Donderdag 30 April 2020 | Dag 35
Die bundel Kamerruite van Gerald Erasmus uitgegee deur Publishing World (ISBN 978 1 928 362 005) is genoeglik en binne hierdie tyd van inperking resoneer dit sterk met die idee van inperking. Die digter het ‘n handvol uitstekende kort verse en kwatryne geskryf:
Geloof
As ek ná nagte van in die donker tas
dan tog ook eendag stof word, of as,
sal ek dán weet of dié twyfelende
geloof tog geloofwaardig was?
Op die voorblad is daar ‘n venster, ‘n plant, ‘n rusbank, stoel en tafel - met oopgetrekte gordyne. Maar daar is nie ‘n mens nie.
*
Le dernier cri in literatuurteorie?
Die nuutse mode in die literatuurteorie sal natuurlik kongresse wees oor Covid-19.
Wanneer dit wel gaan plaasvind, bly onseker. Inmiddels word daar wel baie geskryf oor hoe klasgee verander het tydens inperking.
*
My Franse lesse duur voort. Boite de nuit is nog toe en hierom onmoontlik vir habillé à neuf.
*
In Die Burger word daar daagliks uit Die Bybel (Psalm 124: 8: “Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het”) en die Koran aangehaal.
En vandag is die Dalai Lama ook aan die beurt: ons moet ander help, en as ons nie kan help nie is die minste wat ons kan doen om hulle nie te benadeel nie.
Bepaald waar. Maar met Covid-19 is die catch-22 van hulp ‘n yslike tameletjie.
Kospakkies word gesteel, klein besighede vou, gelde word nie uitbetaal nie, mense word “tydelik afgedank” – asof dit ‘n speler is wat jy op pause plaas – en vele mense is werkloos ná hierdie inperking.
Interessante artikels oor 5G wat glo die koronavirus eintlik veroorsaak het, word deur professor Basie von Solms verkeerd bewys. Nog ‘n samesweringsteorie. My apteker meen die virus is sedert die sestigerjare met ons en dit het basies nou net gemuteer. Vanmiddag sien ek sy apteek is toe; hy is neffens die Checkers in Kloofstraat.
Ons moes siekes help; die virus uitstel, maar terselfdertyd is mense ook benadeel.
Sjina het die virus geskep; en die President bedank Media24 vir die groot skenking van 1 miljard met mediese maskers, ensomeer uit Sjina.
In die nag ‘n boodskap dat Cosmopolitan hul deure gaan sluit. Slegte nuus, omdat tydskrifte met mekaar verbind is.
Litnet gee uitgewers die kans om te praat oor lekkerste en slegste boekbekendstellings nog:
Kerneels Breytenbach aan Melt Myburgh:
Hy vertel van ‘n “ikoon van die Afrikaanse letterkunde” vir wie hy, in die dae toe hy uitgewer was, moes laat weet dat sy boekbekendstelling gekanselleer moes word omdat die enigste mense wat op die uitnodiging geantwoord het, personeellede by die uitgewery was. “Ons het vir hom ‘n soort meegevoel-geskenk gestuur; die ikoon het dit aanvaar en ‘n paar dae later begin met ‘n bitter e-poskampanje teen persone by die uitgewery. Die breuk is nooit herstel nie, tot my persoonlike groot verligting.”
Waarom nie sommer man en perd noem nie? En wie was die bekende literator wat vrae uit die voorste gestoeltes uitgevra het oor Ester?
Bang vir ‘n kanne-herrie?
Noem man en perd.
6 van die een; ‘n halfdosyn van die ander.
*
Perec lees ek stadig. Hierdie roman behoort tot ensiklopediese literatuur met die verwysing na name, datums, plekke, herkenbaarhede. Sonja Loots se studie Ensiklopediese fiksie in die oeuvre van Marlene van Niekerk (2016) is van nut in my ondersoek.
Miguel de Cervantes, François Rabelais, Robert Burton en Laurence Sterne word as baanbrekers vermeld.
Sy verwys o.a. na een van my gunsteling teoretici Northrop Frye wat praat van die encylopaedic farrago (ensiklopediese mengelmoes) onder meer deur die gebruik van die katalogustegniek. Sy studie The Anatomy of criticism het in 1957 verskyn.
Die indeks van die roman is 58 bladsye lank sodat dit lyk na ‘n akademiese teks.
Op bladsy 501 is daar ‘n vloerplan met al die name van die inwoners sodat jy elkeen se woonstel kan visualiseer.
Die roman verskyn in Frankryk in 1978 en word vertaal in 1987 deur David Bellos.
Die skrywer sterf in 1982 en het skynbaar te veel gerook.
Op 23 June 1975 op die 11 Rue Simon-Crubellier verneem ons dat die blinde Engelse miljoenêr, ene Bartlebooth sterf. In sy hand hou hy ‘n stuk van ‘n legkaart vas.
En dan begin die leser saam met die implisiete verteller die stukkies van ‘n legkaart soek en bymekaar sit.
*
Laatmiddag is dit inkopietyd. Die minister van onderwys begin praat oor die nuwe strategie vir skole en hoe alles gaan verander. So meegevoer deur die toespraak ry ek sommer tot bó by die kabelkar en kyk na die pragtige stad wat voor my uitgestal lê. Neem ‘n foto. Met my selfoon.
Skielik is daar twee metro-polisiemotors langs my.
Die een polisieman klim uit. Ek verduidelik kalm en beredeneerd dat ek na die minister oor die radio luister en dat ek bekommerd is oor my studente. Oor aanlyn-onderrig en die onsekerhede wat dit inhou.
Hy kyk na my motor se lisensie en gelukkig glimmer die UCT-stieker teen die venster.
“Ja, maar jy mag nie hier wees nie. Die lockdown is nog nie verby nie.”
Nie nou tyd vir stry dat die lockdown more verby is nie.
“Waar bly jy?
“Net hier onder ...”
“Gaan dadelik huis toe.”
Verlig – en sonder ‘n boete ry ek huis toe.
Bepaald wat nou gebeur. Ons is so moeg vir ons huise en ry dieselfde paaie dat ‘n nuwe weg so aantreklik lyk. En dan vat jy ‘n kans.
Op Vrydag mag ons gaan stap tussen 6 en 9. My wekker is reeds gestel. ‘n Plaaslike Al Capone het sigarette verskaf.
Vroegaand kooi toe. Hoewel die inperking nou formeel verby is, sal daar steeds beperkings wees. Net een episode van Seinfeld toe is dit ligte af.
Vrydag 1 Mei 2020 | Dag 36
Van Wyk Louw se grootse gedig Mei-fees in Amsterdam klink so:
Mei-fees in Amsterdam
Die Eerste Mei is wit en blou
en elke bloeisel sing
en elke burger het sy hond
hier in die park gebring
om onder hierdie Boland-lug
te akkie waar hy wil,
maar ék loop in my hart en sing:
my fees is Een April.
Ek vier dit vir die somberes
dié wat op geilheid teer
soos sober en getroude pare
na dubbelbeddens keer;
die Waarheid is ‘n ént oud:
óns woord dein en word stil;
my woord was nooit die waarheid nie;
my fees is Een April.
Ek vier dit dronker as die fees
van ‘Tristan’, ‘Lanseloot’! –
dié wat met kielie van hormone
kon instap in die dood.
Ons beste is nie wat wonders nie.
God het ‘n kodisil:
die dwases kan die wysstes word:
my fees is Een April.
Dít vier ek in ‘n koel, grys oog
wat donker word van wyn
my tande die is wit van melk
en melk is nuut en rein:
ek prys dié wat die saad se krag
bloot in gebed verspil
en sing-sing loop ek terug uit Mei:
my fees is Een April.
(Uit: Tristia, 1962)
Van Wyk Louw word tans gehuldig op verskeie fronte ter herdenking van sy geboortejaar vyftig jaar gelede (Versindaba » Blog Archive » N.P. van Wyk Louw 50. Die wind in die baai (Voorlesing deur N.P. van Wyk. Besoek 1 Mei 2020).
Die digter kyk terug na 1 April vanuit Mei: die dag van die Aprilgek, maar die fool in die tarot bedui ook onskuld, ‘n suiwer hart. Die kaart 0 waarmee die tarot begin. Na bo: entoesiasties, suiwer van hart - na onder: swak oordeel en verkeerde keuses.
*
Jean Oosthuizen wys op die aandklokreël wat van Vrydag sal geld. En dat ouer mense dalk ellende in die gesig staar:
“Vir diegene ouer as 60 lyk die prentjie vorentoe nog donkerder as vir die jonger geslag. Die ouer geslag moet hulle gereedmaak vir ‘n hele paar maande agter slot en grendel as dinge nie drasties verbeter nie.” (Maak gereed vir nog ’n lang skof inperkings - Voertaal. Besoek 1 Mei 2020).
Wel, nou onlangs het ‘n sekuriteitsman my aan die arm begelei ‘n winkel binne. Toe besef ek: vir hom is ek bejaard!
Auk!
Vandag op 1 Mei het mense langs die see gaan wandel. Bondels mense. Maak dit nie dalk die hele inperking ongedaan nie?
Vanmiddag is die Italiaanse egpaar aan mekaar se kele. Hoë Mediterreense stemme met verwyte wat rondgeslinger word. En natuurlik gaan dit oor geld.
Jare gelede het ek ‘n studie oor geld en verhoudings gelees; as jy nie alles binne die eerste drie weke aanspreek nie, word $ ‘n issue.
Hoe dankbaar is ek nie vir my solovlug nie! Geen verwyte, geen aansprake, geen dit of dat nie. Kan haas nie eers meer onthou waarom ek eens op ‘n tyd betrokke wou raak by iemand nie ...
Aardbewing
‘n Aardbewing tref Tokio
op ‘n onverwagse uur. Geboue stort
ineen, mense sterf,
paniek en angs. Paniekangs.
‘n Bars breek die stad in twee.
In die kafee Roserijn in Amsterdam
Staan ‘n vers teen die muur:
“Gedacht
aan haar
Gekeken
na haar
Met haar
meegegaan
Van haar
weggegaan
Nog
aan haar
gedacht”
Ná die aardbewing in die twintigerjare,
was daar ten slotte meer skade deur vuur.
Mensgemaakte strukture wat eens behoed,
word opeens dit wat ‘n ramp nie kon verhoed.
(Uit: Kriptonemie, 1989).
Got the T-shirt, thank you.
*
Vanoggend is die katjie weer in ons tuin aan die lanterfanter.
Toe ek Johann de Lange se Burmese kat Gunar die eerste keer ontmoet, was hy sowat ses weke oud en hy’t vir my geblaas, want hy het my as ‘n binnedringer beskou.
Johann trek Kaap toe, gaan vir ‘n naweek weg en vra ek moet vir Gunar en Vareck kosgee.
Toe ek die woonstel binnestap in Seepunt, blaas Gunar vir my. Hy spring op die yskas en maak sy rug krom. Hy háát met ‘n onverbloemde haat. Ek gee kos en slaan op vlug. Weier om weer au père te speel.
Twee maande later sit ek en Johann en gesels in sy sitkamer. Die klein Siamees skuur teen my bene en ruik aan my leertas.
Skielik voel ek ‘n pootjie teen my arm.
Dis Gunar. Hy sit in die vensterbank. Uiteindelik word die olyftak aangegee.
Hierdie pragtige vers handel oor die dood van Johann de Lange se geliefde katte (Kaapse Paragrawe/ Die dood van diere. Besoek 1 Mei 2020).
Die dood van diere
vir Gunar, Vareck, Toulouse & Yoshi
Hoe goed om nié te weet
dat daar ‘n einde kom
aan jou bestaan: nie te hoef vergeet
jy leef louter in die japtrap,
sonder aanstons
of weleer. Ons daarenteen
bevolk drie tye tegelyk
& ken berou
& weet ons dade yk.
Saterdag 2 Mei 2020 | Dag 37
As daar een teks is wat hierdie tydvak waarskynlik die beste opsom is dit Totius se Trekkerswee, daardie lang epiese gedig wat in 1915 verskyn het (Trekkerswee by Totius - Free Ebook. Besoek 2 Mei 2020).
Wee soos in weemoed; nie weg wat weë word nie.
“Hul leed blyk dan ‘n wolk so rein.
Op huweliksdag
‘n soete oorwinningsvrede skyn
in purperprag.
“Maar – die oorlogswoord roep haastig rond.
‘Ag, Hendrik, hoe’s ons droom so kort!’–
Liefs kort gedroom, as Britse grond
en slawe word.’
Hierdie digter word deur ander digters en skrywers se boeke lewend gehou. Ons dink hier aan Opperman en ook aan Harry Kalmer se pragtige boek oor Johannesburg.
In 1977 is die digter Totius vereer met ‘n seël en in 1977 het die beeldhouer Jo Roos ‘n standbeeld van hom gemaak vir Potchefstroom.
Nou sal digters waarskynlik aan die werk moet spring en ‘n epiese vers skryf oor hierdie tydvak vol kognitiewe dissonansie en dubbelpraat.
Wanneer die President iets sê – byvoorbeeld oor die opheffing van die rookverbod – dan kom ‘n adjudant en besluit dit mag nie. Gelukkig is Jacques Pauw nou besig met ondersoekende joernalistiek en om te kyk watter ongerymdhede hier skuilhou. Facebook verpak reeds foto’s en insinuasies. En die speakeasies in Kaapstad dreun ondergronds.
Inmiddels is daar ouers wat weier om skoolfonds te betaal, omdat hulle die kinders tuisonderrig. Wat weer tot gevolg het dat sekere skole nie meer onderwysers sal kan betaal nie.
*
Vandag ‘n gemarineerde hoender (spatchcock / gevlinderde hoender) gaan koop by die Duitse slaghuis vir die Sondagmaal. Met heerlike Portugese sardyne (in groen rissie en uie) as voorgereg. Ons gaan heerlike groente eet en ‘n braai is van die baan. Die winter is hier.
My buurman sny my hare met sy knipper. Baie netjies en aanskoulik en ek spot hom: Chez Luan.
Is ons nog in grendeltyd?
Bepaald. Die verslapping is oppervlakkig. Stap mag jy vroegoggend, maar 5 nm is daar ‘n aandklokreël. Max du Preez het tereg in Vrye Weekblad gewys op hoé regte in onse demokrasie van die tafel gevee word.
En die onsigbare ekonomie – soos ek dit sien – is aangetas. Mense wat footjies gee vir kelners en helpers en taxibestuurders kan hierdie mense nie meer vind nie.
Vandag is pizzaplekke oop vir wegneemetes.
Bacini’s in Kloofstraat se deure is oop nes New York pizza onder in die straat.
*
Luister steeds Frans. Die aanleer van tale verryk inderdaad ‘n mens se lewe, al is dit net ‘n leeskennis wat jy opdoen. So sou ‘n leser of keurder van digbundels weet Le grain de la voix is nie vernaamdoenery nie, maar ‘n verwysing na Roland Barthes.
En lees Perec stadig. ‘n Klassiek en staangemaak op my boekrak langs belangrike werke soos Lolita van Vladimir Nabokof, A.S. Byatt se Possession, D.M. Thomas se The white hotel, Saul Bellow se Humboldt’s gift, Karel Schoeman se Hierdie lewe, Etienne Leroux se Die derde oog...
*
Seinfeld se grappe en gevathede asembenemend.
Soos dat Monet se skildery lyk soos dit lyk omdat hy bysiende was!
Die dekonstruksie van lag gebeur wanneer ‘n kollega van Elaine ‘n vertoning bywoon en Jerry koggel. Die kodes van die aand ontgaan haar en Jerry, op sy beurt, besoek haar op kantoor en wys haar op haar ontoepaslike gedrag by ‘n uitgewershuis: “Hoe durf jy sandale werk toe dra? Is jy nie bang jou voete stink nie?”
Alle grappies op ‘n stokkie. Agter die humor is daar fyn analises van konvensies en vooroordele en Seinfeld het my deur die eerste weke van grendeltyd gedra (Seinfeld (season 5) - Wikipedia. Besoek 2 Mei 2020).
*
Nou haal ek ernstige films van die rak. Dis tyd weer vir die Hongaar Béla Tarr, Bergman, Fellini, Tarkovski, en al die grotes.
Sátántango, het wyle Susan Sontag beweer, kon sy beslis een keer ‘n jaar kyk. En hierdie Hongaar kan films maak: lank, stadig, met ‘n realistiese uitbeelding van mense.
Nou ja, in ‘n land waar mense dink Fiela se kind en die jongste Afrikaanse rolprente by die Silwerskermfees is great, moet ek seker maar stilbly. En die joernalis op RSG meen dit was die laaste strooihalm wat die kameel se rug gebreek het; bedoelende seker dit was die laaste strooi.
‘n Mens gryp na strooihalms ...
En ontdek ‘n film wat ek nooit gekyk het nie: Jacques Rivette se kultusrolprent van 1974: Celine and Julie Go Boating(Céline et Julie vont en bateau).
Opvallend die verwysings na die tarot.
*
Nou weer ‘n handeklap op die stoepe. Nog ‘n dag is oorleef.
Die wysie van “O goedheid Gods hier nooit volprese ...”, draai al die hele dag in my kop.
Selfs ‘n mens met ‘n hart van klip sal geraak word deur die Mormoonse Tabernakelkoor (Hallelujah Chorus, from Messiah - Mormon Tabernacle Choir - YouTube. Besoek 2 Mei 2020).
Sondag 3 Mei 2020 | Dag 38
Grendeltyd word gromtyd op hierdie vroeë Sondag waar Saterdag ‘n paar ure agter my lê.
Celine and Julie Go Boating (Céline et Julie vont en bateau) nog nie klaar gekyk nie. Te steurend die eksistensialistiese krisisse. Béla Tarr moet ook eerder wag.
In die nag kyk ek liewer na Seinfeld se sesde seisoen. Opbeurend. Vermaaklik. Elaine kry ‘n job by Doubleday waar Jackie Kennedy gewerk het. In ‘n histeriese nabootsing word sy Mevrou Onassis met ‘n sonbril en Gucci-serp.
Dit blyk sy het nie Jackie O se poise nie, maar kry wel die werk as die baas se persoonlike assistente. Met grappe oor potlode en ink wat rondflenter.
Uiteindelik word die baas se afsku in ink ‘n heerlike vehicle vir politieke kommentaar. Elaine mors op sy gesig. Dit word ‘n Hitler-snor en met ‘n toespraak word steke uitgedeel.
Jerry en George in ‘n hotelkamer word Ollie en Stan.
Hallmark-kaarte word opgestuur. Is jy ‘n Hallmark-hooker wat sulke snert vir mense stuur?, word gevra. Jerry stel voor dat daar een kaart moet wees wat alle geleenthede / herdenkings in een kaart sit; geteken deur die kantoor.
Skreeusnaaks is George se hantering van Truman Capote se Breakfast at Tiffany’s wat hy moet lees vir sy boekklub. Hy kry raad: kyk eerder die film.
Wat hy dan doen!
Die videowinkel vertel dis uitgeleen en wederregtelik kry hy die persoon as adres wat dit het. Lui die voordeurklok en wurm hom in die mense se huis in.
Maak hulle stil. Drink hulle drank en mors op die rusbank. Boonop word dit ‘n stuk politieke kommentaar, want die inwoners is middelklas swart inwoners.
*
Sondagmiddagete is voortreflike gevlinderde hoender met pampoen en kaneel, gebakte aartappels, gestoomde groente.
Ons speel restaurant-restaurant. Die Sondagmiddag het ‘n winterbyt.
*
Jackie O
“When you look back on your life,
you hardly recognize the person you once were.
Like a snake shedding skins.”
Jacqueline Bouvier
Mevrou Kennedy
Jackie O
equestrienne
eerstevrou
mode-ikoon
glimlag skelm
soos die Mona Lisa
draai die Franse óm
haar pinkie
grabbel die flenters
van ‘n brein op
toe sy oor ‘n
sitplek spring geZapruder
met ‘n pienk Chanelrok bebloed
vir die aankondiging
langs LBJ
haar seun salueer
‘n stoet;
sý elegansie,
grasie, styl
kruip weg op Skorpios
met Ari O
waar die paparazzi
háár teregstel
tweekeer geweduwee
begrawe langs JFK,
hul seun, Patrick
en Arabella,
‘n stilgeborene.
Lap nooit uit,
blad voor die mond
oor daardie af-gryslike
durende wond.
(Uit: Matriks, 2015).
Jackie Kennedy Onassis was ‘n briljante vrou. ‘n Perderuiter en soos Camille Paglia aantoon, het sy waarskynlik kon oorspring oor die karsitplek om JFK te probeer red, omdat sy ‘n perderuiter was. Paglia noem haar Mona Lisa in motion.
Vir Oleg Cassini was sy Nefertiti.
Die paradoks van die openbare persoon oor ons nooit sal weet wie sy werklik was nie, word in Vanity Fair ondersoek. Die onderhoude met William Manchester is toegesluit in die JFK-biblioteek en onbeskikbaar tot 2067.
Truman Capote het haar negatief uitgebeeld in sy laaste roman Answered prayers waarin hy die jet set van New York uitgehaal het; hieroor was sy nie te spreke nie.
Die selfbeheer en afstandelikheid word toegeskryf aan die impak wat ‘n alkoholis-vader op haar psige as kind gehad het (The Private Jackie | Vanity Fair. Besoek 3 Mei 2020).
*
Nou weer Franse grammatika.
Nou wonder ‘n mens hoe jong studente vaar met die aanleer van vreemde tale in die aanlyn-ekskursie waar die dosent moeilike grammatika-beginsels via ‘n videogreep moet verduidelik.
Pour tout dire –
‘n Vriend stuur rubrieke aan oor plaasskooltjies van indertyd. Van kinders uit verskillende ouderdomsgroepe in een klas tot die kind wat nou alleen in sy huis voor ‘n rekenaar moet spook om sin te maak uit grammatika.
*
Raymond M. Smullyian se The Tao is silent (1977) beweer Tao is orals. En dis vroulik.
Out from the nostrils of the Great Buddha
Flew a pair of nesting swallows.
En RVR beweer in Die Burger dat die einde van die wêreld aangedui word deur die einde van voëls.
Wat het van die duiwe geword wat jaarliks op my balkon lawaai en kleintjies agterlaat?
Hulle is weg.
© Joan Hambidge