Bladsye / Pages

Tuesday, January 17, 2023

Resensie | Adriaan Potgieter - In die klipknoets van haar vuis || Sheila Cussons – Gestaltes 1947 | Hemel & See Uitgewers, 2023

Adriaan Potgieter – In die klipknoets van haar vuis. Hemel & See Uitgewers, 2023. ISBN: 978-1-998958-90-0 || Sheila Cussons – Gestaltes 1947. ISBN: 978-1-998 958894

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

“Én die digter wat speel met vuur, want

dig is speel met vuur – “

 

Dit val nie te betwyfel nie dat Sheila Cussons een van die belangrikste digters in Afrikaans is. Haar religieuse en mistiese verse is van die grootste in ons taal. Haar ekfrastiese verse (beelddigte) is eweneens rigtinggewend. 

 

Verskeie studies is al onderneem oor hierdie digter wie se lewe deur die meeste mense onthou word. Ons dink hier aan die verbintenis met N.P. van Wyk Louw en die brandongeluk wat haar geskend het.

 

Digter, skilder én verkenner van die numineuse.

 

Sopas het In die klipknoets van haar vuis verskyn deur Adriaan Potgieter wat haar werk en lewe Jungiaans benader. Die navorser beskou die verbande veral vanuit ‘n Jungiaanse perspektief. Musiek word betrek. Hy is medikus met ‘n belangstelling in die sielkunde en letterkunde.

 

In die klipknoets van haar vuis verskyn saam met Gestaltes 1947 in een mooi band. Die leser kry ‘n ryk geskakeerde teks met pragsketse en dagboekintekeninge. Boonop gedigte. So beweeg ons van die private na die publieke; van inspirasie tot uiteindelike gedig.

 

Kritici sal waarskynlik beswaar maak en die benadering tot hierdie komplekse digter (en skilder) as reduksionisties afmaak. Hoe kan lewe, digkuns, skilderkuns uiteindelik finaal ‘n optelsom word?

 

Vir hierdie leser is die Jungiaanse benadering van Adriaan Potgieter relevant, juis omdat in die oop spasies, die in- en uitbeweeg van verskillende “gestaltes”, die leser ‘n blik kry op ‘n veelkantige kunstenaar. Later word sy Katoliek en as kind beleef sy ‘n nomadiese bestaan.

 

Hier word ‘n ander invalshoek op die verhouding met Van Wyk Louw gegee, te wete een van versaking deur die man. My gevoel – gebaseer op mense wat haar geken het in Amsterdam – is anders gekleur. Hierdie skrywer het Cussons eweneens meegemaak en het ‘n besondere blik op haar. Uit haar mond ander sieninge gekry oor die Amsterdamse tyd.

 

Maar maak dit werklik saak? Uit hierdie verbintenis het van die allergrooste gedigte ontspruit tussen ‘n Afrikaanse Héloise en Abelard. Dieselfde ambivalensies vind ons terug in die verhouding tussen Sylvia Plath en Ted Hughes waar rolspelers steeds meen dit was hoe-dit-was. En selfs Janet Malcolm kon nie in The silent woman (Alfred A. Knopf, 1994) die finale punt sit nie.

 

Met enige kreatiewe persoon bly daar altyd vraagtekens of ‘n ellips. 

 

En so sal dit altyd wees, juis omdat die kreatiewe proses nie finaal begrond kan word nie.


En as dit só was, sou almal met ‘n ongelukkige jeug kunstenaars geword het. En dit is wat Carl Gustav Jung volledig begryp het.  Jung, ‘n kenner van die onbewuste, wat nie aan tyd of plek gekoppel is nie, vorm die teoretiese basis.

 

Ons sien dit in die Gestaltes 1947 waar ervarings reeds in drome beleef word. Jung se argetipes, die animus/anima, skadu, individuasie en véral die enantiodromia (die terugbeweeg in en teen die chronologiese tyd en die aanvaarding van sikliese of irreële tyd) is te vinde in haar digkuns.

 

En natuurlik: die kollektiewe onbewuste, soos die titel In die klipknoets van haar vuis reeds aandui.


Die moord op haar broer het haar diep getref; nes die ongeluk in 1974 in die vakansiehuis in L’Estartit op twee-en-vyftigjarige ouderdom toe ‘n gasstoof ontplof het in die kombuis en haar vir ewig geskend het, fisies sowel as psigies.

 

Oor hierdie ongeluk is daar verskillende interpretasies. Feit bly staan: sy is daarna ‘n geskonde mens en skryf oorrompelende verse, veral geboekstaaf in Die swart kombuis (1978).

 

Sy had twee mentors: Opperman en Louw. Opperman het haar van raad bedien soos om die gedigte terug te hou en die buiteland te gaan verken. En goeie raad was dit bepaald, want haar debuut, Plektrum (1970), bly steeds een van die suiwerste, mees afgeronde debute in Afrikaans.

 

Haar vertaling van Borges se verhale Die vorm van die swaard en ander verhale (1981) bevestig haar vertaalvermoë.

 

In Gestaltes 1947, geskryf deur ‘n jong Cussons, verneem ons dat begeerte kosbaarder is as vervulling (33) en hoe slaap jou by die siel uitbring (34). Die tuin is pure sintuig (37).

 

Hier sien ons alles wat later uitspeel in verstommende kreatiwiteit. Die impak van die onstabiele byna sigeunerbestaan het dalk ‘n invloed gehad op haar vriendskappe met vroue (Klipknoets, 81) en hierom was mans dalk meer bestendige vriende?  Die skrywer analiseer die animus en skaduwee in haar lewe. Belangrik die analise hier van die mantelman en hoe haar seuns klein Andrétjies word.


Die inhoudsopgawe gee ‘n bepalende blik: o.a. die wilde korf, muo, mites, phoenix …

 

Dié twee-in-een verpakking is een wat hierdie leser graag aanbeveel vir alle liefhebbers van die digkuns, omdat die meeste studies aan universiteite oor Sheila Cussons in biblioteke bly.

 

Die omtoorvuur en die verwikkelde lyn van haar digkuns en bestaan, word onder die loep geneem met die honderdjarige herdenking van haar geboorte.

 

‘n Klipknoets is ‘n kluit wat uit meer klip as net grond bestaan …

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)