Dit bly ‘n tersaaklike vraag:
mag die resensent geresenseer word? Mag daar repliek wees?
Die volgende brief van dr. Johan
Brink reageer op my bespreking van Multivers van Hennie Smith en lui as volg:
I.
Resensie wys Hambidge het g’n benul van wetenskap
Deur Dr. Johan Brink,
Equestria 28 Februarie 2017 04:00
Kan resensente geresenseer word?
Ek hoop so, want dit kan die
vlak van die letterkundige debat verhoog.
Ek is ‘n gereelde leser
van Beeld. Ek geniet ook van tyd
tot tyd poësie. Dus waardeer ek die resensies wat in Beeld en ander
Media24-koerante verskyn.
Onlangs het ek op die
digbundel Multivers deur
Hennie Smith afgekom. Aangetrek deur die titel het ek geblaai, gekoop en
gelees: meegevoer!
Was my verbasing groot toe ek 13
Februarie in Beeld sien dat
Joan Hambidge hierdie bundel bespreek.
Die resensie maak groot gewag
van die sewewoord-aanhaling uit Archibald MacLeish waarmee Smith die eerste
afdeling van agt gedigte inlei. Die resensent wys aan die leser dat sy baie
weet van MacLeish en dui vir die leser selfs sy geboorte- en sterfjaar aan.
(Van watter belang is dié data?)
Johann Wolfgang von Goethe, olieverf deur Joseph Karl Stieler, 1828
Die tweede van drie afdelings,
bestaande uit 30 gedigte, word ingelei met ‘n aanhaling uit Goethe se Faust:
‘Das Ewig-Weibliche / Zieht uns hinan’. Hierdie gedigte raak talle aspekte van
die manlik-vroulike interaksie met skakerings van emosies aan. Van hierdie
aanhaling meld Hambidge niks. Ken sy nie Goethe se geboorte- en sterfdatum nie?
Verstaan dalk geen Duits nie? Of is sy totaal ongevoelig vir die
manlik-vroulike interaksie?
En dan die skokkendste
waarneming: sy het geen benul van die wetenskap nie.
‘n Gedig soos “Klippe roep” vang
die totale ontstaan van die kosmos vas van die oerknal af, deur al die
stadiums en onverklaarde prosesse tot by die moontlikheid van ‘n
intelligente wese agter die kosmiese proses.
Die titelgedig, “Multivers”,
begin vernuftig met: Uit ‘n gedagte-knal / ‘n singulariteit van denke...
Hierdie beelde eggo die ontstaan
van die kosmos met die oerknal wat uit ‘n wiskundige singulariteit ontspring.
In die tweede laaste reël suggereer die digter dat sy multivers vir singuliere
denke bedoel is: dus vir sonderlinge intellek. Hambidge kelder haarself deur te
wys dat sy nie oor hierdie begripsvermoë en kennis beskik nie en soek “lekker
Afrikaanse woorde”! En dan kyk sy om na waar sy meen ondersteunende plebs wag: “Nie
waar nie?”
My eie lees van Hambidge se
bundel Meditasies toon vir
my mooi eenvoudige skrywery oor trivialiteite. Ek begryp nou beter waarom dr.
Tom Gouws onlangs in sy resensie van Hambidge se werk geoordeel het dat daar
uit talle bundels weinig verse is wat vermelding verdien.
Hoe kan Media24 so ‘n onbevoegde
persoon met beperkte woordeskat, begrip en poëtiese gevoeligheid gebruik om
nuwe publikasies te resenseer? Kom ons maak ons denke oop en merk dat die
gewaande keiser liederlik kaal is.
Ek sal nooit weer iets van
hierdie persoon lees nie en sal in die toekoms erg krities na resensies van
letterkundige werke in Beeld en
sy susterkoerante kyk.
Joan Hambidge, foto deur Naomi Bruwer
II.
Ek het reeds kortliks hierop
gereageer op die skrywer van Equestria (nie Pegasus nie), maar weens ‘n gebrek
aan ruimte, gaan ek vollediger in op dr. Brink se besware. Hy is van mening dat
ek “onbevoeg” is om te resenseer en beskou die gewaande keiser as liederlik
kaal.
Van wetenskap sou ek niks weet
nie en ek “soek lekker Afrikaanse woorde”.
As hy oplettend gelees het, sou
hy ‘n vraagteken gesien het na my opmerking. Die gebruik van hierdie soort
wetenskaplike woorde in ‘n teks, werk moontlik in ‘n wetenskaplike handleiding;
bepaald nie in ‘n vers nie. “Singuliere denke”? Koaguleer se Engels is “clotting”.
Stol? Klont?
Dalk ‘n beter Afrikaanse woord;
ek vra maar net.
Groter digters - soos T.T.
Cloete - moes al hiervoor kritiek ontvang. (Smith se endnote is wel handig vir
die speurende leser).
Archibald MacLeish
‘n Motto in ‘n bundel is ‘n
belangrike wegwyser, sowel tematies as tegnies: hiermee word ‘n bundel geplaas
binne ‘n bepaalde denkwêreld. MacLeish se beroemde ars poetica ondermyn myns
insiens dit wat Smith doen:
Ars Poetica
deur Archibald MacLeish
A poem should be palpable and
mute
As a globed fruit,
Dumb
As old medallions to the thumb,
Silent as the sleeve-worn stone
Of casement ledges where the
moss has grown—
A poem should be
wordless
As the flight of birds.
*
A poem should be motionless in
time
As the moon climbs,
Leaving, as the moon releases
Twig by twig the night-entangled
trees,
Leaving, as the moon behind the
winter leaves,
Memory by memory the mind—
A poem should be motionless in
time
As the moon climbs.
*
A poem should be equal to:
Not true.
For all the history of grief
An empty doorway and a maple
leaf.
For love
The leaning grasses and two
lights above the sea—
A poem should not mean
But be.
Die plasing van hierdie digter
se geboorte- en sterftedatum verwys na die modernisme, ‘n gedig wat dus in die
tradisie van Wallace Stevens, op sigself inbuig.
Groot navorsers het al by
herhaling uitgewys hoe Stevens se verse werk met die idee van ‘n geskape
universum en dat die vers volgens sy reëls getakseer moet word.
Inderdaad het ons hier in Multivers ‘n fisikus aan die woord, maar
veral die liefdesverse kom nie die mas op nie. Duits ken ek en binne die
woordbeperking van ‘n resensie (800 woorde) kan ‘n mens nie by alles stilstaan
nie. ‘n Resensie is ‘n eerste reaksie.
En al is ek gay, kan ek ‘n
heteroseksuele vers beoordeel. ‘n Mens hoef nie lesbies te wees om te weet dat
Carol Ann Duffy se Rapture (Picador,
2005) briljante verse is nie!
Tom Gouws
Vir die rekord: Tom Gouws het Indeks geresenseer in Beeld, nie Meditasies nie. En dr. Brink se opmerking: “My eie lees van Hambidge se
bundel Meditasies toon vir my mooi eenvoudige skrywery oor
trivialiteite. Ek begryp nou beter waarom dr. Tom Gouws onlangs in sy resensie
van Hambidge se werk geoordeel het dat daar uit talle bundels weinig verse is
wat vermelding verdien”, verwys na die mening van ‘n kritikus, sélf digter, wat
boonop skerp reaksie uit talle oorde ontlok het. Trouens, enige digter moet
kritiek kan hanteer - dis deel van die groeiproses.
‘n Digter het op Versindaba
verwys na die panteon van die Afrikaanse letterkunde wat hom ‘n volstruisskop
toegedien het. Hy vergeet kennelik van sy resensie o.a. oor Leon de Kock en sy “geestesgoedere”!
Daar is min ingeligtes wat
bereid is om te resenseer. Dit staan dr. Brink vry om kritiek te lewer, op
voorwaarde hy kan vir ons vertel wat die verskille tussen modernisme
(postmodernisme) is.
Gaan lees gerus die volgende: A Brief Guide to Modernism | Academy of American Poets.
Onthou die uitspraak: nie die
idee nie, maar die ding self.
Dit val op dat hy niks sê oor
die sketse in die bundel nie.
III.
My oorspronklike resensie in Beeld:
Hennie Smith – Multivers (Beeld). Naledi, 2016. ISBN:
978-0-928316-64-3)
Harttog van ‘n lewensloop
Naledi bemark hierdie bundel
soos volg: “‘n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie.
Hier is ‘n bundel wat die grense van dig-denke roer en ver¬breed.”
In hierdie dae van sterk debute,
met sowel konvensionele digkuns (Hendrik J Botha en Juanita Louw) as
anti-digkuns (soos Bibi Slippers), is hierdie bundel nie ‘n “verbreding” nie.
Die digter gebruik verder
tekeninge om die gedigte te versterk. Hierdie tekeninge van Mimi van der Merwe
gee iets naïefs weer.
Soms is daar ‘n bekoorlike beeld
of ingryp, maar as debuut - soos dit hier staan - is dit nie oorredend as
digkuns nie. Die digter verken die “stof, ster en plante” van die “geskape
Univers” en sy bundel se titel is ontleen aan die fisika.
Afrikaans het wetenskaplikes,
dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar teen hierdie geesgenote klink die
bundel maar yl op.
Die mooiste verse is dié wat oor
die natuur handel, soos “Winterwitstinkhout” (95):
Die witstinkhout staan stom
tas met dun vingers
die leë dae om
‘n swart-en-wit fiskaal
wag roerloos
weldra sal broos lewe
deur die takkie-are kom.
In die eerste afdeling word die
bekende (en ontglippende) uitspraak van Archibald MacLeish aangehaal: A poem
should not mean / But be”. Dit is egter
die konklusie van die verruklike vers van hierdie Amerikaanse digter wat alles
sluit : “A poem should be wordless / As the flight of birds”. Overgesetsynde,
die tegelykertydsaspek waar beeld en gedagte één word op papier. Macleish, ‘n Amerikaner (1892 – 1982), was ‘n
modernistiese digter waar die geslote, outonome eenheid van die vers beklemtoon
word, eerder as die buite-wêreld. En dit ontgin Smith dan in die eerste
afdeling in die soeke “in nuwe vorme van lewe” (5) en in die gedig “Woordskig”
(7) lees ons:
Tref ‘n voël
in sy vlug
pen hom trillend vas
op wit papier
waar die rooi merke
stadig stol
bleik tot blou.
Die tweede afdeling (“Ewige
Vroulikheid”) handel oor die liefde, daardie allermoeilikste onderwerp vir die
jong digter, wat immer gepootjie word deur die Abstraksie en reeds-geskryfde,
wat nuut beskryf moet word. Die digter gebruik beelde uit sy wêreld om dit te
beskryf, soos in “Gravitasiekolk” (27) waar swaartekrag, galakties, inspiraal,
ensomeer die liefdesdaad beskryf. Die meeste liefdesverse kom hier nie verby
die geykte nie.
Die derde afdeling heet “Woelende
Woorde” - met verwysings na Dante wat in gedigte ontgin word - maar nie sterk
genoeg na vore kom nie.
Daar is gedigte vir die
geliefde, vir die ouers, vir ‘n kind, vir vriende; wat net by die persoonlike
en intieme bly en nie oortuigend vers word nie. Dalk moes dit maar net vir
hulle versend gewees het.
“Château Ligeon” is ‘n Franse
vers. Gesprekke met die mitologie, Helena, Héloise (wat ‘n mens terugneem na
Sheila Cussons se verruklike vers.)
In die woordverklarings word die
konsep “multivers” verduidelik as die samehang van die univers wat deur
wiskundige “wette” beskryf word. Daar is in elke formule ‘n konstante wat
toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.
Dieselfde geld die digkuns. Ook
hier bestaan “oneindige aantal universe” - die anti-digter se afbreek van reëls
bevestig die bestaan daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.
En waarom tog praat van “singuliere
denke”? Of “woorde wat koaguleer”? Daar
is immers lekker Afrikaanse woorde, nie waar nie?
Die digter is soms buite sy
boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van die fisika reg klink, maar in die
gedig trek dit negatiewe aandag.
En die ars poetica van MacLeish
illustreer al hierdie wetmatighede, soos Cleanth Brooks se “well wrought urn”.
Die goeie gedig steek sy bouwerke weg; bly in jou naklink soos daardie
vertrekkende voëls. Macleish was ‘n uitsonderlike talent binne die Modernisme.
Van “vers-ekstase” is hier
helaas, jammer genoeg, min sprake. Te veel harttog, te min hartstog.
Die bundel word deur Naledi
gelys as ‘n topverkoper, wat helaas nie ‘n werklike prestasie is nie. ‘n Groot
digter soos Wilma Stockenström is nie ‘n verkoper nie, maar haar
gedigte-as-gedigte bly bakens binne ons letterkunde.
© Joan Hambidge is professor in
Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.