Bladsye / Pages

Wednesday, July 17, 2019

Huldeblyk | Charl JF Cilliers 1941 - 2019

I
Een van die wonderlikste ontdekkings van my lewe was die poësie van Charl JF Cilliers. ’n Engelse digter met ’n Afrikaanse naam.

My mentor, wyle Henning Snyman het met my akkoord gegaan: hier is ’n digter van formaat. Oor sy versamelde gedigte het Snyman op die agterplat geskryf:

Die eenvoud van die bundel kan misleidend wees, want hierdie eenvoud van woord en struktuur word gelaai met van die allermooiste metafisiese verse in die Suid-Afrikaanse letterkunde.

West-Falling Light (1971) was sy debuut en hierna volg Has Winter No Wisdom (1979), en Collected Poems (2008). Hy publiseer ook ’n kinderbundel: Fireflies Facing The Moon (2008).

The Journey (2010), Karoo: Haiku Variations (2012), Grains of Sand (2013), Behind the View (2014), en Dark Hole of the Moon (2016) is van die tekste waaroor ek entoesiasties geskryf het.

Hy moes later sy eie werk publiseer, omdat die Engelse uitgewers gewoon nie wou uitgee nie.

Ons het vriende geword en elke Sondagoggend sou ek hom bel om te hoor hoe dit gaan. Gereeld sou ek resensies aanstuur vir hom waar hy op die Weskus gewoon het.

’n Jaar gelede het hy ernstig siek geraak en dikwels kon hy nie die foon antwoord nie.
Na ’n reis het hy my vertel hy was in die hospitaal en ek was bekommerd. Gelukkig is hou ontslaan.

Gister vra Johann de Lange ook: hoe gaan dit met Charl?

Vanoggend bel ek, maar niemand antwoord nie. Ek sou graag wou laat weet dat sy vertalings van my werk ook in ’n Nederlandse bloemlesing opgeneem is. 

Sy vertalings van my gedigte het my oneindige vreugde verskaf. Hy het die volledige Lot se vrou eMeditasies vir my gedoen en ’n keuse is opgeneem in The Coroner’s Wife

II

Graveyard flowers © Charl JF Cilliers

Hy was die digter van die kortstondigheid en die efemere. 

Dark Hole of the Moon (2016) vergestalt die digter se liefde vir die mono no aware, oftewel, die skoonheid in die verganklikheid of efemere. Cilliers was onder andere beoefenaar van die haikoe, kwatryn en cinquaine, digvorme wat verstegniese beheer opeis. En hy verduidelik ook in n nawoord hoe hy die gedigte van een kultuur na n ander verplaas het.

 in the pain

in the pain of dis-
integration God reveals
a broken wholeness 

In Behind the view (2014) spot hy:

Quatrain

I started writing this quatrain
and now only three lines remain –
the damn thing’s going down the drain
because I know the last rhyme is inane.

In sy bundel Karoo: Haiku Variations (2012) maak hy die sinryke opmerking:

In the postmodernist world of hyperactivity, the haikuesque experience is a refuge of outer- inner reflection, of acceptance of stillness, of the beauty of transient things…”

Met min woorde kon hierdie digter n hele wêreld skep.  Hy het die kiru of snypunt van die haiku volledig begryp en kon die kigo (seisoenale woord) opvang. Sy haikoes sluit aan by die meer moderne gendai haiku.

Magnolia

The magnolia grows
older petal by petal
leaf by falling leaf.

Nooit weer sal daar ’n e-pos van franban@mweb.co.za wees nie, maar sy gedigte sal altyd by my wees.

Kamieskroon, Skilpad Nature Reserve © Charl JF Cilliers


© Joan Hambidge