Bladsye / Pages

Thursday, September 12, 2019

Resensie | Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls (2019)

Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls. Penguin Random House, 2019. ISBN 9781485904014

Resensent: Joan Hambidge


In 'n land sonder voëls is die laaste roman van Harry Kalmer, 'n gerekende romanskrywer en dramaturg, wat met die gesogte Barry Ronge-prys bekroon is vir sy roman oor Johannesburg, 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014), in vertaling.

Dit heet A Thousand Tales of Johannesburg. In hierdie verhaal word Totius seTrekkerswee opnuut belig en Kalmer se blik op die geskiedenis is eweneens belangrik, o.a. sy drama oor Bram Fischer.

Kalmer was 'n uiters produktiewe skrywer. 'n Onmiskenbare stem met gestroopte prosa. Soos Ryk Hattingh, is dit vreemd dat hulle nie genoegsame erkenning in hul tyd geniet het nie. En hierom is dit goed om nou, by die lees van die laaste roman, ook te kyk na die bydrae van hierdie skrywer wat waarskynlik in die skadu van Koos Prinsloo gestaan het.

Die laaste roman van 'n skrywer wat jy lees wetend dat hy sopas oorlede is, kan uiteraard nie objektief of gedistansieerd benader word nie. 

As dramaturg, kopieskrywer en romansier het hy 'n merk gelaat. Die laaste teks is 'n distopiese roman. Dit is 'n roman oor inperking met 'n Korporasie. In die vyftiende jaar van die Ekonokrasie. Demokrasie is iets van die verlede. Die natuur is buite beheer.

“Fladdering”, “Vlug” en “Land” heet die drie afdelings. Die vertelling beweeg in ‘n sirkelgang tussen droom en onthou …

Dis 'n distopiese roman en sluit tegnies aan by Alettie van den Heever se Stof en Lien Botha se Wonderboom

Adam ('n simboliese man) se dogter Jemima het weggeraak. Sy vrou Sybille is eweneens weg. Dis 'n roman van versaking en verlatenheid. Die skrywer gebruik ook die troop van die swaksiende man om die inbeweeg in fisiese en psigiese donkerte te karteer.

Hierdie roman bewys volledig dat 'n mens nie hierdie teks kan loslees van die skrywer se dood nie. Daar is vele kodes ingebed oor hoe die werklike outeur worstel met die aanvaarding van sy eie dood. Die transponering van die verlies van sy vrou en kind is in Jungiaanse terme sy anima én verwonde kind.

Dit is ‘n roman waarin die skrywer op 'n sober wyse afskeid neem van sy eie lewe. En steeds kritiese kommentaar lewer op 'n samelewing waar demokrasie al hoe meer 'n abstraksie word. Die eko-politiese kommentaar is eweneens relevant.

Dit is ‘n boek wat as ‘n laaste teks gelees moet word: ““Nog nooit so hard gewerk om 'n boek klaar te maak. A deadline that can't be moved.” Dit staan opgeteken in die aangrypende huldeblyk deur Erika Murray-Theron (Harry Kalmer, ’n persoonlike huldigingLitNet. Besoek 10 September 2019).

Binne sy uitgebreide oeuvre is dit ‘n kleiner werk, maar steeds beduidend oor die temas wat dit aansny. 

Die boek is 'n bittersoet elegie en die slot sny pynlike verliese aan. Dit word opgedra aan die skrywer se lesers. Daar is 'n innerlike samehang tussen die kursiewe gedeeltes en die gewone vertelling. Die roman begin omineus – en dit gooi 'n skadu tot die einde in die ekonokrasie en politiek wat geprivatiseer is.

Die boek artikuleer 'n taal van onthou.

Die slot is oop:
Ek leun terug in my stoel en vryf my oë. Staar lank na die swart letters op die skerm. Die einde van een storie is maar net die begin van 'n ander. In die vertrek langsaan begin musiek speel. Dit is die vierde deel van John Coltrane se A Love Supreme. “Psalm.” 31 Desember 2018Sterrewagkoppie
En daardie werk van die jazz saxofonis bly in die gemoed draal.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)