Bladsye / Pages

Sunday, June 24, 2018

Resensie | Michel Houellebecq – Tussen die abjekte en die eteriese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq (2018)

Michel Houellebecq – Tussen die abjekte en die eteriese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq. Vertaal en ingelei deur H.J. Pieterse. Protea Boekhuis, 2018. ISBN 978-1-4853-0796-9 

Resensent: Joan Hambidge

Die goue seun van die Afrikaanse letterkunde, Uys Krige het ons digkuns verryk met sy skitterende vertalings uit Frans, Spaans en Portugees. Sy Spaanse dans (ook met bekende Suid-Amerikanse digters soos Neruda) het in 1991 verskyn en sy Verse vir Lorca (Human &Rousseau, 1987) bly onoortroffe bakens.

Deesdae is daar "google translate" en 'n digkuns-vertaler het selfs bely dat hy nie die oorspronklike taal ken nie, maar ruimskoots gebruik maak van hierdie diens. Op Versindaba verskyn daar gereeld goeie vertalings van Helize van Vuuren wat dan gesprekke ontlok wat wys hoe kompleks hierdie proses is. Verskillende vertalers vertaal immers uniek.

H.J. Pieterse se Rilke vertalings was uitsonderlik en nou waag hy hom aan die werk van die Baudelaire-van-die-supermark: Michel Houellebecq. Catherine du Toit, Franse dosent het in 2012 saam met studente so 'n projek gepubliseer deur Hond uitgewery.

Pieterse het in 2000 laas 'n solo-bundel gepubliseer en vertalings het waarskynlik vir hom 'n kreatiewe uitdaging geword.

Daniel Hugo het onlangs in Vers & kapittel (Kraal uitgewers) tereg uitgewys dat vertaling dikwels komplekser is as wat ons dink. Wat verlore gaan, skryf hy, is versklank, kulturele weerklanke, betekenisassosiasies, meerduidighede, subtiele registerwisselinge en nuutskeppings. Daardie vibrasies, soos hy dit tereg noem, wat net deur die moedertaaloor opgevang kan word (80). Die chora dan in Kristeva se terme.

Die grootste toets is: dans die vertaling in die nuwe taal of is dit gewoon net 'n rendisie van die oorspronklike teks? Ons vind 'n deeglike analise van Houellebecq se komplekse en dwarse lewe by sowel Pieterse as by Du Toit. Daar verskyn ook 'n uitgebreide artikel van Pieterse op Litnet vir verdere speurwerk.

Pieterse skryf dat Houellebecq se gedigte in vier tipes gekategoriseer kan word: vormvaste gedigte of gedigte met vaste rymskemas, vrye verse, prosagedigte en hibridiese vorme (’n kombinasie van vormvaste en vrye of prosaverse) en alle van die gedigte is uiters kompleks weens die diep en ryk filosofies-teologiese en kosmologiese idees wat dit onderlê. 

Pieterse skryf: "Frans verskaf verskeie probleme met betrekking tot onder meer woordorde – die adjektief volg gewoonlik op die naamwoord wat die metrum omvergooi in vertaling – en Houellebecq gebruik dikwels die teenwoordige deelwoord wat argaïes kan oorkom in Afrikaans" (42).

Hierdie vertaler maak dit duidelik - in navolging van Venuti, vertaalteoretikus - dat hy eerder die leser oorsee stuur as om hom terug huis toe te bring.

Met Pieterse se inleiding en teoretisering kan 'n mens nie fout vind nie. Dit is egter wanneer 'n mens die gedigte begin lees dat jy soos by die lees van D.M. Thomas se stokkerige Akmatova-vertalings nie vrede het nie.

Die doel van 'n vertaling is altyd dat die leser, onbekend of bekend met die brontaal, dit moet kan geniet of waardeer in die eie taal. Lesers gaan immers nie sit en brom oor hierdie of daardie woord wat Krige gekies het in die Afrikaans vir die Spaanse een nie; jy wil dit eerstens lees as gedigte.

Houellebecq gebruik dikwels in sy verse die dansbeeld, soos in “Système sexuel mariniquais” met “les ébats amoureux, les danses en paréo” met sy siening dat ons gevangenes is van ons eie deursigtigheid. Kortom, agter sy gatvol parlando-aanslag sit ‘n sterk vormbewustheid wat moeilik oordraagbaar is na Afrikaans. Eweneens weens die stiltes en stamelinge en die binnemondse dreunbrom – soos Du Toit dit perfek opsom in haar nawoord, 207). [1]

Kom ons kyk na 'n paar gedigte om my besware te illustreer:

Onversoend

My pa was ’n eenselwige, barbaarse doos;
Dronk van verydeling, alleen voor sy TV,
Hy het flou, erg bisarre planne herkou,
En hom dan vreeslik verlekker as dit skeefgeloop het.

Die slotreël van die eerste strofe sou vlotter soos volg geklink het:

En hom dan vreeslik verlekker as dit skeefloop.

Die digkuns werk immers met die iteratief-duratief en die verlede tyd is hier gewoon lomp, nes die gebruik van die dubbele negatief:

Ek het nie meer die moed om myself in die spieël te sien nie.
Soms lag ek ’n bietjie, ek trek gesigte;
(87)

Die vyand van die digkuns (die wat) word gebruik soos “die hart wat bons” (89) kon goedskiks "bonsende hart" geword het.

Iets van Houellebecq se sjarmante ryme gaan ook verlore nes sy unieke praataanslag.

Enkele verse kom wel die mas op as vertalings, maar vir die leser wat die gedigte in Frans kan lees, gaan daar werklik baie verlore. Waarskynlik weens die struktuurverskille tussen Frans en Afrikaans met eersgenoemde taal as kompakter.

Byvoorbeeld:

Exister, percevoir word: om te bestaan, om waar te neem (281).

Fantôme de transcendance word fantoom van transendensie. Dalk fantoom van die transendente / metafisika? (261).

Dans mes jeunes années j’avais un dictaphone
Et j’aimais répéter d’une voix ironique
Des poèmes touchants, sensibles et narcissiques
Dans le coeur rassurant de ses deux microphones.

Dit word so vertaal:

In my jong dae het ek ’n diktafoon gehad
En ek het daarvan gehou om met ’n ironiese stem
Ontroerende, sensitiewe en narsissistiese gedigte
In die gerusstellende hart van sy twee mikrofone te herhaal. (255)

Die ryme gaan verlore en die vertaling is gewoon letterlik.

Iets van Houellebecq se sjarmante ryme gaan ook verlore nes sy unieke praataanslag.

Enkele verse kom wel die mas op as vertalings, maar vir die leser wat die gedigte in Frans kan lees, gaan daar werklik baie verlore. Waarskynlik weens die struktuurverskille tussen Frans en Afrikaans met eersgenoemde taal as kompakter as laasgenoemde.

Die bundel weifel nie tussen die abjekte en die eteriese nie. Dit hang iewers tussen die letterlike en die amper-poëtiese.

Van die blasende bulagtige figuur op die Du Toit-bloemlesing, ‘n kunswerk deur Anton Kannemeyer, is hier nie veel van sprake nie. In die woorde van Roy Campbell, vriend van Uys Krige: “but where's the bloody horse?”

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad.

Bronne:

Oorspronklike Franse tekste:
La poursuite du bonheur © Éditions Flammarion, Paris 1997
Le sens du combat © Éditions Flammarion, Paris 1996
Renaissance © Éditions Flammarion, Paris 1999
Configuration du dernier rivage © Michel Houellebecq & Éditions Flammarion, Paris 2013

[1]. In Du Toit se eie woorde: “Franse prosodie word nie deur heffings en dalings bepaal nie omdat daar geen noemenswaardige aksent op lettergrepe geplaas word nie. In Frans gaan dit oor die aantal lettergrepe en die manier waarop die lettergrepe getel word is ’n redelike subtiele oefening. Die klassieke versreël in Frans is die twaalflettergrepige Aleksandryn; ’n wonderlike soepele reël waarvan die ruspunt klassiek in die middel val (6 || 6), maar vanaf die negentiende eeu willekeurig verskuif is na 3 | 3 || 3 | 3 of 4 || 4 || 4 of selfs ander ongelyke dele. Rym in Frans is ook prettig. Nie alleen moet manlike en vroulike rym volgens die klassieke reëls afwissel nie, daar moet ook gelet word op ryk, voldoende en arm rym. Houellebecq gaan kreatief met die reëls om en die leser moet kophou by die tel van die sillabes om die metrum te identifiseer en die ruspunt korrek te plaas. En dan is die gedig nog steeds in Frans.
      Om te vertaal is in die eerste plek om keuses uit te oefen en ons het wel diep en deeglik besin oor die mate waarin ons in die vertalings aan die oorspronklike vorm en rym wil uiting gee. ’n Eerste vraag was: indien ’n mens Houellebecq se gebruik van die klassieke Franse Aleksandryn in Afrikaans wil weergee, sal ’n mens dan van ’n “klassieke” Afrikaanse vorm soos die jambiese vyfvoetige versreël gebruik maak? Of die Aleksandryn annekseer? Met die plasing van die ruspunt op dieselfde plek? En hoe hanteer ’n mens manlike en vroulike rym? (210)”.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)