Bladsye / Pages

Tuesday, March 28, 2023

Resensie | Nick Mulgrew - The Book of Unrest | uHlanga, 2022

Nick Mulgrew - The Book of Unrest. uHlanga, 2022. ISBN: 978-0-620-98690-8

Resensent: Joan Hambidge

 

Receding now, the floodwater masquerades as ocean.

Every day the intertide rises further, approaching 

the horizon in a parallel band: the coast is leaking grey;

even the dullest shades of blue desert the ruined bay.

 

Hierdie is die tweede bundel van Nick Mulgrew, uitgewer en bekroonde skrywer. The First Law of Sadness ontvang die 2018 Nadine Gordimer-prys en sy roman A Hibiscus Coast, was op die langlys van die 2022 Sunday Times Fiction Prize. In 2016 ontvang hy die  gesogte Thomas Pringle Award en was hy ‘n finalis vir die National Poetry Prize.

 

The Book of Unrest is ‘n bundel waarin die digter deur ander Durban-skrywers sy eie ervarings karteer: elegies, melancholies met ‘n besinning van die plek van die digkuns in turbulente tye. Bekendes soos Imraan Coovadia, Sally-Ann Murray, Richard Turner, Ronnie Govender, Douglas Livingstone word aangespreek.

 

Fernando Pessoa is ‘n belangrike kode vir hierdie bundel. Hierdie digter het verskillende personas geskep soos Alberto Caeiro, Álvaro de Campos and Ricardo ReisDie Portugees-gebore digter Fernando Pessoa (1888 -1935) het van ouderdom sewe in Durban gewoon waar sy vader konsul was.


Deur ander digters uit Durban te betrek, word ‘n komplekse diskoers uitgestal. Die leser wat bekend is met die digters waarop hy steun in sy reaksies, word gekonfronteer met ‘n ryk skat van verwysings en palinodes soos “Dramatis personae” (11) dan bevestig.

 

Dit word ‘n bestekopname van jeugervarings waar die ouers aangespreek word en die dood van ‘n kind wat hom in die herinnering agtervolg. Hierom dan ook ‘n reeks waar die getalle van agter na voor werk met skerp politieke kommentaar. “Dogma” – in gesprek met Douglas Livingstone – hanteer die religieuse en politieke dimensies en word ‘n aangrypende ars poetica. Een waarin die digter konstateer: dit is soos dit is …

 

Hy skryf oor die “littoral zone”, ‘n belangrike metafoor vir die begryp van die gedigte, omdat die spreker afduik in die onthoue wat deur die onbewuste na vore gebring word. Dit is dan ook die titel van Douglas Livingstone se bundel van 1991.

 

Daar is pragtige, onthoubare beelde soos “The sun is a cartouche without graven name or image” (15) 

 

Teenoor Afrika-woorde soos umlungu, dala, gwaai is daar die litanie van pyn binne ‘n Westerse mens wat al die teenstrydighede van hierdie vasteland probeer versoen.

 

“Rewriting is unwriting” en later: “writing is unwriting” (55) aktiveer die werkswyse van Roland Barthes in sy poststrukturalistiese periode soos in S/Z (1970/1974).

 

Barthes se lisible (leesbare) versus scriptible (skryflike) leesaksies is hier tersaaklik. Die leser in The Book of Unrestword uitgenooi tot ‘n skryflike leesaksie waar jy ander tekste saam-lees en oopmaak. Soos Pessoa met sy verskillende gedaantes en maskers geplaas teenoor Douglas Livingstone, die Durbanse marine bioloog, gebore in Kuala Lampur. En ágter hom skuil Roy Campbell, nog ‘n magistrale Engelse digter, vereer deur D.J. Opperman in ‘n lykdig “By die dood van Roy Campbell”.

 

Met daardie ongelooflike reël:

 

ek ken die brons krisante van die pyn.

 

Die digter is tegnies bedrewe en veral sy jeugherinneringe gryp aan die hart. Die dood van ‘n kind – ‘n soort politieke metafoor – vir weerloses en verskoppelinge is treffend.

 

Die bundel bevat odes, ‘n aubade (oggendlied), ‘n gebed en ‘n spel met spreekwoordelike draaivers (“Home poem”, 23) of pantoem. Hierdie vorm uit Maleisië bevat 4 kwatryne met herhalings van reëls wat oorloop van een strofe na die volgende.

 

Die leser vind dikwels ook die lament in hierdie bundel. 

IV

 

I too left that coast at seventeen, but I am not Fernando.

But neither was he. Nor Ricardo, Ālvaro, Alberto.

Oh, to be the elderly child stuck in the city of their mother,

dreaming only the dreams they dream; only the dreams of others.

(54)

Met die wete dat die verskillende digterlike selwe of personas geskep is uit herinneringe en mites.

 

Genoeglik die vers wat ‘n ode is aan ‘n tyd buite tyd en ruimte. Hiermee wil die digter die kwessie van herinnering aanspreek wanneer hy nie in die trope is nie (12). Die digter is tans woonagtig in Edinburgh met nagraadse studies aan die Universiteit van Dundee. ‘n Veraf blik dus.

 

‘n Klein bundel, maar die gedigte is verpak soos dinamiet.

 

Bestel van Uhlanga press http://uhlangapress.co.za/

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Sunday, March 19, 2023

Resensie | Jerzy Koch | Polkadraai | Turskvy, 2022

Jerzy Koch – Polkadraai. Turskvy, 2022. 110 bladsye, R250. ISBN: 978-0-6397-2418-8

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Die vertaler, digter, bloemleser en literatuurgeskiedskrywer se tweede bundel, Polkadraai, gepubliseer deur Turksvy Publikasies, is ‘n beduidende en aangrypende teks.

 

Hierdie digter – verbonde aan die Mickiewicz Universiteit in Poznań, Pole – is ook navorsingsgenoot aan sowel Stellenbosch as Vrystaat Universiteite. Vir sy vertalings is hy bekroon met die M. Nijhoff-prys.

 

Die digter beskryf homself as olea europaea / subspecie africana.

 

Alles relevante inligting oor ‘n digter wat hom op verskillende vlakke met Afrikaans bemoei. Sowel leermeester as kanoniseerder wat skryf oor die verhouding tussen die sentrum en die antwoorde hierop. Hy hou hom besig met zenofanie.

 

Een van die beste artikels oor Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan is deur Koch geskryf.

 

Hierdie leser het die tweede bundel as ‘n soort alternatiewe literatuurgeskiendenis in digvorm benader. Die digter wat van buite kyk na Afrikaans, maar ook die landskap en mense van binne beleef. Van die mooiste en mees aangrypende natuurgedigte is hier te lese, omdat die reisende digter met ‘n onbevange blik waarneem. Denne, naaldbome, pere, fynbos, ‘n bergpas, die polkadraai in Stellenbosch, Jonkershoekweg teenoor die Poolse landskap o.a.



II


Die blik van buite versus die blik van binne is opvallend in hierdie bundel wat reeds in die epiteks (dit wil sê, die buitekennis) saamspeel met die buiteblad: woorde wat vir die leser sleutels gee om die bundel mee te benader of oop te maak. Boegoe, kamma, kierie teenoor decrescit, assumptio, interludium (o.a.). Ek kyk vas in glissandi. ‘n Glissando in musiek beteken ‘n opwaartse en afwaartse beweging. ‘n Verandering van “pitch” of toonhoogte. En die vreemdeling praat dikwels ‘n nuwe taal in ‘n ander tongval. Koch is sowel vlot in Nederlands as in Afrikaans en in Polkadraai is hy soos ‘n musikant besig om musiek te maak, terwyl sy lesers ‘n polka dans of ‘n outydse wals uitvoer. Soms selfs jazz.

 

Daar is drie afdelings: Literatuurgeskiedenis, Grendeltyd en Onder Andere.

 

Die skryfproses is deurgaans ‘n belangrike motief in hierdie bundel nes die ontginning van die klankmatige aspek. Die digter maak aanspraak op die leser se kennis soos in die gedig “wakker word in afrikaans” (92, 93) waar die refrein hier verander anders as in die volmaakte rondeel. Hy vertaal ook Wisława Szymborska impromptu in die gedig “voordrag” (24).

 

In die eerste afdeling is daar besinnings oor die dubbele negatief wat ‘n digter kan pootjie, en daar is pragverse oor Olga Kirsch en Boerneef wat tans deur vele digters besing word. In die tweede afdeling word die verskillende seisoene beskryf en weer eens bly die leser bewys van hoe die digter die klank-aspek ontgin. Maar daar word ook gekyk na ‘n Escheriaanse universum met ‘n oog en oor wat versadig is (36). Dit is ‘n belangrike kode vir hierdie bundel: twee wêrelde wat saam bestaan.


Die Slawiese wêreld is hier aanwesig. In “hoekom poësie” (94), speelse grammatika-les, neem hy die leser na die verskille tussen sý taal en Afrikaans. Die sewe naamvalle (met nominatief, genitief, datief, akkusatief, instrumentalis, lokatief en vokatief) word hier in sy taal voorgestel – in Afrikaans loop dit elke keer uit op dieselfde woord poësie; in sy taal is die uitgange anders.

 

Pools is skynbaar die enigste Slawiese taal waar nasale of neusklanke nog voorkom. So beskou, fokus hierdie leser juis dieper op hoe sy gedigte se klankspel werk.

 

Hy dwing jou dus om stip te lees in hierdie bundel wat ook her-kanoniseer.



III

 

As literatuurhistorikus is daar ‘n parateks. Endnote en verwysings na bekende gedigte waarop ingespeel word. ‘n Implisiete verwysing na Peter Blum en vir my, ‘n andersoortige Die grammatika van liefhê.

 

Anders as by Steyn, steek hy dikwels die grammatika-speletjies weg, maar dwing jou om op te soek.


Die impak van die oorlog en die Russiese wêreld word beskou. Ook in die skrynende “truitjie” (57) die weefwerk van die geskiedenis wat in die herinnering ‘n trompe-l’oeil word.

 

Die oog wat kyk; die oog soos by Escher wat na verskillende vlakke geneem word.

 

Visuele illusies wat in “droom” (99) ‘n pynlike besinning is oor die dood.

 

Van Wyk Louw is is die digter wat die Afrikaanse leser hier sal hoor onder die oppervlak van ‘n gedig.

 

Koch is die meester van grensoorgange tussen tale en verskillende ars poeticas.



IV

 

Soos hy dig in die tweede strofe van “ferweelskrif” (102) hoor ons Anjie Krog se Verweerskrif:

 

die nag is die weduwee

van die dag, sê die ou digter

en sien, in daardie lanferdonker

sweef jy tussen die sterrebeelde

en die supersoniese vliegtuig

bring jou anderkant

die berge

na vreemde landskappe

verre strande en

ander tale

 

Dis ‘n bundel vir die egte poësieliefhebber. Slim, maar ook hartgrypend. Speels en ernstig. ‘n Groot sprong na Pleks van plaas (2020).

 

Joan Hambidge is ‘n navorsingsgenoot (Fellow) aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste bundel heet Sanctum.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Tuesday, March 7, 2023

Resensie | Salman Rushdie – Victory City | 2023

Salman Rushdie – Victory City. Jonathan Cape, Londen: 2023. ISBN 978 1 787 3345 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Die omstrede Salman Rushdie is onlangs aangeval en met ‘n mes gesteek in die oog. Gelukkig verskyn daar ‘n  roman Victory City, ‘n komplekse en aangrypende roman van hierdie skrywer, wat al vele storms beleef het. The Satanic Verses het ‘n fatwa tot gevolg gehad en Rushdie moes skuil. Selfs ‘n vertaler van hierdie roman is om die lewe gebring. Dit het begin 1989 toe die Ayatollah Ruhollah Khomeini hom beskuldig het van blasfemiese uitsprake.


Oor hierdie kwessie is daar baie sieninge. Diegene wat meen dat hy onsensitief, selfs moedswillig,  was oor die Moslem-kultuur; ander wat beweer die spel tussen fiksie en werklikheid is nie genoegsaam verdiskonteer nie. Ook nie die magies-realistiese aspek en opsetlike verdraaiing van feite is in ag geneem nie.

 

Sekere boeke het wél ‘n politieke of sosiale impak en skrywers kan dit nie altyd voorspel of navigeer nie.

 

Verlede jaar in Chautauqua, New York word hy weer aangeval, wat beteken daar word steeds jag gemaak op hom. In alle waarskynlikheid deur mense wat nie eens die boek gelees het nie. Rushdie, 'n gebore Moslem, is nou egter ‘n uitgesproke ateïs. ‘n Man met verskillende “identiteite” en wat die moderne romankuns verryk het met sy verskillende stylsoorte.


Met sy jongste roman Victory City sien ons weer Rushdie op vol toere. Enorme taalbeheer, kennis van die geskiedenis en natuurlik, sy reeds bekende fantasie. Hierdie roman sou ‘n mens ten beste as historiografiese fiksie kan beskryf, in terme van Linda Hutcheon in A Poetics of Postmodernism (1988): ‘n vermenging van metafiksie (of selfbewuste vertelling) geplaas binne ‘n herkenbare historiese ruimte(s). Hutcheon se studie verwys na History, Theory, Fiction en J.M. Coetzee maak ook etlike spronge in sy roman The Master of Petersburg (1994) wat Dostojefksi as gegewe gebruik waarop die skrywer verder uitbrei en verander. Die dood van Dostojefski se stiefseun Pavel wat verander en aangepas word teenoor die lotgevalle van die werklike outeur.

 

En bekend aan historiografiese fiksie is dat die geskiedkundige dikwels frons oor die skrywer wat die gebeure aanpas en selfs opsetlik verdraai. Die leser moet die oomblikke of oorgange snap tussen werklike gebeure en fantasmagoriese inkleding. Die skrywer speel met die leser en Umberto Eco se Baudolino (2000) is so ‘n teks oor die Middeleeue. Christoffel Coetzee se Op soek na Generaal Mannetjies Mentz (1998) verander die Anglo-Boereoorlog en historiese feite.

 

Daar is vier afdelings in Victory City: Birth; Excile; Glory; Fall. Haar laaste woorde word in ‘n gedig weergegee op die ouderdom van 247 jaar.

 

Die storie handel oor Pampa Kampana, digter, profeet en moeder van die Ryk van Bisnaga, wie se lewe met vuur begin. Sy lewe om 247 jaar oud te word en berg ongeveer 24 000 van haar gedigte wat later ontdek word. Gedigte oor die geskiedenis van die stad en die Ryk. Op negejarige ouderdom sien sy hoe soldate hul stad vernietig en sy word deur ‘n godin met bo-natuurlike kragte vereer.

 

Met die soldate se beleg sterf al die vroue aan selfverbranding.

 

Maar dis ook die verhaal van Hakka en Bukka, konings van Vijayanagar.

 

Hulle ontmoet Pampa Kampana en sy gee aan hul opdrag om die sade wat hulle as ‘n geskenk gebring het, te saai sodat daar ‘n gelukkige stad kan ontstaan met vryhede op alle vlakke waar vroue veilig sal wees. Die feministiese aspek is opvallend. Soveel manlike skrywers gee tans uiting aan vroue se lot en maak hulle stemhebbend.

 

Die veertiende-eeuse ryk word deur Rushdie herbesoek in ’n vertelling wat tussen werklikheid en mite beweeg. Twee vertellers. Pienk apies en slange en ongediertes bevolk hierdie boek. Daar is ‘n bronnelys wat die speurende leser kan gebruik om vas te stel wat hy verander en behou het. City of Victory deur Ratnakar Sadasyula, ‘n amateur-geskiedkundige, is tersaaklik.

 

Hierdie roman moet saamgelees word met The Peacock Throne (1984) van Sujit Saraf en Vikram Seth se An Equal Music (1999), treffende boeke wat al die fasette van ‘n meervlakkige gemeenskap aanspreek. Dit is ‘n teks wat verder resoneer met V.S. Naipaul se Bend in the River (1979) en Arundhati Roy se The God of Small Things (1996).

 

Die lewe en romans van Rushdie – wat buite Indië leef – neem ‘n mens immer terug na E.M. Forster se A Passage to India (1924). ‘n Buiteblik teenoor diegene wat van binne skryf oor ‘n meervoudige gemeenskap.

 

Op 14 jarige ouderdom gaan Salman Rushdie na Rugby waar hy skoolgaan. Hierom is sy Engels absoluut uitstekend.

 

Hy woon eers in Londen en nou in New York.

 

Die impak van die Iranese doodsvonnis kan geen leser van hierdie teks miskyk nie. Met ‘n reis deur Indië was hierdie leser voortdurend bewus van subtiliteite wat jy as Westerling nie begryp nie. Boonop is die outeur Indies-Brits-Amerikaans met ‘n hibridiese identiteit. Só word hy op die internet beskryf:

Sir Ahmed Salman Rushdie (Hindi: अहमद सलमान रुशदी (Devanagari), lanati احمد سلمان رشدی (Nastaʿlīq); born 19 Juin 1947) is a Breetish Indie novelist an essayist. 

‘n Mens benader hierdie roman as buiteleser: die wêreld wat hy skep in fiksie met al die verwysings vra vir dieper lees en bestudering.

 

Nietemin, ‘n hoogs tersaaklike roman van ‘n skrywer wat bewonder word nie alleen om sy fantasmagoriese verbeelding nie, maar veral om sy vermoë om te oorleef.

 

‘n Skrywer wat magies-realistiese tekste lewer en ook postmodernistiese romans met verskillende narratiewe wat mekaar ondermyn en weerspreek. Hierdie een behoort tot die sub-genre van historiografiese fiksie.

 

Die slotwoorde van die gedig van Pampa is belangrik:

All that remains is this city of words. Words are the only victors (338).

Al is Rushdie blind in sy regteroog, kyk hy diep in die lotgevalle van die mensdom in.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)