Bladsye / Pages

Friday, January 19, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel V (2018)

Deel V

Die stad van ewige lente verlaat ek vir Cartagena. Die gids is betyds, maar ons moet wag op die bestuurder. Die gids is onrustig, maar teen my bekende aard in, is ek geduldig.

En daar kom hy, sommer die baas self. Dit reën hard.

Op die lughawe het ek meer as twee ure tyd om na te dink oor my reis. Om vorentoe te reis, moet jy kan terugkyk. Ek het twee ou paspoorte by my en kyk na al die plekke wat ek besoek het. Lees verder aan Binet (tweede keer) en lag heerlik vir die konferensie te Cornell Universiteit, Ithaca. Barthes was bekend vir lysies maak.

En dis presies wat ek op hierdie reis doen. Ek is besig met 'n bestekopname. Lysies maak. Met 'n emosionele to-do-list.

Dan Cartagena. Minder as 'n uur later is ons daar. Mooi, vervalle dorpie met mense wat in die see swem.

Na die koel weer, is dit warm hier. 

Die gids, Sergio, 'n egte Karibbiese man, wys vir my waar Gabo tydelik gewoon het voor sy vertrek het na Mexiko, en die eks-mevrou Botero se huis is dig gesluit met blou luike.

"Oor twee dae neem ons jou na Gabo se geboortedorp. En ons sal langs die pad stop om al sy plekkies uit te snuffel."

Die hotel Anandá in Cartagena (uigespreek: Kartadjeena) is 'n boetiekhotel. Dis asof jy in 'n Márquez-roman instap. Geil blomme, plante, bome - rooi mure. Die badkamer is ouderwets - 'n  pragtige geroeste wasbak. Alles chic. Nes die pragtige eko-hotel by Machu Picchu.

'n Waaier in die badkamer met houtpanele in die stort.

Anandá (Sanskrit) beteken letterlik eindelose plesier. Wat aansluit by Barthes se jouissance. Binet se The Seventh Function of Language is skerp-satiries en 'n mens wonder wat Kristeva sou maak van die onvleiende beeld wat hy van haar gee? As psigoanalis wat selfterapie toepas? Haar drank en ander gewoontes? Hoe hy haar ogies beskryf?

Cruella de Vil

Sollers as dom en selftroetelend? Camille Paglia wat vergelyk word met Cruella de Vil en Glenn Close?

Die kongres word wel vermaaklik beskryf, maar 'n mens wonder of die geskryfdes dit as positief sal ervaar? Jonathan Culler, een van my gunsteling-teoretici paradeer ook hier!

'n Kollega aan die Sorbonne het eenkeer vir my verduidelik hoe erg die rugstekery aldaar is, wat die Afrikaanse letterkunde met die byltjies te slype maar mak laat lyk.

Skryf behoort 'n persoonlike selfverryking te wees, nie 'n belaglike vergelyking soos met skoonheidskompetisies nie.

Skaars verskyn 'n roman van 'n bekende romansier en ander wil weet: is sy/haar boek beter as myne? 

Met Air France (Air Chance?) se debakel het dit langer geneem om in die reis in te kom. Inmiddels 'n e-pos met 'n apologie en 'n beloofde vergoeding.

En reis skep altyd assosiasies met ander plekke. Kuba. Havana. (Woorde wat Weeg/ Reisjoernaal/ Kuba & Mexiko (2004).  Besoek 17 Januarie 2018).


Vroegoggend brekfis met vars vrugte. Koffie. En dan 'n heerlike swemsessie onder die palms in die hotelswembad. Die son piets, maar sonskerm deur die hotel verskaf, help bepaald.

Dan is daar 'n klein alterkasie - weens taalprobleme. My Spaans is minder as my etiket en goeie maniere. Die skoonmakertjie neuk tussen my boeke deur en hoe meer ek in gebrekkige Spaans vra sy moet ophou poets, hoe meer poets sy.

Moedeloos wys ek na die bed. Help haar regtrek. Dan gaan sy uit. En kom weer terug. Met 'n mop.

Maar sy begryp tog iets. Sy plaas 'n Moenie-steur-bordjie teen die deur wanneer sy vertrek.

Ek swem weer. Antwoord e-posse en drink 'n alkoholvrye bier: Aquila Zero. Aaklig.
Nooit weer nie!

Vanmiddag is dit Cartagena op die program.

Die stad is gevestig in 1533 en is die vyfde grootste stad in hierdie land. Met ongeveer 971,592 inwoners volgens 'n sensus-opname twee jaar gelede.

Areas soos die Noordelike area (die lughawe) Centro, San Diego, Getsemani (waar die druglords skuil) en Bocagrande (Letterlik: Groot mond).

Die weer is sub-tropies en die gevoel vir hierdie reisiger is dieselfde as Kuba.  

Met dieselfde vestings en mure. In die sestiende eeu is Peruviaanse silwer van hierdie hawe na Spanje uitgevoer.

Die muur om die stad is 'n UNESCO-monument (Cartagena, Colombia - Wikipedia. Besoek 18 Januarie 2018). Gabo se Macondo besoek ek more.  

One Hundred Years of Solitude (Cien años de soledadis een van die grootste romans binne die Spaanse tradisie. Macondo (die verbeelde stad gebaseer op Aracataca) vertel die verhaal van die Buendía-familie van geslag na geslag.

Straf vir bloedskande is daar: die kind wat gebore word met 'n varkstertjie en die uiteindelik uitwissing van die dorpie.

Geheime kodes is daar. En 'n mens moet bepaald die geskiedenis van hierdie land ken om al die politieke toespelings te begryp. Aureliano lees 'n manuskrip met die volledige geskiedenis van hierdie familie. 'n Orkaan verwoes egter die dorpie ...

Die skrywer self is 'n randfiguur in sy roman. Hy is een van die min karakters wat betyds die dorpie kan verlaat voor die ramp dit tref wat waarskynlik wys op die mag van die skrywer wat deur fiksie iets kan "herstel".

Kollega Jay Corwin se fassinerende studie Gabriel García Márques (MacMillan Education/Palgrave, 2016) bly 'n absolute baken om alles te begryp (Woorde wat Weeg/ 'n Nota by Dan Sleigh se roman/ 1795. Besoek 18 Januarie 2018).


© Joan Hambidge