Bladsye / Pages

Sunday, December 15, 2019

Resensie | William Oosthuizen – Die dame met die hondjie (2019)

William Oosthuizen – Die dame met die hondjie. Naledi, 2019. ISBN: 978 1 928518 14 3

Resensent: Joan Hambidge

I
Anton Tsjekof was ‘n gerekende dramaturg, kortverhaalskrywer, en medikus wat opgemerk het: Medisyne is my wettige vrou; letterkunde is my minnares.

In sy dramas is daar ‘n spanning tussen tragedie en komedie. Sy kortverhale (wat hy om den brode geskryf het) is hoogtepunte in die kortverhaalkuns. Die invloed op ander kunstenaars is wyd: Woody Allen se films, Tarkofski se The mirror, Francois Truffaut, ensomeer. In die verfilming van Bernhard Schlink se The reader luister Hanna (vertolk deur Kate Winslett) na 'n oudio-weergawe van die storie. By ons, natuurlik, is daar Hennie Aucamp in "Vir vier stemme".

Hy was eweneens bekend vir sy satiriese briewe.

Hierdie verhaal het oorspronklik in 1899 verskyn en dit beskryf 'n buite-egtelike verhouding tussen  Dmitri Dmitritch Gurov, 'n bankier van Moskou en Anna Sergeyevna Von Diderits, 'n jong getroude vrou. Hierdie vertelling het die grote Vladimir Nabokof uitgesonder as een van die grootste verhale nog. 

Ander kritici meen sy krag is eerder in sy dramas te siene.

Nou onlangs het Christiaan Olwagen met groot sukses Tsjekof se Die seemeeu opgevoer. 'n Paar jaar terug was Oom Wanja met ons op die verhoog onder regie van Janice Honeyman in sowel Afrikaans as in Engels.

Wyle Reza de Wet het hom in haar dramas herbesoek en wyle Stephan Bouwer het lieflik konvensionele periode-interpretasies onder sy bedrewe regiehand gelewer. ('n Mens hoop die SABC het dit bewaar.)

II
So lui die agterblad van die roman:
Dit is 1899 – Anton Tsjechof, Rusland se voorste dramaturg en kortverhaal-skrywer, is stadig besig om in die warm Jalta klimaat aan kroniese tering weg te kwyn, ver van die plesiere van Moskou en van sy aktrise, Olga Knipper. 
Lang dae word gevul met skryf, wandelinge op die promenade en briefwisseling met Olga, terwyl hy verlang na die lewe wat hy agtergelaat het.  
Dan merk hy haar op:  ’n Jong dame, wat op die promenade wandel, met haar hondjie aan haar sy. Oor die volgende dae kyk hy toe hoe die jong dame die prooi word van ʼn ouer man, ʼn boorling van Moskou. Teen sy beterwete word Tsjechof meegesleur deur hul liefdesdans, en laat dit hom by ʼn kruispad in sy verhouding met Olga weens die onnadenkende belofte wat hy aan die jong dame maak.
Hierdie teks - soos dit blyk uit my kort oorsig - tree in gesprek met gedugte kommentators en interpreteerders. Wat 'n wonderlike verrassing is hierdie teks nie. Die skrywer werk met die bekende gegewe en borduur voort. Elke leser het al gewonder teen die einde van 'n boek: wat gaan verder gebeur?  Kodes hier is die lornjet en "gulsige blikke" (43). Daar word op die promenade gestap en bespiegel oor wat in mense se lewens werklik gebeur. Die gesprek met die karakters is uiters openbarend (61).

Die teks word behendig in 'n raam geplaas rondom 'n vertaler (ene Cornelius van den Hoofen) en Sophie Ruiz in 2018. Sy vertrek na Jalta om 'n agterkleinkind van Tsjekof se drinkersvriend op te spoor met 'n insig in sy lewe. Dus 'n matrioska-verhaal: 'n storie-binne-in-'n-storie oor 'n storie. 

En hier is Tsjekof 'n afloerder van sy skeppinge en so word aweregse kommentaar gelewer oor wát die skrywer uit die werklikheid geneem het en wát was blote fantasie. Lesers wil dikwels weet wat het regtig in 'n skrywer se lewe gebeur en wat is die "waarheid gelieg". Die interaksie met Stanislavksi (die beroemde regisseur wat Die seemeeu met suskes opgevoer het) en verskillende sieninge van subteks, is eweneens belangrik vir hierdie vertelling. Dit is juis waarin Tsjekof uitmunt: subteks en hierom kan sy dramas as ernstig én parodies vertolk word.

In hierdie teks is daar subtiele verwysings na die impak van die liefde: 'n beeldjie waarvan die kop afgebreek is, en skaak. En Sinani neem weer foto's wat die opposisie tussen skryf en fotografie eweneens uitwys.

Tsjekof se siekte en die beskrywing van Moskou en Jalta word helder geteken. Die mag van die verbeelding word ryklik met hierdie teks geïllustreer. Oosthuizen se teks lewer kommentaar op die sogenaamde "oop slot" van hierdie verhaal. In sy weergawe word die storie 'n vloek wat oor die karakters uitgespreek word.

Punte van kritiek: Die skrywer gee erkenning aan bronne, maar helaas sonder datums of uitgewers. In Afrikaans is dit Tolstoi; nie Tolstoy nie. Gorki; nie Gorky nie. Dit geld al die ander Russiese name.

En die boek is so gebind dat die moeilik oopmaak sonder om die rug te breek. My eksemplaar se drukwerk was eweneens op plekke nie eweredig nie.

Dis jammer, want dit is so 'n mooi teks oor begeerte en verliese vir fyn kyk met 'n lornjet.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)