Thursday, July 11, 2013

Hennie Aucamp - Mits dese wil ek vir jou sê (2013)



Hennie Aucamp. Mits dese wil ek vir jou sê: Briewe van Hennie Aucamp, saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Hemel en see boeke, 2013. ISBN 9780992174347.

Resensent: Joan Hambidge

In ’n brief aan Johann de Lange (20 November 1996) skryf Aucamp dat briewe, nes dagboeke, nie net ’n lewensgang bring nie, maar ’n groot stuk sosioliterêre en sosiokulturele geskiedenis weergee.

En dis hoe ek hierdie versameling briewe lees. Enersyds ’n lewensverslag, ’n leesverslag, ’n ego-dokument, maar andersyds ’n analise van die subgenre: die brief. Briewe – met ’n stempel daarop – en briefskrywers behoort al bykans tot ’n vervloë tyd. In Laclos se beroemde roman Gevaarlike verbintenisse word briewe wapens teen mense. Volgens Aucamp maak briewe altyd van jou die eerste ontvanger. Ontvanger en redigeerder (bl. 102) teenoor eposse (wat hy nie vermeld nie) wat vinnig en dikwels ongeredigeer versend word. Aucamp bely ook hoe hy briewe oor en oor lees voordat hy dit pos.

Aucamp praat met vele mense en hierdie boek moet saamgelees word met sy dagboeke. Hoe die brief en die dagboek mekaar voed, op mekaar inspeel, is tersaaklik vir die Aucamp-leser. Aucamp is altyd in sy wese aforis en opvoedkundige. Hy leer mense hoe om te skryf, onder meer, hoe die slot van ’n verhaal daar moet uitsien en die briewe aan M.C. Botha is hiervan ’n bewys. Aucamp se Die blote storie is waarskynlik een van die beste skryfhandleidings. Dit wys ook vir die jong en voornemende skrywer hoe belangrik dit is om te lees. Jy kan net goed skryf as jy gelees het.

En wyshede is daar ook vele van. ’n Klassieke werk, aldus Con de Villiers, is nooit deur ’n spesifieke mens gemaak nie. Die spesifieke mens was net die kanaal waardeur dinge van Elders tot ons gekom het.

Vir my is die briewe aan Eybers – wat hy as Liesbet aanspreek – eenvoudig wonderlik oor hoe een kreatiewe mens op ’n ander reageer. Oor Tydverdryf / Passtime skryf hy tereg dat daar reëls in hierdie bundel staan wat voel asof hulle altyd daar was (bl. 138). In ’n mens se verbeelding kan jy Eybers se ironiese, gedistansieerde reaksie sien.

Briewe aan Elize Botha en Audrey Blignault is eweneens boeiend. “Ontydige pryse,” meen hy in ’n brief aan Botha, bl. 49, “is soos buitenseisoense ryp – dit kan die plantjie tot op die grond toe verskroei”. En “Energy is our capital”, haal hy vir Doris Lessing aan (bl. 54). In 1986 beskou hy die literêre kritiek as ’n bedryf van inteelt, naamsmousery, laster, respekloosheid (bl. 61).

Op ’n ander plek vind hy min kreatiewe rolmodelle; eerder te veel opportuniste.

Soms lewer hy skerp kommentaar op ’n medeskrywer se manier van doen (bl. 68). Hy kritiseer die skynwysheid wat die tekste bederf.

Maar dit is veral die analise van die brief se invloed op sowel leser as skrywer wat hierdie bundel so belangrik maak: “Kry ek toevallig ’n brief uit ’n vroeër periode in my lewe te lees, vervul dit my met ’n soort bevreemding: Wie is die mens wat dié brief geskryf het? Hoekom so intens? Hoekom so meedoënloos? Hoekom so weerloos? Die soektog na briewe is nie net ’n soektog na verlore tyd nie, dis ook ’n soektog na ’n verlore self. ’n Self met dowwer kontoere – of ander kontoere – as die huidige” (bl. 152). En een van die winste van die brief, meen Aucamp, is dat jy via ’n ander in dialoog met jouself betrokke raak (bl. 156).

Hy gee wenke en bly bewus van mense se belangstellings, byvoorbeeld in die Boesman-kultuur (hy verseg om die woord San te gebruik) in briewe aan Helize van Vuuren, ’n kenner in dié vakgebied.

Die verskille tussen die dagboek en brief lê vir Aucamp in publiekgerigtheid en tydshantering.

Die briefskrywer stem hom in op die temperament en belangstellings van die ontvanger van sy brief.

Die dagboek is onmiddellik; die brief lewer verslag oor ’n langer stuk verlede tyd. Hierom dan is die brief vir Aucamp ’n “surrogaat”- dagboek.

Dit is die reaksie van ’n gevoelige mens op ’n kultuurlewe en vanselfsprekend gaan ’n mens nie oral akkoord nie, soos die sieninge oor postmodernistiese ooreisings in die moderne digkuns of die kritiek op Arrie Rossouw, voormalige redakteur van Die Burger, se “sensurering” van ’n literator se ingesonde stukke (bl. 338). Dit is immers die verantwoordelikheid van ’n redakteur om toe te sien dat die letterkundige gesprek beskaafd en regverdig bly; dit is sy werk.

Dis ’n pragboek en juis hierom is dit jammer dat Ernst Lindenberg se naam verkeerd gespel word op bl. 124. Wilna (in plaas van) Wilma Stockenström (bl. 73). Annelien Kriel in plaas van Anneline Kriel (bl. 78)!

Mimi Coertze in plaas van Coertse (bl. 161).

Ge-zelle in plaas van Gezelle (bl. 286). Die dubbelpunt kort ’n spasie op bl. 165.
Ordentlikhied (bl. 292).

(Bogenoemde is vir die redigeerder se rekening.)

Dit is ’n belangrike tydsdokument: briewe van ’n intelligente, sensitiewe persoon wat Afrikaans kan beheer soos min ander.

Nou onlangs het ek ook Saul Bellow se briewe gelees en ’n groot skrywer huisves immers altyd meer as een persoon.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, July 2, 2013

Studie: Die Marilyn Monroe-figuur in die digkuns van Johann de Lange


 

The Author, when believed in, is always conceived of as the past of his own book: book and author stand automatically on a single line divided into a before and an after. The Author is thought to nourish the book, which is to say that he exists before it, thinks, suffers, lives for it, is in the same relation of antecedence to his work as a father to his child.
Roland Barthes – “The death of the author” in Image-Music-Text. 1977, 145.

I

Die figuur Marilyn Monroe word binne die Afrikaanse digkuns deur velerlei digters beskryf: T.T. Cloete, Peter Louw, Lina Spies, Tom Gouws, Lucas Malan, Joan Hambidge, en Johann de Lange. De Lange skryf ook in sy blog Kaapse paragrawe oor die verskillende Monroe-gedigte in Afrikaans.  Marilyn Monroe: met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsake, (Afgetrek 30 Junie 2013).

II

De Lange skryf in sy debuut Akwarelle van die dors oor die figuur MM, “Marilyn Monroe onderweg”. Hierna volg die vertaling van Ernesto Cardinal se beroemde gedig “Gebed vir Marilyn Monroe” in Nagsweet en die ongepubliseerde gedig “Marilyn Monroe in grou”.

Waarom skryf digters oor hierdie klassieke, vroeggestorwe seksgodin? Wat is dit wat haar efemere bestaan op sowel die silwerdoek as in die werklikheid só aangrypend maak dat sy digters inspireer en dat ‘n skrywer soos Norman Mailer ‘n studie oor haar geskryf het: Marilyn?

De Lange skryf eweneens oor die figuur James Dean in sy bundel Snel grys fantoom en  die identifikasie met die kortstondige lewe en breekbare skoonheid is ‘n bekende tema in hierdie oeuvre.

III

Marilyn Monroe, oftewel Norma Jeane Mortensen / Baker is op 1 Junie 1926 gebore en sy sterf op 5 Augustus 1962. Sy was ‘n aangenome kind wat vir ‘n lang tyd van haar lewe deurgebring het in weeshuise. Sy word in 1946 ‘n filmaktrise en na ‘n dramatiese verandering in voorkoms en met ‘n naamsverwisseling, word sy ‘n ster. Haar dood aan ‘n oordosis barbiturate het egter tot vele samesweringsteorieë gelei, onder andere, dat sy vermoor is deur die Kennedy’s, omdat sy oor sensitiewe inligting sou beskik. 

Sy was getroud met James Dougherty (1942 tot 1946); hierna met die bofbalster Joe DiMaggio (kortstondig in 1954) en uiteindelik met die dramaturg, Arthur Miller (1956 tot 1961).


Tony Curtis en Jack Lemmon in 'n camp toespeling op Billy Wilder 
se rolprent Some like it hot (1959).

Veral haar speelse optrede in Some like it hot (1959)  – saam met Tony Curtis en Jack Lemmon – word as ‘n hoogtepunt beskou. Vir haar spel in Bus Stop (1956) is sy bekroon. Sy word deur vele beskou as ‘n een van die grootste sekssimbole van haar tyd saam met figure soos Brigitte Bardot en waarskynlik is haar tragiese dood en ongelukkige lewe veral vir digters ‘n inspirasie. In hierdie opsig toon Prinses Diana van Wallis se lewe én die Di-verheerliking ‘n ooreenkoms met Marilyn Monroe se verikonisering.

IV

Johann de Lange word deur sy grootmoeder grootgemaak ná die skeiding van sy ouers en sy vader se selfmoord. In hierdie opsig is daar ooreenkomste met Monroe se ongelukkige jeug: sy is die derde kind van Gladys Pearl Monroe en haar vader, Edward Mortensen, ‘n Noor, het sy nooit geken nie.

En hierdie feit het haar regdeur haar jeug geteister. Sy het gevrees dat ander sou dink sy is ‘n buite-egtelike kind, maar na haar moeder se dood is die ontdekking wel gemaak dat haar moeder kortstondig met hom getroud was. Sy het eenkeer ‘n foto van hom gesien en vir haar het hy soos Clark Gable gelyk. Sy het dan ook in haar laaste film teenoor Gable gespeel, ‘n man wat in haar fantasie-lewe vir haar ‘n vaderfiguur was.

Sy het as jong kind grootgeword by ander ouers, te wete Albert en Ida Bolender, en het eers later ontdek dat hulle nie werklik haar ouers was nie. Die verskillende bronne wat oor haar lewe bestaan bevestig deurgaans dat sy die universele simbool is van die weerlose, verwonde mens. 

In De Lange se debuutkortverhaal Vreemder as fiksie (1996) skryf hy oor sy verhouding met sy ouers. Die verhaal heet “Afskeid van my ouers” wat die slotverhaal vorm van hierdie komplekse bundel. Hier word die eerste selfmoordpoging van die vader beskryf: “Sy oorlewing was ‘n groter ramp as wat sy dood sou wees: die gasbottel was nou leeg, en daar was nie geld vir nog gas nie”(183). 

Die pynlike herinnering aan sy jeug word in sowel die ek-perspektief as die derdepersoon aangebied. Deur dit in die derdepersoon aan te bied, word daar groter afstand en dus distansie gekry oor die vader. Uiteindelik, dekades later, kry die volwasse verteller, sy woede verwerk, inligting oor sy vader by sy vervreemde moeder wat hom, sy broer en twee susters op 'n jong ouderdom versaak het om ‘n lewe met ‘n ander man te begin. In hierdie verhaal onthul De Lange ook die bestaan van ‘n afgetekende broer, André, van wie se bestaan hy bewus geword het enkele dae voor hy in ‘n motorongeluk omgekom het.

Die vader se dwelmverslawing en onbetroubaarheid word in hierdie semi-dokumentêre verhaal met distansie verhaal. Hierin word die vader se fassinasie met cowboy-films ook vertel wat in die gedig “Pa” in Snel grys fantoom na vore kom. In ‘n voetnoot skryf De Lange: “Sy gefassineerdheid met die macho cowboy-wêreld is tot vandag nog vir my onverklaarbaar. Ek onthou hom nie as ‘n macho man nie; eerder as ‘n broos, ontoereikende man, met ‘n sagte stem” (190). 

Die troebel verhouding met die aanneemouers, hul drinkery en misbruik van Welsyngeld word in die verhaal weergegee met die veranderende emosies van die weerlose ek / skrywer wat die verhaal afsluit met die volgende woorde:

“Toe die skrywer die laaste ligblou folio omdraai, merk hy iets wat hom vantevore ontgaan het. In sy eie onseker handskrif, bo in die regterhoek, staan daar gekrabbel: Ek het dikwels probeer, vasgevang tussen opstand en onderwerping, om in die reine te kom met die gestalte van my ma en die gestalte van my pa. P.W.”

V

The reader is the space on which all the quotations that make up a writing are inscribed without any of them being lost; a text’s unity lies not in its origin but in its destination.
Roland Barthes – “The death of the author” in Image-Music-Text. 1977, 148.

Die gedig “Marilyn Monroe onderweg” (uit Akwarelle van die dors) illustreer die problematiek rondom die De Lange-gedig vir hierdie leser. Die teks se eenheid is nie opgesluit in sy oorsprong nie, maar eerder in die destinasie of aankoms. Hierdie leser is bekend met die intertekste róndom die skrywer se ongelukkige jeug en die troebel verhoudings met die familie, en in die besonder, die vaderfiguur. Hoe kan die leser wat die intertekste oor die skrywer se verlede ken, die outeur dood verklaar? Die dood van die outeur, argumenteer Barthes, gee geboorte aan die leser. Maar: die leser staan dan in ‘n besondere verhouding tot die teks.

1.  Marilyn Monroe onderweg 

Marilyn Monroe-mond,
close-up,
op ‘n groot advertensiebord
langs die snelweg.

Ek stuur my
reg in die glimlag in:
wit tandepasta skiet
tussen die ontblote lippe deur.

Vir Julia Kristeva in Powers of Horror (1984) is die samestelling van die ego onlosmaaklik verbind aan sy identifikasies. Johann de Lange identifiseer met die figuur-Monroe. Vir Kristeva is sowel die moeder- as die vaderfiguur ‘n negatiewe konstruk wat die ego bedreig. In die gedig “Marilyn Monroe onderweg” sien die spreker ‘n foto van ‘n vrouemond wat soos Marilyn Monroe s’n lyk. Die ‘ek’ penetreer die mond (die vulva) en die vrees vir kastrasie word deur die gedig verbeeld. Terselfdertyd representeer die “wit tandepasta” die semen sodat daar in die gedig ‘n ambivalente gevoel is oor die vrou wat enersyds kastreer en andersyds ‘n ruimte vir seksuele plesier of jouissance is.

2. Gebed vir Marilyn Monroe
Ernesto Cardenal

Here, ontvang hierdie meisie
dwarsdeur die wêreld bekend as Marilyn Monroe
hoewel dit nie haar regte naam was nie
(U ken haar regte naam)
wat nou in u teenwoordigheid ingaan
sonder grimering,
sonder haar agent,
sonder haar foto’s of om handtekeninge uit te deel,
eensaam soos ’n ruimtereisiger
voor die allesomvattende swart heelal.

Toe sy nog klein was, het sy gedroom sy was kaal in ‘n kerk
(volgens Time)
voor ‘n menigte wat neerkniel
met hulle koppe teen die vloer,
& sy moes mooi trap om hulle te vermy.
U ken ons drome beter as enige psigiater.
Here, in hierdie wêreld
besmet deur radioaktiwiteit & sonde,
sal U sekerlik nie ’n winkelmeisie
haar sterredroom verkwalik nie.
En haar droom het werklikheid geword
(Technicolor-werklikheid).
Sy het maar net die draaiboek gevolg
wat ons haar gegee het,
die storie van ons eie lewens.
En die draaiboek was betekenisloos.
Vergewe haar, Here, & vergewe ons
vir óns 20th-Century
& die groteske Superproduksie
waaraan ons almal meegewerk het.

Die ster is lankal dood
maar sy flikker nog in donker teaters.
Sy was die rot wat tol in die filmspoel.
Sy was honger vir liefde
& ons het kalmeerpille voorgeskryf.
Sy het verlang na geselskap
& ons het psigoanalise aanbeveel.
Haar lewe was onwerklik soos ’n droom
wat ‘n psigiater interpreteer & liasseer.

Haar romanses was soene met geslote oë
onder skietligte uitgespeel,
maar die skietligte is uitgedoof
& die twee mure van die kamer is afgebreek (dit was ‘n filmstel)
terwyl die Regisseur wegstap notaboek in die hand,
die toneel veilig vasgelê.
Of soos ’n rit op ’n seiljag,
’n soen in Singapoer,
’n dans in Rio,
’n onthaal aan die herehuis
van die Hertog & Hertogin van Windsor
gesien in die treurige opgesmuktheid van ’n armoedige woonstel.

Die film het geëindig sonder die laaste soen.
Hulle het haar dood gekry op haar bed
met die gehoorbuis in haar hand,
& die speurders het nooit uitgevind wie sy wou bel nie.

Sy was
soos iemand wat die enigste vriendelike stem gebel het
net om ’n stem “Nommer nie in gebruik” te hoor sê;
of soos iemand deur rampokkers beseer
wat ’n hand uitsteek na ’n gediskonnekteerde foon.

Here, wie ook al
dit mag wees wat sy wou bel
& nie het nie (& dalk was dit niemand nie
of Iemand nie gelys in die Los Angeles-gids nie),

Here, antwoord daardie foon.

In hierdie teks, ‘n vertaling en herdigting van Ernesto Cardenal se beroemde gedig, word die lewensloop van Marilyn Monroe verbeeld. Ook hier vind die leser ‘n identifikasie met Marilyn Monroe se ongelukkige lewe. Die gedig is opgeneem in Nagsweet.



3. Marilyn Monroe buite beeld
‘n optelgedig

Die ongestorwe Marilyn Monroe
- silwerdoek-legende -
word vrygestel & uitgestal
in Berlyn se sjiek Cafe Einstein:

Afgeneem
deur haar vriend Sam Shaw,
getuig dié foto’s van gelukkiger tye:
hier is sy teen sononder
in ‘n roeiboot in Central Park,
hier eet sy ‘n hotdog
saam met Arthur Miller.
Geen spoor van depressie-
episodes, haar selfmoord-
poging in ‘62
of haar mislukte huwelike nie.
Die fokus val glo
op die meer intieme Marilyn:
stilfoto’s op filmstelle,
‘n tyd toe sy “sereen” voorgekom het,
aldus haar uitgewer. ‘n Besonder
gelukkige tyd, & die begin
van haar derde huwelik.

Die foto’s vermy die cliché
van die morbiede ster,
hou by die beeld van ‘n vreugde-
volle en selfversekerde vrou,
haar bekendste foto
dié een uit The Seven Year Itch
waar sy haar wit rok vasdruk
as dit boontoe waaier in ‘n skielike sug
warm lug uit die moltrein se ventilasieskag.
"Films is my loopbaan,
pruil sy, “maar Arthur is my lewe".

Oor die totale afwesigheid
van teks sê die uitgewer: “Alles
oor Marilyn is alreeds geskryf.
Hierdie foto’s vertel
die liefdesgeskiedenis
tussen haar & ‘n eks,
die intellektueel. Die res
het weggeval. Bestellings loop
flink. Goddank ons het
oorgenoeg papier gekoop.”

Die gedig “Marilyn Monroe in grou”, opgeneem in Judasoog, ‘n keur uit die digter se verse (2010), onder die titel “Marilyn Monroe buite beeld”, aktiveer Barthes se komplekse verhouding tussen skrywer en leser wat op die teks moet fokus. Tog het die teks hier weggeval aldus die uitgewer en alles is alreeds oor die figuur Marilyn Monroe geskryf. Daar is dus geen nuwe interpretasie meer moontlik nie.

Tog  speel hierdie teks bekende opposisies in De Lange se digkuns uit, naamlik die verhouding tussen geluk / ongeluk; vreugdevol of suksesvol / selfmoord of afwesigheid.

Die teks aktiveer ‘n spanning tussen toe en nou en die opheffing van Barthes se siening van “The death of the author” verwys na die digter se lewe waar daar ‘n verlange is na ‘n paradyslike toestand van geluk. Maar soos in die geval van Monroe se lewe het dit nooit bestaan nie. Haar jeug is geteister deur onsekerheid, onbetroubare ouers en ‘n wisselvallige bestaan soos die biografiese besonderhede van beide figure vir ons beklemtoon. 

Deur Monroe se jeug te beskryf, heraktiveer hy die ongelukkige jeug wat hy sélf ervaar het. Deur die teks word die komplekse angste oor die ouerfigure uitgewoed. Waarskynlik kies hy Marilyn Monroe weens die onverbloemde gevoel van abjeksie en negatiwiteit oor die moederfiguur. Dit is opvallend dat daar in die debuutbundel etlike gedigte oor vrouefigure aangetref word soos “Oujongnooi”, “Jong getroude vrou”, “Meisie verdrink”, “Debutant”, “Marilyn Monroe onderweg”, “Olympia”, wat hierdie ambivalensie oor die vrouefiguur sterk uitspeel.

VI

The birth of the reader must be at the cost of the death of the Author.
Roland Barthes – “The death of the author” in Image-Music-Text. 1977, 148.

In Barthes se Camera lucida wat die sub-titel dra “Reflections on Photography” wys op die spanning tussen die studium (wat die foto sê deur die komposisie) en die punctum (besonderheid) in foto’s (1981, 43).

Om hierdie spanning te verstaan tussen komposisie keer ons terug na die teks “The death of the author” waar Barthes vra wie praat in die verhaal “Sarrasine” van Balzac en dan beklemtoon dat ons nooit sal weet nie. Skryf is volgens hom die destruksie van elke stem en elke punt van oorsprong. “Writing is that neutral, composite, oblique space where our subject slips away, the negative where all identity is lost, starting with the very identity of the body writing” (142).

Wie praat in “Marilyn Monroe in grou?”  En oor wie word daar hier gepraat?

Vereers die studium of komposisie van die gedig:
Ongestorwe / silwerdoek-legende / stilfoto’s / foto’s / films / teks

Teenoor die punctum:
Morbiede ster / depressie-episodes / selfmoord-poging / ventilasieskag

Die gedig vermy dit feit dat sy reeds dood is ten tyde van die skryf van hierdie gedig:

"Films is my loopbaan,
pruil sy, “maar Arthur is my lewe".

Maar deur die woord te vermy, word dit juis paradoksaal na vore gebring, omdat dit reeds in die gemoed van die leser lê.

Die gedig het ‘n ventilasieskag of onbewuste: wat na vore gebring word, is die geluk (alhoewel kortstondig), maar onderlangs is daar wanhoop.

Die teks praat dus deur ander De Lange-tekste waarin onvervuldheid en ‘n “algebra van nood” die dinamo van die tekstuele produksie vorm.


Bibliografie:

Barthes, Roland. 1981. Camera lucida. Reflections on Photography. New York: Hill and Wang.

Barthes, Roland. 1977. “The death of the author” opgeneem in Image-Music-Text. New York: Hill and Wang.

De Lange, Johann. 1983. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human &  Rousseau.
De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.
De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2010. Judasoog. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. "Marilyn Monroe: met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsake", (Afgetrek 30 Junie 2013).

Kristeva, Julia. 1984. Powers of Horror. An essay on Abjection. New York: Columbia University Press.

Mailer, Norman. 1973. Marilyn. New York: Grosset & Dunlap.

Rapaport, Herman. 1989. “Psychology, the Subject, and Criticism” opgeneem in Con Davis, Robert & Finke, Laurie: Literary Criticism and Theory. The Greeks to the Present. New York: Longman.

© Joan Hambidge

Monday, July 1, 2013

Nathan Trantraal - Chokers en Survivors (2013)



Nathan Trantraal. Chokers en Survivors. Kwela, 2013. ISBN 978-0-7957-0488-8

Resensent: Joan Hambidge

I

Hierdie bundel werk met spesifieke leeskodes. Eerstens word dit bemark op die voorblad deur Antjie Krog en Alfred Schaffer, twee gesiene digters in eie reg. Vir Krog is dit ‘n bundel “om sidderend van regop te sit!” en Schaffer vind dit skokkend, skreeusnaaks en ontroerend. Krog beklemtoon dat ons nog nooit soiets in Afrikaans gelees het nie.  

Tweedens is die voorblad ‘n wasgoeddraad met pennetjies wat die titel vashou – ‘n baie knap voorblad wat die impak het van iets efemeers, iets wat weerloos is, iets wat kan wegwaai. (Die voorblad resoneer met die gedig waarin die troostelose bestaan erken word: “Woensdag 16 Februarie 1988”). 

Derdens verneem ons dat die digter ‘n stripartist saam met sy broer André en stripkuns is subversief, ondermynend en krities. Vierdens word die boek opgedra aan die broer wat hy beskou as “Il miglior fabbro” – wat dus ‘n digterlike vriendskap tussen T.S. Eliot en Ezra Pound aktiveer. Oor hierdie kreatiewe verbintenis is daar al baie geskryf en geteoretiseer – en ‘n mens kan dus ook The wasteland lees as ‘n teks waarin Pound aangespreek word en dat die voetnote eintlik ‘n soort “geheimskrif” was tussen hulle. Vyfdens word die teks begelei met klassieke en bekende motto’s, onder andere Blake se “London” gooi hier ‘n draai.

Hierdie bundel is geskryf in Kaaps en dit is in your face. Dit is die beste woorde wat ek kan vind om hierdie bundel op te som. Op ‘n vreeslose wyse word die ellendes van die Kaapse vlakte vir die leser oopgemaak. Indien jy die bundel lees as ‘n gesprek met die broer kry dit ‘n ander dimensie by, naamlik om ‘n pynlike jeug te verwerk. Om namens ‘n broer ‘n stuk geskiedenis op te skryf – dalk onbewustelik met die broer as kontrole, as mede-belewer van ja-dit-was-so…

Die bundel gee ‘n blik op die wêreld van geweld; dis geskryf in gangsta-taal en tref jou tussen die oë.

Schaffer het gelyk. Dis sowel snaaks as ontroerend. Die verse speel die spel van die inconnu, van afwysend staan teenoor die kanon, maar terselfdertyd is daar meer as genoeg blyke dat die digter presies wat wat hier aangaan. Ons sien dit byvoorbeeld uit die reeds genoemde motto’s, maar ook in die gedig “Groot verseboek” (38):

Ek ken allie shit al by heart,

Sheila Cussons, NP van Wyk Louw, Ingrid Jonker.

Die digter sien homself as die “foremost authority op useless poetry”, want in die wêreld waarin hy hom bevind is die digkuns bepaald ‘n luukse. Het Breytenbach nie ook al verwys na Groot verseboek as ‘n grap nie? En kyk hoe dig Clinton V. du Plessis teen die eise in van die kanon in Rangeer.

Die opdrag tot The wasteland kom natuurlik uit Dante se Heilige Komedie: dit beslaan drie gedeeltes – Inferno, Purgatorio, Paradiso en wanneer ons kyk na hierdie bundel is daar ook (toevallig?) drie afdelings.

II

 - Die belangrikste aspek van hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps.

 - Daar is humor.

- Daar is ‘n besliste afwysing van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings lees soos grafskrifte. Hier is dus ‘n duidelike afskeid van ‘n pynlike, verwonde jeug.

- Die gebruik van plat woorde is opvallend. Cunt, poes, kak, befok, fokkol, piel, nai, fokof.

- Engelse woorde word ook aangetref. Die digter gee ‘n weergawe van sy mense se spreektaal.

- Daar is ‘n ontmaskering van die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder, tradisioneel die versorger, om onsentimenteel te wees.

“Hammie” (31)
My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe.

- Hier is simboliese vadermoord. Die vader word letterlik aangeval soos in ”Fifa 06” (52).

- Dit is gedigte wat ‘n storie vertel.

- Dit wl duidelik on-poëties wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ‘n “dywel het alwee al sy pielhare afgeskeer” op die maat van “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei” (69).

- Daar is ‘n verwysing na drugs (soos buttons byvoorbeeld), casette, porn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.

- Die private word ontmasker en betree (masturbasie): “die Here wiet allien 1” (67).

- Die tronkbestaan / gangsters versus ‘n godsdiens (geloof) word ontgin.

- Terselfdertyd is daar genoegsame verwysings na ander digters wat ‘n bekendheid met die digkuns aandui. Hier vind ons ‘n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds ingelig is, maar andersyds soos gert vlok nel maak asof hy nie weet wat eintlik aangaan nie.

- Die gedigte wil soos strips toeganklik wees en soos in hierdie sub-genre die medium gebruik om sosiale kommentaar te lewer. ‘n Mens dink hier o.a. aan Bitterkomix en die digter se eie werk as kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die dinamo van die teks.

- Die spel met die outobiografie – o.a. deur verwysings na Ronelda, sy vrou en sy broer – neem ons terug na die Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het.

- ‘n Sterk satiriese aanslag soos “Hard to kill trilogy (DVD Boxset)”, 23.

III

By ‘n deegliker lees word die leser egter gedwing om te kyk na die poëtiese tegnieke wat aangewend word. Die sterk narratiewe aanslag en slotreëls tref.

Die digterlike proses word so al spelende ontmasker soos in die reeds genoemde gedig oor Groot verseboek. In “South Korea” (36) bely die spreker:

“omdat ek wiet my poetry is kak / en dat ekkie kan skryfie,”.

Maar dis inderdaad net ‘n faux-tegniek, om al sy sieninge oor die digkuns uit te stal. Die digter is immers – en dit is vir ‘n ‘n belangrike kode – stripkunstenaar.

Miskien sal daar lesers wees wat voel die aanslag is te eenselwig en dat dit die reikwydte mis van sê byvoorbeeld, gert vlok nel se om te lewe is onnatuurlik.

Die bundel gee die manlike perspektief op die digter se vrou Ronelda S. Kamfer se Noudat slapende honde. Digters wat onder een dak saamwoon, tree dikwels in gesprek met mekaar.

Op bladsy 57 staan daar verkeerdelik Fuhrer.

Die bundel is ook beskikbaar as ‘n e-boek en Kwela het dit uitgegee.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Wednesday, June 26, 2013

Heilna du Plooy & Loftus Marais - Nuwe stemme 5 (2013)



Heilna du Plooy & Loftus Marais (Red.). Nuwe stemme 5. Tafelberg, 2013. ISBN 978 0 624 058861

Resensent: Joan Hambidge

‘n Eksperimentele werkswinkel-essay

I. Mirakels en muses

Op versoek van die webmeester, Marlise Joubert skryf ek hierdie verslag oor Nuwe stemme 5.

Goed willig ek in, maar verduidelik: dit kan nie ‘n gedistansieerde resensie wees nie. Ek is immers self besig met die begeleiding en ontdekking van jong talent. Hierom besluit ek dan op ‘n essay wat die prosesse sal verduidelik. ‘n Soort apologia pro domo. Maar sonder om kritiese afstand in te boet.

Nuwe stemme is nou reeds ‘n instelling in ons digkuns en as aktiewe kreatiewe skryfwerk-begeleier van die digkuns (in sowel Afrikaans as Engels) word daar na tendense én prosesse gekyk. Kreatiewe Skryfwerk word tans aan verskeie universiteite aangebied en by die UP se Winterskool het ek die afgelope paar jaar in ‘n koue winter voornemende digters van raad bedien. Hier is drie nuwe stemmers meegemaak. (Een nuwe stemmer was in my kursus.) Binne een week probeer jy as gepubliseerde skrywer fabrieksgeheime verklap. Nie altyd met sukses nie. ‘n Jong, seergemaakte digter daag na twee dae op nie; ‘n ander een weier om jou raad te aanvaar (en jy wonder waarom is jy hier?) Selfs ‘n klagte dat jy nie genoeg aandag gee aan iemand se “uitstaande” werk nie…

En my mantras is algemeen bekend. Jy kan net dig as jy kan lees (en gelees het). Jy moet ten minste Groot verseboek ken en handleidings oor die digkuns plunder soos Ottone M. Riccio se The intimate art of poetry. Dit is gepubliseer deur Prentice Hall in 1978.

Daar is nie ‘n metafisiese reël wat vir elke gedig geld nie. Die goeie digter skep sy/haar eie reëls. Maar jy moet dit ken om dit te kan breek. En jy skryf altyd teen die back drop van ‘n tradisie.

1 ‘n Goeie gedig is konkreet;
2 ‘n Goeie gedig se beelde klop (kongrueer) soos ‘n kasboek;
3 ‘n Goeie gedig se slot vang alles op;
4  Skryf met ‘n woordeboek langs jou; verkieslik ook ‘n sinoniemwoordeboek;
5  Moenie ‘n woord herhaal in ‘n gedig nie (‘n les geleer by De Lange) tensy dit 
    funksioneel is;
6 Gebruik leestekens;
7 Bly weg van verkleinwoorde;
8 Bestudeer digterlike vorme en oefen om ‘n distigon te skryf (o.a.) soos ‘n 
    tennisspeler afslane oefen;
9 Wees bedag op die maklike rymwoord;
10 Bly weg van geykte beelde
11 en gebruik uitroeptekens spaars!
12 Kontroleer feite, behalwe as jy opsetlik ‘n gat in die betekenis van die gedig 
     wil los;
13 Vermy geleerde of grootdoenerige woorde;
14 Moenie die gedig vir die leser interpreteer nie; die gedig moet sélf die 
      betekenis oordra;
15 Probeer die woord “wat” vermy, omdat dit al te maklik in prosa mag oorgaan;
16 Moenie preek nie;
17 Sorg dat die interne grammatika van die gedig reg is. Die sintaksis moet die gedig
      voortdryf. Miskien iets soos klippe in troebel waters waaroor ‘n mens kan loop;
18 Tel die sillabes sodat jy die metriese patroon noukeurig kan volg.

Hier is nog raad: "Fabrieksgeheime: 3 digters gee raad".

Alle digters het mentors, al is dit net simboliese mentors wat hulle raaklees in bundels of bloemlesings. Toe ek as jong digter op die toneel gekom het in 1982 was publikasie in Standpunte of Tydskrif virletterkunde ‘n eer. Deesdae is daar die internet met vele webruimtes (o.a. Litnet & Versindaba) waar digters kan publiseer. Persoonlik gebruik ek beide ruimtes as ‘n toetsterrein en skroom nie om ‘n vers te herskryf nie. Studente wat onder my studeer aan die UK mag nie publiseer tydens die kursus nie, omdat die portefeulje oorspronklik moet wees. Daar is wel “publikasie” in die vorm van klasbywoning en die blootstelling aan ‘n sirkel van lesers. En voortydige blootstelling is sleg vir jong digters wat aan hierdie swak debuut geken sal word.

Die mentor moet eweneens die verbintenis óphef wanneer die bundel voltooi is sodat die jong digter sy/haar eie stem alleen kan ontwikkel. Werklike mentorskap moet dan verplaas word na simboliese mentorskap.

Digterlike stamina. Dit is waarskynlik die belangrikste eis vir die digterskap. Kan jy aanhou en uithou soos ‘n Comrades-atleet?

En wees eerlik met jouself: hoekom dig jy? Heilna du Plooy spreek hierdie kwessie aan in haar inleiding. Volgens my is die digkuns nie ‘n plek vir hipertrofiese, selfingenome mense nie. In jou hart moet jy altyd twyfel aan jou talent en nederig bly voor die groter figure wat al die terrein bestryk het. As jy skryf vir pryse, trofees, applous of simboliese onderskeidings, mis jy die punt van hierdie bedryf volledig.

Nou onlangs het ek begin met ‘n essay oor Lacan en Kreatiewe Skryfwerk na aanleiding van die TV-reeks In Treatment. Net soos die analysand sy/haar analis kies, bly dit die reg van die voornemende kreatiewe student om te besluit watter skryfkursus jou sal pas. Aniel Botha, Fourie Botha, Karen Kuhn, Martina Klopper, Hennie Nortjé, Carina Stander – in alfabetiese volgorde – het onder my gestudeer en solo-bundels gelewer. Daar is nog ander talent wat wag op solo-publikasie.

Ook ek had my mentors. In boeke was dit nog altyd Eybers en Van Wyk Louw; Sylvia Plath en Anne Sexton; nóú Michael Donaghy en immer Wallace Stevens – te veel om op te noem. In lewende lywe was dit Opperman in 1977 in ‘n derdejaarkursus met sy befaamde letterkundige laboratorium waar hy sinryke lesse geleer het.

Gedigte is anoniem voorgelê in ‘n boekie saamgebind en Opperman was die fasiliteerder wat jou geweldig baie geleer oor die prosesse ágter die digkuns. Hy het gewys daarop dat daar stryd is. Sy digterlike loopbaan was dikwels antwoorde op Van Wyk Louw. Ons ken Harold Bloom se “the anxiety of influence” en die siening van “belatedness” – ‘n mens veg in jou gemoed met diegene wat reeds dit wat jy wil sê soveel beter gedoen het.

En natuurlik is daar Johann de Lange wat deur die jare my verse gelees het. By hom het ek die wáárdevolste les geleer: om te kan dig, moet jy kan lees; stiplees. En wanneer ‘n gedig voltooi is, moet jy jou eie kritikus word en kyk na die gedig asof jy dit nie geskryf het nie.

Jy moet dus met jouself kan skaduboks. Ek rond nou ‘n bundel af en keer terug na die gedigte: Vir wie skryf jy jou gedigte? wat ek verander na:

44 Vir wie skryf jy jou gedigte?
Vir Johann de Lange

Vir woordfeeste waar, uitgestal
saam met ander “gewilde digters”,
jou optrede verydel word
deur laatkommers of feesgangers
op soek na iets beters
wat die deur oop en
toe laat konsertina?
Vir daardie geliefde wat nooit die gedig
oor jou hunkering en pyn
sal lees nie en net onthou
dat die bed immer haaks was?
Vir ‘n vlymbekkige kritikus
‘n byltjie aan't slyp
oor ‘n onbetaalde rekening
op ‘n ander plek en tyd?
Vir skoolkennisse van wie jy nóg die naam,
en nóg minder die bynaam kan onthou,
wat familiêre groete stuur
via ‘n ander onbekende siel?
Vir jou pa aan die "ander kant"
wat in drome verskyn
aan jou oudste suster
in ‘n blazer en das
en met woorde van vertroosting?
Vir jou ma wat jy versoek
om eerder nie die gedigte te lees nie,
sodat die pyn van ‘n troostelose jeug
stiekem kan verbygaan?
Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke
voer oor jou verknoopte psige
en wat jou aanmoedig om tóg aan te hou?
Vir jou vriend wie se kind
selfdood pleeg sonder ‘n afskeidsnota?
Vir jou mede-digters wat smaal
“die voorlaaste bundel was beter”?
Vir buitelandse digters wat ontsyfer
aan vertalings getransporteer
van een taal na ‘n ander, immer in transit?
Vir jou susterskind
skrywend aan ‘n opstel oor jou digkuns
timmer timmer laatnag?

L’envoi

Vergewe die wrang aanslag, liewe leser,
(en ‘n gedig wat oop-en-toe konsertina)
keer terug na Auden, o amateur, en weet:
‘n gedig laat niks gebeur!

Wat die belangrike vraag aktiveer: vir WIE skryf jy jou gedigte? (En vir WAT?)

Wees genadeloos. Skryf die vers af. Gooi hom weg. Of sit dit in ‘n legger: op die regte tyd sal die vers sig aanmeld.

II. Woord en wederwoord

Die belangrikste aspek van die Nuwe stemme-reeks is dat dit ‘n seleksie bevat van digters wat ook werkswinkels aangebied het. Heilna du Plooy het dan ook in ‘n onderhoud op hierdie aspek kommentaar gelewer. (Onderhoud met Heilna du Plooy oor Nuwe Stemme 5).

Geen mentor kan “objektief” of “neutraal” wees nie. Maar die student kies die mentor en moet die simboliese gesag van die mentor aanvaar anders kan die proses nie voltooi word nie. Hierom verwys hierdie mentor haar studente altyd na sang. Daar bestaan vele voorbeelde, maar kyk op YouTube na hierdie een met Monserrat Cabballé as die leermeester. (Ilona Domnich, Soprano-Master class with Montserrat Caballe 2008)

What makes a great soprano?

Kiri te Kanawa seg dit kos jare se oefen. En kyk hoe gee sy praktiese raad oor asemhaling. Ek leer ook my student om gedigte hardop voor te lees.

En gee Kiri te Kanawa die volgende raad: “simplify the technique”.

En jy moet sterk, fiks, in “proper shape” wees – net soos die digter eweneens emosioneel moet fiks bly. Soos die operasanger moet vasstaan om die hoë note uit te kry, moet die digter weer en weer terugkeer na die gedig en daaraan skaaf.

Of gaan goegeloer hoe Leonard Bernstein met Carreras se gal werk in die repetisie van West Side Story. (Leonard Bernstein/ West Side Story, studio-takes.)

Carreras! Carreras!

Of wat van Sutherland! (1995 Masterclass - Joan Sutherland)

Daar is uiters talentvolle digters wat saam met my op die toneel verskyn het, wat jammer genoeg verdwyn het. Dalk is dit ‘n blote gebrek aan belangstelling, maar ek dink dit het ook iets te make met dit wat Renée Fleming benadruk: ‘n opvoering duur drie ure; dit is emosioneel uitmergelend want jy sing dikwels oor verlies en pyn. En wie wil nou jaar in en jaar uit gedigte skryf oor die afwesige vader, isolasie, nostalgie, verlore liefdes as jy ‘n ryk sakeman kan wees? Of ‘n gigolo?

III. Dolosgooiers van die woord

Ware digters mag verskil in aansien, maar hulle het almal dieselfde DNA. Hulle bly aanhou, aanhou, aanhou totdat hulle ‘n uitgewer vind wat belangstel. En bly hulle voortskryf – ten spyte van wat ander mag sê of nie sê nie. Trouens, daar is digters wat doodgeswyg is en tog aangehou is. Thomas Wentworth Higginson het na sy kritiese reaksie nie vir Emily Dickinson stilgemaak nie. Sy het nou wel in haar lewe net 7 verse gepubliseer nie, maar steeds bly dig.

Neem kritiese raad ter harte en move on.

Gaan kyk na die resepsie van De Lange se bundels deur die jare en wat ‘n opdraande stryd dit was vir hom om te kom tot waar hy nou as ‘n gerekende digter staan. (Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoude)

IV. Digterlike diagnose

‘n Gevestigde digter en jonger digter is die samestellers van Nuwe stemme wat nou al die vyfde nommer beleef. Dit is ‘n vertoonkas vir jong digters wat nog nie genoeg gedigte het vir ‘n solo-bundel nie, maar genoegsame belofte vertoon. Daar is vele talente wat deur hierdie proses van werkswinkels en publikasies beweeg het tot ‘n volwaardige digdebuut. Die werkswinkels, so verneem ons, is al hoe “dringender”. In die pers noem Loftus Marais die bundel “byderwets, vernuwend en relevant” ("18 nuwe stemme klink op", Beeld, 14 Mei 2013 ) [1].

Byderwets en relevant ja, vernuwend dalk nie oral nie. Vernuwing is ‘n groot woord. Die drif-tot-vernuwing is ‘n bo-menslike eis; en wat dikwels as vernuwend gesien word, staan reeds in menige gepubliseerde gedigte. Vernuwend as kritiese eis is dikwels moeilik – en “vernuwend” is digters wat die kanon dramaties verander. Figure soos Opperman, Breytenbach, Cloete, o.a. Andersins praat ons eerder van ‘n eie stem.

Die bloemlesing bevat ‘n deeglike verantwoording van Heilna du Plooy. En ‘n goeie inleiding deur Loftus Marais. Du Plooy skryf sober, akademies en Marais wys op die onnodigheid van so ‘n inleiding, omdat die gedigte op hul eie bene moet staan. Die bundel bevat ook nie biografiese besonderhede van die digters nie; ons word dus gedwing om te fokus op die gedigte.

Nou die bundel – terloops, die lys van name agterop is onvolledig en ons sien net name en gedigte. Geen bio-inleiding wat die aandag aftrek of jou bevooroordeeld maak nie.

Met ‘n eerste lees, val hierdie verse my op:

Gerhard Bothma: “Silhoeëtte” (21)

Joan-Mari Barendse: “America’s next top poet”(40)

Desmond Painter: “By die reünie”(61); “Jy het Griekeland gehaat” (65) ; 
“Sondagmiddag” (67)

Neil Cochrane: “Lyfvaart: pastiche” (75)

Fanie Viljoen: “dekonstruksie” (85)

Alwyn Roux: “Teken” (97)

Ihette Jacobs: “The sound-of-silence” (104)

Jaco Barnard-Naudé: “Manu magister” (55)

Hilda Smits: “deesdae is Londen my stad” (111)

Pieter Odendaal se “die eerste steen” (129); “Meiose” (151)

Natuurlik verraai dit iets van my leesvoorkeure. Ek hou van reisgedigte, reünies, pastiches of postmodernistiese speletjies, intertekste, stiltes, afwesige lover’s wat die vers aanstig en die tegelykertydasapek van die gedig: daar waar die onderwerp en die tegniese aanslag een word. Kortom, ek hou van tegniek. Maar tegniek soos ‘n bedrewe gokker jou kul met ‘n vinnige beweging van die hand.

Met ‘n tweede lees, sien ek hierdie twee verse op die Versindaba se webblad:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

(Gerhard Bothma)

Ja, less is more. Die slot en begin is treffend. En hoe meer ‘n mens lees, hoe meer karring die vers aan jou gemoed.

vir pa, soos die ander

pa die sluise bruis vanaand weer soos in kanale are wat bars
deur die nate van tyd pa ek was in amsterdam die water het
geblink in die donker daar was swart vlekke swane en ons het
bier gedrink en geproost soos regte kaaskoppe pa en daar was
sprake van groningen in ’n bar daar was lang mans wangbene
gekap uit been en voor vondelpark het ek vir eybers
raakgeloop en mense het binnensmonds gemompel en ek het
op die punte van my tone geluister soos toe ek as kind julle
geheime taal wou ontsyfer daar was die flits van fietse in lane
my kamera-oog het geknip gefokus die dag het silwer geskarrel
in die tonnel van my oog en in die sekondewaas was ouma
hilda ook daar saam met jou pa

(Hilda Smits)

Die interteks is kennelik Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark”. Ongelukkig oordonder die interteks die vers. Moenie sleg voel nie. Sy sny ons almal se tonge uit. Boonop kry ‘n mens die gevoel die digter het nog nie uitgekom by dit wat sy werklik vir die pa (en ander) wil sê nie.

Wel goed is die bewussynstroomtegniek en die assosiasies wat die spreker maak.

V. Swaarte- en Ligpunte

In haar sinryke inleiding vra Heilna du Plooy onder andere:

Hoekom lees ons gedigte, terwyl gedigte tog nie die wêreld kan verander nie?

Sy wys op die tematiek in die bundel: die liefde, die dood, vigs, die media, die ouers (veral die vaderfiguur), ontnugtering, e.d.m. – bekende bakens in die digkuns…

Hoeveel van hierdie gedigte kom by Roman Jakobson se eis uit, naamlik om gewone taal georganiseerde geweld aan te doen?, soos Du Plooy dan aanhaal. Om die klip dus klipperiger te maak, soos Sklovský dit so netjies geformuleer het.

En hiervoor kyk ‘n mens na beelde en nie na persoonlike opmerkings van die digters nie.

Enkele kanttekeninge:

Georganiseerde geweld of om die klip “klipperiger” te maak is waarskynlik die moeilikste eis van die digkuns. Aan nuutsegging of oorspronklikheid word die digter immers gemeet.

Met my derde lees, is ek veral onder die indruk van die oorspronklike beelde in die gedig “Ballade” (135) van Pieter Odendaal.

Die treintrok het gedig geword
die lied was ons enjambement
en almal was veeltalig een,
behalwe die simpel vent.

En “oë wat sci-fi-strale skiet” is ook skerp.

Die digter bring die wêreld van die digkuns, treinry (ja die strofes is soos treintrokke) en beelde uit die filmwêreld. Ook die aanwesigheid van selfone word hier ingebring met die wete dat die digkuns tóg iets is waarmee die spreker ander kan uitoorlê. En dis hierdie geloof in die digkuns wat waarskynlik soveel belofte inhou vir hierdie digterskap. In die gedig “die see glim soos die weerkaatsings van die boek” (131) is daar dieselfde ont-plooiing van taal.

Ek dink hier aan “die kerktoring se stilblyvinger”, “ry daar ‘n fiets // uit die garage van my harsings” (131).

In “Meiose” (132) lees ons oor die pa: “sy maag peul uit soos ‘n struggle song”.
“die eerste steen” (129) (vir Adam Small) is ‘n vers wat reeds wyd aandag ontlok het. 

Hilda Smits se “Vir Primo Levi” (114) imponeer eweneens.

“By die reünie” (61) van Desmond Painter is die onthoubare beslis:

Die maan is ‘n semenvlek
op die swart onderbroek
van die aand…

Tegelykertydsaspek:

Daardie gegewe waar die gedig twee sake oormekaar skuif sodat dit één word, vind ons by Jaco Barnard-Naudé in “Manu magister” (55)

Manu magister

die een hand
           reik skielik
oor ’n styfwit tafeldoek
            na die ander
hand
die een hand vreeslik femme
           die ander o so straight:

’n gedig ontspring
by verbode aanraking.

en in “Overberg” (20) van Gerhard Bothma wat ek weer aanhaal om my argument te staaf:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

Temas:

Gedigte oor ouers en siekte vind ons hier – soos “Alzheimer” (123) van Izak du Plessis waarin die siektetoestand konkreet verbeeld word. “Die moeitelose selfmoord van dominee De Waal” (126) wys hoe ‘n psigiese dood in wese ‘n soort selfdood word.

Die liefde vind weerklank in die snaakse “The sound-of-silence” (104) van Ihette Jacobs. 

Joan-Mari Barendse se “America’s next top poet” (40) is ironies oor die vraag: kan ‘n mens met toewyding ‘n digter word soos ‘n supermodel? Absoluut!

America’s next top poet

Volgens ’n voorste modelafrigter
kan enigiemand
met toewyding
’n goeie dieet
strawwe oefening
professionele grimering
ontwerpersklere
plastiese chirurgie
en die regte gene
’n supermodel word
ek wonder
geld dit ook vir digters?

Eensaamheid en nostalgie is te vinde in die digkuns van G.P. Terblanche.

Die skryfproses en die bemoeienis met die digkuns is ‘n belangrike tema vir Hendrik van Niekerk wat selfkrities blyk te wees oor die “metaforiese branders” (33, “Verligting in skoon word”). Desmond Painter ervaar ook die skryfproses en die gesprek met die liefdesgedig in Afrikaans wat dikwels op ellende en eensaamheid uitloop (“Sondagmiddag”, 67).

Die “geding met God” vind ons by Wicus Luwes in die aangrypende “’n Beknopte lewe” (43):

ons lewe in skofte
en leer honde om hul pote vir ons te gee…

Oloff de Wet en Desmond Painter gee indrukke van ‘n vreemde landskap soos in “moya” (49) en “Jy het Griekeland gehaat” (65).

Die impak van TV en die impak van plastiek word verïroniseer deur Fanie Viljoen in “plastiek” (87).

Die skilderkuns as uitweg en digterlike konstruk vind ons in “Sneeukoningin” van Gisela Ullyatt (92).

Toespelings:

Adriaan Coetzee se gedig “laat die kind kom” (118) speel in op Leipoldt se oorlogsverse oor die Boereoorlog en Ingrid Jonker se beroemde gedig wat Mandela weer lewendig gemaak. Dit is ‘n slim gedig, omdat die leser se voorkennis van die geskiedenis aangespreek word. Dit aktiveer eweneens die taalstryd.

laat die kind kom

laat die kind kom na my Afrikaansklas
om sy taak oor Leipoldt
in swak skrif op rooi karton
naas plakkate van landmyne en handgranate
teen die muur te plak
laat die kind kom en my halssnoere
op die voorblad bespreek in Voorligting
laat die kind kom na my skoolsale
vol foto’s van Kruger tot Mandela
en Hoe groot is U sing

Neil Cochrane en Alwyn Roux se gesprekke met die tradisie is gesofistikeerd. Eersgenoemde met postmodernistiese aanslag (“Lyfvaart: ‘n pastiche”, 75) en laasgenoemde in sy gesprekke met Breytenbach.

Desmond Painter bely pront hy het ‘n gedig afgekyk (“Aanvaarding”, 62).

Carina van der Walt maak aanspraak met die mona lisa-obsessie in “Amon L’isa” (79) en “kontra-komposisie” (81) word ‘n slim kuns-paper chase.

Fanie Viljoen noem ‘n gedig “dekonstruksie” (85).

Tegnieke:

Facebook maak hier konkreet sy opwagting (Desmond Painter se “Vier Facebook Status Updates”, 71).

Daar is beeelddigte – wat dui op groter afstand van die self – soos die gedig oor Rosa Luxemburg (“Gesoek: Rosa Luxemburg” van Jaco Barnard-Naudé, 58) en die reeds genoemde “Vir Pirmo Levi” (114) van Smits.

Die spel met die sonnetvorm is ook hier (“Jeugfoto: ‘n vals sonnet”, 55) van van Barnard-Naudé. Die vierreëlige vers word aangetref in “Silhoeëtte’ (21) deur Gerhard Bothma.

Die distigon vind ons by Barnard-Naudé in “In transit” (54).

Adriaan Coetzee maak ons attent op die aanwesigheid van die speltoetser (“Instrumentalis”, 117) en die spanning tussen natuur en masjiene.

Die kaberetagtige vers vind ons ook hier, soos by Desmond Painter wat die oeroue spanning tussen die lied en die digkuns aktiveer (“Miss Jesus”, 63).

Neil Cohrane is speels en ironies in sy pomo-verse.

Kritiek:

Die naamregister agterop is onvolledig.

Boeke en internetverwysings vir verdere bestudering:

A.P. Grové: Woord en wonder. Nasou, 1984.
Henning Snyman: Mirakel en muse. Perskor, 1983.
Camille Paglia: Break blow burn. Knopf Doubleday, 2005.
Ottone M. Riccio: The intimate art of writing poetry. Prentice Hall, 1978.
Johann de Lange se blog Kaapse paragrawe.

Heilna du Plooy sluit tereg haar inleiding af met ‘n verwysing na Sheila Cussons, iemand wat destyds in Opperman se Stiebeuel-reeks gedebuteer het en gegroei het tot een van die grootste digters in Afrikaans. Haar debuut Plektrum bly ‘n hoogtepunt.

Kom ons kyk wie gaan genoeg stamina hê om alleen te debuteer. Daar is genoeg blyke van genoegsame talent in hierdie versameling wat ‘n mens hoop gee vir die “loneliness of the long distance poet”.
                  
Ek wil nie al die gedigte aanhaal nie, omdat die leser die boek moet koop!

Junie 2013

Joan Hambidge

Is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. Haar laaste bundel heet Lot se vrou (2012). In September verskyn Meditasies by Human & Rousseau. Vir Visums by verstek (2011) is sy bekroon met ‘n ATKV-Woordveertjie. Hoe ouer sy word, hoe meer voel sy dat net vleis en tamaties gegradeer behoort te word.

Sy glo ook dat ‘n mens met elke bundel soos ‘n slang moet kan vervel en nuwe tegnieke onder die knie behoort te kry. Haar blog heet Woorde wat weeg. 

Sy is op pad Viëtnam toe aan die einde van die jaar en probeer haar hand waag aan die luc bát. (Lục bát - Wikipedia, the free encyclopedia)

Endnote:

Rudolf Stehle. 18 nuwe stemme klink op. Beeld, 14 Mei 2013.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Versindaba geplaas.]