Bladsye / Pages

Sunday, July 1, 2018

Rubriek | Hofdigters & tweedehandse boeke (2018)


Second-hand books are wild books, homeless books; they have come together in vast flocks of variegated feather, and have a charm which the domesticated volumes of the library lack. Besides, in this random miscellaneous company we may rub against some complete stranger who will, with luck, turn into the best friend we have in the world. —  Virginia Woolf


Daar word vertel dat Andrew Motion, die voormalige poet laureate van Engeland en 'n manjifieke digter, eenkeer na 'n uitputtende poësie-aand op 'n klein dorpie op die treinstasie staan en wag.

En daar sien hy toe 'n boekwinkeltjie en besluit om te gaan snuffel om die tyd om te kry... en ontdek - tot sy skok - in die tweedehandse afdeling, 'n bundel van hom met voorin 'n opdrag aan sy ouers!

Nou onlangs word my nuwe boek, 'n bundel met Engelse vertalings van my werk, The coroner's wife, by David Krut bekendgestel. 'n Man kom na vore met 'n stapeltjie van my Afrikaanse bundels. Boeke wat hy aangeskaf het in tweedehandse boekwinkels. 

En hier vind ek 'n eksemplaar van Die buigsaamheid van verdriet geteken vir 'n kennis op 'n ander dorp. 

Die meeste skrywers is geskok wanneer hulle so 'n ontdekking maak. Dis immers 'n intieme geskenk aan 'n vriend / kennis. Op my rak staan daar byvoorbeeld 'n bundel gedigte vir Ingrid geteken deur Uys.

'n Bekende literator was 'n versamelaar van eerste uitgawes van boeke. Jan F. Celliers, Totius, Leipoldt etc. 'n Kennis staan een oggend by 'n vlooimark met dié Africana in sy hande. 

Hy besef dadelik iets is nie pluis nie. Die blyk toe dat literator se woelige, aangenome telge glo die boeke vir 'n inkomste verpand het.

'n Skrywer moet egter die saak van getekende boeke - mét of sonder inskripsies - só benader. Ten minste het die boek 'n tweede lewe gekry. Van die rak, na 'n tweedehandse boekwinkel, tot in iemand se huis wat dit werklik waardeer en gaan lees. 

'n Bundel kry immers lewe wanneer dit gelees word deur 'n liefhebbende leser. 

En hier is 'n lieflike vers van Motion:

A Glass of Wine
Andrew Motion

Exactly as the setting sun
clips the heel of the garden,

exactly as a pigeon
roosting tries to sing
and ends up moaning,

exactly as the ping
of someone’s automatic carlock
dies into a flock
of tiny echo-aftershocks,

a shapely hand of cloud
emerges from the crowd
of airy nothings that the wind allowed
to tumble over us all day
and points the way

towards its own decay
but not before
a final sunlight-shudder pours
away across our garden-floor

so steadily, so slow
it shows you everything you need to know
about this glass I’m holding out to you,

its open eye
enough to bear the whole weight of the sky.

Hy het sy werk as poet laureate ernstig opgeneem, en in van die onderhoude word die leser bewus van 'n pynlike verhouding met sy ouers - veral die vader wat krities was oor sy seun se werk as hofdigter.

Motion bieg dan ook:

“If I were to lie on my deathbed having written half a dozen decent poems that I thought people might read after my death, then I would think that I hadn't lived in vain.” (Andrew Motion/ a life in writing | Books | The Guardian. Besoek 1 Julie 2018).

Dit moet 'n moeilik job wees om so al om die hawerklap 'n geleentheidsvers te moet skryf. Carol Ann Duffy, een van my geliefde digters, het maar gesukkel met die koninklike troue:

Long Walk
Carol Ann Duffy

It should be private, the long walk
on bereavement’s hard stones;
and when people wave, their hands
should not be mobile phones,
nor their faces lenses;
so your heart dressed in its uniform.

On. Then one blessed step
and the long walk ended
where love had always been aimed,
her arrows of sweet flowers gifting
the air among bells- yes, they all looked-
and saying your name.

Wat sou ons van 'n hofdigter hier te lande verwag?

Ek laat dit aan die leser se verbeelding oor en bewaar elke getekende digbundel in my besit: Opperman, Breytenbach, Antjie Krog, Johann Lodewyk Marais en die volledige Johann de Lange.

© Joan Hambidge