Bladsye / Pages
▼
Tuesday, May 29, 2018
Wednesday, May 23, 2018
Huldeblyk | Philip Roth 1933 - 2018
Philip Roth in 2013 © Taylor Hill
I
Philip Roth is 'n uitsonderlike romanskrywer. Sy boeke, vanaf Portnoy's Complaint (met die berugte lewer-toneel) verskyn in 1969 tot sy latere dik romans soos The Human Stain (2000), beklee ereplekke in my huis. Hulle staan in my kombuis.
Dit moet vermeld word hier dat dit die grootste skande bly dat hy nooit bekroon is met die Nobelprys vir letterkunde nie. In die briefwisseling met Saul Bellow, sy Joodse kameraad en gespreksgenoot, kry 'n mens 'n blik op hierdie komplekse man. Claire Bloom, die aktrise, het haar voormalige eggenoot in Leaving a Doll's House (1996) beskuldig van verbale aanranding en die misbruik van haar familie in sy romans. In I Married a Communist (1998) kap hy terug.
Vreesloos het hy deur die jare die Amerikaanse kondisie oopgeskryf: A Human stain (hoe 'n onskuldige uitspraak as rassisties gesien word aan 'n universiteit, met gevolge vir die dosent wat die woord “spooks” gebruik oor afwesige studente) of The Plot against America in 2004 (wat 'n alternatiewe geskiedenis weergee met Charles Lindbergh wat Roosevelt verslaan in die verkiesing van 1940).
Hy skep dan ook alter ego's – soos Zuckerman – waarin hy na die skryfproses kyk en dikwels afstandelik en krities is oor die toekoms van die roman.
American Pastoral (1997) bly een van my gusteling-romans, saam met The Great AmericanNovel (1973) en wanneer 'n mens Roth lees en sy enorme bydrae tot die romankuns, besef jy watter stem nou stil is. Agt van sy romans is verfilm - die sub-teks gaan egter dikwels verlore, juis omdat sy tekste so inspeel op dit wat nie gesê word nie.
Goodbye, Columbus; Portnoy's Complaint; The Human Stain; The Dying Animal, adapted as Elegy; The Humbling; Indignation enAmerican Pastoral is almal verfilm, en The Ghost Writer is verwerk in ‘n televisie-reeks.
Uitgesproke ateïs, enorme stilis - dit was hý.
Elke jaar, word daar vertel, het hy per trein na sy uitgewer gegaan en dan weer moedeloos vertrek as hy nogmaals oorgesien is vir die Nobel. In 2011 ontvang hy wel die Man Booker Internasionaal en hy is waarskynlik een van die mees bekroonde skrywers van sy generasie. ‘n Vroulike kritikus het wel te velde getrek teen die bekroning vanuit ‘n feministiese perspektief. Ms. Callil, van Virago uitgewers, moes egter later erken sy had ‘n vriendskap met Claire Bloom, Roth se eks. Boonop het sy mevrou Roth se memories gepubliseer waarin Roth belaster word.
Gelukkig het Rick Gekoski tot Roth se redding gekom:
In 1959 he writes Goodbye, Columbus and it's a masterpiece, magnificent. Fifty-one years later he's 78 years old and he writes Nemesis and it is so wonderful, such a terrific novel ... Tell me one other writer who 50 years apart writes masterpieces ... If you look at the trajectory of the average novel writer, there is a learning period, then a period of high achievement, then the talent runs out and in middle age they start slowly to decline. People say why aren't Martin [Amis] and Julian [Barnes] getting on the Booker prize shortlist, but that's what happens in middle age. Philip Roth, though, gets better and better in middle age. In the 1990s he was almost incapable of not writing a masterpiece—The Human Stain, The Plot Against America, I Married a Communist. He was 65–70 years old, what the hell's he doing writing that well? (Philip Roth - Wikipedia. Besoek 23 Mei 2018).
II
Die bekende Britse kritikus en biograaf, Hermione Lee, het volgens my twee uitsonderlike werke gelewer: haar biografie oor Virginia Woolf, en ‘n klein, kompakte studie oor Roth se romans. Ofskoon sy nie met die skryf daarvan kon weet hoe ‘n belangrike skrywer hy sou word nie, verskaf haar werk belangrike sleutels tot sy werk.
Harold Bloom, die gesiene kanoniseerder, sonder hom ook uit as ‘n groot romanskrywer.
Deur die jare het hierdie leser gereeld oor Roth geskryf (Woorde Wat Weeg | Philip Roth. Besoek 21 Mei 2018).
Soos Roth tereg opmerk in een van sy romans:
“Literature is not a primary reality but a kind of expensive upholstery to a sage himself so plumpy upholstered...”
En terwyl ek hierdie obit skryf, val my oog op die swart uitgawe van Everyman (2006) in my kantoor.
'Old age isn't a battle,' he observes, 'it is a massacre.'
‘n Skrywer wat oor soveel fasette van menswees geskryf het én terselfdertyd die grense van fiksie ondersoek én verbreed het, is iets besonders.
Bronne:
Hermione Lee. Philip Roth (Routledge Revivals).London: Routledge, 2011.
© Joan Hambidge
Wednesday, May 16, 2018
Resensie | WAM Carstens & EH Raidt - Die storie van Afrikaans, uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal (2017)
WAM Carstens & EH Raidt - Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal. Protea Boekhuis, 2017. ISBN: 9781485300380
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie fassinerende studie word gesien as ‘n biografie van ‘n taal. Dit heet Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika en die samestellers is W.A.M. Carstens & E.H. Raidt.
‘n Mens assosieer ‘n biografie met die lewensloop van ‘n mens, en in die besonder, ‘n bekende of beroemde mens. Afrikaans is inderdaad ‘n besondere taal: ten minste een van drie tale wat binne ‘n honderd jaar ontwikkel het van praattaal tot wetenskapstaal.
In hierdie studie word ‘n taal se ontstaan beskryf. In Deel 1 is die fokus op die Europese verlede, terwyl Deel 2 sal fokus op die Afrika-geskiedenis.
Afrikaans het op drie kontinente ontwikkel: in Europa met Nederlands as basisvorm vir Afrikaans; in Afrika waar die 17e-eeuse Hollandse dialek onder die invloed van verskillende invloede, Afrikaans geword het; en in Asië met die invloed van die taal van slawe.
In my loopbaan had ek die voorreg om met Roy Pheiffer en Hester Waher te werk, twee gedugte taalkundiges – saam met die literêre semantikus, Henning Snyman, wat in sy studies taalkunde en letterkunde versoen het.
My bespreking gaan net fokus op etlike, wel ten minste vir hierdie leser, interessante en tersaaklike uitsprake oor Afrikaans. Dit is dus nie ‘n taalkundige resensie nie – dit laat ons oor aan al die kundiges in die veld, soos Ernst Kotze of Christo van Rensburg, o.a. Ek skryf as letterkundige en liefhebber van tale. Vreemde tale en grammatika-boeke is een van my stokperdjies; nes die lees van woordeboeke.
Daar is min kwessies waaroor mense so heftig en driftig raak as Afrikaans en die toekoms van die taal. Vir sommige is die doodsklok aan die lui by ons tradisioneel-Afrikaanse universiteite; vir ander moet die hoër funksies of die taal van die wetenskap, beskerm word.
Afrikaans sal oorleef. Die taal transformeer en verander voortdurend. ‘n Taal kan myns insiens net “uitsterf” as die sprekers van daardie taal dit onbewustelik en kollektief begeer. Terselfdertyd beteken dit nie dat ‘n mens argelose en slordige taalgebruik in koerante of tydskrifte moet verduur nie.
II
Ek gesels dan met my jong taalkundige kollega, Ian van Rooyen oor hierdie boek. Oor Afrikaans wat volgens sekere geleerdes ‘n semi-Kreoolse taal is en oor die verskil tussen ‘n pidgin en kreools. Ook oor die invloed van nie-geskoolde Nederlands op Afrikaans.
Edith Raidt merk op dat Afrikaans die jongste en enigste Germaanse taal is wat in Afrika ontstaan het. Die taalkundige Ana Deumert, aan die Universiteit van Kaapstad, beweer dat Afrikaans veel langer geneem het om te ontwikkel as wat die meeste glo. Vir haar het die ontwikkeling van Afrikaans ongeveer 250 jaar lank geduur (439).
Vir die verskillende sieninge oor die ontstaan van Afrikaans en die polemieke hieroor, word die leser van ‘n handige tabel voorsien (428 – 430). Dit word alles begrond met die siening dat die taalhistorikus met werklike, konkrete navorsing moet werk om ontwikkeling te kan bewys (427). Die kreoliseringsdebat is in die sestigerjare weer gestimuleer deur die sosiolinguistiek waarvolgens die verhouding van ‘n taal en sy gemeenskap ondersoek word (431). Dit bewys, m.i. tog dat teoretiese ontwikkelinge ‘n nuwe lig kan werp op navorsing.
III
In die afdeling oor Nederlands word daar beweer dat Nederlanders ‘n sterk taaltrots het. Mense verkies om tegnologies in hul taal bedien te word. Nederlands het ‘n sterk kultuur van vertaling en wanneer ‘n belangrike teks elders verskyn, is die Nederlandse vertaling dadelik beskikbaar. Die dagboek van Anne Frank is die mees vertaalde Nederlandse boek en Harry Mulisch is in meer as 30 tale vertaal. Die Vlaming Hugo Claus is op sy beurt in sowat 20 tale vertaal.
Hoe gaan die invloed van “allochtone” (vreemdetaalsprekers) Nederlands raak? In Nederland, soos hier, is daar ook wanopvattings oor die taal soos dat Nederlands verengels; dat Nederlands bedreig word deur Europese eenwording en globalisering; dat Nederlands kan “verdwyn”. Van Sterkenburg spreek hierdie vrese aan, wat sterk resoneer met vrese hier te lande (400 – 401).
Die boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans word ook aangespreek en diegene met ‘n goeie geheue sal onthou dat hierdie leser indertyd van mening was dat die Nederlanders ons versaak het. In daardie tyd, 1992 – en dit het wye reaksie ontlok – was my gevoel dat ons selfstandig ontwikkel het en ‘n aparte taal en kultuur gevestig het. (Dit was lank voor die dekolonaliseringsdebatte hier te lande.)
Dit was ‘n akademiese, politieke en kulturele boikot en in 1984 is daar selfs Afrikaanse boeke uit die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) in ‘n grag gesmyt (404). “De overval” het groot skade aangerig en onvervangbare 18e- en 19e-eeuse werke het in die slag gebly.
Dit is egter so dat Nederlands – soos met enige boikot – sigself ook skade berokken het, omdat Nederlands stadig maar seker uit leerplanne verdwyn het. As jong student aan die Universiteit van Stellenbosch moes ons Nederlandse grammatika bestudeer en was ons blootgestel aan belangrike Nederlandse tekste, gedoseer deur mense, soos wyle W.E.G. Louw, wat die taal perfek kon skryf en praat.
Die venster op Europa (vir ons) en die venster op Afrika (vir hulle) is dus toegeklap. Dis eers die afgelope twee dekades wat die herstel van bande weer plaasvind en Afrikaans as “fluistertaal” of “skaamtaal”, opgehef word. Tog is Nederlands vir jong studente moeilik, omdat hulle nie van jongs af aan die taal blootgestel is nie.
Straattaal (‘n vermenging van Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo, ‘n taal wat gepraat word in Suriname, asook Papiamento (die taal van Curacao, Aruba en Bonaire) word egter in die algemeen deur Nederlanders afgekeur, aldus die studie (377).
Die hoofstuk oor die onstaan van Afrikaans – en die rol van taalverandering is eweneens boeiend.
Ons vind onder andere Hans du Plessis se opmerking dat in 1652 die Nederlanders en Khoi ‘n gemors van Nederlands gemaak het en daardie gemors se naam is Afrikaans (425).
Taalbeïnvloeding, taalkontak, taalversteuring en taalvermenging, is uiters insigryk. Soos Du Plessis se opmerking – in navolging van Trudgill – dat Afrikaans ‘n kreolied is, maar nooit ‘n pidgin was nie (434).
Die invloed van Khoi op Afrikaans (danksy die studies van J. du P. Scholtz) word gesien veral in geografiese benamings en by plant- en diername voor, soos:
Plekname:
Goudini, Hantam, Kamdebo, Karoo, Koup.
Plantname:
Boegoe, dagga, kanna, kambro, ganna, ghaap, noem-noem, norretjie, ens.
Diername:
Koedoe, kwagga, ghnoe, gogga, oorbietjie, noemetjie.
Ander:
Abba, aitsa, arrie, eina, hoeka, kamma/kamtig, karos, kierie.
Afrikaans is in Mei 1925 erken as amptelike taal. In 1933 verskyn die volledig vertaalde Bybel in Afrikaans en in 1937 die eerste Afrikaanse gesangbundel. ‘n Lang pad van die GRA (1875) tot Afrikaans as amptelike taal. Besonder relevant is die werk van ons ouer Afrikaanse digters (soos Marais, Totius en Leipoldt) wat steeds bakens binne die Afrikaanse digkuns bly.
IV
Dit is ‘n magistrale werk. Dit is boeiend geskryf en het my siening oor die ontstaan van Afrikaans verruim.
Dit beslaan 632 blasye en is ook as e-boek beskikbaar.
(Word vervolg)
Saturday, May 12, 2018
Resensie | Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra (2018)
Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra. Naledi, 2018. ISBN: 978-1-928426-08-0
Resensent: Joan Hambidge
Koos Kombuis het as digter gedebuteer met Brekfis vir Vier: André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden was saam by hierdie ontbyt. Toe was Koos nog André le Roux du Toit wat later sanger en wonderlike roman- en kortverhaalskrywer geword het (Woorde wat weeg | André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden - Brekfis met vier. Besoek 24 April 2018).
Hiervan is Somer II (1985), Suidpunt-Jazz (1989) en veral Raka die Roman (2005) uitsonderlike hoogtepunte.
In van sy romans het hierdie skrywer al herkenbaar ‘n draai gegooi. Dit was ‘n bewys van sy spel met fiksie en werklikheid wat in die hoogbloei van die postmodernisme aan die orde van die dag was.
Verder is hy as sanger bekend en deel van die Voëlvry-beweging.
Sy pas verkene bundel Vandag wil ek my blou skoene dra met ‘n omslag waar ‘n paar angswekkende lelike Crocs met aaklige beenhare op die voorblad pryk, word gepubliseer deur Naledi. Die digter sien dit as ‘n ryp-word-bundel en ‘n geskenk aan homself. Hierdie bundel verskyn dan twintig jaar na die debuut in ‘n tyd waarin hy drugs gelos en ‘n gesin begin het.
As student op Stellenbosch het hy in die koffiewinkels gesit en geskryf. Bevry van die dwinglandy van klasse bywoon en toetse skryf, is hy bewonder deur menige student. Kombuis is ‘n volksfiguur met ‘n groot aanhang.
So wat ‘n akademikus sou dink van sy gedigte, sou hom waarskynlik nie skeel nie. Die gedigte is nader aan songs as wat dit gedigte is.
Die kenmerkende opstuur-aanslag is hier aanwesig – ‘n voetnota wat die leser waarsku dat die digter weet dit is rymdwang. Daar is ‘n parodie wat heet, “vier gebede by jaargetye in die boland” met ‘n sorry aan Louw wat waarskynlik bewys dat die digter besef dat die gedig sleg afsteek by die oorspronklike vers. Koos Kombuis se indertydse parodieë opgeneem in Foster & Viljoen se Poskaartehad meer om die lyf.
Te min weerstand, te dun, te obvious. En groot songs kan gedigte wees. Dit het Leonard Cohen vir ons bewys. Hier is dit nog vis nog vlees.
Miskien soos hy dit self opsom in “dis my laaste gedig (sê ek elke keer baie dramaties)” (46) is die probleem presies net dit:
Ek is klaar gewroeg,
genoeg gespoeg,
verby geswoeg,
lewensmoeg
en grys bebaard.
(47)
Die leë landerye verklap inderdaad die einde van die digterlike reise …
Hy skryf verder:
tussen calvinia en mordor
van bronkhortspruit na madagaskar
deur leë landerye
waar van gogh-swart kraaie vlieg
en joan hambidge
oor haar vele minnaars bieg.
sela.
‘n Bietjie van ‘n maklike uitweg, nie waar nie?
‘n Mens kan egter net dig as jy nog passievol oor die bedryf.
Hier is twee beter verse:
vandag wil ek my blou skoene dra
vandag wil ek my blou skoene dra
want vandag is ’n blou dag,
blou soos die half-
edelgesteente van die oggendlig,
blou soos saffiere.
blou.
.
vandag wil ek my blou hemp dra.
vandag wil ek blou
deur die lewe loop
soos ’n briesie deur ’n wasgoedlyn,
gewigloos
en geurig.
blond en blou.
blosend, bronstig,
diepblou
soos die aand wat stadig aankom.
.
vandag wil ek vaar soos ’n skip
oor blou deinings,
wieg soos die meeue in die wind,
woel soos ballonne
wat vrygelaat is by ’n kinderpartytjie,
soel en soepel en swewig en snoesig
soos die oggenddou,
soos die briewe
van my
aan jou.
.
soos die smarterige jare wat van my afval
ou bloedpleisters weg in die grou
van al my christelike gisters.
groet daardie dae,
want hulle is
vir altyd verby.
.
hulle is ingesluk.
verby is al die rou.
ja, hulle is ingesluk
vandag
.
en nou proe alles
soos die soene
van ’n waterdraer-vrou.
.
aquarius.
libido.
net blou.
.
so lief
is ek vandag
vir jou.
huis vol kitare
eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare
met ’n uitsig oor die see
waar die wind spoel
deur die snare
.
eendag wil ek koffie drink
op ’n veranda vol herfsblare
en deur ou digbundels blaai
terwyl ek ryp word
met die jare
.
eendag wil ek huis toe gaan
eendag
wil ek als verstaan
eendag
wil ek opstaan
uit my graf van woorde
en leë gebare
.
eendag wil ek wegkom
van die groot jillende
skare
.
eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare
In rock&roll.karoo was daar 33 digitale gedigte gepubliseer in 2014. So klink die openingsgedig:
gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie,
gebreekte liedjies.
net hartseer liedjieskrywers soek hul toevlug
@ poësie.
poësie is d koraalriwwe v kuns.
gedroog, verbleik, geteister deur tegnologie,
verarm deur d opkoms v rock’nroll,
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier.
ek = mal vir poësie.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Sunday, May 6, 2018
Resensie | Pieter Fourie – Bidsnoer (2018)
Pieter Fourie – Bidsnoer. Naledi, 2018. ISBN 978-1-928426-06-6
Resensent: Joan Hambidge
Bidsnoer is die tweede bundel van die bekende en bekroonde dramaturg Pieter Fourie wie se digterlike debuut Knapsekêrels verlede jaar verskyn het. Sy debuut is goed ontvang.
‘n Bidsnoer (op Engels rosary) aktiveer die aanslag van die digter met afdelings van toktokkie tot bidsnoer.
Die klein programgedig voorspel:
in ’n string
tussen voorvinger
en duim
gly sonder verset
dekades verby
in prewelgebed:
En hierdie dubbelpunt maak dan die verskillende afdelings oop vir die leser.
Die tweede bundel is ‘n bliksem en party digters word beslis van Pegasus afgegooi. Hier gebeur dit nie. Die digter is vaardig in sy erns en guitigheid; in sy speelsheid en hartseer. Party lesers mag dalk voel die bundel is nie ‘n genoegsame vooruitgang of verdieping nie. Basta. ‘n Digter doen wat hy of sy kan doen en die onmenslike eis van “vernuwing” is vir min van onse digters beskore.
Hierdie bundel sluit duidelik aan by die reeks “los kraletjies” uit die debuut. Daar is reeds gewys op die aansluiting by die “klipwerk”-reeks, die gesprek met Boerneef en die bewaring van ‘n ou, amper vergete kultuur en die nostalgiese verlange na 'n verlore jeug.
Boerneef se berggansveer word direk aangespreek in die gedig “misterie” (10).
misterie
(vir boerneef)
sy’t male sonder tal
skimpskaam
hoog bo wupperthal
berggans gevra:
“het jy nie altemit
al weer ’n veer laat val?”
vergeefs
penorent
in waaisand
pronk ’n veer
kiertsregop
in ouvroutjie
se skoolinkpot
(22)
Eenvoudig, dog mooi.
En in "heildronk" weet die leser nou wié die aangesprokene in 'n nartjie of anys kan wees! 'n Heerlike gesprek rondom die drinkkultuur wat al gebloemlees is deur Daniel Hugo en Etienne van Heerden: Miskien sal ek die wingerd prys; ryme en gedigte oor wyn en sterk drank (Tafelberg, 1989).
heildronk
(vir d.j. opperman)
altyd
gewonder
wie sy is
vanaand
na ’n pernod op ys
kry ek snuf in die neus
besef
jý is
die iemand in anys
(6)
Die leser word weer eens van ‘n handige woordelys voorsien. Ahem keelskoonmaak: bloeskoptoon beteken kaalvoet-wintertone en gatwikkel dui op seksuele omgang. Mondpitte is tande en moot is ‘n drol!
‘n Sentrale gedig is die vers wat jou aan die keel ruk, "skadu" met sy behendige ryme. 'n Verwysing (subtiel dalk) na Van Wyk Louw se goeie hond wat trap in jou spoor in "Ballade van die bose"?
skadu
met my eerste lig
het ons ontmoet
naelstring pas geknip
toe naelstring jy
skaduwee
voetstoots vir my
lewenslank geboei
en so kon jy
plat parasiet
my kom en gaan
ongenooid geniet
sonder om ooit
’n woord te sê
’n eerste beweging
hoe gering ook al
te maak
sonder om
asem te haal
pyn te dra
of self ’n druppel
bloed te giet
lanterfanter
later gedog
ons ken tog
elkander
in laaste asem
sal ons groet
mekaar verlaat
onvergenoegd
(77)
“kwint” (65), “wat is die dood?” (53), “veldgebed” (67) en “raaisel” (49) is verse wat hierdie leser altyd sal bybly.
Hoe jammer dat so ‘n mooi bundel berderf word deur onooglike setfoute: op die binneflap kort ‘n vers 'n deelteken; op bladsy 24 lanbou-weekblad in plaas van landbou-weekblad; eksra in plaas van ekstra op bladsy 29.
Dis ‘n pragtige bundel, maar miskien is die “nuutheid” nou minder “nuut” omdat die boek te na in die skadu of lig van die debuut staan?
Maar steeds volksryme wat in hul speelsheid en eenvoud bekoor.
Van die kleiner ryme word wel in die lang bidsnoer gelaai met betekenis en implikasie.
En pasoppa, die eenvoud van hierdie verse is bedrieglik! Wat hierdie bundel bewys, is hoe Boerneef en die volksvers weer terugkeer na jare se vergeet (selfs by moderne digters soos Breytenbach en Johann de Lange) en van die krag van hierdie soort onopgesmukte vers. Antoinette Olivier se Optelklippiessluit hierby aan.
Resensent: Joan Hambidge
Bidsnoer is die tweede bundel van die bekende en bekroonde dramaturg Pieter Fourie wie se digterlike debuut Knapsekêrels verlede jaar verskyn het. Sy debuut is goed ontvang.
‘n Bidsnoer (op Engels rosary) aktiveer die aanslag van die digter met afdelings van toktokkie tot bidsnoer.
Die klein programgedig voorspel:
in ’n string
tussen voorvinger
en duim
gly sonder verset
dekades verby
in prewelgebed:
En hierdie dubbelpunt maak dan die verskillende afdelings oop vir die leser.
Die tweede bundel is ‘n bliksem en party digters word beslis van Pegasus afgegooi. Hier gebeur dit nie. Die digter is vaardig in sy erns en guitigheid; in sy speelsheid en hartseer. Party lesers mag dalk voel die bundel is nie ‘n genoegsame vooruitgang of verdieping nie. Basta. ‘n Digter doen wat hy of sy kan doen en die onmenslike eis van “vernuwing” is vir min van onse digters beskore.
Hierdie bundel sluit duidelik aan by die reeks “los kraletjies” uit die debuut. Daar is reeds gewys op die aansluiting by die “klipwerk”-reeks, die gesprek met Boerneef en die bewaring van ‘n ou, amper vergete kultuur en die nostalgiese verlange na 'n verlore jeug.
Boerneef se berggansveer word direk aangespreek in die gedig “misterie” (10).
misterie
(vir boerneef)
sy’t male sonder tal
skimpskaam
hoog bo wupperthal
berggans gevra:
“het jy nie altemit
al weer ’n veer laat val?”
vergeefs
penorent
in waaisand
pronk ’n veer
kiertsregop
in ouvroutjie
se skoolinkpot
(22)
Eenvoudig, dog mooi.
En in "heildronk" weet die leser nou wié die aangesprokene in 'n nartjie of anys kan wees! 'n Heerlike gesprek rondom die drinkkultuur wat al gebloemlees is deur Daniel Hugo en Etienne van Heerden: Miskien sal ek die wingerd prys; ryme en gedigte oor wyn en sterk drank (Tafelberg, 1989).
heildronk
(vir d.j. opperman)
altyd
gewonder
wie sy is
vanaand
na ’n pernod op ys
kry ek snuf in die neus
besef
jý is
die iemand in anys
(6)
Die leser word weer eens van ‘n handige woordelys voorsien. Ahem keelskoonmaak: bloeskoptoon beteken kaalvoet-wintertone en gatwikkel dui op seksuele omgang. Mondpitte is tande en moot is ‘n drol!
‘n Sentrale gedig is die vers wat jou aan die keel ruk, "skadu" met sy behendige ryme. 'n Verwysing (subtiel dalk) na Van Wyk Louw se goeie hond wat trap in jou spoor in "Ballade van die bose"?
skadu
met my eerste lig
het ons ontmoet
naelstring pas geknip
toe naelstring jy
skaduwee
voetstoots vir my
lewenslank geboei
en so kon jy
plat parasiet
my kom en gaan
ongenooid geniet
sonder om ooit
’n woord te sê
’n eerste beweging
hoe gering ook al
te maak
sonder om
asem te haal
pyn te dra
of self ’n druppel
bloed te giet
lanterfanter
later gedog
ons ken tog
elkander
in laaste asem
sal ons groet
mekaar verlaat
onvergenoegd
(77)
“kwint” (65), “wat is die dood?” (53), “veldgebed” (67) en “raaisel” (49) is verse wat hierdie leser altyd sal bybly.
Hoe jammer dat so ‘n mooi bundel berderf word deur onooglike setfoute: op die binneflap kort ‘n vers 'n deelteken; op bladsy 24 lanbou-weekblad in plaas van landbou-weekblad; eksra in plaas van ekstra op bladsy 29.
Dis ‘n pragtige bundel, maar miskien is die “nuutheid” nou minder “nuut” omdat die boek te na in die skadu of lig van die debuut staan?
Maar steeds volksryme wat in hul speelsheid en eenvoud bekoor.
Van die kleiner ryme word wel in die lang bidsnoer gelaai met betekenis en implikasie.
En pasoppa, die eenvoud van hierdie verse is bedrieglik! Wat hierdie bundel bewys, is hoe Boerneef en die volksvers weer terugkeer na jare se vergeet (selfs by moderne digters soos Breytenbach en Johann de Lange) en van die krag van hierdie soort onopgesmukte vers. Antoinette Olivier se Optelklippiessluit hierby aan.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport))
Friday, May 4, 2018
Resensie | Johannes Bertus de Villiers - Kalmte in die malle gejaag, mindfulness vir besige mense (2018)
Johannes Bertus de Villiers - Kalmte in die malle gejaag, mindfulness vir besige mense. Human & Rousseau, 2018. ISBN: 9780798175883
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie sjarmante boek is 'n handleiding om stilte, ekwilibrium of geluk te vind: onder andere deur meditasiepraktyke. (Eenvoudige praktyke - soos wanneer jy bestuur of wag op iemand, kan jy deur vinnig op en af te stap, mediteer.)
Om in die oomblik te leef, eerder as om na iets op pad te wees. Iets wat die meeste mense helaas nie onder die knie het nie.
Moenie afgeskrik wees nie. Dit is 'n boek wat ek met vreugde gelees het. Die skrywer is nie swaartillend nie. Hy probeer sy loslit-sieninge met sy lesers deel. En ons het almal al die ervaring gehad dat die lewe sinneloos voel, 'n doellose gejaag na wind met 'n dead-line wat jy telkens moet haal.
Die eet van 'n rosyntjie ('n mooi oomblik van mindfulness) illustreer dit: in plaas van 'n handvol rosyne en grondboontjies wat jy in jou keel afgooi, bekyk en eet jy een rosyntjie. Net soos die speelse opmerking dat 'n mens wanneer jy eet, moet nadink hoeveel prosesse en gediertes by die bord kos betrokke was.
Het alle mense werklik 'n standaardvlak van geluk? Hoekom is party mense negatief en ander positief? Speel die amigdala in die brein 'n rol? Johannes de Villiers vertel sy lewensverhaal van hoe hy per ongeluk in Londen by 'n meditasiegroep aangesluit het en sy lewe verander het. En later besoek hy verskeie meditasie-sentra - en reis selfs na die reënwoude van Mianmar.
Daar is die verhaal van die man in Tibet met eelte op sy geplooide boude wat hy vir die wêreld gewys het. Jy moet kan sit! Om stil te wees, is dus nie altyd maklik nie.
"Loop asof jou voetsole die aarde soen", is die wenk van die Viëtnamese meditasiemeester, Thich Nhat Hahn (68).
Skrywers sal kan getuig hoe kreatiewe impulse na vore kom wanneer 'n mens stap. Die digter Robert Frost het vele van sy gedigte geskep terwyl hy in die natuur aan die wandel was. Karel Schoeman het Rob Nairn se pragboek vertaal as 'n Stil gemoed - 'n Inleiding tot die Boeddhisme & Meditasie (1993) en De Villiers se boek sluit hierby aan. Daardie blou boekie is ‘n eenvoudige inleiding tot die Boedhisme en meditasie. Die Boeddhisme is gefokus op ons vermoë om innerlike vrede, erbarming en wysheid te ervaar om sodoende die potensiaal van ons gees te ontwikkel. Meditasie breek alle illusies en projeksies af, wat verwarring en pyn veroorsaak in ons bestaan.
II
Om kompassie of erbarming vir ander mense te hê, is 'n refrein in hierdie boek. Probeer jou indink waarom iemand altyd negatief is - om so 'n mens te haat, is om 'n gloeiende kool met jou kaal hand op te tel en die persoon daarmee te gooi. Jy gaan uiteindelik seerder kry as jou teiken.
Dit is 'n boek waarna 'n mens telkemale kan terugkeer. Vir mindfulness, vir alombewustheid soos die sielkundige Wilhelm Jordaan dit noem.
Veral die metta bhavana-meditasie is handig.
Nes die afdeling oor decluttering.
Sinvol hoe ‘n mens jou kan en behoort los te maak van kuberverslawing en die valse sekuriteite wat dit skep.
Die beskrywing van die vreugdes van alleen wees, salueer ek. Die mooi begrip sondebelasting (‘n antwoord op die Oxford-filosoof William MacAskill se siening van “effektiewe altruïsme” en “offsetting” – hoe jy deur negatiewe optrede die balans kan herstel deur iets goeds te doen, 242).
Besittings hou ‘n mens terug en ons het almal hopeloos te veel dinge. Daar is die verhaal van die rabbi in Wit-Rusland wat ‘n besoeker ontvang in sy leë vertrek. Die man het van oorkant die Atlantiese oseaan na hom gereis vir wysheid.
“Waar is jou besittings?”, vra die reisiger.
“Waar is joune?”, vra die rabbi.
“Ek is net op reis.”
“Wel, ek ook," antwoord die rabbi.
Daar is nog ander anekdotes en verhale - wat die leser binne die konteks moet ervaar. (Soos die vinger wat na die maan wys ...)
Hy definieer wabi sabi pragtig. Imperfeksie, tydelikheid.
Hy verwys ook na Anthony Osler se Zen-boeke en die standaard-studie deur Alan Watts wat The Way of Zen heet in 1975 verskyn het.
Daar is selfs plek vir notas agterin.
Gaan koop hierdie boek!
Johannes de Villiers is mede-eienaar van The Hot Yoga Studio in Stellenbosch en 'n bekende joernalis en skrywer.
Johannes Bertus de Villiers, foto: Litnet
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)