Bladsye / Pages

Sunday, March 19, 2023

Resensie | Jerzy Koch | Polkadraai | Turskvy, 2022

Jerzy Koch – Polkadraai. Turskvy, 2022. 110 bladsye, R250. ISBN: 978-0-6397-2418-8

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Die vertaler, digter, bloemleser en literatuurgeskiedskrywer se tweede bundel, Polkadraai, gepubliseer deur Turksvy Publikasies, is ‘n beduidende en aangrypende teks.

 

Hierdie digter – verbonde aan die Mickiewicz Universiteit in Poznań, Pole – is ook navorsingsgenoot aan sowel Stellenbosch as Vrystaat Universiteite. Vir sy vertalings is hy bekroon met die M. Nijhoff-prys.

 

Die digter beskryf homself as olea europaea / subspecie africana.

 

Alles relevante inligting oor ‘n digter wat hom op verskillende vlakke met Afrikaans bemoei. Sowel leermeester as kanoniseerder wat skryf oor die verhouding tussen die sentrum en die antwoorde hierop. Hy hou hom besig met zenofanie.

 

Een van die beste artikels oor Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan is deur Koch geskryf.

 

Hierdie leser het die tweede bundel as ‘n soort alternatiewe literatuurgeskiendenis in digvorm benader. Die digter wat van buite kyk na Afrikaans, maar ook die landskap en mense van binne beleef. Van die mooiste en mees aangrypende natuurgedigte is hier te lese, omdat die reisende digter met ‘n onbevange blik waarneem. Denne, naaldbome, pere, fynbos, ‘n bergpas, die polkadraai in Stellenbosch, Jonkershoekweg teenoor die Poolse landskap o.a.



II


Die blik van buite versus die blik van binne is opvallend in hierdie bundel wat reeds in die epiteks (dit wil sê, die buitekennis) saamspeel met die buiteblad: woorde wat vir die leser sleutels gee om die bundel mee te benader of oop te maak. Boegoe, kamma, kierie teenoor decrescit, assumptio, interludium (o.a.). Ek kyk vas in glissandi. ‘n Glissando in musiek beteken ‘n opwaartse en afwaartse beweging. ‘n Verandering van “pitch” of toonhoogte. En die vreemdeling praat dikwels ‘n nuwe taal in ‘n ander tongval. Koch is sowel vlot in Nederlands as in Afrikaans en in Polkadraai is hy soos ‘n musikant besig om musiek te maak, terwyl sy lesers ‘n polka dans of ‘n outydse wals uitvoer. Soms selfs jazz.

 

Daar is drie afdelings: Literatuurgeskiedenis, Grendeltyd en Onder Andere.

 

Die skryfproses is deurgaans ‘n belangrike motief in hierdie bundel nes die ontginning van die klankmatige aspek. Die digter maak aanspraak op die leser se kennis soos in die gedig “wakker word in afrikaans” (92, 93) waar die refrein hier verander anders as in die volmaakte rondeel. Hy vertaal ook Wisława Szymborska impromptu in die gedig “voordrag” (24).

 

In die eerste afdeling is daar besinnings oor die dubbele negatief wat ‘n digter kan pootjie, en daar is pragverse oor Olga Kirsch en Boerneef wat tans deur vele digters besing word. In die tweede afdeling word die verskillende seisoene beskryf en weer eens bly die leser bewys van hoe die digter die klank-aspek ontgin. Maar daar word ook gekyk na ‘n Escheriaanse universum met ‘n oog en oor wat versadig is (36). Dit is ‘n belangrike kode vir hierdie bundel: twee wêrelde wat saam bestaan.


Die Slawiese wêreld is hier aanwesig. In “hoekom poësie” (94), speelse grammatika-les, neem hy die leser na die verskille tussen sý taal en Afrikaans. Die sewe naamvalle (met nominatief, genitief, datief, akkusatief, instrumentalis, lokatief en vokatief) word hier in sy taal voorgestel – in Afrikaans loop dit elke keer uit op dieselfde woord poësie; in sy taal is die uitgange anders.

 

Pools is skynbaar die enigste Slawiese taal waar nasale of neusklanke nog voorkom. So beskou, fokus hierdie leser juis dieper op hoe sy gedigte se klankspel werk.

 

Hy dwing jou dus om stip te lees in hierdie bundel wat ook her-kanoniseer.



III

 

As literatuurhistorikus is daar ‘n parateks. Endnote en verwysings na bekende gedigte waarop ingespeel word. ‘n Implisiete verwysing na Peter Blum en vir my, ‘n andersoortige Die grammatika van liefhê.

 

Anders as by Steyn, steek hy dikwels die grammatika-speletjies weg, maar dwing jou om op te soek.


Die impak van die oorlog en die Russiese wêreld word beskou. Ook in die skrynende “truitjie” (57) die weefwerk van die geskiedenis wat in die herinnering ‘n trompe-l’oeil word.

 

Die oog wat kyk; die oog soos by Escher wat na verskillende vlakke geneem word.

 

Visuele illusies wat in “droom” (99) ‘n pynlike besinning is oor die dood.

 

Van Wyk Louw is is die digter wat die Afrikaanse leser hier sal hoor onder die oppervlak van ‘n gedig.

 

Koch is die meester van grensoorgange tussen tale en verskillende ars poeticas.



IV

 

Soos hy dig in die tweede strofe van “ferweelskrif” (102) hoor ons Anjie Krog se Verweerskrif:

 

die nag is die weduwee

van die dag, sê die ou digter

en sien, in daardie lanferdonker

sweef jy tussen die sterrebeelde

en die supersoniese vliegtuig

bring jou anderkant

die berge

na vreemde landskappe

verre strande en

ander tale

 

Dis ‘n bundel vir die egte poësieliefhebber. Slim, maar ook hartgrypend. Speels en ernstig. ‘n Groot sprong na Pleks van plaas (2020).

 

Joan Hambidge is ‘n navorsingsgenoot (Fellow) aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste bundel heet Sanctum.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)