Bladsye / Pages

Tuesday, February 6, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel XII (2018)

Deel XII

Ek kyk met my terugkoms na die Mike Newell-film van 2007 Love in the Time of Cholera, gebaseer op Márquez se bekende roman. Dit is helaas nie 'n goeie rolprent nie. Die spel is geforseerd en die parodie van die liefdesverhaal soos in die roman uitgewerk, kom nie duidelik na vore nie. Maar die film aktiveer herinneringe aan die Colombiese reis: Cartagena ...

Javier Bardem speel Florentino Ariza (met Unax Ugalde as die jong Florentino) wat verlief raak op Fermina Daza (Giovanna Mezzogiorno). Hy skryf liefdesbriewe vir haar en versend telegramme, maar haar vader is teen die verbintenis gekant en neem haar weg. Sy trou met die man van haar vader se keuse: dr. Juvenal Urbino (Benjamin Bratt). Dis 'n gedwonge huwelik en Florentino lê 'n eed af om getrou te bly aan haar.

Fermina, soos vir haar brutale vader, is ook geïrriteer met Florentino se liefdesobsessie.

In 'n skokkende toneel op 'n skip word Florentino verkrag deur 'n vrou. In al my leeswerk, kon ek geen filmkritikus se reaksie hierop raaklees nie. Die man wat deur 'n vrou ontmaagd word, is immers 'n omkering.

Sy moeder stel hom voor aan 'n vrou en hy ontdek dat seks sy herinneringe aan Fermina uitwis. Hy begin dan met etlike seksuele jagtogte en maak 'n oorwinningslys met meer as 600 vroue.

Wanneer Fermina terugkeer, sien hy haar weer en besef sy liefde vir haar is nie verby nie. Wanneer haar eggenoot sterf, begin hy 'n verhouding met haar, ofskoon haar kinders dit as onvanpas ervaar. In die slottoneel is hulle op 'n boot met 'n vlag om aan te dui daar is cholera aan boord; net om alleen bymekaar te wees.

El amor en los tiempos del cólera (die roman het oorspronklik in 1985 verskyn en is in 1988 vertaal) gebruik die metafoor van cholera om liefde as 'n siektetoestand uit te beeld. Dr. Urbino doen ook navorsing oor cholera.

Die film begin waneer die eggenoot sterf en dan terugvertel. 

Choleries (humeurig) is nie van toepassing op die film nie. Javier Bardem (as Florentino) is 'n groot, lompe akteur wat sy lot melancholies aanvaar.

Ons vind min van die "savage satiric thrusts" soos Jay Corwin dit noem na aanlediing van vele kritiese reaksies op die roman in sy studie Gabriel García Márquez (MacMillan Education/Palgrave, 2016). Márquez het glo van die rolprentweergawe gehou, ofskoon die kyker die kompleksiteite van die roman mis. Hy gebruik die liefdesverhaal as matriks, maar lewer sosiale en politieke kommentaar.

Sy ander belangrike roman is Of Love and Other Demons (1994), gebaseer op 'n storie wat hy by sy ouma gehoor het van die vrou wie se hare bly groei het na haar dood. Hy het egter ook as 'n joernalis in 1949 in Cartagena de Indias iets beleef: 'n jong meisie word opgegrawe en haar hare is meer as 20 meter lank...

Slice of life (costumbrismo)?

Costumbrismo is immers die interpretasie van daardie (Spaanse) wêreld se gewoontes en klere en tradisies.

Die Newell-film Love in the Time of Cholera is juis gekritiseer, omdat dit 'n Britse regisseur is wat die kodes van Suid-Amerika nie begryp nie. 'n Buitestaander kan wel 'n vreemde landskap verfilm, maar dan moet dit reg "vertaal" word.

Die kritiek het die film afgeskiet. Veral Bardem is erg gekritiseer: sy snor, sy houding, sy manier van loop.  

Newell se film is dalk te letterlik, en hoe "vertaal" 'n mens magiese realisme in die filmkuns? (Love in the Time of Cholera – Variety. Besoek 5 Februarie 2018).

'n Storie wat strek oor drie-en-vyftig jaar met die oorgang van een millennium na die volgende het geen tekort aan mooi, onthoubare skote nie, maar in vergelyking met David Lean se epiese rolprente skiet dit vér tekort.

In sy magistrale outobiografie Living to Tell the Tale bely Márquez:
Each thing, just by looking at it, aroused in me an irresistible longing to write so I would not die.
Hierin vertel hy van sy geliefde kleindorpie waar hy opgegroei het, sy vertrek na Europa en hoe ongelukkig hy was in Bogotá, in klimaat killer as die warm Aracataca met sy kleindorpse lewe.

As jong man raak hy ongelowig, eindig sy regstudies en word 'n joernalis.

In sy belangwekkende en grootse roman One Hundred Years of Solitude (Cien años de soledad) is die berugte Masacre de las bananeras 'n interteks. Dit gebeur in Desember 1928. Werkers se eise vir beter werkomstandighede word as kommunisties gesien en die weermag word ingestuur.

Een soldaat is dood en vyfhonderd werkers sterf in wat gesien word as 'n belangrike deurbraak vir werkers.

Hiervan het Sergio, my gids, my vertel op pad na Santa Marta (Banana massacre - Wikipedia. Besoek 5 Februarie 2018).

*

Vanoggend word die groot reistas uiteindelik in die studeerkamer geberg. Die reis is vereers afgehandel, al droom ek elke nag van klere agtergelaat of verloor op 'n lughawe.  

Met elke reis na 'n nuwe land word 'n mens bewus van die ongelooflike samehang van dinge en word jou horisonne verbreed.


© Joan Hambidge