Bladsye / Pages

Thursday, March 29, 2018

Polemies | Die allegorie van lees versus die skilpoppe van interpretasie

Julia Kristeva © BGNES News Agency

I
Op ‘n herfsaand laat weet ‘n kollega dat daar die volgende op die internet verskyn het: (Julia Kristeva was communist secret agent, Bulgaria claims | World news | The Guardian. Besoek 29 Maart 2018).

En sy vra: dink jy hulle het Binet gelees? Sy The seventh function of language had my gaande. ‘n Letterkundige speurverhaal rondom die dood van Roland Barthes. Is Barthes “per ongeluk” raakgery of was daar ‘n komplot teen hom? (Woorde wat weeg/ Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language, 2017).

Watter rol het Kristeva gespeel?

Is die onthulling dat sy ‘n spioen was in Bulgarye “waar” of “wolhaar”?

Het die teks dit onthul? Of het Binet, wat ook ‘n politieke ontleder is, oor binnekennis beskik?

Is “truth stranger than fiction”? Of ‘n merkwaardige voorbeeld van hoe die fiksionele dimensie dalk die werklikheid bepaal?


II
Tydens ‘n navorsingsbesoek aan die VSA doen ek navorsing oor dekonstruksie-kritiek aan Yale. Ek ontmoet J. Hillis Miller en Geoffrey Hartman. Wyle Barbara Johnson gee klas vir Paul de Man wat siek is. Haar klasse is informeel.

Deconstruction & Criticism het verskyn. Ek is betower deur die sjarmante Harold Bloom. Sy seminare sou my belangstelling in psigoanalitiese leesmodelle verder prikkel.

Paul de Man with Jacques Derrida

‘n Bom bars toe toe daar na De Man se dood uitgevind word dat hy in sy jeug ‘n Nazi-simpatisant was. Ortwin de Graef skryf hieroor in 1988. Die hele literêre wêreld is in rep en roer. Sommiges meen selfs dat ditbewys dat dekonstruksie geen politieke relevansie het nie en net eindig in ‘n spel met woorde. Sy vriend Derrida verdedig hom in ‘n artikel.

Lank na Derrida se verdediging van Paul de Man, die Yale-dekonstruksie-kritikus, verskyn daar ‘n biografie wat verdere aspekte van ‘n donker psige openbaar. Nie alleen was De Man ‘n kolloborateur in sy jeug nie, maar hy het ook sy wettige vrou in die steek gelaat. Hy het ‘n ander vrou ontmoet, met haar getrou, sonder om sy vrou te skei. Die wettige vrou is verder nie onderhoud betaal nie en insinuasies van diefstal, onbetaalde rekeninge, leuens en wat nog, word vertel. Boonop – so word daar beweer – het hy aan Harvard studeer sonder ‘n regte graad. Hy het dokumente vervals en almal wol oor die oë getrek. ‘n Mens word by die lees van hierdie biografie bewus van ‘n pre- en post-bestaan en ‘n intellektueel wat homself letterlik “oorgemaak” het. Die insinuasies – met bewyse van sy pro-Nazi-koerantartikels gevind deur Ortwin de Graef – het sy intellektuele vriende geskok en verskeie teoretici het hom probeer verdedig, o.a. Derrida, Hillis Miller, en vele meer. (Woorde wat weeg / Paul de Man en die Allegorie van lees).


III

En Kristeva?

Sy is een van die fynste teoretici oor poëtiese taal. Desire in language. Die siening van die chora. Die matrioska-beginsel.

Miskien moet dit weer herhaal word: ons moet fokus op die tekste wat skrywers vir ons gee.

“Sabina” se werk as spioen moet eerder vergeet word. Sy is en bly een van die grootste denkers van die twintigste eeu, en die rou emosies in die oorgang na ‘n demokrasie in Bulgarye moet as die verlede gesien word.

© Joan Hambidge