Bladsye / Pages

Saturday, September 23, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot. ’n Brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel II

Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  II

In hierdie ryke versameling van briewe, staan ons vervolgens stil by ‘n paar briewe wat vir hierdie leser tot nadenke gestem het. Elize Botha was ‘n gespreksgenoot vir vele uiteenlopende mense binne die literatuur. ‘n Jong M.C. Botha vra haar om raad en sy gee dit. Sonder omhaal van woorde – met respek vir sy werk wat sy toe reeds eien as besonders. In hierdie briefwisseling beleef die leser persoonlike krisisse wat nie by die naam genoem word nie, maar wat die jong M.C. optel. Elize wens hom voorspoed toe met sy voorgenome huwelik en drink vele glasies op hom.

Waarskynlik is die briewe van Jeanne Goosen stukke waarna ‘n mens by herhaling gaan terugkeer. Dis vintage-Goosen, huiwerend tussen surrealistiese waarnemings en suiwer poësie.

‘n Mens huil van die lag oor die verhaal van ‘n man wat by gebrek aan aas met ‘n liddoring vis vang!

Hierdie is ‘n inloer in Goosen se kreatiewe denke. ‘n Mens sien byvoorbeeld hoe sy Om ‘n mens na te boots gekonstrueer het. Waarnemings wat deur die fantasie omgetower word.

“‘n Mens is darem vreeslik absurd – dis nou as jy nie die slag ‘n mens naboots nie.”

Sy vertel van haar vleuelklavier (en Goosen kon vertolk) wat haar verwyt, omdat sy nie meer op hom speel nie (570). Sy voel sy is nie opgewasse vir hom nie.

Hierdie briewe is tydsdokumente. Koos Prinsloo skryf oor Jonkmanskas en van die grens af. Hierby is daar ‘n brief ingesluit van Victor Munnik. Ons verneem van die tragiese dood van Helena Stark – ‘n karakter in ‘n Prinsloo-verhaal – en van Renske Koen se ongeluk, ‘n hartsvriendin van Elize Botha. Vir my ‘n stuk ellende wat hier onverwags terugkeer, omdat ek die vooraand van hul dood by hulle gekuier het en die volgende dag in die koerant dit op straat gelees het …

Hieroor skryf ek ‘n gedig in Bitterlemoene.

Stephan Bouwer se rou brief aan haar – die rou dinge waaroor ‘n mens net kan stotter (601).

Nog ‘n skrywer wat “tannie Elize” skryf, is Fanie Naudé wat vanuit Londen as buitestaander kommentaar lewer op Bram Fischer en die taalbeleid. Hy staan krities teenoor Chris Brink se taalbeleid (598).  En hoe ironies klink sy woorde op in dié brief: Alhoewel, wie weet, as ek eendag vir ‘n ruk die geleentheid kry om behoorlik te konsentreer op skrywe, kan ‘n mens dalk tog iets daarvan maak” (600). Ek sou wat wou gee om Elize Botha se hantering van die Walter Benjamin-gegewe in die manjifieke Die derde spoel te lees!

Ons sien o.a. hoe komplimenterend is Leroux oor haar raaktasting van Onse Hymie en die aard van die entertainment en satire (via Graham Greene).

In latere jare was dit dan ook een van my verskilpunte met Elize Botha, oor die komplekse voertaalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch. Maar vriendskappe moet verskille en anti-teses kan akkommodeer. Ek onthou ‘n besoek aan haar in die hospitaal, sowat ‘n tweejaar voor haar dood. Ons het toe sterk verskil.

Sy bedank vriende deurgaans vir ondersteuning – soos die uitgewer Marietjie Coetzee – en in ‘n brief aan Heilna du Plooy (608) word ‘n brief ‘n meta-refleksie oor presies dit wat hierdie boek doen: die insameling van perspektiewe en verskillende benaderingswyses …

Tussendeur is daar skrywers wat na vore kom: Margaret Drabble, Anita Brookner, Seamus Heaney …

Op ‘n keer het Elize Botha ou uitgawes van Times Literary Supplement en New Yorkers vir my persent gegee – wat ek steeds bewaar …

Hennie Aucamp word telkens erken as ‘n rigtinggewer: “Terwyk ek lees het ek weer só sterk ervaar hoe begunstig ek deur baie jare was, om in voeling te kon bly met jou werk en denke, hoe rigtend en inspirerend dit in my voortgewerk het”(633).

Dis dan ook Aucamp wat raaksien dat die essay by uitnemendheid Elize Botha se uitdrukkingsvorm is!

Onvoltooide gesprekke, maar genadiglik gesprekke wat deur ‘n kundige en fyn leser soos Heilna du Plooy versamel is.

Die boek sluit dan af met ‘n kort nota van Hennie Aucamp op 7 November 2007:
Liewe Elize
Ek stuur gedagtes en gebede na jou toe uit. Jy was dikwels die sentrum van die groot gebeurtenisse in my lewe, en hiervoor sal ek jou altyd dankbaar bly. Hennie
© Joan Hambidge