Bladsye / Pages

Monday, March 1, 2021

Resensie | S.J. Naudé – Dol heuning | Umuzi, 2021

S.J. Naudé – Dol heuning. Umuzi, 2021. ISBN 9781415210796

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie uitdagende kortverhaalbundel staan daar die volgende woorde opgeteken: "Toe hy ’n slag opkyk, bemerk hy in een van die mure se houtpanele ’n deur. ’n Soort ge­heime opening waarvan die oppervlak die reliëf voortsit, en sonder ’n hand­vatsel. Hy gaan druk daarteen en dit klik oop."  En dit is presies wát van die leser verwag word in 'n boek met vele verwysings en toespelings. Jy moet fyn kyk agter die geheime openinge in. In een verhaal is daar 'n verwysing na die camera obscura.

 

Verhale speel in op mekaar met uiteenlopende temas soos rykdom, die soeke na identiteit, die korporatiewe lewe, begeerte, teisterende herinneringe, mense wat verdwyn op ski-vakansies, verskillende kulture wat mekaar nie begryp nie en hoe rykdom jou inperk, eerder as bevry. Verder word verhale gelaai met subteks en interteks. In 'n liefdesverhaal "Die wonderwerk" bly 'n man in 'n ryk apartment in New York waar Julia Roberts vertoef. So aktiveer hy die film Pretty woman (1990) en natuurlik ook La Traviata. Die leser weet die einde gaan sleg afloop; tog tref die ónafwendbaarheid van alles jou steeds in die maag.

 

C.G. Jung se Memories. Dreams, Reflections (versorg deur Aniela Jaffé) het in 1961 verskyn by Random House. In hierdie besinnings oor die lewe (en dood) word die leser teruggeneem na prosesse wat hier verbeeld word: die psigiese parallellismes én die konneksie tussen ervarings, tussen toe en nou; die sogenaamde hierosgamos. By Naudé kry karakters bykans 'n mitologiese status, soos die moeder-kind-verhouding (skitterend vertolk in "Twee libretto's") of  Lev wat die bose word. Die Maria-beeld word geplaas teenoor 'n sterk, aardse moeder in Namibië met die twyfelende Thomas, die seun as waarnemer.

 

Daar is 'n verwysing na die liggaam van Ötzi, ’n man van 3 300 of wat voor Christus, in die vroeë 1990’s in die ys gevind is. Iewers tus­sen Italië en Duitsland dateer Ötzi uit die Kopertydperk, maar hy het merkwaar­dig behoue gebly (181). Dit is 'n bundel van grense en liminaliteite, oorgange van lewe na dood.  Ervarings kry telkens simboliese betekenis. Sand wat waai van die Sahara oor na Griekeland en Turkye. Wat deur die atmosfeer opgesuig word en oor die Alpe neersak elke vier, vyf jaar ...

 

So bely die verteller in 'n bykans poëtiese binnespraak die volgende: "Haar drome, raai hy, is van die blinde, abstrakte soort. Visioene van silwerwit lugleegtes, van halfdeurskynende wande, van helder skeure lig, van ’n duisend yskeëls teen die son."


Die boek is simmetries en elke verhaal werk met fyn toespelings en motiewe wat in 'n slot saamgetrek word. 'n Soektog na die self wat dikwels faal: die binne-reis wat eensaamheid en teleurstelling inhou, word in somber verhaal na donker verhaal opgeteken. Die abjekte word gekoppel aan die dood met verwysings na La Faune des tom­beaux en La Faune des cadavres van Jean-Pierre Mégnin en hoe insekte gebruik word om die geskiedenis van kadawers te interpreteer. Belangrike kunswerke is eweneens sleutels soos Caravaggio wat droë vuurvlieë fyngemaal en met sy verf gemeng het.


Jeff Koons, Louise Bourgeois, Berlinde De Bruyckere, Ryan McGinley ("The Pied Piper of the Downtown Art World") en  Herman Nitsch se ritualistiese kuns laai die tekste verder met implikasies. Grond, ondergronds, bo-grond, agtergrond, barre grond en droogte is woorde wat die leser telkens raaklees. Jy word hier gedwing om telkemale terug te keer en weer na 'n subtiele, bykans weggesteekte motief te kyk. Onder draai die duiwels  bepaald rond.

 

Klere verraai ook karakters se ingesteldheid: mans in speedo's teenoor vroue in joekatas. Ontwerpersklere word 'n snelskrif om 'n karakter te verstaan. 'n Man met grys hare het geen liggaamshare nie. Waarom?

 

Jong kinders se argwaan met hul ouers word eweneens goed vertolk. 

 

In "Fawzi al-Junaidi" word ras- en genderdiskoerse geplaas teen die wye doek van politieke ongeregtighede met skuldgevoelens wat soos bamboese groei. Twee mans het 'n seun en die ervaring van hierdie pa's (in 'n eenderse geslag-verhouding) word uitgespeel teenoor 'n swart huiswerker en háár seun wat die omgekeerde van wit bevoorregting ervaar. Naamlose, ouerlose seuns kan net in 'n fantasie versorg en beskerm word.

 

In "Dol heuning" word misverstande en kultuurstereotipes op hul kop gedraai en in "Wonderwerk" kan jy die hele plattegrond van New York voor jou oë sien tot by Tribeca. Hierdie dramatiese verhaal werk soos installasiekuns; selfs met 'n motor wat in 'n swembad land.

 

In "die dal van doodskaduwee" word die moderne paranoïese bestaan in Johannesburg met keeltoetrekkende vaart vertel. Geweld met sambokke word later 'n s&m-geweld binne 'n gesofistikeerde omgewing. "Warm kompos" is waarskynlik my gunsteling met sy beelde van ondergrondse vuur wat alles verwoes gekoppel aan sieninge oor die heilige gees en spiritualiteit. "Landskappe met figure" is onvergeetlik ryk geskakeer met 'n verhaal wat soos 'n mini-opera werk.

 

Soos Valerie Shaw uitwys in haar analise van Tsjekof in The short story - a critical introduction (Longman, 1983) vermy die Rus melodrama in sy distansie. Tog is hy nie onbetrokke as verteller nie. Dieselfde geld Naudé in hierdie verhale met sy artistieke distansie én stilistiese beheer.

 

Naudé is kortverhaalskrywer en romansier. Die derde spoel was 'n uitdagende leeservaring oor verdwene films uit die dertigerjare en Walter Benjamin. Sy debuut Alfabet van die voëls, 'n kortverhaalbundel, was eweneens goed en het sy transkontinentale aanslag ingelui.


 Naudé is bekroon deur die Akademie vir sy debuut en 2014 het hy die Jan Rabie / Marjorie Wallace-toekenning ontvang. Tereg is Die derde spoel met die Hertzogprys bekroon. 


Hierdie bundel bewys hoe verkeerd diegene is wat dink die kortverhaal se tyd is verby. Ons lees immers steeds Tsjekof, Alice Munro en Hennie Aucamp. En wonder  oor hierdie kortetjie van Hemingway: 

For sale: baby shoes, never worn.

Verruklik, uitdagend, melancholies; 'n leeservaring wat jou ontstem én begeester. Dis 'n boek wat die verborge verbande saamsnoer en die fabels van toe en nou interpreteer oor rituele vernederings en bestaanswoede.

 

Sublieme ambag.