Bladsye / Pages

Sunday, June 23, 2024

Resensie | Justin Fox – The Wolf Hunt. Jonathan Ball, 2024

Justin Fox – The Wolf HuntJonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776194025

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Oorlog en die impak daarvan,  verdwyn nooit nie. Justin Fox, digter, fotograaf, reisiger, nie-fiksie skrywer van formaat, karteer in The Wolf Hunt al die kompleksiteite van oorlogvoering ter see. 

 

‘n Roman wat belangrik is, veral in die lig van die voort-durende, slopende oorloë wat tans die nuus oorheers: Rusland en die Oekraïne versus die Midde-Oosterse konflik. All Quiet on the Western Front (2022) is ‘n meesleurende film van Edward Berger oor WO I, gebaseer op Erich Maria Remarque se klassieke roman uit 1928. Met die verskrikkinge wat die 17-jarige Paul Bäumer alles moet trotseer. Daar is ‘n verwysing na hierdie roman en Murder on the Orient Express van Agatha Christie (29). Ook die Reader’s Digest en Moby Dick is hier (228).

 

Vérder terug in die tyd is daar die Serwiese filmmaker Emir Kustirica se Life is a miracle (2004) wat op satiriese en sardoniese manier met oorlog omgaan.  En hierdie films word met opset betrek, omdat Fox filmies en beeldend vertel. 

 

Die voorblad het ‘n sub-titel: Nazi terror in South African waves. Boonop lyk die voorblad soos ‘n berig wat uitgeskeur is uit ‘n koerant. ‘n Belangrike kode wat die leser help om die spel tussen waarheid en fiksie te navigeer.

 

Dit is Julie 1941. Engeland teenoor Simonstad. Luitenant Jack Pembroke wat sy manne moet reg kry vir die oorlog en die tyd loop uit. Admiral Dönitz wat uit Frankryk U-bote stuur. Rommel. Jan Smuts. Die Geallieerdes in Egipte. ‘n Suid-Afrikaanse, Nazi-gesinde spioen en pogings om Jannie Smuts se pro-Britse regering te ondermyn.

 

Dis ‘n hoogs leesbare verhaal en die McGuffin word hier ingespan. Die outeur gee vir ons (baie slim) ‘n glossarium voorin (en agterin nie), soos lordships (sleng vir U-boat seamen) en pongo, sleng vir Bitse soldate: where the wind blows, the pong goes”). Of Snoekie (Snoektown) naam vir Simonstad. So word die leser dus vooraf gerig om begrippe en woorde reg te vertolk.

 

II

Die werklike outeur (Fox) gee eweneens interessante gender-perspektiewe op oorlog. ‘n Romantiese liefdesverbintenis tussen Jack en Clara. Clara wat mans se aandag geniet en Jack se hart laat pyn (158). Oorlog wat belangriker is as die liefde en die vrou wat moet wag.

 

In dieselfde tyd kyk ek weer Notorious die klassieke Hitchcock-film uit 1946 met die rol van die vrou (Ingrid Bergman) wat mans eweneens oorrompel met haar skoonheid. ‘n Spioenasiefilm van hoogstaande gehalte met Cary Grant as die een teenspeler.

 

‘n Jong offisier wat sifilis opdoen en veral die beskrywing van Mevrou Smuts en die SAWAS. Die “glory bags” wat vir die soldate gemaak word, wys hoe diep die oorlog almal geraak het.

 

Na Agatha Christie word verwys as “an old English duck”, maar in die gedagtegang van ‘n man in daardie tyd.

 

Die gebruik van Afrikaanse woorde (soos vaderland, moer, ouma, soasties, boerewors, ensomeer) gee ‘n outentieke blik op die interne belewenisse van karakters. Die navorsing is oortuigend: Die Burger word gelees en ons sien Isie en Jan Smuts. Die Universiteit van Kaapstad is hier en die wandelpaaie korrek.

 

Radio Zeesen, die SDF uniforms, Hitler se mag word deeglik beskryf. (Kyk na die ikoon tussen afdelings.)

 

En verwysings na die Bybel (Jona, o.a) en gebede is aanwesig. Wat geëet en hoe ‘n man se oë oopgesper is soos litchies bly mens by (109). Hande wat so rooi soos lobsters is. Die konkrete aspekte (die beskrywings van die see en aanvalle) word uitstekend weergegee. En jy kan die stank van kots en bevuiling ruik. En Wagner se musiek is ‘n interteks. En wanneer die verhaal ligter raak, is daar die musiek van Vivaldi.

 

Hierdie leser moes weer oplees oor die Ossewabrandwag en hul rol in die oorlog. En die verraad ontdek in ‘n dagboek. Wat alles gedoen word om almal besig te hou, word deeglik beskryf:”With Seebohms help, he penned a weekly newsletter which was pinned up in the the control room for all to read and featured on-board gossip, poems by the crew, cartoons, a crossword with specific relevance to their boat and reports from home”(108). Dis vanuit Brand se perspektief. 

 

Danse weer beleef aan die anderkant van die gevegsfront.

 

III

Die hele kwessie van wie vertel, wie kyk, die ouktoriale verteller, die geskiedenis as ‘n makro-teks teenoor persoonlike perspektiewe, word behendig hanteer en sal vir jong navorsers in die narratologie belangrike navorsing bied. Hierdie verteller gee eweneens sleutels na die mitologie en die “Lili Marleen”.

 

Om tekste te suiwer of skoonmaak, omdat dit ‘n nuwe generasie mag aanstoot gee, is verkeerd. Die integriteit van sowel die teks as tydsgees word hierdeur aangetas.

 

Die periskoop is hier ‘n belangrike kode, omdat die outoriale verteller weet wat die uiteinde sal wees. Brand se logboek en persoonlike dagboek gee ‘n blik vanuit ‘n ek-perspektief op die ellendes wat beleef word (211).

 

IV

Die skrywer speel ‘n spel met die leser. Wat dink jy weet jy van hierdie oorlog en wat word gefabriseer, byvertel?

 

Die boek word aangeprys deur die gesiene historikus Bill Nasson (kenner van die Suid-Afrikaanse oorlog) en John Maytham wat dit ‘n yarn noem. Dus ‘n storie met oordrywing en wat die verbeedling aangryp.

 

Die roman vorm deel van die gewilde Jack Pembroke-reeks. Lees hierdie roman. Dit het my oneindige leesgenot verskaf en my kennis van die oorlog en woorde verryk. En ou Engelse gewoontes en hoflikhede weer verskerp: soos daardie preprandial glasie voor die ete.

 

Die titel is meervlakkig. Die leser word deel van die soektog. 

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies (Protea).