Resensent: Joan Hambidge
Onder water is die tweede roman geskryf deur Henda Olivier. Die hele problematiek van seksuele identiteit en agentskap word onder die loep geneem. Die slim gekose titel werk met die onbewuste as ‘n bergplek (Freud) wat deur koerantberigte, gesprekke of films ontsluit kan word. Dit vertel die verhaal van Rebekkah Keller wat haar pa aan die dood afstaan as tiener. Dit is eerste die motoriese moment vir die verhaal.
Swem word ‘n ontvlugting uit hierdie ellende. Boonop is haar moeder emosioneel onstabiel en ‘n opgaarder.
Die hele kwessie van die plaas en ‘n veiling word ook bekyk. En aanvalle soos op Hannes. Daniël (God is my regter in die Hebreeus) en Rebekkah (om te bind in die Hebreeus) is die twee hoofspelers in ‘n pynlike geding van hoe daar vergeet en verberg word. Ten einde te oorleef.
‘n Onderwyser ontferm hom oor Rebekkah en is haar swemafrigter. Twintig jaar later, as geskeide vrou, is sy werksaam by ‘n prokureursfirma. ‘n Vriendin stuur ‘n boodskap aan haar en haar hele verlede “spoel soos ‘n fratsgolf oor haar”. Dit is die tweede motoriese moment.
Nou wil hierdie leser nie die leeservaring bederf vir die voornemende leser nie. Dit is pakkend geskryf en jy word ingetrek in die stroom van herinneringe, bedrog, voorgee en jaloesie. ‘n Toe versus ‘n nou. Die huwelik en familieskap as ‘n benoude en gereguleerde ruimte waaruit die hoofkarakter nie kan ontsnap nie.
Op bladsy 49 word die baboesjkapoppies as simbool gebruik. En dis hoe ‘n mens hierdie boek moet ontsluit: die reëls van jag geleer by die vader teenoor die man en seuns wat op Rebekkah jag maak. Briewe teenoor sosiale media en die impak van Facebook. Die liefdeswoord “bokkie” teenoor die natuur waar bokke gejag en geskiet word. Bon Jovi versus boere-idiome. Die invloed van drank op laataandboodskappe.
Daar is verwysings na Orkney snork nie en Riaan Cruywagen, onder andere, wat ‘n spesifieke tydvak aandui teenoor name van bekende eet- en drinkplekke in Klaarfontein/Bloemfontein. Vraisemblance dus.
Die adder wat kan kamoefleer, is ‘n belangrike simbool. Hy hoef nie te jag nie; sy prooi kon na hom toe (59). Die jagmetafoor is deurgaans aanwesig soos die spitsmuis wat sy prooi vergiftig en aan hom bly vreet, selfs vir vyftien dae lank (159).
Die #MeToo-beweging, waar veral vroue opgestaan het teen sosiale misbruik, word hier ingebed. Rebekkah se ellende word word geplaas teenoor Evert, waar sy ouers namens hom by die prokureur ‘n klag wil aanhangig maak. Oor ‘n ouer vrou se ontoepaslike gedrag. Grooming en drowning. (En mag die oppasser kinders kaal bad?, is een van die vrae in die boek.)
Die roman ondersoek alles tussen toe en nou en hoe die landskap van die seksuele spel verander het. Camille Paglia het in Vamps & Tramps (1994) haar sterk uitgespreek teen vroue as slagoffers versus moderne feministiese kritici, wat daarop wys hoe Alfred Hitchcock, byvoorbeeld ‘n obsessie gehad het met vroue soos Grace Kelly (Rear Window) en Tippie Hedren (Marnie / The Birds). Tog is dit juis hierdie manlike blik wat sy films so fassinerend maak, aldus Paglia. (Melanie Griffith, Hedren se dogter, het hierdie aspek bevestig.)
Groot kuns is helaas selde polities korrek of vind closure of heling. Of maklike oplossings.
Ons dink hier aan Lolita van Vladimir Nabokov in 1955 en aan die verfilming deur Stanley Kubrick in 1962, met die onvolprese James Mason, as Humbert Humbert in sy allesoorheersende verhouding met Dolores Haze, die manipulerende Lolita. Hier is die kind-as-nimfet die een wat beheer. Met Peter Sellers as Quilty. En Shirley Winters as die flirterende ma.
Nou plaas hierdie spannetjie teenoor die karakters in Onder water, dan praat ons weer.
“Sy is gekwes, maar sy lewe” (270) lees ons in Onder water. Goeie letterkunde systap eenvoudige oplossings en is beslis nié sosiale of politieke traktate nie. Hannes in sy Stormerstrui teen die slot en haar huis toe neem. ‘n Goeie slot?
Dis werklik jammer om só te skryf oor hierdie roman, want Henda Olivier kán vertel en simbole inryg en met verwysings werk. Tussen toe en nou. Uiteindelik word dit ‘n roman vir lekkerlees. Die verwysing na ‘n kinderboek Otjan Otter is wel tersaaklik.
Miskien moes sy klasse gebunk het en eerder by ‘n letterkunde-onderwyser gaan leer het. Of dalk net Francoise Sagan se Bonjour Tristesse (1954) gelees het in die biblioteek saam met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan (1937) waar vroue ook uitgelewer is aan mans. En begeerte. (In Onder Water is daar ook tydsaanduidings soos by Smit.)
Die implisiete verteller moes die sleutel in die metaforiese oseaan gegooi het (97) en die Pandorakis vérder oopgemaak het. Of dalk nie na Lena geluister het nie.
Inderdaad: Ain’t no thang but a chicken wang … (124). Die roman word bemark as ‘n nuwe stem wat dit bepaald is binne die romanza-kultus. Binne ‘n letterkunde waar krimi’s ernstig geresenseer word, is ‘n belofteryke debuut of ‘n nuwe stem ‘n swaar verdiende etiket. ‘n Nuwe “gloeiende stem” reserveer hierdie leser vir name soos o.a. Lettie Viljoen (Klaaglied vir Koos), Rachelle Greeff (Die rugkant van die bruid) of Koos Prinsloo (Jonkmanskas). Of Alexander Strachan en later: S.J. Naudé …
En wag maar eers met die heiningkwas en laat die boek haar lê kry.
Joan Hambidge is ‘n Genoot en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is digter en romanskrywer.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)