Sopas gekyk na The Wife en The Favourite. Beide aangrypende, uitstekende en onvergelykbare rolprente. Björn Runge versus Yorgos Lanthimos. The Wife is 'n sobere analise van 'n vrou wat nie langer stilgemaak wil word nie. Sy was meer as haar eggenoot se “redigeerder”. Sý is die skrywer van sy romans wat later bekroon word met die Nobelprys.
Hierteenoor, die satiriese The Favourite wat 'n agtiende-eeuse periode drama is met moderne toespelings wanneer twee vroue in 'n moderne bad vol sjokolade sit. Dit speel af in 1708. Engeland is gewikkel in 'n oorlog met Frankryk en Anne is uiters eksentriek. Sy het sewentien hasies wat elke kind verteenwoordig wat sy verloor het deur die jare. Sara Churchill is haar geliefde wat alles beheer en orkestreer van agter die skerms. Die befondsing van die oorlog en belastingvermeerdering kom ter sprake met Robert Harley as die teenspeler. Abigail Hill, Sarah se arm niggie, daag op en 'n jaloerse driehoeksverhouding ontwikkel.
Die slot van die film is transgressief. Word daar meer as net bene masseer of is Abigail besig met iets meer? Dit sal elke kyker self moet besluit. Al die genomineerde vroue kom tereg in aanmerking vir die rol as beste aktrise. My keuse val egter op Glenn Close. Olivia Colman se spel is goed, maar dis ensemblespel. Sy steun sterk op haar mede-aktrises, Emma Stone en Rachel Weisz, Mevrou James Bond (Daniel Craig is haar eggenoot). Hierteenoor staan Glenn Close, Jonathan Pryce (haar man), Christian Slater (die biograaf), Max Irons (haar seun) op 'n solovlug. Op 'n subtiele wyse dra haar oë emosie en ontsteltenis oor.
Van haar sublieme vertolking in The World According to Garp (1982) tot 1987 in Fatal Attraction as Alex Forrest, speel sy altyd gevaarlike karakters. In Dangerous Liaisons (1988) was sy Marquise Isabelle de Merteuil en daardie toneel waar sy besef sy is verraai en die grimering van die tafel afgooi, bly 'n hoogtepunt. In 1990 vertolk sy die rol van “Sunny” von Bülow in Reversal of Fortune en Queen Gertrude in Hamlet. In 2000 is sy Cruella de Vil in 102 Dalmations waar sy die draak steek met haar persona as 'n gevaarlike vrou. Dan is daar haar vertolking op Broadway van Norma Desmond in Sunset Boulevard wat nou verfilm gaan word.
In The Wife is die spel meer teruggehoue en wanneer sy uitbars, is dit pynlik om die verontregting te ervaar.
Close het wel die Golden Globe verower. Olivia Colman is goed, maar ek verkies Close se vertolking. Die vrou wat vir jare lank stilbly en dan nie langer met die leuen kan saamleef nie, word aangrypend vertolk.
Die jong Joan wat verlief is op haar professor, Joseph Castleman, en sy werk nie net redigeer nie, maar eintlik skryf, dryf die verhaal vorentoe. As student aan Smith College besef sy wát dit behels om 'n vroueskrywer te wees: jy gaan nie gelees word nie. (En 'n vroueskrywer vertel haar dit.)
Die boek wat sy “regruk” heet The Walnut. Hy versorg die kinders en behartig die huishouding.
Hy aanvaar haar “insette” en meen hulle het saam die prys verower.
Sy raak erg omgekrap oor sy narsisme en sy affairs deur die jare. Selfs in Stockholm flirteer hy met die jong fotograaf wat orals met hom saamloop. En gee aan haar 'n okkerneut. (Die simbool van alles: wanneer jy die neut oopbreek, sien jy iets anders ...)
Boonop het hy die chutzpah om haar te beskuldig van “diefstal” van iets uit sy lewe wanneer sy haar eerste kortverhaal publiseer. 'n Biograaf, ene Nathanial Bone (Christian Slater), weet egter wat die waarheid is. Hy het al die vroeë Joan se tekste gelees en hulle is selfs beter as dié van haar man.
Wanneer Joseph haar bedank tydens die ontvangs van die prys, is dit die keerpunt vir haar. Joseph gooi selfs die medalje by die karvenster uit, wat die chauffeur in die donker vind. (Die film word uiteraard gered deur die sterk vertolkings – ook van Jonathan Pryce.)
Hierteenoor staan die twee kinders: die een skenk geboorte en gee dus tydelike verligting vir die rusiemakende egpaar; die seun, 'n aspirant skrywer, is egter onrustig oor wat die biograaf hom meedeel.
Waarheid teenoor leuen – en wanneer Joseph sterf aan 'n hartaanval, bely sy vrou dat sy hom liefhet. Hy weet egter dis 'n leuen.
Op die vlug terug vertel die moeder aan die seun, David, dat sy hom by hulle tuiskoms die hele verhaal sal vertel. Die biograaf egter word stilgemaak; op die vlug terug dreig sy met regsaksie as hy haar man se reputasie sou skaad.
En my analise bewys hoe subjektief pryse is.
Hierdie film spreek tot my as vroueskrywer met die wete van wat agter die skerms gebeur en hoe vele redakteurs dikwels boeke klaarskryf. Veral die feministiese boodskap van “wit ink” (Cixous) is hier aanwesig.
Die androsentriese orde, diskriminasie teen vroueskrywers, subtiele verwyisngs na Joodsheid, verwyte wanneer 'n verhouding skeefloop, word meesterlik ingeweef.
Hier is Variety se lys van die Oscar-nominasies – Olivia Colman is dan die wenner.
Yalitza Aparicio, “Roma”
Glenn Close, “The Wife”
Olivia Colman, “The Favourite”
Lady Gaga, “A Star Is Born”
Melissa McCarthy, “Can You Ever Forgive Me?”
Glenn Close, “The Wife”
Olivia Colman, “The Favourite”
Lady Gaga, “A Star Is Born”
Melissa McCarthy, “Can You Ever Forgive Me?”
© Joan Hambidge