Bladsye / Pages

Monday, September 6, 2021

Resensie | Ena Jansen - Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers | H&R, 2021

Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8203 4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Meester van die prosodie en posodinie

 

Die enorme posisie wat Elisabeth Eybers (1915 – 2007) inneem binne die Afrikaanse én Nederlandse kanon kan nie verminder of ontken word nie. As ons eerste gepubliseerde vrouedigter het sy alreeds ikoniese status verwerf sowel hier te lande as in die buiteland. Sy verlaat Johannesburg in 1961 op ouderdom 46.

 

Geen kursus oor vrouedigters kan sonder haar nie en Hélène Cixous en Julia Kristeva laat haar oopwaaier vir jong studente wat haar gedigte besielend en slim vind.

 

Die pragversameling gedigte is deur ‘n kundige leser Ena Jansen gemaak wat ons op die belangrikste aspekte van Eybers se digkuns attent gemaak het soos die sogenaamde “tussentaal” waarin sy dig. Die verhouding tussen moederland en aangenome land word deur hierdie skerp intellek ondersoek. Jansen noem haar tereg die literêre dubbelganger met ‘n dubbele poëtisiteit. Inderdaad skryf sy in Amsterdam haar beste verse en sy takel die tabelleland sodat (en totdat) dit haar nuwe tuiste word.

 

Afstand en verbintenis (1996) heet Jansen se studie oor ‘n digter wat die “voelhorings van ironie” ken en die paradoks by uitnemendheid bedryf. Lina Spies het al op die merkwaardige ooreenkoms tussen haar en Emily Dickinson gewys in Die enkel taak (1995).

 

Die volledige vrouwees word in haar digkuns opgeteken. Ons verneem van siektes (griep, ‘n besoek aan die arts), beserings na ‘n val, sonde met die bure en ‘n gesprek met ‘n kleinkind. Sy lewer egter ook kommentaar op die digproses – soms ironies met 'n gedig wat "Rymdwang" heet. Sy is beheer van die prosodie en weet wat posodinie behels (die vermoë om pyn te kan hanteer). Gedigte word selfs gedroom; sy skryf oor haar ouers met heimwee terug na haar tuisland wat altyd binne-in haar bly.

 

Sy is ook ‘n uitstekende vertaler (o.a. uit Frans) en haar selfvertalings gee baie om oor na te dink. Jy sien hoe sy assosiatief ‘n gedig transporteer van een taal na ‘n ander sonder om ooit vorm in die slag te laat bly.

 

Eybers is al deur verskeie digters geparodieer en aangespreek: Antjie Krog, Lina Spies, Johann de Lange, Daniel Hugo, Dolf van Niekerk, Eveleen Castelyn, I.L. de Villiers, o.a. Haar verbluffende vormbeheer het min gelyke. Die distigon, sonnet, ballade en kwatryn, beheer sy behendig. Sy is ironies; ander kere satiries soos in “Wespark”; dan weer nostalgies en in latere jare selfs (self)verminderend. 

 

En selfs ‘n bietjie stuitig in “Die ouderdom is nie noodwendig saai” met die dubbelsinnige slot.

 

Daar is gedigte wat elke digkuns-liefhebber met sig saamdra soos “Orkaan”, wat selfs ‘n pendant vind in ‘n gedig van die Suid-Afrikaans gebore Jonty Driver in Still further (2021). Ander klassiekes vir my is "Taalles" en "Navrae":

 

Navrae

 

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.

Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur

twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.

Die ritueel van rou is vasgestel.

 

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.

Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig

om jou oor die vervaldag in te lig

van daardie individueler hel?

 

'n Sentrale vers in hierdie versameling is die "Voetjie vir voetjie", omdat gedigte róndom migrasie en aanskoms nuwe betekenisse en implikasies genereer.

 

Voetjie vir voetjie

 

Voetjie vir voetjie word mens immigrant ...

Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand

op hierdie teennatuurlike terras

sonder om ooit onloënbaar aan te land.

 

Die latere Eybers spreek veral tot hierdie leser waar sy ironies kyk na die "hardvogtige selfbejag" van die digproses ("Voortplantingsrym" uit Winter-surplus, 1999).  Die “beproefde patologie van poësie”, soos sy hierdie proses in "Verklaring" uit Verbruikersverse (1997) tipeer, neem ons na haar vreeslose laatwerk. Sy het getransformeer van die “vroulike aanvulling tot Dertig” tot ‘n skildery deur die internasionaal-bekroonde Marlene Dumas.

 

Daar is 'n handige indeks met eerste reëls van gedigte en verwysings waar gedigte staan. Om die tema van immigrasie / migrasie vind ons 'n sinryke versameling oor teenstellings en die soeke na balans. ‘n Groot versoek: plaas asseblief die samesteller se essay [1] in die boek. Skutblaaie raak allengs verlore.

 

Daardie grensgebied tussen liggaam en gees verwoord sy, soos Jansen uitwys. Eybers se idiolek is noteer, agteloos, tintel, allengs, sintels, respyt, gewrogte, bedolwe, om ‘n paar uit te sonder.

 

Hierdie is 'n keuse vir elke poësieliefhebber en met die boeiende tematiese keuses kry gedigte  langs mekaar geplaas nuwe betekenisse. Hierdie leser was opnuut so onder die indruk van ‘n digkuns wat stadig geheime prysgee; dikwels weifelend tussen implikasie en ‘n hartwankelingsdroom. As ‘n Röntgen-foto. Sy kyk deur die “tralies van tyd” met die wete:

 

Afbeelding oortref weer die werklike ding (“Weerkaatsing”).

 

Op ‘n koue wintersoggend lees ek gedigte uit hierdie bloemlesing voor vir my buurman en hy knik instemmend sy kop oor hoe goed “Taalles” is en hoe sy selfs in ‘n klein kwatryn jou ontroer:

 

Vir Bert

 

Noudat jy swyg is daar niks meer

vir my ooit nog te begeer

buiten die tydstip waarop ek

dieselfde stilte mag betrek.

 

Die digkuns as noodluik én onderdak. As kruis of munt. Met elke herbesoek van hierdie bloemlesing vind die leser nuwe aspekte van hierdie meester(es) van implikasie. Immigrant én Emigrant. Hier en daar. En al die genderopposisies waaroor Cixous skryf in Sorties (Uitgange) kan jy aflees in haar gedigte …

 

‘n Groot dank aan Ena Jansen se goeie oes.

 

Vir Eybers dan:

 

Elisabeth Eybers: Pegasus

Joan Hambidge

 

Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,

boetseer die ritme van jou vaart ...

Elisabeth Eybers: Amasone

 

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer; 

dit wis jy met afstand én ironie in selfbevestiging. 

In die verte tot woordimmigrant gepromoveer, 

ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding. 

Uitermate of uitgedien word hierdie digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?



















Elisabeth Eybers op Prins. In ‘Rit voor die storm’ en ‘Tuiskoms in Junie’ 

skryf sy oor haar perd.


[1] Ena Jansen, Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam · dbnl