Bladsye / Pages

Monday, November 6, 2017

Resensie | Steve Hofmeyr - Die onaantasbares (2017)

Steve Hofmeyr - Die onaantasbaresZebra Press, 2017. ISBN 9781776092680

Resensent: Joan Hambidge

Steve Hofmeyr is 'n sanger, akteur, opstoker, geselsprogram-aanbieder, gesprekspunt - én skrywer. En vergeet vir die oomblik van die openbare persona. 'n Volksfiguur is hy nou maar eenmaal, al hou jy nie van hom nie. Jy kan hom roast of jou buiksprekende pop teen hom opstel, maar hy sal terug kom. Hy is soos Jan Wilson se kat ...

Hy weet hoe om met die media te speel. Sy outobiografie in 2008 Mense van my asem was 'n topverkoper.

Oor sy romans het hierdie leser al positiewe resensies geskryf. Die man kan romans skryf. Dit is al in vorige resensies ook geuiter oor romans soos Vier briewe vir Jan Ellis (2010) en Kapabel (2012). Oor Valkuns (1997), sy digbundel, was ek minder entoesiasties.

Sy jongste roman heet Die onaantasbares. Dit word bemark as aksiebelaai, volwasse en brutaal. Dit betree dan inderdaad die skaduwêreld van huurmoorde en misdaad. James Bond ontmoet John le Carré met Deon Meyer in die agtergrond. Met 'n knipoog na Robert Ludlum. En 'n skeutjie Ruth Rendell. 'n Bietjie Wilna Adriaanse.

Al die bestanddele van die genre is hier. Die spioen of huurmoordenaar mag nie verlief raak nie. In James Bond is die wond die vermoorde vrou wat hom daarna harteloos en onwrikbaar maak.

En hy het ‘n “licence to kill”. In Ian Fleming se From Russia, with love (Jonathan Cape, 1957) lees ons:
At 7.30 on the morning of Thursday, August 12th, Bond awoke in his comfortable flat in the plane-tree'd square off the King's Road and was disgusted to find that he was thoroughly bored with the prospect of the day ahead. Just as, in at least one religion, accidie is the first of the cardinal sins, so boredom, and particularly the incredible circumstance of waking up bored, was the only vice Bond utterly condemned.
Emosies is dus taboe in die genre van die thriller.

Dieselfde geld Hofmeyr se hoofkarakter. Jy lees die roman met beklemming en met die enorme fantasie van geweld wat hier uitgespeel word. Inderdaad ‘n pornografie-van-geweld.

Politiek korrektes moet verbyhou. Dit is geskryf in ‘n hardepas-aanslag. Die verteller of fokalisator se gedagtestroom en dialoog word waarheidsgetrou weergegee.

“Niks heel jou siel soos ‘n strelende oordosis wraaksug nie” (101). Wraak en paranoia is twee woorde wat nogal opduik in die leser se gemoed wanneer jy hierdie teks benader.

Wanneer die ek herstel van ‘n aanval op hom, word dit as volg beskryf: Dit was ‘n narkotiese disko in Dante se hellevuur” (97).

Die roman word in verskillende hoofstukke verdeel met titels soos “Sleeping with the enemy”, “Psigoanaliseer dít, bitch”, “Fanta is vir fellatio”, ensomeer. Die pas is snel. Die navorsing uitstekend (kyk na hoofstuk 9:  “Dronetech WASP Mk4” en hoofstuk 22: “Cessna Skyhawk 172’) en die misogonisme (dikwels aanwesig in hierdie genre) ontstellend. Maar dit is hoe hierdie man is. Hy is verniel deur oorloë en huurmoorde; hierom sy laakbare optrede teen sy geliefde vrou. Hierdie passasie is erg ontstellend, maar karakter-getrou beskryf.

In Jerry Palmer se Thrillers - Genesis and structure of a popular genre  (1978) word die aard van dié genre ondersoek. Palmer verwys na paranoia as 'n belangrike element in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology".

Palmer verskaf hierdie handige tabel van opposisies wat so 'n verhaal stuur: 

Professionalism                Amateurism
                         Bureaucracy


Reciprocity                                    Ectopia
              One-way information flow

  
Experience                       Arrogance
                    Incompetence


Participation                    Isolation


Umberto Eco se The role of the reader (1978) analiseer eweneens die aard van hierdie soort vertelling.  Daar is sekere kombinasies of skuiwe en die leser moet dit probeer bemeester. Die naam van die roos (1980) werk immers met die thriller as matriks.

Eco beweer dat boeke altyd praat met ander boeke en Steve Hofmeyr se jongste teks praat met manlike beoefenaars van die genre waar daar dalk te "veilig" geskryf word?

En geweld is deel van ons samelewing met video-speletjies soos The Abbey of the Crime.

En die slot?

Hieroor moet die leser self besluit na die outentieke leeservaring van ‘n erg psigies-beseerde man wat die hoofbestanddeel van hierdie storie moet sluk, te wete: dubbel-spel.

Gaan kyk maar wat Bond oorkom in From Russia, with love.

In hierdie roman is die taal gekrui, die vuiste klap en daar is baie “geniepsige kinkels" in die storie. En in-grappies (‘n verwysing na Karlien van Jaarsveld), kommentaar oor die verspreiding van pornografiese materiaal en misdaad wat ons almal verlam in hierdie land.

Die een wat vir die blakerteks op die agterblad verantwoordelik was, moet weer dink:

"Almal is lief vir hom en lood penetreer hom nie. Hy dink mespunte breek teen sy groot hart."

Dis juis wat die roman nie doen nie.

Binne die sub-genre van vergeldingsliteratuur steek Steve Hofmeyr ‘n kleim af. 'n Liefdesdriehoek met ek, sy en die duiwel ...