Bladsye / Pages

Tuesday, January 16, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel IV (2018)

Deel IV

Vandag is die gids om tien by my hotel. 'n Brug het inmekaar getuimel en tien mense is dood buite Bogotá en die nuus dek ook Kaapstad se waterkrisis hier.

Hulle noem dit die eerste wêreldstad sonder water, maar ek meen Barcelona het 'n paar jaar terug ook hierdie ellende beleef.

Ek vertel hom van al die waarskuwings in die hotel (al die moenies!). Ja, 'n mens moenie papajas gee nie, is die uitdrukking hier. Moenie jouself blootstel nie. 'n Papaja word mos maklik gepluk.

Ons ry verby 'n braaivleis-plekkie (ai te lekker) en dit stuifreën op die bergpas wat dieselfde gevoel het as Magoebaskloof. In die pad is daar hobbels om die vinnige verkeer te stuit. Dit word slapende polisiemanne genoem.

Nou gaan ons blomme besigtig en iets probeer begryp van die Feria de las Flores (blommeparade). Deelnemers heet silleteros.

Ons kom by 'n beskeie huisie waar 'n vrou vir ons tee bedien. Later koffie. Toe ek vra vir melk, gaan koop sy dit by die winkeltjie oorkant die pad. Nou vertel haar man, Luis, ons van hierdie fees (wat selfs geborg word deur 'n biermaatskappy).

Oorspronklik het die boere stoele op die rug gedra om blomme en vrugte te vervoer. (Ja, my gidse hier is emosionele stoele vir my, dink ek.) Nou word hierdie stoel gepak met helder blomme op hierdie feesdag. Vir ongeveer 3 km moet jy stap, terwyl die toeskouers jil: "Jy kan, jy kan ...".

Hy wys vir ons op TV 'n insetsel wat so 'n vrolike feesdag behels - met dansende mense. Hy neem ons na 'n vertrek en wys al die diplomas en rosette wat hulle al verower het. Volgende jaar hoop hulle om te wen (Flower Parade Flower Festival Medellin Desfile de las Flores silleteros Trans-Americas Journey. Besoek 16 Januarie 2018).

En die beoordelaars? Is hulle objektief?

Hy lag net.

Wat is dit met die mensdom se soeke na applous en erkenning? Veral met sake wat onvergelykbaar is?

My gids verduidelik ek is 'n escritora.

En hier verander die gesprek van 'n toeristiese gebabbel na 'n volgende vlak. Dit blyk ons blommekenner het in die filosofie en teologie studeer. Ons gesels oor die ekologie (30 000 hippo's beset 'n rivier in Colombië en hoe nou gemaak?). Ons gesels oor die tilapia-vis.

"Dis mos die vis waarvan Jesus praat wanneer hy vir Petrus sê om die muntstuk te neem en belasting te gaan betaal?"

"Ja, dit is daardie vis. Maar ons gebruik dit ook hier in akwakultuur. Die mis word bemesting vir ons blomme."

Jungiaanse sinchronisiteit. Aan die begin van my reis het ek oor hierdie vis gedink en geskryf.

Die geweld van sy land steur hom. Hy dink opvoeding is al wat sal help. Maar ook hier is daar 'n onderwyskrisis. (Ek wil liefs nie dink aan 2018 nie.)

Toe kom 'n e-pos deur. Op die 19e om 8uur vertrek ek na die geboortehuis van Gabriel García Márquez.

In Aracataca.

Die inpsirerende skrywer van eensaamheid. Ook die uitwys van ongeregtighede was sy métier.

En magiese realisme.

'n Term wat dikwels misbruik word in die kritiek. Dit is tekste wat gekoppel is aan die Rooms-Katolisisme en die geloof dat daar lewe na dood is. En kontak met die bo-natuurlike.

En 'n mens moet Suid-Amerika belééf om te weet hoe mense glo in die bo-natuurlike as realiteit. Madonnas bekerm bestuurders langs die pad; kruise weer die bose af.

Unheimliche / uncanniness.

Die saam-wees van die moontlike en onmoontlike.

Die wetenskaplike wat die mirakel of toevallige insident ontken, verminder sy ervaringswêreld.

Vanoggend gee Luis vir 'n blaar van 'n medisinale plant. Ek vryf dit oor 'n skaafplek. 'n Paar uur later is dit gesond.

© Joan Hambidge