Bladsye / Pages

Wednesday, May 16, 2018

Resensie | WAM Carstens & EH Raidt - Die storie van Afrikaans, uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal (2017)

WAM Carstens & EH Raidt - Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal. Protea Boekhuis, 2017. ISBN: 9781485300380
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie fassinerende studie word gesien as ‘n biografie van ‘n taal. Dit heet Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika en die samestellers is W.A.M. Carstens & E.H. Raidt.
‘n Mens assosieer ‘n biografie met die lewensloop van ‘n mens, en in die besonder, ‘n bekende of beroemde mens. Afrikaans is inderdaad ‘n besondere taal: ten minste een van drie tale wat binne ‘n honderd jaar ontwikkel het van praattaal tot wetenskapstaal.
In hierdie studie word ‘n taal se ontstaan beskryf. In Deel 1 is die fokus op die Europese verlede, terwyl Deel 2 sal fokus op die Afrika-geskiedenis.
Afrikaans het op drie kontinente ontwikkel: in Europa met Nederlands as basisvorm vir Afrikaans; in Afrika waar die 17e-eeuse Hollandse dialek onder die invloed van verskillende invloede, Afrikaans geword het; en in Asië met die invloed van die taal van slawe.
In my loopbaan had ek die voorreg om met Roy Pheiffer en Hester Waher te werk, twee gedugte taalkundiges – saam met die literêre semantikus, Henning Snyman, wat in sy studies taalkunde en letterkunde versoen het.
My bespreking gaan net fokus op etlike, wel ten minste vir hierdie leser, interessante en tersaaklike uitsprake oor Afrikaans. Dit is dus nie ‘n taalkundige resensie nie – dit laat ons oor aan al die kundiges in die veld, soos Ernst Kotze of Christo van Rensburg, o.a. Ek skryf as letterkundige en liefhebber van tale. Vreemde tale en grammatika-boeke is een van my stokperdjies; nes die lees van woordeboeke.
Daar is min kwessies waaroor mense so heftig en driftig raak as Afrikaans en die toekoms van die taal. Vir sommige is die doodsklok aan die lui by ons tradisioneel-Afrikaanse universiteite; vir ander moet die  hoër funksies of die taal van die wetenskap, beskerm word.
Afrikaans sal oorleef. Die taal transformeer en verander voortdurend. ‘n Taal kan myns insiens net “uitsterf” as die sprekers van daardie taal dit onbewustelik en kollektief begeer. Terselfdertyd beteken dit nie dat ‘n mens argelose en slordige taalgebruik in koerante of tydskrifte moet verduur nie.

II
Ek gesels dan met my jong  taalkundige kollega, Ian van Rooyen oor hierdie boek. Oor Afrikaans wat volgens sekere geleerdes ‘n semi-Kreoolse taal is en oor die verskil tussen ‘n pidgin en kreools. Ook oor die invloed van nie-geskoolde Nederlands op Afrikaans.
Edith Raidt merk op dat Afrikaans die jongste en enigste Germaanse taal is wat in Afrika ontstaan het. Die taalkundige Ana Deumert, aan die Universiteit van Kaapstad, beweer dat Afrikaans veel langer geneem het om te ontwikkel as wat die meeste glo. Vir haar het die ontwikkeling van Afrikaans ongeveer 250 jaar lank geduur (439).
Vir die verskillende sieninge oor die ontstaan van Afrikaans en die polemieke hieroor, word die leser van ‘n handige tabel voorsien (428 – 430). Dit word alles begrond met die siening dat die taalhistorikus met werklike, konkrete navorsing moet werk om ontwikkeling te kan bewys (427).  Die kreoliseringsdebat is in die sestigerjare weer gestimuleer deur die sosiolinguistiek waarvolgens die verhouding van ‘n taal en sy gemeenskap ondersoek word (431). Dit bewys, m.i. tog dat teoretiese ontwikkelinge ‘n nuwe lig kan werp op navorsing. 

III
In die afdeling oor Nederlands word daar beweer dat Nederlanders ‘n sterk taaltrots het. Mense verkies om tegnologies in hul taal bedien te word. Nederlands het ‘n sterk kultuur van vertaling en wanneer ‘n belangrike teks elders verskyn, is die Nederlandse vertaling dadelik beskikbaar. Die dagboek van Anne Frank is die mees vertaalde Nederlandse boek en Harry Mulisch is in meer as 30 tale vertaal. Die Vlaming Hugo Claus is op sy beurt in sowat 20 tale vertaal.
Hoe gaan die invloed van “allochtone” (vreemdetaalsprekers) Nederlands raak? In Nederland, soos hier, is daar ook wanopvattings oor die taal soos dat Nederlands verengels; dat Nederlands bedreig word deur Europese eenwording en globalisering; dat Nederlands kan “verdwyn”. Van Sterkenburg spreek hierdie vrese aan, wat sterk resoneer met vrese hier te lande (400 – 401).
Die boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans word ook aangespreek en diegene met ‘n goeie geheue sal onthou dat hierdie leser indertyd van mening was dat die Nederlanders ons versaak het. In daardie tyd, 1992 – en dit het wye reaksie ontlok – was my gevoel dat ons selfstandig ontwikkel het en ‘n aparte taal en kultuur gevestig het. (Dit was lank voor die dekolonaliseringsdebatte hier te lande.)
Dit was ‘n akademiese, politieke en kulturele boikot en in 1984 is daar selfs Afrikaanse boeke uit die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) in ‘n grag gesmyt (404). “De overval” het groot skade aangerig en onvervangbare 18e- en 19e-eeuse werke het in die slag gebly.
Dit is egter so dat Nederlands – soos met enige boikot – sigself ook skade berokken het, omdat Nederlands stadig maar seker uit leerplanne verdwyn het. As jong student aan die Universiteit van Stellenbosch moes ons Nederlandse grammatika bestudeer en was ons blootgestel aan belangrike Nederlandse tekste, gedoseer deur mense, soos wyle W.E.G. Louw, wat die taal perfek kon skryf en praat.
Die venster op Europa (vir ons) en die venster op Afrika (vir hulle) is dus toegeklap. Dis eers die afgelope twee dekades wat die herstel van bande weer plaasvind en Afrikaans as “fluistertaal” of “skaamtaal”, opgehef word. Tog is Nederlands vir jong studente moeilik, omdat hulle nie van jongs af aan die taal blootgestel is nie.
Straattaal (‘n vermenging van Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo, ‘n taal wat gepraat word in Suriname, asook Papiamento (die taal van Curacao, Aruba en Bonaire) word egter in die algemeen deur Nederlanders afgekeur, aldus die studie (377).
Die hoofstuk oor die onstaan van Afrikaans – en die rol van taalverandering is eweneens boeiend.
Ons vind onder andere Hans du Plessis se opmerking dat in 1652 die Nederlanders en Khoi ‘n gemors van Nederlands gemaak het en daardie gemors se naam is Afrikaans (425).
Taalbeïnvloeding, taalkontak, taalversteuring en taalvermenging, is uiters insigryk. Soos Du Plessis se opmerking – in navolging van Trudgill – dat Afrikaans ‘n kreolied is, maar nooit ‘n pidgin was nie (434).
Die invloed van Khoi op Afrikaans (danksy die studies van J. du P. Scholtz) word gesien veral in geografiese benamings en by plant- en diername voor, soos:
Plekname:
Goudini, Hantam, Kamdebo, Karoo, Koup.
Plantname:
Boegoe, dagga, kanna, kambro, ganna, ghaap, noem-noem, norretjie, ens.
Diername:
Koedoe, kwagga, ghnoe, gogga, oorbietjie, noemetjie.
Ander:
Abba, aitsa, arrie, eina, hoeka, kamma/kamtig, karos, kierie.
Afrikaans is in Mei 1925 erken as amptelike taal. In 1933 verskyn die volledig vertaalde Bybel in Afrikaans en in 1937 die eerste Afrikaanse gesangbundel. ‘n Lang pad van die GRA (1875) tot Afrikaans as amptelike taal. Besonder relevant is die werk van ons ouer Afrikaanse digters (soos Marais, Totius en Leipoldt) wat steeds bakens binne die Afrikaanse digkuns bly. 

 IV
Dit is ‘n magistrale werk. Dit is boeiend geskryf en het my siening oor die ontstaan van Afrikaans verruim.
Dit beslaan 632 blasye en is ook as e-boek beskikbaar. 

(Word vervolg)