Bladsye / Pages

Friday, January 8, 2021

Profiel | Tennessee Williams | 2021

Deel I

 

I

 

Die dramaturg Tennessee Williams is die meester van die ver-beelding én uitbeelding van die onvervulde droom en selfbedrog. Ons dink aan Blanche Dubois in A streetcar named desire waar haar brose psige getakel word deur die brutale Stanley Kowalski. In Elia Kazan se uitmuntende produksie (met Marlon Brandon en Vivien Leigh) word spieëls gebruik om die spel tussen waarheid en leuen oor te dra. Dit word eweneens 'n troop in Sweet bird of youth waar Geraldine Page, die  alkoholiese aktrise, skitterend vertolk teenoor die manipulerende antagonis, gespeel deur Paul Newman. Die gigolo wil haar posisie gebruik om 'n Hollywood-akteur te word, maar word gekonfronteer met sy jeugliefde (en verlede). Sy moes weens sy seksuele gedrag 'n histerektomie ondergaan; iets waarvoor haar gesiene en politiek ambisieuse familie hom nie kan vergewe nie. Die waarheid rondom sy dogter se operasie word ontmasker in 'n slordige toneel.

 

Die aktrise "herstel" en keer terug na films en die jong man - na 'n aanrandingstoneel - loop met sy jeugliefde weg. Ten spyte van die aktrise se selftwyfels, was haar voorskou tog 'n sukses. 



II

 

Suddenly, last summer is waarskynlik 'n mindere Williams-film. Maar die intrige rondom die film se produksie het 'n gedig geïnspireer. Die brose Montgomery Clift as die dokter wat die "mal" Elizabeth Taylor in beheer moet hou met 'n lobotomie, het Katherine Hepburn daadkragtig laat optree. Clift was reeds op die afdraande-pad weens drank- en dwelmmisbruik en Hepburn het beskermend oor hom gevoel. Toe die produksie klaar was, het sy in die regisseur se gesig gespoeg.

 

Cabeza de Lobo


In nog 'n slapelose nag

sonder jou, draal Suddenly, last summer 

op die dvd-speler.

 

In nog 'n troebel nag

sonder jou sien ons Katherine Hepburn

as die ontkennende matriarg.

 

In nog 'n droomlose nag

sonder jou word die seun

vermoor oor sy homo-aard.

 

Elizabeth Taylor glo kon 

met method acting die trane aandraai 

na die dood van haar man, Michael Wilding.

 

Katherine Hepburn spoeg 

in die regisseur se gesig,

toe hy Montgomery Clifft wou vervang.

 

Alkohol en dwelms en intriges

agter die scenes met Mankiewicz

deur Gore Vidal en Tennessee Williams

 

gekritiseer oor 'n ploertige einde.

In hierdie slapelose nag

wonder ek oor óns einde?

 

Die stiltes tussen ons verkieslik

bó 'n slordige herontmoeting:

eerder alles bewimpel en toehou.  

 


III

 

Vir my tans is die allerhoogtepunt van Williams se werk The night of the iguana met John Huston as regisseur. Ook hier was daar drama agter die skerms. Liz Taylor het saamgekom met Burton en boonop was Williams ook daar. Die pers het dit alles uitgeblaker.

 

Om al die gemoedere in toom te hou, het elkeen 'n speelgoedrewolwer gekry om mekaar te skiet indien dinge hand uit ruk. 'n Speelse grap om die gemoedere te kalmeer; veral met twee vroulike sterre aan boord.

 

Die film met Burton as die "defrocked priest" werk met etlike opposisies: geloof en twyfel; seksualiteit en kilheid; kreatiwiteit en gebrek aan inspirasie.

 

Die priester word verban uit die kerk weens 'n seksuele oortreding. Hy word 'n reisgids vir Blake Tours en op 'n toer na Puerto Vallarta, Mexiko is die hatige oujongnooi, Miss Judith Fellowes (Grayson Hall), sy antagonis wat hom beskuldig dat hy haar sestienjarige niggie Charlotte Goodall verlei het, vertolk deur Sue Lyon (wat natuurlik Lolita was in die film Lolita)

 

Dit is egter nie die geval nie. Sý is die nimfet wat later met die butch busbestuurder wegloop. Voor dit gebeur probeer Miss Fellowes - wie se broer 'n regter is - hom aankla by Blake Tours. Boonop is Shannon op probasie en sy toekoms by Blake Tours hang in die weegskaal. Een misstap, en hy is weg. 

 

Shannon probeer haar fnuik sodat sy nie sy baas kan bel nie en stuur die bus na 'n ander hotel in Mismaloya in die hoop dat sy vriend Fred hom sal beskerm. Fred helaas is twee weke terug oorlede. Die hotel het ongelukkig 'n foon gekry en Maxine Faulk (Ava Gardner) help Shannon om die humorlose vrou te pypkan. Wanneer die gesprek met die baas wel plaasvind, is Richard Burton op sy stukke in sy monoloog wanneer hy die baas beledig.

 

Teenoor die  sexy Maxine wat pollefink met die jongetjies in die see, vind ons Hannah Jelkes (Deborah Kerr) van Nantucket saam met haar grootvader, die digter (Cyril Delevanti). Hy lees gedigte voor en sy skilder gaste om vir hul verblyf te betaal. Dis Shannon wat Maxine oorreed om hulle in te neem.

 

Die wending in die film gebeur wanneer Shannon dronk raak en probeer selfmoord pleeg. Die cabana seuns maak hom vas in 'n hangmat. Die twee vroue kalmeer hom - in die agtergrond is die iguana (vasgemaak) 'n simbool van primordialiteit. Wanneer hy losgesny word, kom alles los. Elkeen word as't ware met sy of haar ware aard gekonfronteer.  (Vroeër in die film hardloop die jong mans agter 'n iguana aan; die nimfet stap verby die iguana.)

 

Die oupa voltooi sy groot gedig en sterf. (Hier is wel satire wanneer ons sy gedigte aanhoor.)

 

En in 'n konfrontasie met Shannon word die oujongnooi se seksuele voorkeure ontmasker. Sy is verlief op haar niggie. Dié verdwyn egter ten slotte met die busbestuurder. Wanneer sy vertrek, urineer Shannon op haar tas en sy word deur Maxine gedwing om te betaal vir die ekstras.

 

Shannon en Hannah bely elkeen hul verledes. Hannah se liefdeservarings was maar skraps (o.a. 'n aanraking in 'n filmhuis met 'n klag van molestering wat wel opgehef word, en as 'n volwasse vrou in Hong Kong 'n blote aangee van onderklere na 'n vet, masturberende man). Shannon op sy beurt vertel presies hoe dit gebeur het dat hy uit die kerk geskop is weens 'n seksuele misstap.

 

En Maxine bied aan hulle die geleentheid om die hotel te bestuur.

 

Hannah wys dit van die hand en verlaat Maxine en Shannon wat waarskynlik in 'n gelukkige verhouding sal wees.

 

 

IV

 

Die insigte in mense en die dialoog is voortreflik. Hannah wys daarop dat elke mens in iets of iemand moet glo. Die hele film werk met die spel tussen die fantasie en realistiese vlak. Die hangmat-toneel word verbind met die kruisigingstoneel. Wanneer die nimfet Shannon se kamer laatnag besoek, breek hy per ongeluk 'n glas waaroor hy loop. Pyniging? Self-flagellasie om by die waarheid uit te kom?

 

Shannon gee ten slotte sy kruis aan Hannah wat dit vir geld kan verpand. Daar is verwysings na "spooks" wat uitgedryf word (die fantasie-vlak) en die verlede wat mense agtervolg. Die priester word teen die Baptiste-toeriste geplaas wat vrolike en simpel liedjies op die bus sing en niks begryp van hul reis nie. Wanneer hulle mense sien klere was in 'n rivier word daar gepraat oor wasmasjiene tuis. Maagaandoenings en onvermoë om die hitte te hanteer kom onder die soeklig. 'n Pap band en Shannon wat die bus wederregtelik bestuur en die enjin tydelik buite aksie maak, omdat hy 'n onderdeel saamneem.

 

Die nimfet dans met die jong viriele manne en swem saam met Shannon - sy is die enigste een wat die reis geniet. 

 

"Chastity is a worse lunacy", hoor ons.

 

"Don't rob me of my small accomplishments", pleit Shannon wanneer Maxine vir hom in die bresse tree.

 

En oor 'n lae emosionele bankbalans wat maak dat Shannon nie meer 'n tjek kan uitskryf nie, is nog 'n wonderlike oomblik.

 

Maxine gee vir Shannon Fred se skoene wanneer hy aankom by haar hotel. 'n Vooruitwysing dat sy dink hy sal haar visvanger-man se skoene kan volstaan. Op haar beurt is sy oënskynlik losbandig, maar met 'n insig in mense en hul behoeftes.

 

Die spel van Richard Burton en Ava Gardner is voortreflik. Williams verbeeld dikwels mense op 'n afgrond wat stadig ineenstort of hulself regruk. Hierom was die onlangse produksie in grendeltyd in Londen en New York te luid en over the top. 

 

 

© Joan Hambidge

 

Tekste en films:

•          The Glass Menagerie (1950)

•          A Streetcar Named Desire (1951)

•          The Rose Tattoo (1955)

•          Baby Doll (1956)

•          Cat on a Hot Tin Roof (1958)

•          Suddenly, Last Summer (1959)

•          The Fugitive Kind (1959)

•          The Night of the Iguana (1961 / 1964)

•          Ten Blocks on the Camino Real (1966)

•          Boom! (1968)

•          Stopped Rocking and Other Screenplays (1984)

•          The Loss of a Teardrop Diamond (2009; oorspronklik 1957)