Daniel Hugo (Red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging. Naledi, 2023. ISBN 9781 991 256 447. R330, 336pp
Resensent: Joan Hambidge
Onder die sub-titel Digter van die kwiksilwerwoord word Ina Rousseau vereer met die digter en vertaler Daniel Hugo as samesteller. Sy ontvang die Reina Prinsen Geerligsprijs vir haar debuut Die verlate tuin (1954) en die Hertzogprys vir haar laaste bundel ‘n Onbekende jaartal (1995).
Hugo het Rousseau se poësie gebloemlees as Die stil middelpunt (2003).
As voormalige dosent het studente immer plesier gehad aan haar komplekse verse in lesings waar ‘n mens op verskillende aspekte kon fokus in haar digkuns: vreemde woorde, versvorme, genderkwessies, Bybelverwysings, tydshantering, die gesprek met Blum, haar plek in die kanon, ensomeer.
Daar word hier na haar werk gekyk as digter, kortverhaalskrywer én vertaler. Dit is bekend dat sy verse afgewerk het tot in die laaste sillabe in. Haar verbintenis met die digter Peter Blum is eweneens bekend. Hieroor het sy ‘n aangrypende reeks geskryf “Steppewolf”.
Vir my is haar kortverhaalbundel Soutsjokolade (1982) ‘n besondere bundel. Die verhaal “Onthou jy vir Helena Lem?” kan geen leser ooit vergeet nie. ‘n Verhaal oor ‘n verloofde man wat sy vrou met wie hy op trou staan sonder erbarming ervaar wanneer hy haar vertel van sy ontmoeting met ‘n jeugvriendin wat ondertussen blind geword het. Sy onthou haar egter as iemand wat ‘n skoenlapper se vlerke afgetrek het. Vir hom het sy egter ook húl kosbare verbintenis vernietig met haar gemene reaksie. Die brief wat hy aan haar skryf – met woorde wat deurgekrap word – gee ‘n weergawe van sy vertroebeling. Wie die skoenlapper se vlerke afgeruk het, word in die ontknoping weergegee.
Francois Smith, ook prosaskrywer, gee ‘n interessante psigoanalitiese interpretasie van hierdie Atwood-agtige teks, terwyl Daniel Hugo as stipleser fokus op die gesprek tussen Johann de Lange en Ina Rousseau. Hugo wys hoe die digter De Lange as’t ware sy eie poëtika op haar projekteer in sy pragtige verse oor én vir haar.
Smith skat haar goed in as prosaskrywer en wys ook op haar hantering van simboliese getalle en offergawes. En waar sy ook haar leser dalk mag onderskat het in ‘n vertelling?
Die verskillende variante in haar digkuns dui op haar werk as ‘n groeiende organisme en Shané Kleyn wys op verskeie aspekte van variante en hoe dit benader moet word. Juis omdat die perfeksionistiese Rousseau telkens gedigte verbeter het, was daar verskillende variasies (soos by Yeats, Achterberg, Nijhoff, o.a.)
Sy was inderdaad uiters ambivalent oor die publikasieproses. In persoonlike gesprekke was sy ook afwysend oor enige navrae oor die spreekwoordelike koek in die oond. Trouens, in ‘n telefoongesprek teenoor my het sy opgemerk dat my handskrif onleesbaar-lelik is (korrek!) en dat sy dit nie kan ontsyfer nie. Hierteenoor ‘n poskaart van haar: kort en kragtig. Afgesluit: I.
Kleyn vertel die anekdote van die koekbakker-van-formaat, via Abraham H. de Vries. Inderdaad. Maar die resep bly tog ‘n geheim …
En hierdie komplekse geheimsinnigheid analiseer die digter en literator, Hein Viljoen behendig, ook as kenner van die Simbolisme en as ‘n leser wat die hele kwessie van die dubbele negatief (soos by Eybers) onder die loep neem. Die sogenaamde “simple replacement and the suggestion of the mystery” via Wellek, die groot literatuurteoretikus word bespreek. Hierdie bydrae is uiters leersaam oor hoé die sogenaamde “kognitiewe domeine” in ‘n gedig versmelt word.
Fanie Olivier gee ‘n hoogs leesbare (en deeglike) geskiedenis róndom die ontvangs van Rousseau se poësie wat opnuut bewys: ‘n resensie is ‘n eerste reaksie, boonop tydsgebonde en die boek bly staan selfs wanneer die Malmokkies en ander ou Boekgodjies ses voet onder die grond lê.
Die voetnote hier is openbarend. Olivier wys op ‘n fout wat ‘n literator maak met verwysing na Standpunte op bladsy 49.
Bernard Odendaal, ‘n kundige vertaler en raadgewer, gee ‘n uitvoerige verslag van Rousseau se werk as vertaler. Hy wys op die “uitleengeskiedenis” in die Ferdinand Postma-biblioteek in Noord-Wes om sy argument te staaf oor vertalings en hy vind dit jammer dat herdenkings by haar dood die vertalings nie vermeld nie.
Die digter se idiosinkratiese woordgebruik is algemeen bekend en haar werk by die Woordeboek van die Afrikaanse Taalhet kennelik haar taalkennis verruim. Die gebruik van sogenaamde “onpoëtiese woorde” en wetenskaplike terminologie is ‘n belangrike stilistiese bydrae, soos Bernard Odendaal tereg uitwys.
Tania Colyn ondersoek die komplekse verhouding tussen Ina Rousseau en Peter Blum vanuit ‘n genderperspektief. Via Hélène Cixous en Barbara Johnson word die leser opnuut bewus van hierdie intertekstuele wisselwerking (en uitruiling) tussen twee belangrike digters. Hierdie artikel wys op die in transit-aspek van vrouedigters wat buite die manlike orde skryf.
Die grootste waarde van hierdie bundel is die Engelse vertalings en gedigte uit die Italiaans na Afrikaans versend deur hierdie woordsmid. Soos sy opmerk in Die Burger, 1 April 2006.
"Ek werk nooit aan ’n bundel nie. Ek werk selfs nie aan ’n gedig nie. Ek skryf woordgroepe, en later sluit die woordgroepe by mekaar aan en word ’n gedig." Erika Terblanche gee vir ons ‘n biografiese oorsig.
En die pragfoto’s in die boek is aangrypend mooi, veral die een wat Philip de Vos van haar geneem het in haar woonstel in Hofstraat, Kaapstad. Pragtige foto’s met mooi, stylvolle klere.
En ‘n klassieke Rousseau-kwatryn bly hierdie een vir my:
In sneeuwit siermotiewe van die pyn
breek die verwording deur in blaar en stam.
O was die lewe mooier sonder die fyn
borduursel van die skimmel? Van die swam?
(52)
Van die huldigingsbundels is al gestriem oor setfoute of swak keuses. Hierdie een is goed afgewerk en gee ‘n vars blik op hierdie uitsonderlike digter. Ja, sy met haar woorde van brokaat.
Joan Hambidge Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.