Bladsye / Pages

Tuesday, January 14, 2020

Rubriek | Poëtiese hoogtepunte vir 2019, 'n oorsig

Die afgelope jaar het daar verskeie en uitsonderlike digbundels in Afrikaans verskyn by NB-uitgewers, Protea en Naledi. Die onbekende Minimal Press het ook 'n bundel gelewer en daar was selfpublikasie.

Dit is goed om terug te kyk op die verskillende tendense in ons digkuns. Met 'n resensie lees 'n mens 'n bundel in isolasie en die volgende bundels is vir hierdie leser belangrike toevoegings tot ons poësie. Vir al die beswaardes, is hierdie bundels 'n bewys van 'n lewende digkuns.

Breytenbach se Op weg na kû (H&R) bevestig dat hierdie meester nie uitgeskryf is nie. Dis 'n hibridiese teks vol vertalings (vervellings), selfgesprekke, reisbeskrywings en besinnings oor die digkuns. Dit is 'n bundel wat leegheid ondersoek, maar paradoksaal juis die vol-heid van alles besê. Daar is uitveegedigte en leë gedigte, soos die titel al waarsku; maar ook woordoorloopsels (soos hy dit noem).

Ook die keuse uit sy liefdesverse Rooiborsduif (H&R) is 'n hoogtepunt – saamgestel deur Charl-Pierre Naudé – kan gelees word as verse oor die liefde en verse wat beskou kan word as 'n liefdesverklaring vir Afrikaans. "ein Fichtenbaum steht einsam" (126) is 'n eenvoudige, dog komplekse juweel van 'n vers.

'n pynboom staan eensaam
in die noorde op 'n kaal hoogte,
slaperig, slap met 'n wit kombers
omhul van ys en sneeu

hy droom van 'n palmboom
wat vér in die land van die môre
eensaam en swyend treur
op 'n brandende rotsmuur

wat 'n eenvoudige gedig!

Twee uitsonderlike vertalings het by Naledi verskyn: De Waal Venter se Vandag is boordensvol met pragvertalings van die Chileense digter Pablo Neruda, terwyl Daniel Hugo die kragtige Vlaamse digter,  Benno Barnard, vertaal in 'n bundel Die trouservies.

Vertalings verruim 'n digkuns en in die hande van behendige vertalers word die leser dikwels bekend gestel aan digters waarvan ons andersins nie sou kennis dra nie.

'n Heerlike verrassing is Thomas Deacon se Duifiedorings (Minimal Press).  Dit is volkspoësie – woordspeletjies, aardse verwysings en seksuele toespelings, die invloed van die natuur en die gesprek met God, is hier aanwesig.

die lewe is ‘n kaalvoetspoor

die lewe is ‘n kaalvoetspoor
een duin áf die anner duin óór
hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel
weg issie spoor, net’ie sand bly oor

Twee debute wat beslis 'n tweede, derde lees werd is – en woeker met slim intertekste - is Pieter Hugo se Alchemie van my muse (Naledi) en Christo van der Westhuizen se Chrisalis (Naledi). 

By Hugo sou 'n mens kon besluit: 'n Sterk debuut met taaleksperimente, gesprekke (met Van Wyk Louw en gert vlok nel), besinnings, en ontginnings waar die gesprek oor Afrikaans voortduur.

Van der Westhuizen se verse werk met vervreemding en die raaisel van die digkuns via Sklovskij. Siekte, dood, familieskap en die funksie van die digkuns word ondersoek via literatuurteorie.

Hendrik J Botha lewer met Voorspraak (Naledi) 'n sterk tweede bundel soos Hennie Nortjé met Kryt (Queillerie). Beide spring flink oor hierdie hekkie.

By Botha is daar landskapverse en selfgesprekke:

My eie spieëlbeeld
versplinter in die water.

En wrang, swart humor:

Vasbeslote

Sedert die finale diagnose
verander jy jou lewenstyl:
hou op rook,
vermy alkohol,

begin stap en oefen,
eet drie porsies groente op ’n dag,
geen vet of suiker nie.

Jou doelwit nou waarskynlik
om voor Kersfees,
in ’n mediumgrootte
doodskleed te kan pas.

Die gesprek met Tom Waits en Leonard Cohen is besonder onthoubaar.

Nortjé se bundel aktiveer die kortstondigheid van alles (soos die verdwene Kryttydperk) en hoe broos die natuur is in die hande van argelose mense. Natuurhistoriese temas en digterlike besinnings kom aan bod.

Sowel Botha as Nortjé se verse is dikwels ironies in aanbod.

Loftus Marais se Jan, Piet, Koos en Jakob (H&R) gee beslag aan die gay-stem en is 'n behendige voortsetting van sy werk. 

Die digter wil hiermee die argetipiese wêreld van die cruiser aktiveer. Dis die Janalleman van die onderwêreld wat hier beskou word. Mans wat opgetel word in gyms (die Virgin Active), in donker stegies en op straat.

Hierom is daar 'n Jakob Engelstoeier, 'n Jantjie Skuinsdwars, Piet X, Jakobstaf, Piet Pixel, 'n Koos Merwe in die galery, 'n Geldpiet, Jan Bantam, Jan Balie, Bang Jan dooie Jan, 'n Ware Jakob ...

Daar is 'n mengsel van humor en melancholie aanwesig in hierdie bundel.

Pieter Fourie se Stof en ster (Naledi) is oënskynlik net volkse rympies, maar onder draai die duiwels rond. 

Skerfies gedigte, die optekening van 'n vervloë era, volksryme of -raaisels en die ontginning van ou woorde wat die wêreld van Louw se "Klipwerk" en Boerneef oproep.

Goljaartjie, poelpetaan, vrotpootjie, êprou, o.a. Die naamgewing is eweneens so bekend aan die landelike wêreld wat beskryf word soos kleinneef kosie harmansdrup, tant breggie koesisterkoningin, daantjie donnerpadda, dowe neef nathan waterfiskaal ...

Marlise Joubert in grondwater (Protea) ondersoek die afsterwe van 'n moeder. Die moeder – wat aan demensie ly – se lewe word karteer en die kind word nou die versorger en trooster in hierdie bundel. Haar eie kinders (en kleinkinders) kom ook aan bod in 'n bundel met selfrefleksiewe en meditatiewe verse.

Ronelda S. Kamfer in Chinatown (Kwela) beskou die lotgevalle van die afwesige vader, die dood van 'n moeder en bestaan van die bruinmens. So ook Clinton V. du Plessis se Verslag (Roepman uitgewers) waarin hierdie digter wat hom opsetlik buite die kanon hou, tog in gesprek tree met die tradisie (met fyn parodieë). Hy skryf oor sy lewe as boekhouer, siekte en die dood.

Hein Viljoen se Brisant ('n epiese gedig uitgegee deur Naledi) verdien ook vermelding. Dit is werklik uitsonderlik dat 'n digter so 'n analise maak van die politieke situasie en die lewe aan 'n universiteit van ene Jan wat in opstand kom teen 'n huwelik en die posisie van aanvalle teen wit mans. Postmodernisties in aanbod met intertekste van T.S. Eliot en D.J. Opperman, o.a.

Daar is iets vir almal dus. Van die Boeddhisme tot die volksvers; van die intellektuele studeerkamergedig tot die beskrywing van die genadelose, primordiale wêreld van die Noord-Kaap. Oor ouers en kinders word daar gedig. Oor politieke onreg en in verskillende vorme van Afrikaans: standaard tot Kaaps tot die Afrikaans by Kenhardt verby. Ongelowig tot 'n aktivering van Die Bybel.

In Neruda se woorde: daar is geen digters nie, net 'n digkuns met 'n tapisserie van onthoubare verse.

 © Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)