Bladsye / Pages

Wednesday, August 9, 2017

Resensie | AWS (2017)

AWS – Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Pharos, 2017. ISBN 9781868902071.

Resensent: Joan Hambidge

Waar begin 'n mens om so 'n belangrike teks te resenseer? Dit is die 11de omvattend herbewerkte uitgawe - met 'n stieker wat 100 jaar aandui op die titelblad.

By die bekendstelling was Magdaleen Krüger van RSG in gesprek met twee taalkenners. RSG doen geweldig baie om Afrikaans in 'n taalprogram op 'n Sondagoggend by luisteraars uit te bring.

Taalliefhebbers bely dikwels dat hulle woordeboeke of grammatikaboeke lees vir die plesier. Hoe dan anders! Ons kan nie bestaan sonder woordeboeke of aanwysings nie. Die monnikewerk van Ernst F. Kotzé se Afrikaans/Japannese woordeboek (2016) verdien al die erkenning en lofredes denkbaar.

Met die skryf van hierdie bespreking lees ek 'n onderhoud op die Versindaba webwerf waar die onderhoudvoerder praat van "Watter kragtoer!" in plaas van "Wat 'n kragtoer!". Nou sal Gerhard van Huyssteen, 'n goeie rubriekskrywer, waarskynlik meen dis die spreektaal se impak op die meer formele segswyse. Met die bekendstellingsfunksie het hy ook gewys op aanpassings en hoe woorde opgeneem word. (Huidiglik, daardie liederlike Naas Botha-isme, is nog nie aanvaar nie. En dit sal gelukkig ook nie gou gebeur nie, vertel Gerhard van Huyssteen. Taalkenners staan dit teen.)

"Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom," staan dit opgeteken in die 1917 AWS.

Nou het ons 'n woordelys met meer as 34 000 woorde, 'n bylae (nuwe afdelings oor geldeenhede, Plekname in die Ooste, elemente in die periodieke tabel, die SI-stelsel, o.a.) met nuwe reëls oor leestekens en trappe van vergelyking.

Die handleiding is lesersvriendelik uitgegee.

Die voorwerk (met historiese oorsigte) is goud werd.

Daar word gekyk na 'n paar belangrike (wel ten minste, vir hierdie leser) kwessies. Soos die gravisteken ('n nagmerrie vir die nie-moedertaalskrywer) en leestekens.

En elke dosent se nagmerrie: skryfwyse (los of vas) en jong studente se hebbelikheid om eerder los as vas te skryf. En die komputer word altyd die skuld gegee.

Ons sal hierdie probleem gou kafloop (197). En nie kaf loop nie. (Daar is 'n volledige lys op bladsye 201 - 202).

Dus die hele kwessie van betekenisverdigting.

Wyle Johan Combrink was een van my besielende dosente in die taalkunde aan die US wat belangrike taalreëls so eenvoudig, dog helder kon tuisbring.

Hy het nie taal doodgemaak nie. Inteendeel. Jy kon as letterkunde-student 'n opstel skryf oor 'n letterkundige kwessie wat jy taalkundig moes begrond.

Oor gemoedelik lokale realisme, byvoorbeeld. Of is ek nou gemoedelik-lokaal-realisties?

Modale werkwoorde kry nie 'n ge- nie: Jy het 'n tekening kon maak (226).

'n Mens glimlag lekker vir die begrip McLachlanisme (Tom-die-taalkenner!) op bladsy 175 en ja, die ellipsteken (beletselteken) word met drie stippels aangetoon: ...

Die tameletjie van leenwoorde is ook hier. Ons praat van soesji, geisja of kibboets wat Afrikaans word. Ander woorde behou sowel die "vreemde" as Afrikaanse spelwyse: colloquim of kollokwium; crux of kruks; chronologies of kronologies (237).

Waar ek wel verskil: schadenfreude (leedvermaak of ellende-applous - my woord) of zeitgeist moet eerder met 'n hoofletter geskryf word in navolging van die Duits (236). Bildungsroman (nie bildungsroman) anders lyk dit of jy nie Duits ken nie.

Inkortings gebeur onder die invloed van spreektaal: mezzosopraan word mezzo; palmboom word palm; faksimilee word faks; asseblief word seblief of 'seblief (233).

Goed om te sien daar staan selfdood opgeteken eerder as die aaklige selfmoord (485). Mag ons koerante en boeke dit ook hul eie maak.

'n Ongelede woord is 'n simplekse woord – aldus die handige terminologielys.

Dit is 'n handleiding wat teen grootdoenerigheid gekant is.

Dit is 'n boek wat elke taalpraktisyn, resensent, skrywer, dosent of onderwyser behoort aan te skaf.

Die leser word vinnig van raad bedien.

Iets om oor na te dink: 'n woord uit 'n ander taal wat anders gespel word as in die oorspronklike, kry soms in die informele tekste 'n geurtjie van humor, spot, vermindering, platheid. Soos baisiekel. Of fakala stryt.

Sommige begrippe word net gedeeltelik ver-Afrikaans:

boots en all
fair en square
finish en klaar
gecollar en getie
gepoeier en gepaint (708)

Dit is 'n seksie boek met baie seksies vir die aanhanger van die sekstet of sekstant, wat sektaries is oor skryf.

Verpligte leesstof. En die handleiding werk. Anders as met daardie aanwysingspamflette vir 'n kamera wat jy besef: dis letterlik uit die Japannees vertaal na Engels en hierom maak dit nie sin nie. Dan gaan lees jy maar Ernst se woordeboek.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)