Bladsye / Pages

Wednesday, April 15, 2020

Reisrubriek | Jobstydings (2020)

Eberhard von Wächter | Job en sy vriende

Sondag 12 April 2020 | Dag 17

Na 'n nag van storms is die vensters vanoggend skoon gewas. My buurvrou het 'n pannekoek voor die deur gelaat. Later die oggend ontdek ons 'n geut het afgewaai. Ons nutsman word dadelik in kennis gestel.

Op Fine Music Radio sing Frank Sintra 'n gospel song. Ella Fitzgerald dan aan die beurt.

Gister begin lees aan Job 'n poëtiese teks in die Bybel. Hebreeus: אִיּוֹב – ʾIyyōḇ

Dit behoort tot Wysheidsliteratuur: die beproewing is dat Job, die man van Uz, wat alles verloor en is 'n ondersoek na sy hantering van die ellende.

Dit is ook 'n raamvertelling.

God vra Satan uit na die ryk en gelukkige Job se aard. Is hy net gelowig, omdat dit alles wel is met hom? God gee toestemming dat Job alles verloor.

En hy bly getrou aan God op die ashoop met 'n liggaam vol sere.

Naak het ek uit my moeder se buik gekom en naak sal ek terugkeer ...
Die Here het gegee, en die Here het geneem ...

In die dialoog met sy vriende is die troos bedenklik. Hulle word dan consolatores onerosi, oftewel as slegte vertroosters beskou.

Aanvanklik is Job gedienstig, dan kom hy in opstand teen God se beproewinge van die mensdom en dat boosaards ongestraf bly.

Daar is dan 'n gedig 'n himne aan die Wysheid. En God antwoord Job. Waar was jy? En wie is jy? En Job beken sy kleinheid.

In die epiloog word Job se status herstel: hy is weer ryk en welvarend.

Job se verlies, Job se verdediging en Job se verlossing is hoe teoloë sy verhaal opdeel (Bybelskool » Indeling van die boek Job. Besoek 11 April 2020).

Daar word eweneens gewys op die gesprekke met sy vriende en die rol van Elifaz.

In die eerste siklus:

Elifaz (Job 4–5) met Job se antwoord (Job 6–7)
Bildad (8) en  Job (Job 9–10)
Zofar (11) en Job (Job 12–14

Die tweede siklus:

Elifaz (15) en  Job (Job 16–17)
Bildad (18) en Job (Job 19)
Zofar (20) en Job (Job 21

Die derde siklus:

Elifaz (22) en Job (Job 23–24)
Bildad (25) en Job (Job 26–27) 

*

Met elke reis raak 'n mens na die opwinding en uitdagings moeg. Jy wil huis toe; terug na jou eie bed. Jy mis jou eie ruimte.

Met hierdie binnewaartse reis is dit presies dieselfde gesteld. Jy ervaar soms kognitiewe dissonansie. Jy begin moeg raak vir dieselfde roetine.

Met buitelandse reise: 'n hotelkamer, 'n brekfis- of eetkamer, besienswaardighede, taxis, lughawens: in en uit.

'n Tas wat wegraak of 'n ongevraagde passasier wat langs jou sit en te veel praat ...

Jet lag. 'n Visum wat ongeldig is; 'n inspuiting wat jou siek maak.

Nou is dit net jy en jou eie huis. 

'n Foto van Tafelberg raam die dag. Framing the sign, soos Jonathan Culler dit noem.

Reisvers

Tussen aankoms en vertrek,
tussen beplanning en besoek,
hierdie Egiptiese reis
van hier tot ’n verbeelde daar.
So besoek ons museums en tempels,
Beskou piramides (onder restourasie,
nes hierdie gedig)
beleef ’n Nylvaart
van Thebes tot die markstad, Aswan.
Maar iets lê immer buite
woorde of besegging
soos ’n foto wat ’n toevallige objek optel
en verewig in kleur soos stene in ’n moskee
waardeur ’n bars loop
(vir die nakende oog afwesig)
of ’n serp gekoop op ’n moremark
wat later glansloos tuis
vertoon, dié moment verlore
of iemand wat oor ’n brug stap
met hangskouers, vermoeid
(dalk vandag sy werk verloor
of deur die geliefde in die pad gesteek?)
Hiervan verneem ek niks in my Fodor
vol wenke en aanwysings,
moets en moenies.
Kyk mooi. Al die bestanddele
vir ’n reisvers is rééds hier.
Dis net, dis net
dat jy dalk nooit
met dié gedig akkoord sal gaan:
jy mag meen daar was geen bars,
die serp bly helder voor jou dans
en die man?
Hy was sommer ’n konterfeitsel,
’n opgeefsel uit ’n ander tyd-en-ruimte,
gewoon ’n eensame wandelaar
dalk uit Nijhoff of ’n ou Egiptiese vers.

(Uit: Visums by verstek, 2011).

*

In 'n vroeër edisie van Robert Con Davis se Contemporary literary criticism (1986) verskyn 'n bydrae wat later weggeval het: “Iris Murdoch’s A severed head: The Evolution of Human Consciousness" deur Isaiah Smithson. (Daar is 'n foto van Murdoch voor my: 'n inspirerende skrywer en filosoof.)

Die primordiale benadering tot die letterkunde is die afgelope drie dekades verdring deur strukturalisme en postmodernisme. Veral die meer intellektuele benadering word gevolg, terwyl 'n skrywer soos D.H. Lawrence verdwyn het en Northrop Frye se sikliese benadering tot tekste ook weggeval het. In die postkoloniale debat "verdwyn" skrywers ook dikwels tot die chagrin van die kanoniseerders. Hierom loon dit 'n mens om Harold Bloom te lees oor die kanon. En die Bybel behoort tot die kanon. Vir Bloom is Shakespeare die maatstaf waaraan alle tekste gemeet kanword.

June Singer, die beroemde genderteoretikus en skrywer van Androgyny - towards a new theory of sexuality (1977) wys op al die opposisies wat ons denke bepaal volgens 'n tabel van Robert Ornstein:

THE TWO MODES OF CONSCIOUSNESS

A TENTATIVE DICHOTOMY


WHO PROPOSED IT?
Many sources                          Day                                              Night
Blackburn                                 Intellectual                                Sensuous
Oppenheimer                          Time, History                          Eternity, Timelessness
Deikman                                    Active                                         Receptive
Polanyi                                       Explicit                                       Tacit
Levy, Sperry                             Analytic                                     Gestalt
Domhoff                                    Right                                           Left (side of body)
Many sources                            Left                                              Right Hemisphere
Bogen                                          Propositional                           Appositional
Lee                                               Lineal                                          Nonlineal
Luria                                           Sequential                                 Simultaneous
Semmes                                      Focal                                           Diffuse
I Ching                                       The Creative:                           The Receptive:
          Earth, Masculine, Yang       heaven, feminine, Yin
I Ching                                       Light                                            Dark
I Ching                                       Time                                            Space
Many Sources                          Verbal                                         Spatial
Many Sources                          Intellectual                                Intuitive
Vedanta                                     Buddhi                                       Manas
Jung                                             Causal                                         Acausal
Bacon                                          Argument                                 Experience

Kyk maar net hoe die argumente verloop tussen die ekonomie en gesondheid; die Weste versus Sjina ...

Singer som vir my die problematiek van ons tyd op: "(the) psyche, that indefinable apparatus through which perception takes place and by which perception is transformed into knowledge. Myth is the speech and the imaginings of the psyche, it is our way of expressing ourselves from the inside out. Myths speak to every disposition and to every point of view" (Singer, 1977, 91).

Hoe het hulle in die Boereoorlog gesê: Geniet die oorlog; die vrede gaan erger wees.


Maandag 13 April 2020 | Dag 18

Dis Maandag. 'n Nuwe week. 

Ek bel 'n gesiene digter wat in 'n aftree-oord bly om 'n nuwe Ben Okri vir haar te neem. Belangrike boeke word geleen om haar op hoogte te hou met ontwikkelinge binne die letterkunde. Soms eet ons saam by Bukhara met 'n mede-digtersvriend. Dit helaas is nou vir lank ons nie beskore nie.

'n Minuut later bel sy terug: "Ons mag ongelukkig geen vorm van aflewering ontvang nie." 

Diep sug. Ek het vergeet. Sy is oud en dus weerloos.

Hopelik het sy genoeg te lese.

Oor die radio analiseer 'n ekonomiese kenner die voor- en nadele van hierdie inperking en volgens hom moes dit nooit gebeur het nie.

By die vulstasie is daar vanoggend net één man aan diens. En 'n bestuurder.

Hy is nou op twee skofte geplaas vir die volgende drie weke, bely die man moedeloos.

'n Verslaggewer vra hoé die pandemie (en inperking) my skryfwerk sal verander en my siening van die dood. En my menswees?

My reaksie is dat ons nog te na aan hierdie gebeurtenis staan en my daaglikse inskrywing bewys hopelik dat dit 'n uiters komplekse proses is. 

Maar dit is wel so dat 'n mens nou die kaf van die koring skei; die mooiweersvriende van die egte kamerade.

*

Ek begin met die boek Ester, ter wille van 'n genderbalans.

Ester vertel die verhaal (470 VC) van die beeldskone Joodse koningin, vrou van Ahavaseros (Xerxes I) gedurende 486 - 465 VC. Ester word sy vrou nadat Vasti, sy eerste vrou sy bevele verontagsaam. Die verhaal ondersoek ook die rol van Haman wat nydig is op Mórdegai, Ester se neef en beskermheer. 

Haman kry toestemming om al die Jode uit te wis, maar Ester tree na vore. Sy op haar beurt kry dit reg om die koning te oortuig dat die Jode hul vyande mag oorwin.

Hierdie verhaal bring immer terug hoe Haman se galg wat hy vir Mórdegai opgerig het, die een is waaraan hy opgehang word.

Purim is dan 'n oorwinningsfees, een wat die Jode tot vandag toe vier.

Dit is die enigste boek in die Bybel waar God nie genoem word nie. Glo omdat Israel sou versuim om die Mosaïese verbond na te kom. Dit het die Babiloniese ballingskap tot gevolg gehad; tog het vele Jode daarna verkies om nie na hul land terug te keer nie.

Dit is gebaseer op 'n werklike historiese gebeurtenis waarin die komplot om die koning te vermoor, ontbloot word. Ester is die heldin wat haar Joodse mense red hierna met Haman as die booswig (Die boek Ester • FaithEquip. Besoek 12 April 2020).

Die pragtige verhaal se struktuur werk soos 'n novelle met tien kort hoofstukke.

En wie was die skrywer van hierdie boek? Dalk Ester self? In daardie tyd sou 'n vrou nie haar eie verhaal kon opskryf nie.

*

Alfred Lord Tennyson het Job as die grootste gedig van antieke en moderne tye beskou en in 'n prosakursus sou 'n mens Ester kan analiseer as 'n spanningsverhaal. Komplot, vrou / man, wending, booswig word aan die kaak gestel.

© Joan Hambidge