Bladsye / Pages

Wednesday, March 14, 2018

Resensie | György Faludy – Villon Ballads (Vertaal deur Iván Kovács, 2018)

György Faludy's - Villon Ballads (vertaler: Iván Kovács). Amazon.com, 2018. ISBN 978 1975 831 677

Resensent: Joan Hambidge

I

Francois Villon is gebore in 1432, dieselfde jaar as wat Johanna van Arkel in Rouen verbrand is.

In hierdie vertaling vertel die skrywer, Iván Kovács, ons alles van Villon se lewe: dief, suiper, avonturier, gangster en lid van La Coquille, vermeende verkragter, tronkvoël …

Uiteindelik ‘n arm, onplesierige lewe wat eindig met sy dood (1463) iewers waar niemand geweet het waar hy hom bevind nie.

Ons lees dan oor die Hongaarse skrywer, György Faludy, se lewe: sosialis, aktivis, swerwer, skrywer van samizdat-tekste en van sy dood in September, 2006.

Faludy sien sy tekste eerder as herskrywings en herinterpretasies as vertalings. Weens die politieke onrus in sy geboorteland skep hy ‘n fiktiewe Villon waardeur hy buikspreek en sy eie kritiek lewer deur die gedigte. Hy word gekritiseer deur Eckhardt, ‘n dosent in die Franse departement wat die polisie versoek om hierdie openbare voorlesings te verbied. Hy word gesien as ‘n “Communist stripling”, maar die obseniteite van Villon se verse ontlok wel groot applous by die toehoorders.

Hy word na ‘n kamp in Recsek gestuur. Hy verlaat Hongarye en keer terug in 1946 na ‘n verblyf o.a. in Parys, Florence, Malta en Toronto. (Daar is ‘n gedenkdienspark opgerig vir hom in Toronto met ‘n gedig in sowel Engels as Hongaars. Dit heet “Michelangelo's Last Prayer”.)

Dit was die tyd van Hitler en alles wat daarmee gepaardgegaan het. In 1949 word hy tronk toe gestuur vanweë sy botsings met die kommunistiese party en weens fabulasies deur vyande. 

Die ironie is dat hy self sosialisties en liberaal was in sy uitkyk. (Sy Joodsheid kan egter nie misgekyk word nie.)

My Happy Days in Hell (Pokolbéli víg napjaim) is die titel van sy memoir.

II

En nou kom ‘n Suid-Afrikaanse skrywer van Hongaarse oorsprong en hy bring vir ons hierdie fassinerende tekste byeen. Boonop skryf hy self gedigte oor Villon in Afrikaans: “Villon veroordeel” en “Villon se dood”.  Oor hierdie vertaler het ek al positief geskryf (Woorde wat weeg/ Attila József - Suburban night and other poems (A New translation by Iván Kovács, 2016)Besoek 13 Maart 2018).

Hierdie driemanskap Villon/ Faludy / Kovács neem my toe terug na Uys Krige se Ballades van Villon gepubliseer in 1987 deur Human & Rousseau.

En na Peter Blum se klassieke vers uit Steenbok tot Poolsee (1955), ’n gedig in die Franse balladevorm:

Ballade van die getroude bemindes
’n Wintervers vir twee stemme

Die blare val, die water gly;
ek sit by Tante en drink tee:
Sy het die jongste nuus vir my.
“Wat het geword van Elsabé?”
“Hy’t destyds al na haar gevry …
Nog bietjie koek, Piet?” “Dankie, nee.”
“Dit was die mooiste trouery …”
Wat het geword van Elsabé?

Die lug is koud en grys daarbo.
“Sy het nou onlangs eers getrou …”
My tante praat – dis sus of so.
“Wat het geword van Isabeau?”
“Op ’n groot plaas in die Karoo …”
Ek wonder of sy nog onthou.
“Skatryk …” “Ja-nee, ek wil dit glo.”
Wat het geword van Isabeau?

Dit is die winterwind wat waai.
Ja-nee, wat help dit om te kla?
“Hy’t maandelank by haar gedraai …”
“Wat het geword van Ursula?”
“Haar bruidsgoed was nou rêrig fraai …
Nog bietjie tee, Piet?” “Dankie, ja.”
“Borduurwerk op haar nagkabaai …”
Wat het geword van Ursula?

L’Envoi

Hul kiekies het ek nog behou.
Wat het geword van Ursula?
Ek sit by Tante en drink tee;
Die selfverwyt begin te pla.
Wat het geword van Isabeau?
Wat het geword van Elsabé?

Al hierdie skrywers / vertalers is buitestaanders. Of reisigers vanuit hul eie lande; of mense wat beskou word as immigrante.

Digters is in wese woordimmigrante wat buite die grense van normale woordordes en betekenisse ‘n alternatiewe wêreld skep.

Dit is ‘n besonder mooi uitgawe hierdie wat gedigte en lito’s bevat. Iván Kovács se vertalings is besonder insigryk. Hulle praat met hierdie leser wat uiteraard nie die oorspronklike Hongaars ken om dit te kan vergelyk nie. Ek lees dit dus net as Engelse tekste – en vir my werk dit.

Ons lees ook hoe die digter “Dance Macabre” en “The Testament” geskep het en in hierdie versameling ingesneak het. Die digkuns dus as ‘n voertuig van protes teen die heersende orde ontlok, soos reeds genoem, kritiek van die Villon-kenners. Uiteindelik met die terugkeer na Hongarye kry Faludy se eie gedigte minder aandag as die Villon-tekste. Vir bykans ‘n halfeeu het hy geworstel met Villon.

Die bekende “Ballad of the Beauties of Bygone days” met sy refrein (“Tell me what has happened to yesteryear’s snow?”) is losser in struktuur as Krige se vertaling “Ballade van die dames van weleer”) met sy rympatrone en refrein (“Maar waar’s die sneeu van voorverlede jaar?”).

III

Ons is toenemend al hoe meer bewus van vertalings en die belang daarvan vir ons lesers. Uiteraard kan daar verskillende weergawes van tekste bestaan, omdat elke leeservaring ‘n interpretasie van ‘n teks impliseer. Dit is ‘n teks wat ‘n wye leesgehoor verdien. Die voorblad van Hans Baldung (Three Ages of woman and Death) aktiveer presies wat met ‘n vertaling gebeur. ‘n Lewende man versus die dood wat sinspeel op die onmoontlikheid van die korrekte interpretasie.

* Die boek kan net aanlyn van Amazon handelspunte oorsee bestel word, en van takealot.com en loot.co.za in Suid-Afrika.