Bladsye / Pages

Tuesday, August 15, 2017

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink (2017)

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink. Jonathan Ball, 2017. ISBN 9781868428038

Resensent: Joan Hambidge

Daar was mos eers die Weduwee Viljee en nou die Weduwee Brink, korswel 'n vriend. Hierdie memoir is 'n aangrypende verslag van liefde én verlies. En die impak wat lees en skryf op 'n skrywer se gemoed het.

Die manuskrip het 'n draai gegooi, eers by Penguin en nou by Jonathan Ball. Diegene wat tussen die reëls kan lees, sou in die vele onderhoude en voorafpublisiteit 'n versuurde verhouding opgetel het by 'n uitgewershuis. Maar kom ons laat dit daar. (Soos die interpretasie van die Rabie/Wallace-beurs en die vark en hoenderhen in Philida. Mevrou Brink skets 'n liefdevolle prentjie van haar eggenoot, wat soms nie onwennig kon wees vir 'n katterige obiter dictum nie. Jong skrywers is afgeransel in een paragraaf; die grote Karel Schoeman verniel. Maar sy is kennelik nie ingelig oor 'n lang letterkundige voorgeskiedenis nie. Gaan lees maar Vlam in die sneeu en kyk wat hy oor vriende geskryf het; sidderend erg oor Chris Barnard.)

Die memoir bevat twee foto's van die uitsonderlike fotograaf, Antonia Steyn, wat nou onlangs by die Woordfees skrywers en kunstenaars op tentoonstelling gehad het. Die foto van Karina Brink is weerloos met oë wat afkyk; teenoor die agterbladfoto langs haar minnaar, eggenoot en mentor, André P. Brink. Dit was indertyd op die voorblad van Insig en sy bely haar liefde en bewondering vir hierdie man en maak kwetsende aannames af oor hoe sy hom as 'n "meal ticket" sou sien. Uiteraard is die klein poeletjie van die letterkunde genadeloos en venynig oor 'n verhouding tussen 'n ouer, beroemde man en jong meisie.

Wanneer 'n mens dit as 'n memoir oor verlies benader, is dit 'n besondere teks. En dit is jammer dat dit op die internet as 'n skinderteks bemark word. Dit vertel hoe die sensitiewe jong Poolse meisie verlief raak, haar siening van taal, hoe 'n skrywer wat jy bewonder jou lewe kan verander, die impak van Nadine Gordimer op háár lewe as navorser, ensomeer.

Sy erken haar weerloosheid in die teks en sy bely sonder skroom: "And this is even in the world that is open and free, and the only censorship you are in danger of is your own" (60). Sy wys op die taal van smart ("unknown language", 95) wat jou eie taal onbevoeg maak. Die afdeling Grief is waarskynlik die sterkste afdeling in die boek. "In writing, I'm exorcising the demons of my past" (21) en sy verwys na die nomadiese bestaan: Pole, Oostenryk, VSA, Wallis ... op vlug - om politieke redes aanvanklik; later om verder te studeer. Sy skryf oor haar ouers, hul foute én bates, haar broer, haar lewe in 'n nuwe land sonder haar eggenoot en in 'n huis nou met 'n welige tuin ...

Vriende wat sy gemaak het en die ondersteuningsnetwerk na Brink se dood, kom boeiend aan bod, soos die gesprekke met voormalige Mevrou Brinks en Brink se kinders.

Daar word geskryf oor liefdesverraad na Brink se dood en oor 'n inbraak en motorongeluk. Daar is 'n intense besef dat sy nalatig is weens die trauma.

Niemand is meer bedrewe om agter woorde te skuil as juis 'n skrywer nie (15); tog skil sy die verskillende lae van haar bestaan af vir die leser wat sien hoe sy pyn en verlies navigeer. Met hierdie boek lewer sy bewys dat sy wel kan skryf. Hierdie kritikus was minder entoesiasties oor haar debuutroman, Invisible Others (2004) as hierdie memoir wat in 'n sirkelgang beweeg. Jy weet reeds die man is oorlede en alles stuur af op daardie onafwendbare slot, die dood van Brink op 'n KLM-vlug.

Dit is 'n teks wat saampraat met Clarissa Pinkola Estés se 1992 publikasie Women who Run the the Wolves (kyk hier spesifiek na die ongesnoeide tuin en die gesprek met die dooies.) Wat hierdie boek ook duidelik bewys, is dat herinneringe en 'n sterk verbintenis ná die dood van 'n geliefde bly voortbestaan (The Faithful Gardener: A Wise Tale About that Which Can Never Die, 1996).  Sy skryf immers: "Love and gratitude to those who know the Karina who runs wild with snow leopards."

'n Boek van oorgang en liminaliteite. Letterlik oorgange van ruimtes om bymekaar te wees en later dan die opposisie tussen lewe en dood.

Dit is 'n teks wat 'n mens lees om die eerlikheid en dit behoort vir almal wat in 'n traumatiese aflegging beleef het, van raad te bedien. Daar word gekyk na Brink se siekte en sy gebrek aan selfvertroue teen die einde. En vir die Brink-aanhangers is die teks eweneens van verdere belang. Sy liefde vir lees, sy gewoontes, sjokoholisme, aanhanger van Anna Netrebko word weergegee.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)