Bladsye / Pages

Tuesday, February 12, 2019

Resensie | H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations (2018)

H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations. Protea Boekhuis. 2018. ISBN 978-1-4853-0694-8

Resensent: Joan Hambidge

In Andrei Tarkofsky se Nostalgia (1983) lees die gids Eugenia ‘n vertaling van gedigte. Haar reismaat Andrei wys op die onvertaalbaarheid van alle kuns. Sy reageer en wys hom tereg daarop dat as dit nie vir vertalings was nie, ons geen groot Russiese skrywers sou kon lees nie.

Daar verskyn tans etlike vertalings van Afrikaanse gedigte: in 2015 verskyn In a Burning Sea (Marlise Joubert, red.), en sopas het daar ‘n derde uitgawe van Michael Chapman se The New Century of South African Poetry (Ad Donker / Jonathan Ball) verskyn. Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout is aktiewe vertalers van Vlaams en Nederlands. Haar vertaling van Alfred Schaffer se Mens dier ding is puik. Helize van Vuuren vertaal moeilike gedigte op Versindaba.

Hierdie hersiene weergawe van C.J.D. Harvey en A.P. Grové se bloemlesing Afrikaans poems with English translations wat in 1962 verskyn het, is behartig deur drie gesiene literatore: H.P. van Coller (o.a. die redakteur van Perspektief & Profiel), Helize van Vuuren (‘n deeglike Opperman en Breytenbach navorser) en Louise Viljoen, ‘n antoloog van Poskaarte saam met Ronel Foster; met gepubliseerde studies oor Krog en Breytenbach.

‘n Mens sal nie ‘n poësiekenner vind in Afrikaans wat nie by dié projek betrokke was op ‘n manier nie. Twee van my verse is opgeneem (ek verklaar my belange toe ek gevra word om te resenseer); ‘n ander kommentator het vrae gevra oor waarom sekere digters nie opgeneem is nie. Hierdie kwessie sou waarskynlik ‘n hele dagblad kon volmaak.

‘n Handvol digters het opname geweier en die bloemlesing is ‘n projek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (uitgegee deur Protea). Soms berus die kopiereg by eersgenoemde; soms by die skrywer.

Met Groot Verseboek wat alreeds drie kluiwe beslaan, sou ‘n nuwe uitgawe waarskynlik vier volumes opeis. En een leser sou in elk geval nie tans ‘n genoegsame oorsig oor ons poësietoneel kon hê nie. Ten minste vier kenners word benodig; dis nou te sê, as die kleiner uitgewers kopiereg verleen sónder die enorme onkostes hieraan verbonde.

Dalk moet ‘n mens eerder fokus op die vertalers en hoe die digkunstoneel verander en getransformeer het.

Vertalers wat hier hul merk maak, is uiteraard die Branfords, terwyl gesoute digters  soos Guy Butler, Anthony Delius, Sheila Cussons, Charl J.F. Cilliers, en Ernst van Heerden (o.a.) ook behendige vertalers is. Daar is ook Tony en Gisela Ullyatt.

Lost in translation heet Sofia Coppola se film uit 2003. Wat fluister Bob Harris (Bill Murray) in Charlotte (Scarlett Johannson) se oor ten slotte? 

En dis hoe ‘n mens ‘n bundel met vertalings moet lees. Elke vertaler (soos elke kyker) sal ‘n ander afleiding maak, oor wat gesegge word. Sekere digters word moeiliker getransporteer van Afrikaans na Engels, omdat die gedigte te idiomaties, boers; vol kwinte én kwinkslae sit. Byvoorbeeld Breytenbach en Krog. Hoe kan ‘n mens “ek skryf omdat ek woedend is” reg vertaal? Philander se “die bome is kiets” word vertaal as “upright” deur Andries Wessels (162). Die vertaler wou kennelik ‘n rympatroon behou, maar die woord “kiets” se betekenis gaan verlore. 

“A lone goose dropped a feather light” het nie die ritme en musiek van “‘n berggans het ‘n veer laat val” nie.  By Boerneef, ‘n volksdigter, is die gebruik van “thee” problematies, omdat hy juis so uniek modern was in sy outydsgeit (171).

“Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?” uit Petra Müller se klassieke elegie “Nico”, word “persistent anonimity” wat totaal iets anders is (246 - 247).

“Allogot!” word “Holy fuck!” (Marlene van Niekerk, 252) wat wys hoe woorde in verskillende tale anders resoneer.

“Krakeel” word “quarrel” (254). Vraagteken. C.M. van den Heever se “Voëls in die skemering” aktiveer een van die grootste probleme van die digkuns: klank. Hoe vertaal ‘n mens “Voëlgeklepper in die skemer / oor buigende riet” oortuigend? Dit word deur die Branfords vertaal as “In the twilight, birds alighting / on whispering reeds” (48-49). 

Dieselfde geld die problematiek met gert vlok nel se unieke taal wat Leon de Kock aangedurf het. In “i sagte reën het agtermiddag” (286) word “uitgehol” dan “scooted out”. Tog presteer De Kock om die eiesoortige gebroke sintaksis in die Engels op te vang.

Lawrence Venuti se sieninge oor vertaling kom handig te pas. Moet die vertaler onsigbaar bly? Moet jy die teks huis toe bring of oorsee stuur? Of laat die vertaler maar altyd sy duimafdruk in die teks? (Ek is van mening dat die vertaler altyd tog maar aanwesig bly. Gaan kyk maar na D.M. Thomas se Russiese vertalings.)

Hierdie boek het my teruggeneem na Venuti studie The Translator's Invisibility: A History of Translation wat in 1995 verskyn het. Venuti on beteken tog come on!
‘n Goeie vertaler is soos ‘n goeie stemnabootser of ‘n komediant wat ander kan naboots. (Kevin Spacy kry dit volkome reg om iemand anders te word in sy komiese nabootsings. Maar ons weet dit is Spacy wat dit doen.)

Wat fluister Bill tog vir Charlotte?

Ander gedigte beweeg makliker, flinker en word verander in die vertaling. Loftus Marais klink lekker; Nathan Trantraal se egte Kaapse idioom werk nie in Engels vir my nie.

Die leser kry sowel die Afrikaanse as die Engelse weergawe. ‘n Wit bladsy sou ‘n opsie kon wees vir die lesende vertaler wat wil verskil of bywerk. ‘n Mens vergelyk onder andere die verskille tussen Harvey en J.M. Coetzee se vertalings van Ina Rousseau se “Eden” met ‘n kopknik na Coetzee op bladsy 157.

Maar kom ons fokus eerder op die landskap.

Om ‘n oorsig te gee van hoe die digkuns verander het: ‘n honderd van die mees betekenisvolle gedigte in Afrikaans, dit weet die samestellers, is ‘n saak van onmoontlikheid. ‘n Tradisie gewortel in Afrika en binne ‘n internasionale gesprek, danksy die internet, is hoe sake nou daar uitsien. Die probleme van ‘n klein mark en leesgehoor is terloops iets wat alle digters ervaar; aldus Paul Muldoon, die belangrike Ierse digter, werksaam in die VSA. En Muldoon met sy eg Ierse aanslag (en “slant rhyme”) het hom al uitgelaat oor hoe moeilik dit is om sy gedigte te vertaal.

Die indruk wat hierdie bloemlesing by my as leser laat, is hoe enorm gesofistikeerd ons ouer digters soos Marais, Totius, Leipoldt, Toon van den Heever, I.D. du Plessis en C.M. van den Heever al gedig het. En bly Celliers se “Dis al” nie maar ‘n klassiek nie!

Van formele gedigte tot die parlando; van ‘n standaard-Afrikaans tot kaaps; van rym tot vrye vers; van harde werklikheid tot droom; van artefak tot interteks; van punktuasie tot foefieslaaid; van Hoofletters tot kleinletters; van realisme tot surrealisme; van verhewe word tot vloekwoord; van intieme gedig tot woedende politieke aanklag; van ek-wou-nog-sê tot klaarpraat.

En hierdie volgende digter se verse verklap hoe mens soek na die regte grein.

“‘n skaap se derms vir die snare…”
skaapderm en boom plus perdehaar
kom in die geheim
in ‘n mensehart bymekaar.

Só praat T.T. Cloete (258). Nou probeer u liewe leser om bg. te vertaal.

Die landskap-omslag van Kristèl de Weerd is pragtig – dit dui ook weer iets aan oor die aard van hierdie land… ‘n pad wat kronkel, berge in die vertes, bome… Elke kyker sal iets anders hierin raaksien en waardeer. 

Soos dit met hierdie bloemlesing gesteld is. Vir die hiate en oorsigte bestaan daar gelukkig ánder bloemlesings.

En ons sê almal so.