Bladsye / Pages

Saturday, December 14, 2019

Resensie | Charl-Pierre Naudé (samest.) – Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde (2019)


Charl-Pierre Naudé (samest.) – RooiborsduifGedigte oor die liefde. Human & Rousseau, 2019. ISBN: 978-0-7981-7876-1.

Resensent: Joan Hambidge

I

Van die aangrypendste liefdesgedigte staan opgeteken in Breyten Breytenbach se oeuvre. Vra maar vir Jan en Alleman en hulle ken ‘n vers van Breyten.

In Fanie Olivier se antologie Die mooiste Afrikaans liefdesgedigte haal Breytenbach  loshande die meeste verse naas Krog, Gilbert Gibson, onder andere.

Breytenbach skryf sowel politieke as intieme verse. Verse oor sy jeug, die Zen-Boeddhisme, ekfrastiese (of beeldverse), reisverse, kunsteoretiese besinnings is bekend aan sy verse. Jonger digters reageer ook op sy verse in teenstemme of palinodes. Trouens, wanneer ‘n mens “Allerliefste ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” op google insleutel, volg tallose skakels na BB se gedig onmiddellik:

Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug 
en ek weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie. 

II

Die samesteller Charl-Pierre Naudé gebruik dan ook tereg ‘n beeld uit hierdie klassieke gedig vir die titel van sy bloemlesing. Op die buiteflap gee hy ‘n kort verduideliking oor hoe hy die digter se liefdesverse sien.

Die bundel word opgedra “aan haar vir wie ek opdragte skryf soos paringsdanse”.

Hy sien Breytenbach as ‘n skakelende deurpos en die gedigte is ‘n intieme voëlvlug.
Hy wys daarop dat voëls ‘n wederkerende beeld in sy poësie is wat vanselfsprekend dan die reismotief aktiveer. As politieke dissident is die gedigte vir die samesteller gestempel met “‘n wondbare dringendheid en ‘n gelate wysheid waarin die geliefde soos ‘n persoonlike redder benader word.”

Naudé wys daarop dat die verhouding met hierdie Viëtnamese vrou tot sy politieke ellende gelei het én dat hy aan die verkeerde kant van die Koue Oorlog geland het.
Die Viëtnam-oorlog was immers ‘n berugte slagveld …

“Die verterende vuur van oorlog word die vertederende alchemie van sy liefdesgedigte”, voer Naudé aan. Hierdie bundel huldig hom as “passaatvoël van die woord.”Die liefdesverse word ‘n openbare liefdesverklaring aan die mensdom – geteken as ‘n vrou.

Hierdie insigryke flapteks moes dalk ook as ‘n voorwoord opgeneem gewees het. Die samesteller orden die verse chronologies.

III

‘n Tematiese keuse gee altyd ‘n nuwe blik op ‘n digter se werk.

Dit is ‘n proses van herkanonisering wat die leser met nuwe oë na bekende gedigte laat kyk en binne ‘n tematiese samestelling kry die verse so ‘n nuwe betekenis. Gedigte lê nou bymekaar.

By Breytenbach word die leser ‘n blik gegee op die gedig as liefdesverklaring en as reddingsboei, terwyl hy in die tronk was.

Die buiteblad som alles netjies op – die geliefde, ‘n slapende Yolande, rus op die digter se skouer in ‘n trein. Die gedigte – omdat dit gepubliseer is – word ook die leser se gedigte en só beskou, word elke liefdesvers in hierdie bundel ‘n liefdesverklaring in en vir  Afrikaans.

Om die mooistes hier uit te sonder is onmoontlik. Met elke lees, kom die leser onder die indruk van die digter se verbluffende beelde en woordspelings.

Wanneer hy direk dig (peester / kont) word dit nie steurend nie, omdat dit netjies begrond word in die gedig met beelde at dit verduidelik (“die eed”, 165).

Vir hierdie leser word die gedigte inderdaad “inlênagte tussen slaap en plesier” (“joernaal”, 164).

Die verskillende afdelings karteer die liefdesreis: die hongerblou gety; wyn in die bloeisels; hart uit die doek; die koue van dousterre; donker beminde; onbegonne tuiskoms ...

“die oenegedig” (uit Katalekte) met sy woordspel is ‘n treffer. Seisoene en soene ...

Maan, perskes, huis, blomme, drome ...

Die mooiste liefdesgedigte is vir Yolande - daardie een wat klein en getrein is.

‘n Gedig heet “nomadismes”  Alles staan in die teken van beweging, en interpretasies is immers ook ‘n nomadiese proses. En ‘n gedig – in navolging van Borges – is die vanselfsprekende antwoord op ‘n vraag wat nie gestel is nie. Gedigte is “kleinodekissies” (180). Die liefling wat wegkruip in die arm word uitgestal (vir die leser) in ‘n “laken piepend van drome” (32). “ein Fichtenbaum steht einsam” (126) is ‘n eenvoudige, dog komplekse juweel van ‘n vers.

‘n pynboom staan eensaam
in die noorde op ‘n kaal hoogte,
slaperig, slap met ‘n wit kombers
omhul van ys en sneeu

hy droom van ‘n palmboom
wat vér in die land van die môre
eensaam en swyend treur
op ‘n brandende rotsmuur

wat ‘n eenvoudige gedig!

IV

Carol Ann Duffy se Rapture (2006) karteer die begin, middel en slot van ‘n verhouding. By Breytenbach word ’n komplekse lewe in die ontwikeling van die liefdesverse afgelees.

Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”. Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in volledigheid kan beskryf of besit nie.

Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig. Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later alles as tekens van die geliefde interpreteer. 

Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.

Alles hier te lese in ‘n prag-bloemlesing.

Breytenbach is tereg met sy verjaarsdag op Litnet vereer met analises van sy gedigte.

Bronne:

Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.
Barthes, Roland. 1973/1975.  The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)