en aktiveer die naderende winter (en ook verliese). 

 

Daar is klein pragverse wat die leser met haar saamdra: 

 

angelusklokke 

lui oor heuwel en vallei 

in landskapritme 

(80) 

 

'n somersmiddag 

ons eet onder 'n sambreel 

die son word botter 

(59) 

 

Kyk hoe praat hierdie bundel met wyle Gisela Ullyatt se Die waarheid van duiwe wat verlede jaar by Protea verskyn het:

 

swart stoppels 

van die veld

swaels in die winter se kombers

(28) 

 

stilte 

is windklokkies 

van glas 

(29) 

 

Lees hierdie bundel en kyk hoe vervlietende oomblikke opgevang word wat 'n hele wêreld laat oopwaaier in 'n spel met die konkete en abstrakte. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, March 21, 2021

Resensie | Simon van Schalkwyk - Transcontinental delay | Dryad Press, 2021

Simon van Schalkwyk - Trans- continental delay. Dryad Press, 2021 

Resensent: Joan Hambidge

 

'n Transkontinentale benadering tot letterkunde is tans aan die orde van die dag. Die moderne mens het weens internetverbindings en snelreise die hele wêreld anders begin benader. Grense het vervaag en selfs nou tydens hierdie tyd van inperking leef ons verby die eens bekende bakens of grense. Literatuurteoretici wys daarop hoé skrywers in 'n metamodernistiese tydvak anders na bekende domeine kyk; verby die bekende nasionalistiese grense na die transkontinentale dimensie beweeg. Niks staan meer vas nie en word "floating points".

 

Hierom word tyd ook 'n belangrike rigtingwyser in gedigte: vertraging, tydsones wat verskil en hier versus die verlede. Van die suide waar hy gebore en getoë is tot ander windstreke soos beskryf in "West Country" waar Bristol se koue teenoor die Kaapse wind geplaas word. Die verskillende latitudes word werklik en via boeke beskryf. Buenos Aires, die Andes, Bolivië, Turkye is ook hier in die reisherinneringe.

 

Kunstenaars soos Irma Stern en De Chirico word kodes vir 'n wêreldbeskrywing. Die politiek van die dag en die veranderinge word in "#Fallism" betrek teenoor die ellendes in Turkye wat steeds duur ("Atatürk").

 

In hierdie aanskoulike en vir my aangrypende debuut wat Transcontinental Delay heet, lewer die digter en akademikus Simon van Schalkwyk verslag van hoe hy die wêreld sien. 

 

In die gedig "Transcontinental Delay" skryf hy:

....

 

Talk to me about latency. Tell me—

ignore the transcontinental delay.

I will wait for your mouth to arrive at my ear,

 

listening, in the meantime, to the meantime—

listening in, waiting for your voice to traverse

continents, via cables, undersea. This is the cost

of arrival—money for a few minutes of air.

 

(40)

Delay beteken ook vertraging en in hierdie bundel is daar dan ook 'n terugkyk na die verlede én die digters wat 'n bepalende invloed op sy lewe gehad soos Ezra Pound, Czesław Miłosz, Stephen Watson, Robert Lowell, Cafavy, Frank O' Hara, John Ashbery,  P.A. Anderson. Ook ongenoemdes dalk soos Derek Walcott. 

Yevtushenko praat deur sy gedigte wat die digter in 'n boekwinkel optel. Al het hy die Neva of Seine gesien nie, kan hy dit verbeeld in 'n gedig.

 

In die slotvers "Skogsägarna Mellanskog ek För" (74) lees ons:

 

Lacking sense, having nothing to do but wait,

I left the Hotel Clarion and walked

 

down, to the Fyris, crossing the footbridge

near the ice-cream stand, and turning down,

 

like an apostrophe, toward the Stadsrädgården.

 

(...)

 

Die apostroof is hier 'n belangrike rigtingwyser, omdat dit verwys na die taalsisteem en Fanie Olivier se gelyknamige bundel Apostroof (2010) oproep vir hierdie leser.

 

Die apostroof, volgens Alex Preminger (red.) se klassieke ensiklopedie, is ‘n stylfiguur waarin die afwesige persoon aangespreek word. Ons vind hierdie aanspreekvorm – wat sterk verband hou met personifikasie – dikwels by Shakespeare met die Oh! Of in ander tekste met die versugting (A!). Die apostroof (‘) is ook waar letters weggelaat word: ‘n in Afrikaans vir een, ensomeer. 


Die afwesige persone is hier veral digters - lewend en dood - waarmee die digter in gesprek tree. Ook die vader en familieherinneringe word beskryf.

 

 

II

 

Die subtiele spel tussen hede en verlede word uitstekend gekallibreer in die gedigte. Daar is sowel intellektuele as emosionele verse. Hauntology, situationism, psychogeographical mapping is belangrike kodes vir die bundel se begrip. Hauntology (Dwerrida se neologisme vir haunting en ontology) soos beskryf in Spectres of Marx (1993) is van die intellektuele kodes vir die oopmaak van die bundel. Situationism impliseer dat die omgewing 'n groot impak het op jou gedrag. Vreemde landskappe verander die digter se sienswyse telkens. "Latchkey" werk met kaarte ("mapping").

 

Verskillende tegnieke en vorme word aangebied soos die prosagedig (soos "Future Scenarios") teenoor kort liriese verse. Daar is ook "found poetry", gedigte wat werk met rympatrone en strofebou. Elegiese of treurverse teenoor ars poeticas word hier aangebied. Ook die "eclogue" (pastorale vers) vind ons hier.

 

 

III

 

In 'n beeldvers "Imago" word die wandelende Jood geaktiveer en die Vervremdung van Kafka. Die Unheimliches (van Freud) 

word sterk verbeeld.

 

Imago

 

~ for Sophy Kohler

 

You were neither cockroach nor Mistkäfer

but a beetle with wings beneath the shell.

Kafka called you ungeheures Ungeziefer

and though he once referred to you as Insekt,

he said you were not to be depicted,

meaning that no image should distract

from your essential lack of clarity.

Fitting, then, that you should be lost

 

somewhere between tongues: vermin, bug,

both miss the mark; you were the unclear,

the guest, the traveler roaming from house to house;

eternal stranger, rumour, Wandering Jew.

Unsurprising, then, that you were not surprised

by your Verwandlung: Immer unheimlich, du.


(54)

 

Stephen Watson was die mentor en deur hom word daar na ander digters verwys en veral Cafavy se "Ithaka", daardie aangrypende reisvers, is hier ingebed saam met Miłosz, 'n digter oor wie Watson geskryf het.

 

Saudades

 

~ in memory of Stephen Watson

 

Long after the sun descends (once more)

to the level of those stone pines, set askew

 

along the black ridge of the Old Mule path,

I lean in to read the sulcalised spines

 

of books in your lost library: Watermark,

Calligrammes and Elegy for the Departure.

 

The sea-wind withers, and I light the lamps,

staring out from the darksome sea-deck

 

and across the windblown bay, staring out

as far as Seal Island. You look, you once said,

 

like a refugee. I still remember.

Now, I set a flame to the hearth, uncork

 

the Flagstone and, with bread and cheese,

begin to read: Mr Cogito

 

still sends reports from his besieged city;

in late afternoon bedrooms and cafés,

 

empty but for saudade, Cavafy holds

a straw hat at an angle to his melancholy;

 

and, elsewhere, Miłosz remembers Wilnow

in alexandrines, very much like yours.

 

In the end, each letter is an entry

or an envoi in some other writer’s diary.

 

(56, 57)

 

 

IV

 

Die opposisie tussen die Komorebi en Saudade is eweens opvallend. Die komorebi is 'n Japannese beginsel wat wys op die lig op blare wanneer die sonlig deur die bome skyn. Dit impliseer ook 'n melancholiese of nostalgiese verlange na ruimtes of mense wat ver van jou af staan. In hierdei bundel wat dikwels vanuit die vreemde terugkyk is hierdie gevoel opvallend in die gedigte.  Dit is dan uiteraard ook 'n "transcontinental delay", 'n gevoel ervaar op 'n vreemde plek wat die bekende aktiveer. Nostalgie is by uitnemendheid dikwels ook 'n verlange na iets wat nooit werklik bestaan het nie ...

 

Hierteenoor die Portugese begrip van Saudade - eweneens 'n diep melancholiese gevoel, maar dikwels is dit iets bittersoet. 

 

Die spanning tussen 'n Oosterse en Westerse gevoel is belangrik vir die bundel se aanslag, omdat die digter verskillende ruimtes in die werklikheid en in die verbeelding betree.

 

Hierdie bundel het met my gepraat, diep gepraat en hierdie gedig is dan vir die digter:


Komorebi

 

Tussen lig en donkerte

op die sinkansen na 'n futon

tussen Tokio en Nagasaki

 

verloor 'n pen my

tel tankas en haikoes op

bloeisels in Kioto

 

by die vele tempels

onthou ek nou 

dat dié heilige stad

 

tsoenami's, aardbewings, 

atoombomme,

oorleef het.

 

In die woorde van die digter doen hierdie bundel die volgende:

 

I flick my cigarette—presto—the snow ignites, and a small

flame burns luminous emerald, like foxfire.

 

Die bundel is 'n tableau vivant wat inspireer en ontroer. 'n Uitsonderlike debuut.


Saturday, March 13, 2021

Rubriek | Greyhound 2021

Die sluiting van die Greyhound-busdiens het my onkant betrap. 

Die Greyhound het die groot, wye landskap van die VSA vir my oopgemaak en elke keer wanneer ek 'n film sien met 'n Greyhound, raak ek erg nostalgies. En diegene wat neersien op 'n busrit, weet nie wat hulle misloop nie.

 

Hier te lande het ek al male sonder tal die bus geneem van Kaapstad tot in Johannesburg; of van Kimberley tot in Pretoria. Of van Pretoria na Durban.

 

Om die landskap deur 'n bus se venster waar te neem, is wonderbaarlik. Net 'n treinrit troef dit. 'n Mens sien en ervaar die ryk geskakeerde landskap. Jy ontdek hoé kompleks ons land (en ander lande) se mense is. So het die buswaardin 'n dronk man by Beaufort-Wes afgegooi, omdat hy die ander passasiers gepla het. Hy wou nog sit, toe loop hy al!

 

'n Down-sindroom-kindjie in Kimberley klim op die bus en groet my met 'n môre-tannie.

 

Sy is heel vrolik op pad na haar Tante in Pretoria. Toe ontdek sy haar R50 is weg.

 

Ontroosbaar huil sy en beskuldig een van haar maats in die tehuis van die diefstal. Uiteindelik gee ons op die bus vir haar weer geld en sy is rustig.

 

Hoe wonderlik was dit nie om deur Turkye met sy laaaaaaaaaaaaang paaie te ry van Istanboel in 'n sirkel terug tot in Istanboel nie. Met die gids wat paai: "Ons is amper daar!". Amper daar was elke keer nog drie ure weg.

 

En 'n knorrige man uit Sydney wie se tas in Plymouth gegaps is en vir twee weke deur die Britse kolonies woedend is oor hy geen klere het nie en hy sal die toergids gaan aangee bla-bla-bla en ons weet nie hoe wha-wha-wha ons almal is nie.

 

Selfs die buskollekte vir 'n nuwe broek, hemp en tandeborsel kon hom geen plesier gee nie.

 

En die moderne Greyhound met sy skerm waarop films gewys word. Hier te lande Leon Schuster wat in 'n rasdiverse bus almal laat skaterlag. Ten spyte van politiek-korrektes se gemor dat sy films aanstootlik is. Maar nou ja, selfs satire durf nie eens meer 'n bier-advertensie en min wetend julle beswaarmakers: daardie rooikop, Johann Vermaak, het 'n MA-verhandeling onder my leiding geskryf oor satire!

 

Nog iets wat vir altyd verby is in die tyd van korona.

 

Slow-mo, kan 'n mens 'n busrit noem. Dis werklik reis. Jou liggaam en gees kom tegelykertyd aan by jou bestemming. Anders met 'n vlug waar dit dae neem voordat alles weer sinchroniseer. 

 

As Roland Barthes maar net kon weet hoe die Greyhound hier 'n simbool is, sou dit neffens die "The 'Nautilus' and the drunken boat" opgeneem kon word in Mythologies (1957 / 1972).

 

'n Boot se "bliss of closure", 'n afgeslote eenheid, is eweneens van toepassing op 'n busrit. Die "unbroken inwardness", want elke busrit is uniek met sy mense en landskappe en intriges. 

 

Las Vegas, Nevada 

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke 

hul plek vol en sy ry met ’n Greyhound, 

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne. 

Met ’n achy breaky heart word die woestyn 

die perfekte back drop vir ’n down town-motel, 

waar reisigers en hoere kortsondig vertoef. 

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê 

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou, 

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn, 

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld, 

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel, 

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens. 

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas. 

In die Liberace-museum verpand broer George 

handtekeninge namens die virtuose vertolker. 

’n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit. 

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes, 

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck. 

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek 

na die American Dream, the greening of America: 

na dit wat soos ’n mirage in die woestyn glimmer. 

 

(Visums by verstek. Human & Rousseau, 2011).

 

© Joan Hambidge 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Sunday, March 7, 2021

Resensie | P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuis | NB-Uitgewers 2021

P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuis. NB-Uitgewers, 2021. ISBN 978 079571 0018

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman word aangeprys op die skutblad deur S.J. Naudé wat sopas 'n besonderse teks gelewer het. 

 

In 'n Hart is so groot soos ’n vuis deur P.P. Fourie vind die leser 'n ontstellende en meedoënlose terugblik op 'n pynlike jeug. Die vader, alkoholis en skrywer, se impak op sy familie word in hierdie roman beskryf wat kennelik semi-outobiografies is. Die verteller - 'n akademikus - se lang reis tot selfontdekking as gay-man word oortuigend weergegee.

 

Die gefiksionaliseerde outeur, optekenaar, dagboekhouer, scriba gee stem aan al die ander stemloses op sy lewensreis. Die moeder wat psigies en fisies aangerand is; die grootouers wat stilswyend is; Evelina wat kortstondig redder word en die jonger halfbroer Ben wat 'n sprituele uitweg soek.

 

Die leser word in klein hoofstukke of skerwe vertel watter impak hierdie vader op die gesin se lewe had. Die verteller sweer die vader af en ontdek later tot sy skok dat hy tog wil kontak maak met die vader wat kontak verbreek het met hom. 

 

Dit is dan 'n teks van ambivalensie en onsekerheid. Daar word oor kinderdepressie (en die psige wat tot stilstand kom) ontroerend geskryf, nes die selfdood van 'n buitestaander-kind.

 

Uiteraard is daar herhalings, want die leser beleef die sirkelgang van onthou en terugkeer na die bloedige jeug. 'n Jong kind se eensaamheid word pynlik-eerlik beskryf via Oscar Wilde se Die klein prins. Ons vind vele ingebedde tekste wat die vertelling amplifiseer: verwysings na psigoanalise, vertelling-as-heling en Truman Capote se Breakfast at Tiffany's.


Tolstoi oor geluk/ongeluk in gesinne. Arvo Pärt is hier met verwysings na ander musiek, films en skilderye. En Flaubert teenoor Julian Barnes. Hoe lyk eindes in moderne tekste teenoor klassieke romans? Is daar ooit closure?

 

Die boek is 'n mosaïek en 'n tessera. Maar tessera beteken ook voltooiing en antitese, soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1973). Paul se identiteit is juis bepaal deur die gewelddadige vader wat tot gevolg gehad het dat hy en sy moeder op die vlug moes slaan. En die verraad van die vader wanneer hy betrokke raak by sý vriendin wys op die psigiese afhanklikheid tussen vader en seun. Oedipus en Laius dus nuut beskou.

 

Tessera bedui ook fragmentering. Verskillende fragmente vertel die storie: van 'n kind wat met 'n kettie vensters probeer uitskiet tot die verteller wat bely hy is dissosiatief. (In die inhoudsopgawe lees ons: tesserae). 'n Mosaïek dan ook en ons sien dit van ver en van naby soos wanneer 'n mens 'n moskee binnegaan.

 

In hierdie dae is dit veral vroueskrywers wat die vader in die beskuldigdebank plaas vir die onsigbare letsels hul aangedoen en met hierdie teks word die dikwels ónverhulde ellendes van mans beseer deur toksiese manlikheid openbaar gemaak. Dit word 'n aanklag oor hoe kinders geen agentskap het nie en verniel word deur afwesige ouers. Want abuse is júis om dit te weerhou wat behoef word.

 

Alles speel af teen die wyer doek van die Noodtoestand, wit manlike beheer, rassistiese grootouers en 'n political unconscious, soos Fredric Jameson dit tipeer. Mense word immers gekodeer deur politieke (on)sigbaarhede. 

 

II

 

By die lees van hierdie pakkende roman vind hierdie leser 'n (onbewuste) gesprek met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, daardie besonderse belydenisroman uit 1937. Maria teenoor Marié met Anna as die aangesprokene. In die konstruksie van Smit se boek is dit presies in die middel van die boek wat die hele verhaal oopwaaier. In Fourie se teks is dit skerwe waarheen jy terugkeer soos die kind wat 'n skat in die tuin begrawe en dit nie kan vind nie. Die titel word verklaar op bladsy 99: "Die kompartement is so groot soos 'n menslike hart, wat ook so groot is soos 'n vuis."

 

Kompartemente en laaie word oopgemaak. Regdeur die teks word die hartsimboliek uitgewerk. Die kindergemoed word goed weergegee met in "Die plek waar die wêreld eindig".

 

Treasure Island (1938) is hierom tersaaklik net soos J.M. Coetzee se romans oor sy jeug en die beskrywing van die alkoholis-vader in Boyhood van 1997. Dominique Botha se Valsrivier (2013) waar die suster die skriba word vir die gestorwe broer.

 

Toe word teenoor nou geplaas en die invloed van tyd op ons lewens geanaliseer. Die verlede is vir my sterker beskryf as die ouer, analiserende gedeeltes. 

 

 

III

 

Die tesserae plaas die teks binne die mistieke en die Kabbalisme. Die halfbroer is egter meer geïnteresseerd in die Boeddhisme as die verteller. Maar nou moet ons onderskei tussen die verteller/fokalisator en die implied author wat kennelik agter die konstruksie van hierdie diggeweefde teks staan. Hierom word die leser bewus van twee belangrike argetipes in die teks, te wete die afdaal in die Hades en die ritueel van hergeboorte. 

 

Soos Tom Chetwynd dan opmerk in sy studie van 1982, A dictionary of symbols, gee die psige weer wat in die wêreld gebeur, maar dit verander en boetseer ook die Umwelt. Die verlies aan mites (soos wat die jong kind ervaar waar alle strukture ineenstort) is uiteraard katastrofies. 

 

Die vader geen raad oor skryf. Hy word 'n bloedige mentor, 'n precursor in Bloom se terme. Die seun (ephebe) neem sy kreatiewe energie oor en word dan die skrywer. 

 

IV

 

 

Dit is 'n boek wat boei en ontstig. 'n Mens lees in verbystering en ontsteltenis oor hoé die vertellende instansie die skerwe optel en saamvoeg om tot insig te kom.

 

Dit maak nie saak of dit werklik gebeur het met die outeur nie. Wat saak maak is dat dit gebeur het met die verteller wat ons saamneem op sy reis. 

 

Et cu fut tout? Besluit self.

 

Die roman is vertaal deur Marius Swart.


 

Bron:

 

Chetwynd, Tom. 1982.  A dictionary of symbols. Londen: Paladin.