Bladsye / Pages

Tuesday, October 30, 2018

Resensie | Deon Meyer: Prooi (2018)

Deon Meyer: Prooi. Human & Rousseau, 2018. ISBN 978 0 7981 7775 7

Resensent: Joan Hambidge

Om ’n Deon Meyer te resenseer, is waarskynlik onnodig. Ons praat van 50 000 eksemplare in Afrikaans. Hierom volstaan ek met ’n paar kanttekeninge by Prooi, die jongste roman met die sub-titel ’n Bennie Griessel-dossier.

Twee verhale word apart vertel (en saamgesnoer, uiteindelik). Kapteins Griessel en Cupido moet die moord oplos van Johnson Johnson, 'n oud-polisieman, wie se lyk langs die treinspoor gevind is. Johnson was ’n passasier op ’n luukse trein. Waarom was hy op die trein, en wie het hom vermoor? Hier kan ’n mens nie anders as om die beroemde treintonele uit die James Bond-film From Russia with love (1963) in die herinnering te roep nie. Terence Young se regisseurskommentaar by dié film bly insigryk.

In Bordeaux word Daniel Darrett se lewe geproblematiseer wanneer hy opdrag kry om laksman te speel en ’n president te “verwyder”. In die ou dae was hy verbonde aan Stasi en die KGB. 

En Bennie se verhouding met Alexa Barnard is ’n ander verhaal, soos sy bekende stryd teen drank.

Hierdie is ’n pakkende roman en wat my betref, Meyer op sy allerbeste. Die vaart is snel, blitssnel en die navorsing uitstekend. En die spanningkurwe hóóg.

Dié dubbelloop-roman sit vol wyshede, soos die insigryke interpretasie van ’n docket: “Die ses kartonbladsye bevat op sigself kardinale inligting, maar dit dien ook as ’n uitstekende, verrassend duursame omhulsel vir die dikwels tientalle, soms honderde, dokumente wat die saak in sy leeftyd gaan versamel. Die docket is terselfdertyd ’n pakhuis en ensiklopedie, bronnelys, Speurbybel en spanningsroman. Mits jy weet hoe om dit te lees, en dit natuurlik deur ’n nougesette, kundige poliesman geskep en in stand gehou is” (16, 17). 

Hier het jy dus die verteller wat meta-diëgetiese kommentaar lewer op die aard van die genre. Deon Meyer wat as behendige skrywer sy kennis uitstal. By Georges Simenon kry jy ook hierdie nadenke oor die bedryf; bykans asof jy die binnespraak van die speurder ervaar. Ook die speelse opmerking dat speurders nie speurverhale lees nie; te “airy-fairy” (395).

Hiermee wil die teks dus aanspraak maak op werklikheidstatus.

Die leser word ook inligting verskaf oor die tyd van die dood; o.a. die vyf stadia van bloedstolling (300), ‘n kopknik na Patricia Cornwall.

Verder word die treine realisties beskryf in Prooi, en die stad Bordeaux word toeristies beskryf (Barthes se vraisemblance); ’n mens kan letterlik die werklike stad sien asof jy dit met Google maps navigeer.

Die vlerke van die vrees-windmeul waaraan polisiemanne ly, word eweneens beskryf: oorlewingskuld, skeidingskuld, omnipotente verantwoordelikheidskuld en selfhaat (90). Ons beleef dus sy vrees en oordrewe pligsbesef – wat die rede vir sy alkoholisme is. Meyer gebruik woorde wat in ’n polisieman (hy skryf poliesman) se mond pas: suip in plaas van drink.

Daniel se identiteit is fassinerend. Hier wil ek niks verklap nie. Mbali Kaleni verskyn helder voor die oog. 

Of die gebruik van Nikita as ‘n bynaam. Daar is grappies oor musiek en gigs.

Die Franse frases word telkens in ‘n gemaklike Afrikaans weergegee sonder om die verhaal te steur.

En baie slim gelaai is die verwysing na Arnold Schwarzenegger in die film Predator (1987) – op vele vlakke toepaslik, slim en beduidend. Die oorspronklike titel was terloops Hunter.

Watertekort (Dag Zero), staatskaping, korrupsie is van die elemente wat hierdie verhaal vorentoe dryf.

Frenetiek. So word Amsterdam beskryf. En dit is ook hoe ‘n mens hierdie slim en goed gekomponeerde spanningsverhaal kan beskryf.

En Daniel se angsvlakke het my polse laat sweet.

Dié is ’n roman wat mens moeilik neersit, en terwyl ek die laaste sin lees wat die Suid-Afrikaanse werklikheid van geweld en moord karteer, verneem ek dat Advokaat Mihalik in Kaapstad deur ‘n huurmoordenaar uitgehaal is.

Truth is stranger than fiction.

Ek wou nog iets skryf oor die olmbome in die teks.

En die sogenaamde elm-disease.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

Sunday, October 28, 2018

Thursday, October 25, 2018

Rubriek | Prêt-à-Porter (1994)

I

Robert Altman se film Prêt-à-Porter (1994), oftewel Ready to Wear, is verfilm gedurende ‘n Paryse mode-week met werklike ontwerpers en modelle (Claudia Schiffer kan eweneens tersluiks opgemerk word). Selfs Cher verskyn in 'n kameevertoning.

Linda Hunt, Tracey Ullman, Danny Aiello, Sally Kellerman, Kim Basinger, 1994 © Miramax

Anouk Aimée, Marcello Mastroianni, Sophia Loren, Kim Basinger, Stephen Rea, Lauren Bacall, Julia Roberts, Tim Robbins, Lili Taylor en Sally Kellerman lewer puik ensemble-spel in ‘n film wat al as ‘n komedie, satire en klug beskryf is.

Die resepsie van die film was nie deurgaans positief nie, tog het dit die gesogte Golden Globe in 1995 verower (Robert Altman fails to impress followers of fashion/ fashion archive, 15 Dec 1994 | Fashion | The Gu. Besoek 17 Oktober 2018).

Suzy Menkes reageer negatief met die volgende slotsin:

But in all the fun and frolics, the real emotion of fashion, the drama of creation, the orgasms of excitement, even the visual energy, seem to have hit the cutting room floor.

Sy besluit:

For fashion folks, the film just didn’t come off - either as an extended skit, or as a bitchy or brutal dissection of the industry.

Met elke herbesoek en herkyk, is hierdie kyker egter al hoe meer onder die indruk van die briljantheid van hierdie film wat Menkes nie behaag nie.

II

Marcello Mastroianni, Sophia Loren, 1994 © Miramax

Dit is egter so dat Altman in hierdie film 'n paar kopknikke maak onder ander na Yesterday, Today and Tomorrow (Ieri, oggi, domani) van Vittorio de Sica se film van 1963 waar Sophia Loren en Marcello Mastroianni in 'n liefdesverbintenis staan. Adelina van Naples verkoop sigarette op die swart mark - in Altman se film (in die bella stanza) wil sy nie rook nie. In die afdeling Anna van Milano word Loren aangetrek deur Dior en dis immers waarop Altman sinspeel in sy film, te wete die impak van modes en modehuise.

Ook die striptease in Altman se Prêt-à-Porter verwys na die afdeling Mara in Rome.

III

In Prêt-à-Porter  begin Marcello Mastroianni as Sergei/Sergio wat uit Rusland aankom in Parys met 'n simpel das en ontmoet word deur Jean-Pierre Cassel as Olivier de la Fontaine (wat verstik aan 'n hamtoebroodjie). Sergio pers De La Fontaine af (die sameroeper van die groot kleure-tentoonstelling wat uitloop op naaktheid as die enigste antwoord) wat getroud is met Isabella (Sophia Loren), voormalige vrou van Sergio. Is Olivier, die gehate man, vermoor of nie? Hy was betrokke by Simone Lowenthal.

Anouk Aimée as Simone Lowenthal aktiveer weer Fellini se Otto e mezzo (8 1/2) ook uit 1963.

Julia Roberts as Anne Eisenhower en Tim Robbins as Joe Flynn word per ongeluk lovers, omdat hulle genoop word om 'n kamer te deel. (Dit neem ons weer na Altman se The Player van 1992) waar Robbins aan die stuur staan van 'n Hollywood-produksie en die soektog na 'n moordenaar.

Wanneer Tim Robbins in geleende klere staan (sy tas is immers deur Sergei gegaps), vra hy vir Julia Roberts hoe hy lyk.

Sy antwoord: Prêt-à-Porter.

Rossy de Palma as Pilar neem ons weer na Almodóvar se films waarin die absurde hoogty vier.

Daar word dikwels in die film op hondebollie getrap wat die absurdisme verder voer.

IV

Aan die slot is dit La vie en rose van Grace Jones wat alles netjies saamvat:

Des yeux qui font baisser les miens
Un rire qui se perd sur sa bouche
Voilà le portrait sans retouche
De l'homme auquel j'appartiens
Quand il me prend dans ses bras
Il me parle tout bas
je vois la vie en rose
Il me dit des mots d'amour
des mots de tous le jours
Et ça me fait quelque chose
Il est entré dans mon coeur
Une part de bonheur
Dont je connais la cause.

'n Briljante mélange van style en intertekste.

© Joan Hambidge






Sunday, October 21, 2018

Resensie | Ingrid Winterbach - Die troebel tyd (2018)

Ingrid Winterbach - Die troebel tyd. Human & Rousseau, 2108. ISBN 978 0 7981 77 66 5

Resensent: Joan Hambidge

Winterbach het die Groot romanwedstryd in 2018 gewen met Die troebel tyd. Hierdie roman neem sy plek in langs die lang galery van akademiese romans: Mary McCarthy se The Grove’s of Academe (1952); Saul Bellow se The Dean’s December (1982); Philip Roth se The Human Stain (2000); en natuurlik David Lodge se parodiese romans oor die akademie. 
In ons tydsgewrig beleef die akademie ‘n tyd van onrus en politieke verandering. En politieke korrektheid. Maar al hierdie veranderinge resoneer met die studenteopstande van 1968 in Parys waar groot intellektuele hul merk gemaak het in die sosiologie, linguistiek, literêre teorie en psigoanalise. In hierdie roman onder andere opgemerk hoe akademici hulle wêreldjies en insigte verdedig.

In die radioprogram U eie keuse luister die hoofkarater na die Akademiese Fees Ouverture, ofskoon die roman buite die grense van die konvensionele akademiese roman beweeg.

Magrieta Prinsloo, 'n soöloog, beleef ‘n krisis. Sy beledig haar departmentshoof en raak vervreem van haar kollegas. Sy aanvaar ‘n pos by die Buro vir Voortgesette Onderrig. (In laasgenoemde moet die leser dus alreeds iets satiries vermoed. Studente word aanlyn onderrig.) Die snydende opmerkings oor die akademie, oor taal, oor Afrikaanse musiek is uiters belangrik. Net soos haar herinneringe aan haar rebelse jeug, haar moeder wat haar met stilte straf; haar vader, die biologieonderwyser en amateurfotograaf, by wie sy leer om stip na die natuur te kyk. Daar word na walvisse en erdwurms gekyk wat simboliese betekenis het vir die roman. Jona was immers in die walvis; Jung en Harold Bloom het hieroor geskryf. J. Hillis Miller gebruik die erdwurm as 'n troop vir tekste wat nuwe, ondergrondse lewens kan vind.

Die leser vind bekende stylgrepe van Winterbach in hierdie roman: die gebruik van boerename; die blik op die absurde; die oog vir die litteken of afwykende; die meegevoel met die lot van die ontheemdes; ewolusie; moderne wetenskap; kunsmatige intelligensie; kwarks; ingebedde intertekste soos William Blake, Benjamin Britten, Beckett, graffiti met boodskappe ('n tersluikse spel met Thomas Pynchon se The Crying of Lot 49 van 1966), Moritz Rugendas, die kunstenaar en etnograaf oor wie César Aira's in 2000 'n roman geskryf het An Episode in the Life of a Landscape Painter, Von Humboldt,  Houellebecq, Pascal, Quignard, Sjiva, Kali, ensoaan.

Die boek is ook 'n satire van speurverhale en soeke na oplossings. (Kyk na die bom in 'n hotel.) Oor ongeleefde lewens. Potsdam het aan Cambridge studeer, maar sy belowende akademiese loopbaan onderbreek. (Die redes word later in die roman onthul.)

In daardie beroemde film Magnolia (1999) van Paul Thomas Anderson, word die rol van toeval ondersoek en hoe mense se lotgevalle met mekaar verweef word. Soms snaaks; soms pynlik. Winterbach doen dit ook: ‘n karakter word onder meer gesien as ‘n dubbelganger vir Billy Bob Thornton in die televisiereeks Fargo. Noah Hawley is die hoofskrywer vir die reeks gebaseer op die film van die Coen-broers uit 1996. Dubbelgangers is eweneens ‘n belangrike kode in hierdie teks en karakters verwys na figurante uit vorige romans. 'n Ander karakter lyk soos 'n Nana Mouskouri gone wrong. Of op Björk. Potsdam is 'n Joodse teenspeler, net soos Mogoerane dit is. Haar man Willem probeer haar uitbarstings hanteer, want haar depressie-pille faal haar. Die naamlose vrou vergestalt haar verdriet. Bestaan sy of is sy 'n blote opgeefsel uit die fantasie van Magrieta? Die toevalselement is iets wat hierdie roman ondersoek (154) en die Vereniging vir die Bewaring van Walvisse en die Genootskap van die Vriende van die Walvis is 'n satiriese dwarsklap!

Droefheid, weemoed, melancholie is die grys draad in hierdie roman wat Julia Kristeva se Black Sun: Depression and Melancholia (1992) aktiveer. Vroulike depressie is kannibalisties, aldus Kristeva en gaan altyd gepaard met ‘n verlies aan identiteit. Magrieta het immers van beroep verander en in haar werk by die Buro ontmoet sy “agente". Haar depressie word in sterk en woedende passasies beskryf in haar verhouding met haar moeder en rebelsheid as aweregse kind.

Die beskrywings van 'n walviskarkas en die simboliek is kragtige prosa. Verlatenheid (die Engelse woord abandonment verwoord dit beter) en stilte word in alles verweef.

Dis ‘n moderne  quest-roman wat praat met The Adventures of Augie March (1953) daardie unieke pikareske roman, geskryf deur die onbesonge meester Saul Bellow.

Daar is ook 'n selfgesprek met Klaaglied vir Koos (1984) en my gunstelingroman Die aanspraak van lewende wesens (2012). Skulpe aktiveer weer Die boek van toeval en toeverlaat (2006).

Sinne sit vol poësie: "Die skedel is haar banier, die dood se oppermag haar wapenskild."

Don de Lillo se Underworld (1997) is eweneens ter sake.

Die dubbelganger-aard is die belangrikste kode: ágter alles skuil daar iets anders.

Die verteller lewer soms kommentaar op die karakter wat narratoloë ook sal besighou: van personaal na ouktoriaal. Laasgenoemde sort verteller lewer dan ook kommentaar op Magrieta se sieninge.

Soos die slot met die godin, Kali wat aansluit by die begin. 

In hierdie uitstekende, weemoedige en pynlike roman draai die duiwels (en die walvisse) onder rond wat onse letterkundige agente moet naspeur; ook oor die kwessie van die apokalips-fatigue.

'n Boek van ontstemmenis wat Winterbach-lesers sal bekoor.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Saturday, October 20, 2018

Interview | Joan Hambidge talks to Stephen Symons (2018)

1. The title Landscapes of Light and Loss, your second volume of poetry published by the Dryad Press reminds me of Milan Kundera's novel The Book of Laughter and Forgetting and the incessant interplay between opposites / contradictions. The paradoxical nature of poetry grief, frailty, loss reverberate in strong poems. 

How do you write about loss? Uncertainty?

In some instances the poems do oscillate between seemingly contradictory themes. 

I say seemingly, because if for example you’re writing about happiness, a pinch of grief allows one to destabilise the poem in an interesting manner, particularly if a poem feels too comfortable. In this way, I think the poem can offer challenges to both the poet and the reader. As human beings we cannot ignore those contradictory relationships, specifically in instances where the human world manages to infiltrate the natural world, which is often the case in my work.

2. You use concrete metaphors and similes. I was taught by my erstwhile mentor D.J. Opperman that poetry should steer away from the abstract or philosophical. Do you agree? Comment.


over the green gossip
of sunbirds and white eyes

*

A body never knows its destination,
a heart is more memory than muscle —
pulling at cantankerous drawers
bulging with photos that were never taken.

*

Night is a destination dipped in cobalt.

If you mean direct metaphorical references to the natural world, then yes my poems rely heavily on the concrete world. There’s undoubtedly a form of concreteness to my use of metaphors and similes. 

The Swedish poet Tomas Tranströmer, employed so-called concrete metaphors when  referencing the real world, but what I think makes Tranströmer’s use of metaphors so compelling is the manner in which he “defamiliarises” the world through his choice of new metaphorical connections. This is what I attempt to achieve in my work. For example, here’s a line from a Tranströmer poem that illustrates that sense of defamiliarisation, which I’m drawn to as a writer.

The moths settle on the window pane,
small pale telegrams from the world.


There’s also the work of the Czech poet, Miroslav Holub (1923 - 1998) where science and poetry enjoy an "uneasy relationship" and very contradictory alliance. These  uneasy associations  appeal to me on many levels.

3. Please comment on your use of form.

Outside, night runs,
pulsing,  flowing,   femoral,  silent,
   beyond us—
       bleeding out.

I’m trained as a graphic designer, so in some respects I’m a visual person first. For me, the visual shape a poem assumes on paper is critical to the creative process. 

I think the physical structure of a poem affects so much of the nature of the poem, be it the way it’s read, by both the reader and the poet. For me at least, the choice of typeface and leading (that’s the line-spacing for non-designers), the manner in which one employs white space, indents, tabs and line breaks allows a poem to enter a different, and distinctly more visual environment. I believe, as a poet, one can also offer challenges to a reader by means of experimenting with form, but not to a point where it becomes a crutch or cliché. Ultimately, I think the poem has a way of persuading its formal outcome.   

Charles Olson’s notion of Projective verse and units of breath have been very influential, including William Carlos Williams and Robert Creeley’s notion that “form is never more than an extension of content”, and here I’m indebted to Kelwyn Sole, my mentor, for exposing me to a number of poets, for whom visual form, or a poem’s physical structure is of great importance.

4. You dedicate a poem to Yehuda Amichai. Are you influenced by his poems on children?

I would add it’s not only Amichai’s poems about children, but his entire oeuvre that has had a tremendous influence on my writing. Amichai remains one of the most mercurial of my favourite poets. 

He’s like a quantum particle – the instant you try to pin him down he eludes you. He’s accessible, but there’s a multi-layeredness to his work, and beyond his poetic persona he remains a contradiction on so many levels. Amichai was a soldier, teacher, poet and parent. During World War II he served in the British army, but he later fought the British as a guerrilla prior to the formation of Israel. He also was involved in the Arab-Israeli conflicts of 1956 and 1973, and taught for several years at secondary schools. 

Many have tried to claim and position Amichai, but the genius of his poetry always allows his work to transcend labels. He’s one of the poets I always travel with.

5. You write you "stole" a title from a poem? 

The phrase the conferences of birds is borrowed from the title of The Conference of the Birds (1177) by Persian poet Farid ud-Din Attar. Is this thievery or intertextuality? Can a poet write without referring to other poets, for instance Blake or the implied references to Wallace Stevens?

I think if you read widely you cannot avoid the work of other writers permeating your work, and sometimes it’s successful and other times it can be dangerous. I do think on one level it’s simply unavoidable. 

Like Picasso said, “Talent borrows, genius steal”, but that was more than likely Picasso’s ego talking. As far as the Attar phrase goes, I was always drawn to the title of his book, The Conference of the Birds, and employing it as a collective noun in the poem at that juncture just seemed to work. You could call it intertextuality, but I’m loathe to go that far…

6. How do you experience the English South African poetry scene? For instance, the few reviews, the lack of intellectual debates or polemics  or is poetry finally the ultimate intellectual debate?

I would say given the nature of our largely divided and insular history, by means of race, culture and language I don’t think there’s a singular type of South African poetry. English poetry is, I think, even further subdivided. 

It’s a strange landscape. Polemics, if you could call it that, sometimes verges on the prescriptive, and at other times seems rather conservative. 

Kelwyn Sole speaks of “An ambience of insecurity and instability” within SA Poetry which points to that sense of insularity. 

I try as a writer, to simply get on with the act of writing, but one does certainly feel the presence of a sense of insularity in English poetry.

7. In "The Physiology of Fear" you reflect on the violence (and paranoia) of our society  and the uncertainty of the future. Comment.

I can only speak for myself, but I do get the impression that post post-apartheid South African society has become increasingly wary and polarised on many levels. 

The threat of violence, whether in the bedroom, suburbia, the township or on a farm is pervasive and “The Physiology of Fear” grapples with that sense of paranoia that has become part of our national psyche.

8. In a letter to Amichai Paul Celan writes: “What really belongs to you in your poems comes through with the most convincing, most conspicuous force. You are the poem you write, the poem you write is ... you yourself.  Right away I loaned the English selection of your work to my friend André du Bouchet, who writes poems as well, and to my great joy what had struck me came through to him too. Now this book is going round to other contributors and editors of the magazine L'Ephemere (I'm also among them). We'd be delighted to bring out a book of yours in French translation”. (Letter to Amichai, 7 November 1969  Are your poems autobiographical or not?)  

I think all poetry is autobiographical and political to some degree. 

We can only really write from what we know, but in the same breath I sometimes, as all writers do, incorporate imagined content into my poems.

I would say that the majority of my poems have their origins in the real world but they inevitably journey elsewhere – and sometimes it works, and at other times it fails miserably.

9. What is the "meaning" of the lovely cover?

Firstly, the cover photograph was taken by Patrick Ryan a well-known photographer and life-long friend. The cover photograph was chosen from part of a series of coastal scenes, and this particular image of a lonely beacon on a rocky outcrop, set against pounding surf, seemed to dovetail perfectly with the title of my book. 

The desaturated colour and shallow depth of field lent itself to my notion of landscape in my book. Patrick’s photograph alludes to a “de-peopled” landscape, a natural space that has been emptied of people, but still bears the traces of human intervention, so it seemed to be an ideal choice.


An act of forgetfulness

Last night I left the TV on
and on reaching morning
it was playing music videos
that broke like small waves
over the green gossip
of sunbirds and white eyes


dream songs
still foamed by sleep

half-remembered tides

from a long-remembered love
that required an act of forgetfulness
to be heard once more.


(Two poems by Stephen Symons – Type/Cast)

Friday, October 12, 2018

Rubriek | Magnolia (1999)

I
Paul Thomas Anderson se Magnolia (1999) is om verskillende redes ‘n verbluffende film. Soos Robert Altman se Short Cuts (1993) vertel dit verskillende verhale en ondersoek die rol van toeval op mense se lewens. Tom Cruise, Philip Seymour Hoffman, Julianne Moore, Jason Robards, William H. Macy, en Philip Baker Hall o.a. lewer kragtige toneelspel.

Boonop heraktiveer dit weer vir hierdie kyker Supertramp se musiek en Goodbye stranger word in ‘n kroeg gespeel:

Sweet devotion (Goodbye, Mary)
It's not for me (Goodbye, Jane)
Just give me motion (Will we ever)
To set me free (Meet again?)
In the land and the ocean (Feel no sorrow)
Far away (Feel no shame)
It's the life I've chosen (Come tomorrow)
Every day (Feel no pain)
So goodbye, Mary (Goodbye, Mary)
Goodbye, Jane (Goodbye, Jane)
Will we ever (Will we ever)
Meet again? (Meet again?)
Now some they do and some they don't
And some you just can't tell


Die verhaal begin met die impak van toeval, onder andere hoe ‘n man wat selfmoord wil deur uit ‘n venster te spring, toevallig voor sy ma se venster verby val die oomblik toe sy ‘ʼn skoot afvuur, en noodlottig deur haar getref word. (Sy word dan van moord aangekla.)

Die verhaal sluit af met paddas wat uit die hemel val, ‘n verwysing na Exodus 8:2. (Hiermee bewys God sy almagtigheid volgens die Bybel.)

Burt Ramsey is die verteller (Ricky Jay) en syvoice overraam die verhaal.

Dit is ‘n baie komplekse film (3 ure lank) en ‘n mens kan dit vanuit verskillende perpektiewe beskou.

II
Die verhaalgang beweeg tussen verskillende insidente wat ten slotte saamgenoer word en ek wil dit nie bederf vir die voornemende kyker nie.

Daar word eerder gefokus op enkele temas in hierdie film.

Die verhouding tussen ouer en kind is ‘n deurlopende tema: die sterwende vader wat wag op sy seun en versoening behoef.  Die seun – vertolk deur Tom Cruise – heet Frank T.J. Mackey. Hy het sy naam verander en is ‘n motiveringspreker om mans seksueel op te rui. Die man moet oorheers en Cruise se werklike verbintenis met Scientology word ook hier geaktiveer: jy is die heerser van jou gedagtes en begeertes. In 'n onderhoud weet ons dat hy ook sy verlede gefabriseer het.

In die toneel waar hy sy sterwende vader besoek, is versoening helaas nie moontlik nie. Hy verag sy vader, omdat hy hom en sy moeder verlaat het. Hy moes ook omsien na sy moeder, sterwend aan kanker. Die vader Earl Partridge word vertolk deur Jason Robards. Die bekende siening dat die sterwende net kan vertrek indien daar vrede gemaak word met agtergeblewenes word in ‘n sterk toneel uitgespeel. Met Cruise wat die vader vloek en skel.

Kinders speel ‘n belangrike rol in die film. Die wonderkind wat ‘n speelding is vir sy pa en aan vasvra-wedstryde moet deelneem om die vader se eie ongeleefde én onsuksesvolle lewe uit te leef. Die kind wil egter nie verder saamspeel nie. Grootmense wou hom nie tydens die wedstryd badkamer toe laat gaan het nie, en hy is verneder hierdeur. Hy konfronteer sy vader en versoek hom om mooier met hom om te gaan. Met die vader wat hom steeds verminder.

Die swart rappertjie red Earl se vrou Linda wat probeer selfmoord pleeg. Hy bel 911 nadat hy geld uit haar beursie steel.

Sy pendant is die ouer, patetiese William H. Macy as "Quiz Kid" Donnie Smith wat graag ortodontiese operasies wil ondergaan, maar afgedank word by Solomon & Solomon. Hierna steel hy geld uit die kluis, kom tot sy sinne, maar kan helaas nie terugaan nie weens die paddas wat neerdaal uit die hemele. Hy word deur die “good cop” Jim Kurring “ (John C. Reilly) gered en die geld word teruggesit.

In ‘n pynlike kroegtoneel (waar Supertramp speel) bely hy sy liefde vir die kroegman.

Lina (Julianna Moore) is ‘n verslaafde en skel op ‘n apteker wat haar ellende raaksien en haar “lady” noem. Jim raak betrokke by Claudia Wilson, die aanbieder van die quiz showse kind. Jimmy Gator (vertolk deur Philip Baker Hall) stort in duie voor die kameras, is eweneens sterwend aan kanker en bely aan sy vrou dat hy ontrou was aan haar. Maar die grootste ontrouheid is dat sy weet dat hy hul dogter Claudia gemolesteer het en hierom is sy waarskynlik ‘n verslaafde. Hy skiet homself dood in ‘n apokaliptiese toneel met die ambulans (met Linda in) en “good cop” Jim oor die paddas kaats. (Jim wat sy pistool verloor het, vind dit terug wanneer die paddas neerdaal.)

In ‘n klein vinjet sien ons ‘n sterwende hond; hy het immers per ongeluk van Earl se pille ingekry en die siektetrooster, Philip Seymour Hofmann, is uiters emosioneel na die konfrontasie tussen vader en seun. Hy is eweneens diep geraak deur die dood van Earl, wat vir hom ‘n soort vaderfiguur geword het.

In ‘n onthutsend-eerlike toneel bestel hy porno-tydskrifte oor die foon en die kyker is intens bewus van sy isolasie.

III
“Desire is a wound of reality,” waarsku Žiżek. Elke karakter in hierdie film se begeertes word gefnuik.

Die film lewer kommentaar op die dood van die Amerikaanse droom lank voor Trump se koms.

Verslawing, siekte, selfmoord, disfunksionaliteit.

© Joan Hambidge

Monday, October 8, 2018

Rubriek | The Talented Mr Ripley (1999)

I

Hierdie verbysterende film, uit 1999 van Anthony Minghella (ook die regisseur van The English Patient) neem 'n mens terug na hoé een leuen 'n volgende skep of genereer. Tom (Matt Damon) wat 'n vaal bestaan voer as 'n klavierbegeleier word deur 'n ryk man raakgesien by 'n party in New York. Hy dra as pianis 'n Princeton-baadjie en lieg dat hy daar studeer het. Meneer Herbert Greenleaf, 'n skeepsmagnaat vra hom om na Italië te gaan en sy seun, Dickie, wat aan Princeton studeer het, terug te bring huis toe.

Wat dan afspeel voor die kyker se oë is, hoe Tom Ripley, 'n swendelaar en bedrieër van formaat, hom inwurm in Dickie (vertolk deur Jude Law) se lewe op Mongibello.  

Ripley se talent is vervalsing. Vervalsings van identiteit, handtekeninge, stemme – wat hom al deur allerlei teenstand gedra het. (In 'n onderhoud erken Matt Damon hoe hy as kind gesukkel het met identiteit; hierom waarskynlik dat hy so goed oorkom in die film).

Die verhaal speel af in die Vyftigs, die naoorlogse jare, en in sy filmkommentaar wys die regisseur daarop dat hy veral die klasverskille tussen mense wou uitwys. So beskou, is dit 'n relevante film oor status. Tom wil ryk wees; hy begeer die lewe van Dickie wat in die klein Italiaanse dorpie 'n meisie swanger maak. Sy verdrink haarself om die skandaal van 'n buite-egtelike kind te vermy. Dickie voel skuldig, want hy het nie vir haar geld gegee toe sy hulp gesoek het nie. (Waarskynlik vir 'n aborsie.)

Die regisseur vertel hoe hy bekende Italiaanse akteurs gebruik. Kyk, hier stap sy seun oor die straat ...

Die regisseur wys tereg daarop dat net wanneer Tom "geluk" vind, daar 'n karakter is wat dit binnedring. Freddie (Philip Seymour Hoffman) daag onverwags in Rome op in Tom se nuwe geskepte lewe as Dickie, en besef hy is 'n indringer; of in die slottoneel op die skip Griekeland toe wanneer Meredith (Cate Blanchett) hom herken as Dickie, terwyl hy weer Tom is saam met sy nuwe homoseksuele lover, Peter Smith-Kingsley, met wie hy 'n liefde vir klassieke musiek deel.

Tom gee voor hy is 'n jazz-liefhebber om by Dickie uit te kom – maar hy is in wese 'n liefhebber van Bach. Die film gebruik ook musiek om die storie verder in te kleur en opposisies uit te wys.

Die Stabat Mater
Tu Vuo' Fa L'Americano
My Funny Valentine
Italia – Harry Rabinowitz
Lullaby for Cain
Crazy Tom– Instrumental - Harry Rabinowitz
Ko-Ko - Instrumental – Charlie Parke
Nature Boy – Instrumental – Miles Davis.

In 'n kroegtoneel is dit Tom wat improviseer en loslittig raak via musiek, nie Dickie nie. Tom ontwikkel van 'n lompe, bleek aankomeling met 'n groen swembroek tot 'n behendige man van die wêreld. 

Dis ook wanneer Freddie in Rome begin tokkel op Tom se klavier dat alle waansin losbars. Musiek is nou nie meer melodieus nie, maar disharmonies.

Wanneer hy in Dickie se klere voor 'n spieël op musiek dans, is Dickie verontrus; hy besef onbewustelik hoe sy identiteit gesteel word.

II

Die kommentaar van die regisseur is uiters insigryk vir begrip van hierdie film. Hoe daar onder andere gespook is om 'n mooi seetoneel te kry wanneer Dickie reeds dood is in die boot. Hiermee wil Minghella die onverskilligheid van die natuur beklemtoon. Ten spyte van die drama in die boot, is die natuur nié in simpatie nie. En 'n mens bewus raak van hoe goed Gwyneth Paltrow is as Marge in hierdie toneel. Met min dialoog en gebare, beklemtoon die regisseur, is haar toneelspel skitterend. Sy weet Tom het haar geliefde vermoor – sy ontdek immers die ringe in die badkamer in die nuwe huis in Rome. Dickie het beloof hy sou dit nooit afhaal nie.

Sy word ook amper vermoor – maar Tom bedink hom. As kyker vrees mens dit wanneer jy die bebloede skeermeslem in sy sak sien.

III

In sy regisseurskommentaar wys Minghella ook daarop dat Matt Damon, eweneens 'n skrywer, nie sy karakter wou uitbeeld as 'n verfoeide leuenaar nie, maar eerder as iemand wat deur één fout in ellende gedompel word. Die vertelling word geraam met Cate Blanchett as Meredith Logue, 'n ryk persoon wat nie wil ryk wees nie – terwyl dit presies is wat Tom begeer.

Omdat sy voel sy is die versaakte lover en Tom op sy finale bootreis raakloop, moet hy 'n keuse maak: gaan hy haar vermoor, of sy nuutgevonde gay lover? Hy besluit op laasgenoemde, omdat Meredith te veel mense om haar vergader het.

Daar is ook gesukkel om tonele in stede reg te verfilm. En telkens is ander stede gebruik. Die "leuen" van films maak.

IV

En Freddie, die onvergelyklike Philip Seymour Hoffman, is die eerste een wat lont ruik. Die film handel ook oor jaloesie. Wie mag die naaste aan Dickie wees, die een wat telkens moeg raak vir mense en nuwe aandag behoef? 

Dickie raak moeg van Tom se parasitisme en wanneer hy die vriendskap afwys, is Tom woedend. Dit lei dan tot die dood op die boot wanneer Tom beledig voel.

Die subtiele spel van erotiese gevoelens tussen mans word goed verbeeld. Met 'n badtoneel wanneer Tom saam met Dickie wil bad en laasgenoemde hom wegwys. (Hierdie badtoneel word weer openlik eroties gelaai met die twee minnaars in The English Patient.)

Die regisseur lewer ook hier kommentaar op die skote: die omgekeerde gesig van Tom in 'n spieël; 'n kamera wat vry en ongekondsioneerd beweeg wanneer Marge na Dickie soek in Tom se nuwe vesting. 

Hierna is die vervalser wat briewe skryf asof hy Dickie is en almal laat glo dat Dickie selfmoord gepleeg het. In 'n wending het die ryk vader 'n speurder aangestel. Dit blyk dat Dickie 'n aggressiewe jeug had in Princeton en hierom dink die vader dat Dickie Freddie vermoor het.

Marge weet egter wie haar geliefde vermoor het. Sy is openlik in haar woede, in haar vertrek uit Venesië.

Daar is immers nommerplate van die vermoorde Freddie in Dickie se huis gevind.

Die speurder bied hom 'n afkoopboete aan (namens die vader) en Tom sou letterlik met twee moorde wegkom, as dit nie was vir die toevallige terugkeer van Meredith nie. So word die begin en einde gesluit: die fata van Tom. Meredith is sy nemesis. Die een wat sy pret finaal bederf.

En hierom  moet hy 'n derde moord pleeg en die kyker besef: die derde keer is skeepsreg. Met hierdie moord sal hy nie wegkom nie.

Tu Vuo' Fa L'Americano klink dan uiters ironies op (Tu Vuo' Fa l'Americano - The Talented Mr. Ripley (HD) - YouTube. Besoek 7 Oktober 2018)
Tu vuo' fa' ll'americanoMericano, mericanoMa si' nato in ItalySient' a mme, nun ce sta niente 'a fa'Ok, napulitanTu vuo' fa' ll'americanTu vuo' fa' ll'american 
© Joan Hambidge