Bladsye / Pages
▼
Sunday, September 29, 2019
Polemies | Crito oor Erns Grundling se resensie van Sushi en Shosholoza (2019)
Kritiese kanttekening:
In sy jongste reaksie skryf Crito die volgende:
Sushi en Shosholoza, deur Erns Grundling. Resensie: Marian van Wyk. (Rapport Boeke)
Marian van Wyk se naam duik nie gereeld op as resensent nie. Ook maar goed so. Sy begaan een van die groot sondes van die resensiekunde. Span 1269 woorde in om iets te sê wat in 100 afgehandel kon gewees het. Teen paragraaf vier begin mens wonder hoekom sy so heftig reageer, en haar slotopmerking in parentese laat jou besef presies wat makeer aan haar bespreking. Vlieë-afvangery in die gedaante van kritiek. Mens snap dat Van Wyk au fait is met Japan en Japanse kultuur; die doel van die resensie is egter om aan te toon of Sushi en Shoshaloza ’n goeie, leesbare boek is of nie, en nie om te bewys dat die resensent die boek beter sou geskryf het en ook beter toegerus is om ’n projek soos hierdie aan te pak as Grundling nie (Crito | Just another blogs demo Sites site. Besoek 23 September 2019).
Helaas nie vlieëafvangery nie, Crito. Marian van Wyk wys tereg op die sterk kodes in die Japannese kultuur. Ek was self tweekeer daar en gaan akkoord met Van Wyk se besware.
Kyk gerus na Roland Barthes se Empire of signs.
Geen Engels is inderdaad 'n kode vir iets diepers. Japannese is uiters afstandelik en krities op Westerlinge se gedrag. Tydens my eerste besoek in 2002 het die hotelbestuurder vir my 'n boekie gemaak met alles wat ek sou behoef. En in Nagasaki was daar geen Engels nie.
'n Film soos Hiroshima, mon Amour (Alain Resnais, 1959) kan ook nuttig wees.
En Glencoe is in die Noorweste van Skotland - ek verwys na die resensie deur J.B. Roux van Die wolkversamelaars (Subtiele, boeiende verhaal | Netwerk24).
Bibi Slippers (praise her cotton pantoffels) is enigsins geringskattend oor die jongste Margaret Atwood. Volgens die resensent het Atwoord meer as 50 boeke op haar kerfstok en wanneer sy nie op haar beste is nie, is sy steeds goed. Hierdie uitspraak sou getemper kon word indien Slippers haar oeuvre deegliker beskou het.
Vir 'n liefhebber van haar werk as romanskrywer en digter is daar 'n Atwood vóór die kultusstatus van The testaments (Dis aanhou beweeg en geraas maak | Netwerk24).
Maar nog is het einde niet.
In Rapport 29 deser skryf Karin Eloff 'n baie goeie resensie oor Erla-Marie Diederichs se jongste boek: Seks, leuens en die internet (Soeke na seks bring wysheid | Netwerk24).
Onderaan die resensie protesteer die outeur, omdat daar kritiek gelewer word op haar lewenskeuses. Morele oordele word verwerp en Eloff moet tog nou nie soos 'n Sondagskooljuffrou tekere gaan nie ...
Eloff, vir die rekord (verskoon die anglisisme) is die skrywer van Stiletto, daardie openhartige boek oor haar lewe in die seksbedryf wat in 2009 verskyn het.
Sy vra uiters relevante vrae oor vrouens en dating en die ewige soeke na Mr Right. As genderteoretikus (en 'n woman-identified-woman) het ek hierdie vrae sinvol gevind en wanneer 'n mens 'n memoir skryf wat onthullend is, gaan daar uiteraard reaksie wees.
'n Memoir of outobiografie is helaas nie-fiksie en sal uiteraard kommentaar ontlok.
Wees eerder dankbaar vir die reaksie wat genderkwessies aanraak soos internet-dating en al die fopdossery wat daar plaasvind.
Die grootste wysheid is dat 'n skrywer liefs nie op 'n resensie moet reageer nie. Vra my.
Wanneer gaan Peter van Noord en Karin Eloff weer vir ons 'n Bloots uitbring?
© Joan Hambidge
Joan Hambidge | Onder nomadiese sterre (2019)
Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere?
So teen hierdie latenstyd 'n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was;
'n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur 'n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend,
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op 'n bitter tong geproe.
Eerste woorde op 'n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens 'n self verloor, soos 'n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van 'n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat 'n hartenswoord was, sou verloën.
'n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, 'n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.
© Joan Hambidge
Sunday, September 15, 2019
Resensie | Nadia de Kock - Die wolkversamelaars (2019)
Nadia de Kock - Die wolkversamelaars. Kwela, 2019. ISBN 9780795709036
Resensent: Joan Hambdige
Die laaste wens van 'n jare lange vriendin stuur Talla na die Glencoe-vallei in Skotland. Sy neem digbundels saam, asook haar wolkboekie om haar stokperdjie voort te sit – die soeke na seldsame wolke. Sy gaan by Munro's tuis, 'n onopgesmukte herberg gewild onder bergklimmers, en hoop om stories oor tradisionele tartanwewerye hier te vind. Sy ontmoet hier die eienaardige rondloper Mikey en die ontmoeting neem haar terug na haar verhouding met haar voormalige geliefde Astian.
So word die roman bemark.
By die lees van hierdie hoogs leesbare roman het ek weer geluister na John O’Donohue se oudio-DVD, Anam Cara, wat handel oor die wysheid van die Keltiese wêreld. Hierdie Ierse filosoof en digter se werk verskaf vele sleutels vir die begryp van De Kock se roman wat handel oor die sogenaamde “dun plekke”.
Die roman begin met hierdie woorde:
Die ou Kelte – die Skotte en Iere – het geglo die hemel en aarde is slegs ‘n meter uitmekaar. Hulle het ook geglo daar is plekke waar dié afstand nóg kleiner is en het dit ‘dun plekke’ genoem.
Talla (Atalia) verloor haar paspoort, het min geld en word gekonfronteer met eienaardige en eksentrieke mense. Mikey is obsessioneel op soek na sy verlore Ierse meisie, en die koue landskap is bedreigend.
Haar gevoelens word vertolk deur aanhalings uit Breytenbach se gedigte en selfs Eybers se "elk langs sy yl weerkaatsing" uit "Busrit in die aand" word 'n kode vir hierdie roman. Die Ierse digter W.B. Yeats rig eweneens haar lewenswyse in die vreemde. En uiteraard ook Robert Burns.
Karakters wat sy ontmoet, verraai iets van haar innerlike landskap. Die leser kry insae in haar seksuele verhoudings. Astian, haar minnaar met wie sy die langste vertoef het, woon hier in Skotland. Deur hom, ontdek sy 'n donker geheim uit haar verlede.
Die vriendin wie se as gestrooi moet word, aktiveer ander herinneringe en mense wat haar lewe verander het. Hierdie oorledene het die reis moontlik gemaak wat verpak word met geheime oor haar self en die dood van Caitlin en hoe dit Mikey en Ailsa se lewens raak. (Hier wil ek nie 'n spoiler gee nie.) In die vreemde word daar oorleef in 'n ysige en bedreigende landskap. Vasvra-aande gee eweneens sleutels vir die oopmaak van die roman. (Soos waar is die City of Towers?) Die IRA, selfdood en ander ellendes is hier soos 'n Loch Ness-monster.
Die roman aktiveer ook Karel Schoeman se 'n Lug vol helder wolke en die leser word op subtiele wyses voorgestel aan wolke en die betekenis hiervan vir die fokalisator. Sy droom dikwels dat sy van trappe afval en dit word verbind aan Breytenbach se siening dat die self 'n solder is met 'n trap waarvan die sporte weggevrot het ... ('n Kode vir wat in haar verlede gebeur het.)
Hierdie roman moet bepaald saamgelees word met Brave (2012), 'n animasiefilm wat die oerkragte van Skotland oopmaak en verduidelik. Hier gaan dit om die will-o'-the-wisp of die ignus fatuus, daardie spooklig wat die reisiger laat verdwaal in die moeras.
Die roman ondersoek eweneens terrorisme (kyk na die outeursnota oor die Warrington-bomplanters) en seksuele misdrywe.
Hierdie roman is 'n heerlike verrassing. Dit werk met ingebedde wyshede en is, by gebrek aan 'n beter woord, 'n spirituele roman wat die werklike reis met die innerlike reis verbind. Diegene wat al besoek afgelê het in hierdie besondere landskap sal weet dat Nadia de Kock die Ben Nevis, daardie ikoniese berg, en Loch Ness perfek teken.
Die skering en inslag van wewery, die verwysing na tartan, tatoeëring en tumbrels, is ander belangrike sleutels.
Ook wolke word helder geteken: cirrus, translucidus ... en Talla het 'n boekie waarin sy alles opteken. Cirrostratus, altocumulus, nimbostratus ...
En wolke wat uit yskristalle bestaan.
'n Roman sonder opsmuksel wat bekoor om die diepgang wat onder die oppervlak skuil.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Thursday, September 12, 2019
Resensie | Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls (2019)
Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls. Penguin Random House, 2019. ISBN 9781485904014
Resensent: Joan Hambidge
In 'n land sonder voëls is die laaste roman van Harry Kalmer, 'n gerekende romanskrywer en dramaturg, wat met die gesogte Barry Ronge-prys bekroon is vir sy roman oor Johannesburg, 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014), in vertaling.
Dit heet A Thousand Tales of Johannesburg. In hierdie verhaal word Totius seTrekkerswee opnuut belig en Kalmer se blik op die geskiedenis is eweneens belangrik, o.a. sy drama oor Bram Fischer.
Kalmer was 'n uiters produktiewe skrywer. 'n Onmiskenbare stem met gestroopte prosa. Soos Ryk Hattingh, is dit vreemd dat hulle nie genoegsame erkenning in hul tyd geniet het nie. En hierom is dit goed om nou, by die lees van die laaste roman, ook te kyk na die bydrae van hierdie skrywer wat waarskynlik in die skadu van Koos Prinsloo gestaan het.
Die laaste roman van 'n skrywer wat jy lees wetend dat hy sopas oorlede is, kan uiteraard nie objektief of gedistansieerd benader word nie.
As dramaturg, kopieskrywer en romansier het hy 'n merk gelaat. Die laaste teks is 'n distopiese roman. Dit is 'n roman oor inperking met 'n Korporasie. In die vyftiende jaar van die Ekonokrasie. Demokrasie is iets van die verlede. Die natuur is buite beheer.
“Fladdering”, “Vlug” en “Land” heet die drie afdelings. Die vertelling beweeg in ‘n sirkelgang tussen droom en onthou …
Dis 'n distopiese roman en sluit tegnies aan by Alettie van den Heever se Stof en Lien Botha se Wonderboom.
Adam ('n simboliese man) se dogter Jemima het weggeraak. Sy vrou Sybille is eweneens weg. Dis 'n roman van versaking en verlatenheid. Die skrywer gebruik ook die troop van die swaksiende man om die inbeweeg in fisiese en psigiese donkerte te karteer.
Hierdie roman bewys volledig dat 'n mens nie hierdie teks kan loslees van die skrywer se dood nie. Daar is vele kodes ingebed oor hoe die werklike outeur worstel met die aanvaarding van sy eie dood. Die transponering van die verlies van sy vrou en kind is in Jungiaanse terme sy anima én verwonde kind.
Dit is ‘n roman waarin die skrywer op 'n sober wyse afskeid neem van sy eie lewe. En steeds kritiese kommentaar lewer op 'n samelewing waar demokrasie al hoe meer 'n abstraksie word. Die eko-politiese kommentaar is eweneens relevant.
Dit is ‘n boek wat as ‘n laaste teks gelees moet word: ““Nog nooit so hard gewerk om 'n boek klaar te maak. A deadline that can't be moved.” Dit staan opgeteken in die aangrypende huldeblyk deur Erika Murray-Theron (Harry Kalmer, ’n persoonlike huldiging | LitNet. Besoek 10 September 2019).
Binne sy uitgebreide oeuvre is dit ‘n kleiner werk, maar steeds beduidend oor die temas wat dit aansny.
Die boek is 'n bittersoet elegie en die slot sny pynlike verliese aan. Dit word opgedra aan die skrywer se lesers. Daar is 'n innerlike samehang tussen die kursiewe gedeeltes en die gewone vertelling. Die roman begin omineus – en dit gooi 'n skadu tot die einde in die ekonokrasie en politiek wat geprivatiseer is.
Die boek artikuleer 'n taal van onthou.
Die slot is oop:
Ek leun terug in my stoel en vryf my oë. Staar lank na die swart letters op die skerm. Die einde van een storie is maar net die begin van 'n ander. In die vertrek langsaan begin musiek speel. Dit is die vierde deel van John Coltrane se A Love Supreme. “Psalm.” 31 Desember 2018Sterrewagkoppie
En daardie werk van die jazz saxofonis bly in die gemoed draal.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Thursday, September 5, 2019
Bekendstellings | Susan Grundlingh-uitstalling met Ann Marais, IS Art gallery, Franschhoek (2019)
Herbarium and Bestiarum
In 1991 publiseer die gerekende teoretikus Mieke Bal 'n studie Reading Rembrandt: Beyond the Word-Image Opposition. Op 'n wonderbaarlik verrassende manier kyk sy nuut en anders na bekende skilderye. Sien sy iets raak wat die kyker nie onmiddellik opgeval het nie.
In die moderne literatuurteorie is transnasionalisme en interdissiplines tans die uitgangspunt.
Toe Susan Grundlingh my uitgenooi het om te praat oor haar lieflike skilderye en Anne Marais se beeldhouwerk het ek die verhouding tussen herbarium en bestiarum raakgesien.
Herbarium: Susan Grundlingh
My oorlede moeder was 'n tuinmaker van formaat.
Die digter Emily Dickinson het in die tuin van Amherst, Mass. woorde vir blomme ondersoek.
Ons faktotum waar ek woon, snoei bome en kyk mooi na die vetplante in ons tuin. Hy is van die Oos-Kaap en wanneer ek hom vra hoe hy alles weet, lag hy net.
Die ding-likheid van hierdie plante is opvallend.
Om naam te gee, om te verplant, om te vertaal.
Oer-realisties soos 'n kind wat teken. Jeanne Goosen publiseer Plante kan praat in 2010.
En om iets te beskryf of te teken, is om dit te verstaan. Susan noem hierdie woorde:
Wolwedoring, Slakblom, Jakkalspisbos, Tolletjiesbos, Pietsnot, Pokkiesblom, Sukkelbos, Paddaklou, Muisvoëlbessie, Paraffienbos, Granaatbos, Maklikbreekmalva, Akkedisvel, Snotrosie, Duikerballetjies, Kinkelbossie, Flenniebos, Klappiesbrak, Rygbos, Balbossie, Tontelblaar, Fratjiesaalwyn, Knippertjie, Kanolpypie ...
Ou woorde vir plante wat sy op haar plasie sien.
Hierdie wonderbaarlike skilderye praat met ons soos wat blindes met hul vingers braille lees. Die Amasone brand tans en plantkundiges waarsku dat daardie plante wat verwoes is, nooit weer sal groei nie.
In die tuin van Emily Dickinson
In haar boomryke, lowergroen tuin
het Emily D glo daagliks
geluide van voëls ingeklank.
Hier het sy in háár tuin van geluk,
soos Judith Farr beduie,
die ruimskootse verband tussen dig
en tuinmaak beleef: liefde teenoor haat;
nyd teen deugsaamheid; dood en ewigheid
in blombeddings ingespit.
Wildevygies, jasmyne en madeliefies
geplant. En daagliks ‘n ruiker
vir haarself gepluk. En elke blom
– selfs die katjiepiering –
in blomensiklopedieë opgesoek
– klokblom, koningsklokkie, arendklou –
en die Webster se akkers hierna verken
soos ‘n reisiger in ‘n vreemde land
haar direktief opteken. Elke
simbool nougeset, sekuur herken.
O enigmatiese vrou in jou wit rok,
jou tuin het ek in die lente besoek:
hier gestaan en gewonder
of jy ooit in die Tuin van Ewigheid
met die ánder tuinier van Amherst praat,
met haar, Sylvia Plath, wie se dood
soos ‘n swart aronskelk bly blom?
(Indeks: Human & Rousseau, 2016).
In Emily Dickinson’s Garden– translation by Douglas Reid Skinner
Every day, Emily D believed
she heard the sounds of birds
in her tree-filled, lush, green garden.
It was here, in her garden of happiness,
as Judith Farr explained,
that she experienced the widest link
It was here, in her garden of happiness,
as Judith Farr explained,
that she experienced the widest link
between poetry and gardening: from love to hate;
envy against virtue; death and eternity
dug into flowerbeds.
Planted wild fig marigolds, jasmines
and daisies. And picked a bouquet
each day for herself. And each flower
– even the gardenia –
looked up in flower encyclopaedias
– Campanula, Columbine, Aquilegia –
and therafter explored Webster's fields
as a traveller keeps track of her itinerary
envy against virtue; death and eternity
dug into flowerbeds.
Planted wild fig marigolds, jasmines
and daisies. And picked a bouquet
each day for herself. And each flower
– even the gardenia –
looked up in flower encyclopaedias
– Campanula, Columbine, Aquilegia –
and therafter explored Webster's fields
as a traveller keeps track of her itinerary
in a strange country. Every
symbol precise, exactly understood.
O enigmatic woman in your white dress,
I visited your garden in the spring:
stood there and wondered
if you ever talk in the Garden of Eternity
symbol precise, exactly understood.
O enigmatic woman in your white dress,
I visited your garden in the spring:
stood there and wondered
if you ever talk in the Garden of Eternity
with the other gardener of Amherst,
with her, Sylvia, whose death
keeps on blooming like a black arum lily?
with her, Sylvia, whose death
keeps on blooming like a black arum lily?
(The coroner's wife. Dryad Press, 2018).
Kyk hoe reis die plantwoorde van een taal na 'n ander. Aardse woorde word met Latynse begrippe vertaal, want my vertaler weet te vertelle hy kon nie daardie woorde in Engels vind nie.
En Judit Farr op haar beurt wys op die verskillende betekenisse wat blomme inhou in Dickinson se gedigte.
Bestiarum: Ann Marais
noun
bes·ti·ary | \ ˈbes-chē-ˌer-ē , -ˌe-rē, ˈbesh-, ˈbēs-, ˈbēsh-\
plural bestiaries
Definition of bestiary
1: a medieval allegorical or moralizing work on the appearance and habits of real or imaginary animals
2a: a collection of descriptions or representations of real or imaginary animals
b: an array of real humans or literary characters often having symbolic significance
3: an unusual or whimsical collection a truly astounding bestiary of airplane designs— Peter Garrison
Diere en diere-regte is tans binne die literatuurteorie hoogmode. Ek dink hier aan die werk van JM Coetzee in The lives of animals (1999), maar selfs verder terug in die tyd: Van Wyk Louw se Gestaltes en diere uit 1942. 'n Hond wat 'n storie vertel kom na vore in Jeanne Goosen se 'n Paw-paw vir my darling (2006) en nou onlangs het Sigrid Nunez in The friend ook 'n hond as karakter opgestel. Jacques Derrida het hom ook besig gehou in 2009 met diere in The animal that therefore I am.
Hierdie uitstalling werk in op sowel die ekokritiek as die soökritiek. Daar word ook verwys na soöpoëtika en die interspesie-etiek.
Skilders en keramiste is sublieme vertolkers van dit wat ons dínk ons sien. Konkrete filosowe, as daar soiets is. Judith Mason se A Dante Bestiary is 'n unieke herinterpretasie van 'n oer-gegewe.
En digters weer vertaal dit wat hiérdie visuele kunstenaars vir ons gegee het, in woorde.
Bibliografie
Bal, Mieke. 1991. Reading Rembrandt: Beyond the Word-Image Opposition. Amsterdam: University Press.
Baker, S. 1993. Picturing the beast. Animals, identity and representation. Manchester: Manchester University Press.
Coetzee, J.M. 1999. The lives of animals. Princeton: Princeton University Press.
Derrida. J. 2009. The animal that therefore I am. New York: Fordham University Press. New York: Fordham University Press.
Farr, J. & Carter, L. 2009. Gardens of Emily Dickinson. Cambridge: Harvard University Press.
Freeman, C.P. 2010. Embracing humanimality: Deconstructing the human/animal dichotomy. In: Goodale, G & Black, J.E. (eds). Arguments about animal ethics. London: Lexington Books. pp. 11-30.
Joan Hambidge
1 September 2019