Bladsye / Pages

Tuesday, December 11, 2018

Filmrubriek | Vertellers (2018)

I

Die openingskoot van Lost in Translation (Sofia Coppola, 2003) fokus op Scarlett Johannson se agterstewe. 'n Jonge Scarlett, nog maar net sewentien, lewer 'n sterk vertolking.

Hierdie film ondersoek die misverstande rondom taal ('n r wat in Japannees 'n l word), tydverskille tussen die VSA en Japan, en veral: verskillende aannames oor liefde en verhoudings.

Bob Harris (Bill Murray), 'n bekende Amerikaanse akteur, is in Tokio om 'n whisky-advertensie te maak waarvoor hy goed betaal word. In die hotel ontmoet hy vir Charlotte, 'n afgestudeerde filosofie-student van Yale wat saam met haar man hier is. Hy is 'n fotograaf en telkens op pad uit met suggesties dat hy 'n bekende filmster sien.

Charlotte (Scarlett Johannson) is geïsoleer en sy raak bevriend met Bob. Hy ontvang fakse en oproepe van sy vrou. Hy vergeet sy kind se verjaarsdag en in 'n foonoproep versoek hy haar dat hy gesonder wil leef en minder pasta wil eet. Hoekom bly jy nie sommer daar nie? vra die vrou. Die gesprekke handel dikwels oor oppervlakkige kwessies soos binnehuisversiering of die kleur van 'n mat.

Charlotte luister na oudio-boeke oor die siel, besoek tempels, onder meer ook 'n besoek aan een in Kioto.

Hulle raak vriende na 'n nag saam met Charlotte se vriende in 'n kroeg.

Charlotte is maar twee jaar lank getroud en ontnugter deur John, terwyl Bob na vyf-en-twintig jaar vir Charlotte kan raad gee: hoe kinders jou lewe onherroeplik verander en hoe jy uiteindelik by jouself uitkom.

Bob en Charlotte is beide slapeloos en deel hulle wedersydse frustrasies met mekaar. Hy weerhou hom daarvan om fisies by haar betrokke te raak.

Die kroeg in die Park Hyatt hotel is 'n sentrale fokuspunt en Bob slaap een nag met die sangeres in die kroeg. Dit ontstig Charlotte, maar na 'n alarmparade versoen hulle buite in die straat.

Wanneer Bob vertek, vra hy die taxi om te stop. Hy roep na Charlotte wat in die straat wegstap. Hy soen en omhels haar.

En laat haar agter.

Die kyker weet nie wat hy in haar oor fluister nie. 'n Belofte van 'n wedersiens?

Waarskynlik nie. Lost in translation: verlore in oorvertel of vertaling. Altyd net-net nie daar nie. Soos wanneer hulle in 'n karaoke-bar 'n bekende liedjie van die noot afsing.

II

So klink die dialoog wanneer die advertensie gemaak word:

Director (in Japanese, to the interpreter): "The translation is very important, O.K.? The translation."
Interpreter (in Japanese, to the director): "Yes, of course. I understand."
Director (in Japanese, to Bob): "Mr. Bob. You are sitting quietly in your study. And then there is a bottle of Suntory whisky on top of the table. You understand, right? With wholehearted feeling, slowly, look at the camera, tenderly, and as if you are meeting old friends, say the words. As if you are Bogie in Casablanca, saying, 'Here's looking at you, kid,'—Suntory time!"
Interpreter (In English, to Bob): "He wants you to turn, look in camera. O.K.?"
Bob: "...Is that all he said?"

En die verwysing na Casablanca hier is 'n kode oor hoe die film gaan afloop. Verydelde drome ...

III

Dit is tersaaklik dat hierdie film gemaak is deur 'n vrou en meer spesifiek, die dogter van een van die grootste filmmakers: Francis Ford Coppola. 

Sy is die dogter van Michael Corleone (vertolk deur Al Pacino) wat sterf in Godfather III in 'n wraakaksie teen haar vader.

Haar spel is destyds deur die media gestriem, maar Sofia Coppola het ondertussen 'n gerekende filmmaker geword.  Sy het in 1990 'n bitsige prys verower vir die Swakste Ondersteunende Aktrise.


Hieroor was sy neutraal, omdat sy nooit werklik 'n aktrise wou wees nie. En stellig was dit op haar posisie gemik as behorende tot wat beskou word as die Adel van Hollywood.

 Marie Antoinette (2006) en La Traviata (2017) is verdere uitstaande werk.

IV

Roland Barthes se L'Empire des signes verskyn in 1970, en in 1982 vertaal Richard Howard dit as The Empire of Signs. Dit verskyn by Farrar, Straus and Giroux, Inc. in New York.

Tokio as 'n stad sonder straatnommers en Japan as 'n semiologiese sisteem. Dit het Barthes goed begryp.

Soos Sofia Coppola wat die kyker voorstel aan die tekens van 'n frenetiese stad, Tokio met die Westerling wat interpreteer en verkeerd verstaan. Of uitgesluit voel.

Trouens, indien 'n mens in Japan op besoek was, begryp jy die ryk-van-tekens. 

Sofia Coppola jukstaponeer die Japannese tekens met die binneruimte van 'n hotelkamer waar die Westerling hom of haar afsluit van die semiologiese sisteem.

Treine en tempels. Neonligte en videospeletjies.

Manga en boeke.

Japan signifieer 'n ou en nuwe kultuur wat saambestaan.

V

Uiteraard is Casablanca die ondergrond van hierdie teks.

Kognitiewe dissonansie.

Twee kulture in stryd: die Duitsers en die Franse wat in die kroeg hul volksliedere teen  mekaar sing.

'n Liefde in Parys tussen Rick en Ilsa.

Wat nou weens die oorlog 'n herbesoek word van misverstande, verlating en verraad.

Hierdie 1942 film van Michael Curtiz - waaroor Umberto Eco so insigryk geskryf het in The Role of the Reader (1979) - bly 'n baken. Al geparodieer in advertensies met die lieflike Ingrid Bergman en Humphrey Bogart wat haar red. Woody Allen se Play it again, Sam (1972) aktiveer ook hierdie rolprent.

Politieke ambisies word gesinkopeer met persoonlike verbintenisse - wat nooit in die herinnering sal verbygaan nie, herinner Rick ons.

Rick's Café heet 'n restaurant in Tamboerskloof. Nie die regte Rick's Café Américain nie. In die film is die VSA nog neutraal teenoor die Franse Vichy's en die Duitsers.

Rick (Bogart) gee voor hy is neutraal en onbetrokke - maar hy word ten slotte uitgewys as 'n man wat 'n keuse moet maak vir sy geliefde. Al gee hy voor om net in homself geïnteresseerd te wees, bely hy immers aan Ilsa dat hul ervaring in Parys vir altyd sal bly bestaan. (As Time goes by...)

Dit is 'n film wat kommentaar lewer op mense se politieke betrokkenhede (Laszlo, Ilse se man was in 'n konsentrasiekamp) en is bewus van Rick se gevoelens vir Ilsa.

Met die herkyk, kan 'n mens net sê: Here's looking at you kid.

En die film kry telkens 'n nuwe lewe!

© Joan Hambidge