Bladsye / Pages

Sunday, May 19, 2019

Resensie. Lanie van Reenen – Net Mooi Fine. Penguin Random House (2019)

Lanie van Reenen – Net Mooi Fine. Penguin Random House, 2019.ISBN 9781776094578

Resensent: Joan Hambidge

I

Net mooi fine is 'n opvolgboek van die memoir C'est la Vie wat in 2013 by Tafelberg verskyn het. C'est la Vie se ander pasmaat is: c'est la vie c'est la guerre.

Lanie van Reenen skryf in die opvolgboek vérder oor wat gebeur het nadat haar hotelprojek in Frankryk gefaal het. Sy is intussen geskei, daar was siekte, ontwrigtende depressies en verlatenheid. Abandonment. Deur 'n nuwe geliefde en 'n nuwe lewensuitkyk ná 'n swanky lewenstyl.

Hierdie soort teks is 'n dagboek, 'n selfgesprek, maar word altyd implisiete tot iemand gerig. Die Alwetende Leser of 'n werklike mens wat raad bedien het of 'n belangrike rol vertolk het. En hier was dit Merwede van der Merwe, die bekende TV-persoonlikheid wat later in Frankryk oorlede is. En op 'n spirituele reis gegaan het.

Merwede van der Merwe verskaf dan die titel vir hierdie boek (34) en sy is die "boksmaat, skermmaat", in Van Wyk Louw se terme. Die twee vroue is opposisies van mekaar: die een spiritueel; die ander een getref deur werklike ellendes, maar soekend na helderheid. 

Deur Merwede se waarhede kan die spreker insig kry in haar eie pyn en teleurstellings. Wat is projeksie? Wat is oorgeneem van wat ander van haar verwag (het)?

Dis 'n soeke na die self. Hierom is die boek sonder fieterjasies geskryf. Dis eerlik sonder om embarasserend te wees. Sonder skroom deel sy haar reis met ons in 'n onthullende outobiografie. Waarskynlik as bewys dat sy oorleef het, maar ook vir daardie leser wat wou hoor wat het toe verder gebeur!

II

Iewers in 'n Boeddhistiese teks opgetel (en verloor in die Ooste) het ek eenkeer gelees dat as 'n mens weer jou lewe kon oorhê, jy dieselfde pad sou kies met die pyn wat jy ken. 

Verskeie Jungiane het al op hierdie stelling gereageer.

Skryfterapie verlos die spreker van posttraumatiese stres en laegraadse wêreldangs - soos haar terapeut dit beskryf.

Haar beskrywing van haar nuwe beskeie woning in Groenpunt gryp aan die hart. Maar hier sien 'n mens die vrou se krag: sy transformeer dit sodat sy daarin kan tuisvoel.

III

Die innerlike reis word gesinkopeer met werklike reise: o.a. na Frankryk, fietsritte in Suid-Afrika, die Camina Portuguese (per fiets), en Everest.

In die teks vind 'n mens 'n sirkelgang: 'n terugkyk na die verlede (o.a. die jeug) en die ervaring van die hede. Sy vertel asof dit alles nou gebeur, maar dit is uiteraard 'n skryf-illusie so bekend aan die belydenisteks.

Sy aktiveer Laurika Rauch se lied "Die mense wat ek liefhet" (117) wat eintlik 'n Stephan Bouwer-gedig is. 

Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
- beskut teen die koue -
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie
En as daar ‘n oorlog kom
Word die mense wat ek lief het
‘n Ekstra liefdeslaag om my
So marsjeer ek deur die wêreld
Gepantser teen die vuur
Die onaantasbaarheid self:
Ek met my menskombersie

Maar as iemand wat op my gegroei het
Weg moet gaan
Dan sit daar ‘n seerplek
Dan sluip ek deur die wêreld
Die kwesbaarheid self:
Ek met my seerplek
Wat net nie wil genees nie

Woorde en Musiek: Stephan Bouwer / Anton Goosen
Uitgewers: Dalro / Gallo

Dit is 'n belangrike verwysing vir die begryp van hierdie boek. Die kwesbare verteller word beskut deur vriende en vreemdelinge. 'n Verlore sak op haar Camino-tog word wonder bo wonder teruggevind.

Dis 'n eerlike boek wat ander mense kan help met die navigasie van pyn. 

En haar sielsverbintenis met daardie huis in Frankryk tref die leser. (Ons droom dikwels ook van die self as 'n huis.)

Die voorblad is simbolies. As 'n seestroom jou intrek, moet jy nie terugveg nie. Net op jou rug lê, want selfs na ure, sal die see jou teruggooi op die strand.

Maar jy moenie paniekbevange raak nie. Dan sal alles net mooi fine wees (59).

En moenie die geelpylpad verlaat op die Camino nie. Ook 'n simboliese waarskuwing.

En laat jou verdriete agter op die kliptafels. En die beskuldigings van voormalige vennote dat sy hul gekroek het, verwerk sy uiteindelik.

Lanie van Reenen se ervaring van bodhicitta (kompassie vir ander) het my diep getref; veral in die beskrywing van 'n verskoppeling se niks-heid, sien 'n mens dit in aksie.