Bladsye / Pages

Wednesday, May 23, 2018

Huldeblyk | Philip Roth 1933 - 2018

Philip Roth in 2013 © Taylor Hill

I

Philip Roth is 'n uitsonderlike romanskrywer. Sy boeke, vanaf Portnoy's Complaint (met die berugte lewer-toneel) verskyn in 1969 tot sy latere dik romans soos The Human Stain (2000), beklee ereplekke in my huis. Hulle staan in my kombuis.

Dit moet vermeld word hier dat dit die grootste skande bly dat hy nooit bekroon is met die Nobelprys vir letterkunde nie. In die briefwisseling met Saul Bellow, sy Joodse kameraad en gespreksgenoot, kry 'n mens 'n blik op hierdie komplekse man. Claire Bloom, die aktrise, het haar voormalige eggenoot in Leaving a Doll's House (1996) beskuldig van verbale aanranding en die misbruik van haar familie in sy romans. In I Married a Communist (1998) kap hy terug. 

Vreesloos het hy deur die jare die Amerikaanse kondisie oopgeskryf: A Human stain (hoe 'n onskuldige uitspraak as rassisties gesien word aan 'n universiteit, met gevolge vir die dosent wat die woord “spooks” gebruik oor afwesige studente) of The Plot against America in 2004 (wat 'n alternatiewe geskiedenis weergee met Charles Lindbergh wat Roosevelt verslaan in die verkiesing van 1940).

Hy skep dan ook alter ego's – soos Zuckerman – waarin hy na die skryfproses kyk en dikwels afstandelik en krities is oor die toekoms van die roman.

American Pastoral (1997) bly een van my gusteling-romans, saam met The Great AmericanNovel (1973) en wanneer 'n mens Roth lees en sy enorme bydrae tot die romankuns, besef jy watter stem nou stil is. Agt van sy romans is verfilm - die sub-teks gaan egter dikwels verlore, juis omdat sy tekste so inspeel op dit wat nie gesê word nie.

Goodbye, Columbus; Portnoy's Complaint; The Human Stain; The Dying Animal, adapted as Elegy; The Humbling; Indignation enAmerican Pastoral is almal verfilm, en The Ghost Writer is verwerk in ‘n televisie-reeks.

Uitgesproke ateïs, enorme stilis - dit was hý.

Elke jaar, word daar vertel, het hy per trein na sy uitgewer gegaan en dan weer moedeloos vertrek as hy nogmaals oorgesien is vir die Nobel. In 2011 ontvang hy wel die Man Booker Internasionaal en hy is waarskynlik een van die mees bekroonde skrywers van sy generasie. ‘n Vroulike kritikus het wel te velde getrek teen die bekroning vanuit ‘n feministiese perspektief. Ms. Callil, van Virago uitgewers, moes egter later erken sy had ‘n vriendskap met Claire Bloom, Roth se eks. Boonop het sy mevrou Roth se memories gepubliseer waarin Roth belaster word.

Gelukkig het Rick Gekoski tot Roth se redding gekom:
In 1959 he writes Goodbye, Columbus and it's a masterpiece, magnificent. Fifty-one years later he's 78 years old and he writes Nemesis and it is so wonderful, such a terrific novel ... Tell me one other writer who 50 years apart writes masterpieces ... If you look at the trajectory of the average novel writer, there is a learning period, then a period of high achievement, then the talent runs out and in middle age they start slowly to decline. People say why aren't Martin [Amis] and Julian [Barnes] getting on the Booker prize shortlist, but that's what happens in middle age. Philip Roth, though, gets better and better in middle age. In the 1990s he was almost incapable of not writing a masterpiece—The Human Stain, The Plot Against America, I Married a Communist. He was 65–70 years old, what the hell's he doing writing that well? (Philip Roth - Wikipedia. Besoek 23 Mei 2018).
II

Die bekende Britse kritikus en biograaf, Hermione Lee, het volgens my twee uitsonderlike werke gelewer: haar biografie oor Virginia Woolf, en ‘n klein, kompakte studie oor Roth se romans. Ofskoon sy nie met die skryf daarvan kon weet hoe ‘n belangrike skrywer hy sou word nie, verskaf haar werk belangrike sleutels tot sy werk.

Harold Bloom, die gesiene kanoniseerder, sonder hom ook uit as ‘n groot romanskrywer.

Deur die jare het hierdie leser gereeld oor Roth geskryf (Woorde Wat Weeg | Philip Roth. Besoek 21 Mei 2018).

Soos Roth tereg opmerk in een van sy romans:

“Literature is not a primary reality but a kind of expensive upholstery to a sage himself so plumpy upholstered...”

En terwyl ek hierdie obit skryf, val my oog op die swart uitgawe van Everyman (2006) in my kantoor. 

'Old age isn't a battle,' he observes, 'it is a massacre.'

‘n Skrywer wat oor soveel fasette van menswees geskryf het én terselfdertyd die grense van fiksie ondersoek én verbreed het, is iets besonders.


Bronne:
Hermione Lee. Philip Roth (Routledge Revivals).London: Routledge, 2011.

© Joan Hambidge