Bladsye / Pages

Monday, October 30, 2017

Resensie | Salman Rushdie - The Golden House (2017)


Salman Rushdie - The Golden House. Jonathan Cape, Vintage, 2017. ISBN 13: 9781787330153

Resensent: Joan Hambidge

Salman Rushdie is een van daardie begenadigde skrywers wat jou met elke roman verbaas. In elke roman herontdek hy die grense van waarheid en fiksie. Sy enorme verbeelding en spel met fundamentalisme het hom duur te staan gekom. The Satanic Verses in 1988 het gelei tot 'n fatwa en vir etlike jare het die Britte hom met polisiebewaking beskerm.

Die Moesliem-gemeenskap het nie goed op sy roman gereageer nie en ten spyte van kritici se geskrifte waarin die postmodernistiese aard en fiksionalisering uitgewys het, was hierdie gemeenskap ontstoke en het die boek as blasfemies ervaar.

In 2008 is Midnight’s Children vir die tweede keer aangewys as die “Best of Booker”.

Met The Golden House wat sopas verskyn  het, is sy verteller deur ‘n aspirant-filmmaker, René Unterlinden, ‘n voyeur wat die storie van Nero Golden vertel.

Hy is jonk (iewers in sy twintigerjare) en die seun van gestorwe Belgiese akademici. Hy is erg suspisieus oor Golden se verlede en die dood van sy vrou. Was dit ‘n terrorisme-aanval in ‘n hotel? Hy hou sy siening vir homself, want hy beoog ‘n film, ‘n thriller, met sy bure daarin (115).

Golden is ‘n eiendom-taikoen in New York. Hier woon hy met sy drie kinders en neem as immigrant Manhattan aan as sy nuwe tuiste met sy drie kinders wat Romeinse name kry. Die verteller betree die ruimte op ‘n voorspelbare manier om meer te wete te kom. Daar is spermskenking en alles wat daarmee gepaardgaan. (Hier wil ek nie verhaal verder klap nie.)

In die VSA kan ander identiteite aangeneem word: ons dink hier aan die Belg, Paul de Man, die dekonstruksie-kritikus se politieke verlede en sy nuwe lewe in die VSA. Blindness and Insight speel hier in op die teks, nes Hitchcock se Rear Window met René as afloerder.

Rushdie gebruik die politieke agtergrond van die VSA en as die weldoener-staat. ‘n Mens kan nie anders met al die filmverwysings om twee belangrike tekste in te lees nie, te wete Francis Ford Coppola se belangrike Godfather-films (Deel I het in 1972 verskyn) en die film-outobiografie van Francois Truffaut in gesprek met Alfred Hitchcock wat in 2015 verskyn het as Hitchcock/Truffaut (regisseur Kent Jones).

Die Corleones is hier sterk aanwesig met die impak van familieskap en verraad.

Die “greening of America” het verander in ‘n nagmerrie sedert 9/11 en nou met Trump bykans as ‘n grotekse karakter uit ‘n Don DeLillo-roman soos Underworld (1997).

Rushdie gebruik sowel Griekse mitologie as Indiese verhale en fabels uit die Shaivisme.

In hierdie roman word veral identiteit en die politiek daaromheen ondersoek. Indië, verneem ons op bladsy 103, het nog altyd androgeniteit begryp. Die moderne kwessie van naamgewing word beskryf: ze, ey, hir, xe, hen, ve, ne, per, thon, Mx.

Met thon as ‘n kombinasie van daardie en een (111).

New York self word ‘n stad vol verlore verhale (99) en die leser dink aan al die mitologiese vergestaltings in verse róndom die Brooklyn-brug. Waarskynlik is hierdie ambisieuse roman ‘n antwoord op Tom Wolfe se Bonfire of the Vanities (1987), daardie uitgesponne satire oor klas, ras en gierigheid. Rushdie vat dit verder en doen dit beter. Ons is nou in die era van gender-kwessies (performing gender, Judith Butler) en wêreldonrus.

Die verwysingsveld is ryk. New York as ‘n mikrokosmos waar ‘n Akhmatova-digbundel in Columbuspark vergeet word met Sjinese wat kaartspeel, rig die teks verder. Silence of the Lambs is hier, nes the Hunt for Red October.

Almal vind ‘n tuiste hier: tog bly ‘n mens ‘n ekspat wat murmureer:

The past is a broken cardboard suitcase full of photographs of things I no longer wish to see (89).

Die magistrale storieverteller Rushdie laat egter nooit dat sy slimmighede ‘n leesversperring raak nie. Hy kan argetipiese patrone raaksien in die wêreld waarin ons ons bevind. Hy verduidelik aanneemlik hoe die Baba Yaga funksioneer.

Terrorisme teenoor die gender-sone. Daar word verwys na die “melancholy void”, die ongeneesbare wond wat New York geword het. MTF en FTM, gender fluid, bigender, agender, trans, genderqueer (73) en ‘n sydelingse opmerking dat omdat ons so onseker is, word die spel met identiteit alles.

In ‘n briljante vinjet boots ‘n hijra (eunug) Michael Jackson na in Moembaai (102). Alles word nabootsing, net die oorspronklike pyn is outentiek. ‘n Beskrywing van genderverandering word raak beskryf.

In die slothoofstuk word David Cronenberg betrek. Die liefhebber van films kry ‘n roman met ‘n dubbele lading met sowel storieteks as filmteks, die sogenaamde double-entry in filmteorie. Hans Christian Andersen se kortverhaal “Die skadu”  word betrek van die man wie se skadu hom verlaat, ‘n lewe van sy eie kry, oorneem en dan die werklike man vermoor nadat hy met die prinses getrou het, word die donker ondergrond van die vertelling …

Sheppey (1933) van Somerset Maugham oor die afspraak met die dood wat die man besoek en dan wegvlug juis in sy dood in, word ook betrek. Bollywood, die mockumentary, Batman …

Met Vasilisa wat hierdie babushka van ‘n roman simboliseer: ‘n poppie binne-in ‘n poppie.

Wat vertelling, wat ‘n boek.  ‘n Verfilming van die roman met Al Pacino in die rol van Nero met Casey Affleck as die jong filmmaker-verteller …


Met Woody Allen as regisseur.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

No comments:

Post a Comment