Bladsye / Pages

Wednesday, March 6, 2019

Resensie | Marlise Joubert – grondwater (2019)

Marlise Joubert – grondwater. Protea Boekehuis, 2019. ISBN: 978 1 4853 1020 4

Resensent: Joan Hambidge

I

Die kunswerk op die omslag van Elizabeth Miller-Vermeulen uit die Distant Landscape-reeks (akriel op bord, 2017) rig Marlise Joubert se bundel grondwater. Ook die motto van Kristin Hannah Summer Island posisioneer hierdie bundel as een van verlies en melancholie.

A daughter without her mother is a woman broken.
It is a loss that turns to arthritis and settles deep into her bones.

Meer spesifiek word die afsterwe (en siekte) van die moeder beskou en die openingsvers “geboorte van ’n wolvin” (8,9) aktiveer Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves – Myths and stories about the wild woman archetype van die Jungiaanse cantadora.

geboorte van ’n wolvin

ek is in droefnis gebore
in die jaar toe ’n groot oorlog verby was
en die as van verwoesting
neergesif het in alle aardse holtes.

trillend het my ma soos ’n wolf getjank
asof te lank in ’n slagyster vasgeklem.
drie dae lank in elim naby levubu
gekraam, terwyl nonne spookwit
met kruise gebid het teen haar buik.

in weemoed moes ek my eerste asem intrek.

soms het pa my teen sy harige lyf gewieg
terwyl hy ontween oor die dood van sy broer
die dood van sy suster, sy ma en pa.
“julle is al wat ek nou het, my welpie,”
het hy my oor ingefluister, “jy
en jou ma met haar bottervingers.”
en op dié droewe noot
het ma se melkkliere opgedroog –
het sy elke eiersel doodgewens.

hulle was ’n wolwepaar
deur elke maer of geil seisoen.
mettertyd het die getjank oor alles
onder die maan opgeklaar.

eensaam het ek grootgeword
versigtig die vlaktes verken
skuilgehou in grasskadu’s teen aanslae
van homo sapiens. tengerstil was ek
met ’n vag melancholie oor elke lit getros.
my jagtog onwennig
my tande bros
my ore waaksaam
en gespits.

alleen en sonder trop het ek gedraf.

ná ’n leeftyd is my winterpels ’n dikker vel
my oë gelouter met die lyding van ’n lam.
kom, waag dit maar
aan my woorde kan jy vat –
byt kan ek nie.

II

Die bundel karteer ’n lewensloop en word opgedra aan die moeder, Didi Joubert (1922 - 2016). Daar is ’n foto van die moeder met ’n jong kind wat die bundel outobiografies laai.

Die moeder is aanvanklik versorger en gespreksgenoot en later weens demensie, ’n blote toeskouer. Die spreker lewer ook kommentaar op haar eie broosheid en die ouer word proses word gesien as een van moegheid en aftakeling.

Die eerste afdeling lewer kommentaar op die lewensloop (“ruite in ’n raam”) en in die tweede afdeling “al die woorde” word daar gekyk na die funksie van die digterskap. Daar is selfs drie gedigte met die titel “resensie” wat gelees kan word as ’n implisiete kommentaar op die resepsie van die digkuns. In “inventaris van ’n geraamde verloop” (43) is daar ’n selfgesprek en verwysings na vorige bundels.

In “digter” (35) kyk sy ook satiries na die verskillende soorte wyses van dig: die digter as fotograaf en die papegaaidigter.

digter

op sy beste is die digter ’n fotograaf
op sy slegste ’n papegaai.

die fotograafdigter neem miljoene foto’s.
hy is uiters gedrewe, wil alles dokumenteer
en terwyl hy hiperventileer in belewenis
skud hy letters uit die beeld
om ’n gedig te ontwikkel. hy flans
ritme, struktuur en betekenisse saam.
hy skep ’n nuwe foto, leesbaar vir almal.
hy skryf soos hy gesluiter is.

die papegaaidigter spog met sy tuiste
op die wye skouers van ander, kruip soms weg
in sy koutjie asof hy ’n geheime deuntjie fluit.
hy steel woorde, hy plagieer luidkeels
hy kwaak agterna en soms laat los hy
gestringde vloeke, net om jou te beïndruk
met goudomlynde neonvlerke, sy snawel
’n diamantboor waarmee hy spieëls
stukkend sny. hy skryf nie regtig
soos hy gebek is nie.

op sy beste is die fotograaf ’n digter
op sy slegste is die papegaai
ook digter.  (35)

In die derde afdeling (“syferwater”) kyk sy na haar self: siekte, ontnugtering, oggend-blues en besef hoe transgressief en gevaarlik hierdie land geword het (“ons is die kinders”, 56). Daar is ’nduidelike tydsbemoeienis in die bundel met die wete:

eindig in ’n flessie as
of met ’n laaste woord stom
gekluit op marmerblad (58).

In die vierdie afdeling (“palm in die hand”) word die siekte en uiteindelike dood met die pynlike begrafnis van die moeder verwoord.

In die vyfde en laaste afdeling (“villa palmeira”) keer sy terug na die plekke van haar jeug. Hier vind ons ook gedigte oor kleinkinders wat minder oortuig as poësie; waarskynlik weens die té sentimentele aard daarvan. 

In die slotvers “villa palmeira, bela-bela” (105) word daar gedrink van die drupkrake / van ’n krans - in die herinnering dus. Hier sluit die gedig aan by die voorblad van die bundel.

villa palmeira, bela-bela

by die gastehuis skaar
’n woud palmbome

op die lapa se houtdek
mik lense na bo, korrel fyn
tussen pouveerblare in

daar is ’n veelheid palmfoto’s
te neem, oraloor: elke denkbare
tabberd se patroon
waaier oop

ek klik op een met elegante been
die sirkelrok staan wyd en einagroen
soos penne van ’n ystervark
waag dit net en jy word deurboor
selfs die dadels is te hoog
te trots en styf om
gemelk te word

buite die dorp
ruik ek weer karee en laventel
kiepersol en flambojant

langs ’n kleintydse waterplas
word my hand ’n blaarholte
en ek drink vir oulaas
uit die drupkrake
van ’n krans (105)

III

Daar is onthoubare beelde: “tyd is tongdoof” (90), “die dun naelstring van die see” (69), “die oorskietlap van geheue” (68), “in die delta van die oog” (46), “met soms ’n rammeling en spataarflits / agter die horison van ’n volgende eeu” (88).

Jacques Derrida se sous rature (under erasure) word ingespan in die vers “sewe sondes, plus nog een” (31) waar woorde behou en uitgevee word. Helen Moffett gebruik hierdie tegniek in Prunings  (Uhlanga Press, 2016).

In “kringloop” (88) word die langarmdans (die passies en passasies) in die gedig ontgin; die ewige verbintenis tussen lewe en dood. 

IV

Marlies Taljard skryf in haar resensie op die Versindaba:
Joubert is inderdaad een van die beduidendste Afrikaanse digters, veral as vrou wat eerlik skryf en sonder om hinderlik politiek en teoreties (feministies) korrek te probeer wees.
Inderdaad so, maar daar is verskillende soorte feminismes. Antjie Krog se sterk, woedende verse teenoor Elisabeth Eybers se sagter verse karteer vrouwees in al haar fasette. Trouens, ’n mens vind in Krog se digkuns die ontwikkeling van die volledige vrouwees; kind, jong vrou, getroude (en geskeide vrou), moeder, grootmoeder en aktivis.

Hierdie bundel is een veral vir vroue wat ’n moeder moes afstaan aan die dood en daardie oewerlose pyn probeer navigeer.

’n Mens vind dan in hierdie bundel verskillende argetipes van vrouwees soos Pinkola Estés uitwys. Hier is die sterkste een waarskynlik die moeder-argetipe. In die kringloop omgedraai: eers kind van ’n moeder; dan self ’n moeder. 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)