Dinsdag 14 April 2020 | Dag 19
Vandag verwyder ek en my buurman die geut wat gevaarlik oorhang. Ons lees dat Frankryk se inperking verleng is tot 15 Mei.
Luide musiek van die oorkantste blok irriteer.
In haar bundel Van vergetelheid en van glans wat in 1978 verskyn het, skryf Wilma Stockenström ‘n gedig wat Freud as Unheimlich of uncanny sou beskryf.
Die puik gedig wat nou ‘n nuwe betekenis kry in die lig van die pandemie wat die aarde getref het, lui so:
Die oorwinning van die ietermagô
Goud die oorwinning van die ietermagô,
geboen tot blits en verweer, en gebal,
so rondomtalie geskub, die wilskrag
teen kwes en die lomp, kantelende val.
Sodat hy blydskap dans teen die dood,
die ietermagô, met snoetjie vooruit
gesteek en stert ‘n roerlose sleep,
‘n swaaiende verset teen tem en buit.
Sodat hy glinsterend ‘n agterpootdans
wiegelend trap en die armpies rek
om die son te gryp in ‘nvreugde
wat deur tot anderkant die jare strek.
Op hierdie meesterlike vers skryf ek ‘n palinode of teensang:
Die oorwinning van die ietermagô
vir Wilma Stockenström
Goud glo die oorwinning van die ietermagô?
Hierdie manis pentadactyla wat jy lof toeswaai
met sy geboende, geskubde lyf, rondomtalie
diehereweet, oor ‘n voleindige, totale aardbol.
Hy dans die dans van die dood vooruit
en sleep ‘n virus saam met sy agterpootdans
wiebelend saam met ander ye wei,
hierdie pangolyn, ‘‘n machocho magogwe:
vir sangomas helaas nie meer ‘n gelukbringer nie;
almal staan nou op hul agterpote oor ‘n ietermagô.
Machocho magogwe is Tswana vir machocho(mier) en magogwe (ratel). Die dier word gekoppel aan swart bygelowe.
En al die bespiegelinge oor wát die beginpunt van die virus was, word herlei na ‘n
mark in Sjina en die eet van vreemde diergeregte (Jury still out on what species caused coronavirus pandemic outbreak. Besoek 14 April 2020).
Laasnag word Habbakuk gelees. ‘n Spanning tussen ‘n geloofskrisis en uiteindelike aanvaarding van geloof. Die teoloog D.F. O’ Kennedy sien die struktuur soos volg:
1:1 (Opskrif); 1:2-4 (Eerste klag); 1:5-11 (Antwoord van Jahwe); 1:12-17 (Tweede klag); 2:1-20 (Antwoord van Jahwe); 3:1-19 (Habakuk se gebed).
Hoekom, wil Habbakuk weet, word ongeregtighede nie gestraf nie en gaan Juda onverpoosd voort met hul oortredings? Babilonië sal hulle straf waarop die profeet wil weet: waarom moet mense mekaar straf? Waarop God antwoord dat ook húlle gestraf sal word.
Ten spyte van die beproewinge, sal Habbakuk nogtans jubel.
So klink dit in Die Bybel 3: 17, 18:
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.
*
Dit was natuurlik die titel van ‘n boek met essays in 1977 van Audrey Blignault, ‘n voorste begeleier van boeke. Elize Botha het haar as ‘n voorste essayis beskou.
Twee dinge onthou ek:
* ‘n essay waarin sy skryf oor ‘n vrou wat vra dat sy eendag onderstebo begrawe moet word sodat sy die wêreld só beter sal kan verstaan,
* en haar kundige besprekings van sowel Patrick White as Saul Bellow wat my ‘n lewenslange bewonderaar van beide gemaak het. Elke jaar herlees ek ‘n roman van Bellow. Hierdie jaar sal dit Herzog wees.
Martin Amis beskou hom as die grootste Amerikaanse romanskrywer, ofskoon Vladimir Nabokof verminderend oor hom was. (Bellow is gebore in Kanada, maar Chicago word sy vesting.)
Die briewe tussen hom en Philip Roth, die ander uitstaande Joodse romanskrywer, is ‘n lafenis vir die siel. Vol humor, bitsighede, kruisverwysings en hoe belangrik vriendskap uiteindelik is vir alle mense.
Herzog is die verhaal van Moses E. Herzog wat verbeelde briewe skryf aan bekendes en familie in sy krisistyd. Die roman speel in die sestigerjare af en ondersoek die impak van ‘n egskeiding, sosiale ongelykhede en ‘n middeljare krisis. Sy lewe as skrywer en akademikus is aan’t kwyne. Huwelike is op die rotse; kinders bly by die moeders.
Een vinjet sal hierdie leser altyd bybly: hoe hy as kind seksueel gemolesteer is. Dit word subtiel, uiters subtiel in ‘n terugflits weergegee en eers ‘n paar bladsye later tref dit jou tussen die oë.
Hy het ‘n wye register: die absurde en platvloerse tot slim verwysings. Met ‘n boeiende verhaal.
In een van die romans herinner die verteller hom aan ‘n man wat ‘n hoerhuis besoek. Wanneer hy sy broek aftrek, fluit die gesellin vir hom waarop hy antwoord:
“Madam, I come to bury Caesar, not to praise him.”
En Bellow as verteller onthou dit as ‘n kindergrap en dis juis hierdie mélange van style wat hom so groot maak.
Verskeie kritici lees Herzog as ‘n outobiografiese analise van sy lewe.
Iewers spruit ‘n roman uit eie ervarings en belewenisse, maar word verhef deur plot en struktuur in verhaalvorm. Anders was almal se lewens publiseerbaar.
Maar hierdie nuuskierigheid word juis verder aangewakker deur skrywersonderhoude.
FMR speel. En daar klap mense weer hande. Dis 8 nm.
Hierdie klein ritueel begin nou steurend raak.
Woensdag 15 April 2020 | Dag 20
In die nag ‘n troebel droom: ek verpas ‘n vlug en al my reisgenote het vertrek. Sonder my. Soos dit maar gebeur in hierdie soort onrustige droom word ‘n mens tog weer wakker.
Die dag begin moeilik. Ek wonder wanneer sal ‘n reis na die buiteland my weer beskore wees. Ek onthou hoe ons op ‘n oujaarsaand in 2008 afkyk op mense wat in Hong Kong in gelid beweeg oor die straat - met polisiemanne wat toue oop- en toemaak. ‘n Uiters gedissiplineerde samelewing. Met min ruimte na buite. Daarom is die geboue hoog: heuningkoekgeboue op elke stukkie grond om die maksimum te benut.
Hong Kong
Op ‘n hoogste gebou
in Hong Kong
laat val ek
‘n orgidee
in Hong Kong
op ‘n hoogste gebou
val ‘n orgidee
soos ‘n mens
se soektog na ‘n brandtrap
ná illusies verloor is
soos die blare van ‘n orgidee
een vir een afgepluk
soos op ‘n hoogste gebou
in Hong Kong
(met woonstelblokke
saamgepers nes die blare
van ‘n orgidee)
amper ‘n simbool.
(Uit: Visums by verstek, 2011).
Hoe roep mense nie nou na mekaar nie? Woordeloos en in drome is daar ‘n netwerk van uitreik en kontak.
Hoe moes dit wees om soos Salman Rushdie vir lank in ballingskap te leef tydens die fatwa? Word skryf dan belangriker as publiseer?
*
Die Klaagliedere van Jeremia (יִרְמְיָהוּ) is waar die Groot Boek oopval. Dalk omdat die tydperk van inperking verleng is?
Dit is die 25e boek. Jeremia is een van die groot profete saam met Jesaja, Daniël en Esegiël.
Dit is ‘n teks van klaagsange - in die vorm van liedere wat die lot van die mense betreur wat in ballingskap weggevoer is. Daar is sowel melancholie as hoop in hierdie teks. Jeremia is vervolg en uiteindelik verban na Egipte.
TT Cloete publiseer in Allotroop (1985) die gedig “woordeskat van jeremia en sefanja”.
In 1989 publiseer die einste Cloete ‘n belangrike artikel oor die Afrikaanse poësie en die Bybel: Die Boek wat laaste uitgepak word: Oor die Bybel in die Afrikaanse digkuns.
Hy skryf oor die impak van die Bybel op alle digters, religieus en nie-religieus.
Cloete skryf: “In Van Wyk Louw se “Die swart luiperd” staan daar hierdie pragtige beeld van die wind:
Die eerste nag het ek geween
toe die geel oë na my kyk:
dat al wat Goddelik is, alleen
en magteloos is en rugwaarts wyk,
en in ‘n ou landskap huis
van swart rots en vroeë see
waaroor die magtiger sterre kruis
en die vierstreekse winde vee
Hierdie vierstreekse winde kom uit Jeremia 49: 36, met sy vier winde uit die vier hoeke van die hemelruim:
Ek laat die vier winde
losbreek teen Elam
die winde uit die vier hoeke
van die hemelruim” (10).
Louw se taal is Bybels en sy beeldeskat Bybels, meen Cloete verder.
En dan is daar natuurlik die grootse Cussons waarna Cloete ook verwys:
Christ of the burnt men
(Thomas Merton)
Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ‘n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –
– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raaksien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.
Cloete se artikel was oorspronklik ‘n openbare voorlesing van die CB Powell- Bybelsentrum, Universiteit van Suid-Afrika op 4 Julie 1988.
Hoeveel digters gebruik nie bewustelik of onbewustelik verwysings na hierdie boek nie? ‘n Mens lees byvoorbeeld in Breyten Breytenbach geweldig baie verwysings na die Bybel.
Gaan lees gerus Helize van Vuuren se skitterende artikel oor sy laatwerk (“’n Almanak van klippe”/ Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). Besoek 16 April 2020).
Beginsel van stof aktiveer immers die bekende gedagte:
Uit stof is jy gemaak en tot stof sal jy terugkeer.
© Joan Hambidge