Deon Meyer: Prooi. Human & Rousseau, 2018. ISBN 978 0 7981 7775 7
Resensent: Joan Hambidge
Om ’n Deon Meyer te resenseer, is waarskynlik onnodig. Ons praat van 50 000 eksemplare in Afrikaans. Hierom volstaan ek met ’n paar kanttekeninge by Prooi, die jongste roman met die sub-titel ’n Bennie Griessel-dossier.
Twee verhale word apart vertel (en saamgesnoer, uiteindelik). Kapteins Griessel en Cupido moet die moord oplos van Johnson Johnson, 'n oud-polisieman, wie se lyk langs die treinspoor gevind is. Johnson was ’n passasier op ’n luukse trein. Waarom was hy op die trein, en wie het hom vermoor? Hier kan ’n mens nie anders as om die beroemde treintonele uit die James Bond-film From Russia with love (1963) in die herinnering te roep nie. Terence Young se regisseurskommentaar by dié film bly insigryk.
In Bordeaux word Daniel Darrett se lewe geproblematiseer wanneer hy opdrag kry om laksman te speel en ’n president te “verwyder”. In die ou dae was hy verbonde aan Stasi en die KGB.
En Bennie se verhouding met Alexa Barnard is ’n ander verhaal, soos sy bekende stryd teen drank.
Hierdie is ’n pakkende roman en wat my betref, Meyer op sy allerbeste. Die vaart is snel, blitssnel en die navorsing uitstekend. En die spanningkurwe hóóg.
Dié dubbelloop-roman sit vol wyshede, soos die insigryke interpretasie van ’n docket: “Die ses kartonbladsye bevat op sigself kardinale inligting, maar dit dien ook as ’n uitstekende, verrassend duursame omhulsel vir die dikwels tientalle, soms honderde, dokumente wat die saak in sy leeftyd gaan versamel. Die docket is terselfdertyd ’n pakhuis en ensiklopedie, bronnelys, Speurbybel en spanningsroman. Mits jy weet hoe om dit te lees, en dit natuurlik deur ’n nougesette, kundige poliesman geskep en in stand gehou is” (16, 17).
Hier het jy dus die verteller wat meta-diëgetiese kommentaar lewer op die aard van die genre. Deon Meyer wat as behendige skrywer sy kennis uitstal. By Georges Simenon kry jy ook hierdie nadenke oor die bedryf; bykans asof jy die binnespraak van die speurder ervaar. Ook die speelse opmerking dat speurders nie speurverhale lees nie; te “airy-fairy” (395).
Hiermee wil die teks dus aanspraak maak op werklikheidstatus.
Die leser word ook inligting verskaf oor die tyd van die dood; o.a. die vyf stadia van bloedstolling (300), ‘n kopknik na Patricia Cornwall.
Verder word die treine realisties beskryf in Prooi, en die stad Bordeaux word toeristies beskryf (Barthes se vraisemblance); ’n mens kan letterlik die werklike stad sien asof jy dit met Google maps navigeer.
Die vlerke van die vrees-windmeul waaraan polisiemanne ly, word eweneens beskryf: oorlewingskuld, skeidingskuld, omnipotente verantwoordelikheidskuld en selfhaat (90). Ons beleef dus sy vrees en oordrewe pligsbesef – wat die rede vir sy alkoholisme is. Meyer gebruik woorde wat in ’n polisieman (hy skryf poliesman) se mond pas: suip in plaas van drink.
Daniel se identiteit is fassinerend. Hier wil ek niks verklap nie. Mbali Kaleni verskyn helder voor die oog.
Of die gebruik van Nikita as ‘n bynaam. Daar is grappies oor musiek en gigs.
Die Franse frases word telkens in ‘n gemaklike Afrikaans weergegee sonder om die verhaal te steur.
En baie slim gelaai is die verwysing na Arnold Schwarzenegger in die film Predator (1987) – op vele vlakke toepaslik, slim en beduidend. Die oorspronklike titel was terloops Hunter.
Watertekort (Dag Zero), staatskaping, korrupsie is van die elemente wat hierdie verhaal vorentoe dryf.
Frenetiek. So word Amsterdam beskryf. En dit is ook hoe ‘n mens hierdie slim en goed gekomponeerde spanningsverhaal kan beskryf.
En Daniel se angsvlakke het my polse laat sweet.
Dié is ’n roman wat mens moeilik neersit, en terwyl ek die laaste sin lees wat die Suid-Afrikaanse werklikheid van geweld en moord karteer, verneem ek dat Advokaat Mihalik in Kaapstad deur ‘n huurmoordenaar uitgehaal is.
Truth is stranger than fiction.
Ek wou nog iets skryf oor die olmbome in die teks.
En die sogenaamde elm-disease.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)