Bladsye / Pages

Friday, December 7, 2018

Rubriek | Harold Bloom en estetika (2018)

I

Die afgelope naweek kyk ek weer na die wonderbaarlike onderhoud met Harold Bloom gevoer na die verskyning van The Western Canon in 1994 (Harold Bloom interview on The Western Canon, 1994. Besoek 4 Desember 2018).

Binne-lesers sal weet hoe Bloom te velde trek teen die sogenaamde School of Resentment, oftewel die literatore wat meer oor boeke lees as wat hulle boeke bestudeer. En boonop die estetiese aspek van die teks ontken. So beskou, meen Bloom, kan ‘n middelmatige teks (wat polities korrek is) op dieselfde vlak gelees word as Shakespeare of ‘n klassieke werk.

Dis dieselfde Bloom wat ook by geleentheid geskryf het dat daar geen tekste is nie; net onsself. En die agonistiese aspek van die letterkunde waaroor hy ‘n hele boek geskryf het Agon: Towards a Theory of Revisionism (1982) wys op die inherente kompetisie in sowel die skryf- as die leesaksie.

Om resensies te skryf, as ‘n mens Bloom se model verder neem, is om ‘n teks in te skat en te beoordeel. Maar met kundigheid.

En die kundigheid van so ‘n meester-leser word duidelik gemaak in ‘n lesing oor Herman Melville se Moby Dick (Harold Bloom on Melville's Moby Dick - YouTube. Besoek 4 Desember 2018).

II

Wat Bloom skryf oor boeke, kan van toepassing gemaak word op films.

Die afgelope tyd is twee belangrike filmmakers oorlede: die Italianer, Bernardo Bertolucci en die Brit, Nicolas Roeg.

Beide filmmaker het belangrike films gelewer en 'n mens wonder of Last tango in Paris (van eersgenoemde) of Bad Timing en Don't Look Now (van laasgenoemde) in hierdie polities-korrekte tyd sou gemaak kon word?

Last Tango in Paris (1972) het geweldige kontroversie in sy tyd veroorsaak. Die berugte bottertoneel het Maria Schneider onkant betrap en sy het gevoel dat beide Bertolucci en Marlon Brando agter haar rug gekonkel het. Meer nog: sy het gevoel dat hulle haar simbolies verkrag het.

Sy het nooit vrede gemaak met Bernardo nie, maar vriende gebly met Brando. Haar lewe is verwoes deur dwelms en kanker.

In onderhoude het sy telkens uitgevaar het teen die regisseur wat skynbaar skouerophalend gevoel het dat sy kuns belangriker is as haar vete met hom.

Die film het in sy tyd geweldige kontroversie ontlok:
The movie was banned in Italy just after its release in 1972, and was not released again until 1987. The case went back and forth in the courts until the high criminal court banned the film in 1976 and ordered all copies confiscated and destroyed. Bertolucci, Brando and Schneider, as well as the producer Alberto Grimaldi, were sentenced to two months in jail and a fine of $40 each — although the jail terms were suspended.
(Last Tango in Paris' director Bernardo Bertolucci dead at 77. Besoek 5 Desember 2018).
Nicolas Roeg se films het eweneens al omstredenheid veroorsaak.

Was daar werklik seks tussen Julie Christie en Donald Sutherland in Don't Look Now (1973)?

Volgens my wel ja, ofskoon beide akteurs dit steeds bly ontken.

Nicolas Roeg se Bad Timing (1980) is eweneens 'n grensdeurbrekende film. Die psigoanalis wat sy geliefde in ‘n koma seksueel betree, het eweneens baie reaksie ontlok deur die jare. Art Garfunkel (Alex Linden) is die psigoanalis en Theresa Russell, Roeg se vrou, vertolk die rol van Milena. Harvey Keitel (as speurder Netusil) moet agter die kap van die byl kom. Hy werk met die tyd wat Alex in sy motor gery het en na die radiostasie geluister het na middernag. Hy lieg dus oor wánneer hy die ambulans gebel het. Die “bad timing” dus waarna die film verwys, maar ook die verkeerde keuses wat mense maak in liefdesverhoudings.

Aanvanklik is Alex bekoor deur Milena – maar dan vind hy haar uitbarstings (weens dwelms en alkohol) onaanvaarbaar.

Tonele tussen die twee hoofkarakters is seksueel gewaagd.

Dit speel hoofsaaklik af in Wene en die film ondersoek die Freudiaanse nosie van loer en kyk.

In lesings sien ons die kind wat kyk en Alex verduidelik vir sy studente die beginsel van afloer. Die kyker is in hierdie film ‘n voyeur wat die intieme verhouding van die twee mense betree. Dis asof die film kommentaar lewer op wat gebeur wanneer jy as filmkyker afloer.

Die einde is in New York wanneer Alex na Milena roep vanuit ‘n taxi, maar sy reageer nie. ‘n Mens sien net die letsel op haar keel van die operasie wat haar lewe in Wene gered het.

Boonop het Garfunkel se minnares, Laurie Bird, tydens die maak van hierdie komplekse film selfmoord gepleeg. 

(Bad Timing - Wikipedia. Besoek 5 Desember 2018).

III

Colette (2018) is ‘n film van Wash Westmoreland (regisseur) met Keira Knightley, Dominic West, Eleanor Tomlinson, Denise Gough en Aiysha Hart, het sopas in Suid-Afrika begin draai.

Die Franse skrywer Colette se lewe in haar jonger jare word in hierdie film ondersoek. Sidonie-Gabrielle Colette (1873 - 1954) begin haar skrywersloopbaan as 'n jong vrou wat gemanipuleer word deur haar man, ‘n egte libertyn ene Henry Gauthier-Villars, wat haar werk onder die pennaam Willie publiseer.

Hy neem haar weg van die Boergondiese platteland na 'n eksotiese bestaan in Parys waar sy haar lesbiese identiteit ontdek. Aanvanklik orkestreer en beheer hy haar lewe nes haar skrywersloopbaan. Sy word toegesluit om elke dag te skryf sodat sy uitspattige bestaan gefinansier kan word deur háár kreatiwiteit. Uiteindelik wanneer hulle skei, kan sy bewys dat die werk hare was. Hy verkoop onder andere die kopiereg sonder haar toestemming.

Die film ondersoek veral haar verhouding met die openlike lesbiese Missy (Marquise de Belbeuf) wat mansklere dra en in die pantomime Rêve d'Égypte veroorsaak 'n ligte skandaal. Dit het tot gevolg dat hulle nie meer kan saambly nie. Denise Gough vertolk die rol teen haar skoonheid in.

Keira Knightley transformeer van 'n meisie met vlegsels tot 'n uitgesproke feminis, en meer nog, 'n woman-identified-woman. Soos sy agentskap verkry in haar verhouding met haar man (uitstekend vertolk deur Dominic West), haar ouer eggenote wat telkens haar belieg en verhoudings het met ander vroue, word Knightley al hoe mooier. In 'n stadium sien hy selfs een van haar minnaresse en die verraad loop uit op 'n roman. En weer eens: 'n skandaal.

Wash Westmoreland se film is besonder vernuftig.

Dit karteer die eeuewending en hoe die mores verander het. Besonder veelseggend is hoe die regisseur uiteindelik die gegewe romantiseer. Die beeldskone Knightley - 'n mens kan die film gewoon net geniet vir haar danstonele - is aantrekliker as wat Colette was. Ons sien dit in die slot wanneer daar 'n kort historiese verslag gegee word met foto's van hoe die karakters werklik gelyk het.  ‘n Endnoot as regstellende aksie kan ‘n mens argumenteer.

Die film werk, omdat die spelers nie probeer om 'n faux-Franse aksent aan te plak nie. Hulle praat in hul oorspronklike aksente.

Daar word dus 'n fyn analise gemaak van vrou-wees en hoe vroue se werk gekaap kon word deur mans. In hierdie tyd moes vroue dikwels onder manlike pseudonieme publiseer. Of verkieslik die swye bewaar.

Die film gee nie die volledige prentjie van 'n komplekse lewe weer nie. Dit ekstraheer belangrike aspekte van haar jonger lewe. Colette publiseer in 1944 Gigi, die verhaal van die sestienjarige Gilberte, 'n courtisane wat vele rolprente en opvoerings ontlok het.

Katherine Ann Porter en Truman Capote was bekoor deur haar. Capote het 'n verhaal oor haar geskryf.

In Frankryk was daar egter tydgenote soos André Gide en Marcel Proust wat tereg groter as sy beskou was. Haar werk, soos hierdie biografiese drama uitwys, fokus egter op die skrywende vrou wat stemhebbend raak. ‘n Mens sien hoe daar met die hand en ‘n vulpen geskryf is: stadig in die inkpot gedoop. Die Franse feminis Hélène Cixous se White Ink (2014) word so geaktiveer: vroue wat onsigbaar is, maar deur skryf 'n identiteit vind.

Juis omdat dit met die hand geskryf het, kon daar uiteindelik bewys word dat dit Colette se werk was en nie haar mentor s’n nie.

IV

En as 'n mens Harold Bloom se dictum van estetika as uitgangspunt neem, bly hierdie films van Bertolucci en Roeg bakens in die filmkuns en is die film oor Colette belangrik.

In Bloom se woorde:
Aesthetic value emanates from the struggle between texts: in the reader, in language, in the classroom, in arguments within a society. Aesthetic value rises out of memory, and so (as Nietzsche saw) out of pain, the pain of surrendering easier pleasures in favour of much more difficult ones ... successful literary works are achieved anxieties, not releases from anxieties.
En:
Real reading is a lonely activity. (The Western Canon, 534).
En dit kan ook op films van toepassing gemaak word.

© Joan Hambidge