Erns Grundling – Elders. Queillerie,
2017. ISBN 9780795801341
Resensent: Joan Hambidge
Die subtitel van hierdie reisverslag heet: My 1 025 km te voet langs die Camino. Die bekende joernalis vir Weg, Erns Grundling, vertel van sy
staptog langs die beroemde Camino.
Verskillende skrywers het al oor hierdie staptog geskryf en Pienkes du
Plessis se boek hieroor is ook pas uit. Verskillende mense sal dit dus anders
ervaar. So het 'n vriend van my ook gestap, maar saans in 'n duur hotel oornag,
omdat hy nie kans gesien het vir die oorvol, raserige herberge nie.
Dit is ‘n genoeglike boek. Die skrywer – oorgewig en met ‘n gebroke hart –
vertel hoe hy vir oulaas ‘n bydrae vir Weg
moet skryf. Hy sukkel om dead-lines te haal en hierom moet die laptop vir
oulaas saam. Inderhaas skryf hy die dodelike laaste bydrae en versend die
laptop (en selfoon) na ‘n vriendin in Parys sodat hy kan detoks van die
internet-verslawing.
Om sake verder te kompliseer, het hy ‘n beseerde knie en is ook op die koop toe met slaapapnee gediagnoseer. Sy gesnork binne so 'n gedeelde slaaparea, kan die poppe laat dans.
Die leser word met elke moontlike besonderheid gekonfronteer van wat jy
eet, hoe jy slaap en klere was. (Dus 'n oënskynlik handige gids).
As deurwinterde joernalis vermaan hy homself om weg te bly van clichés,
maar as hy dit gebruik, parodieer hy dit.
Die vertelling het vele ander tekste wat saamstap: Brink, Hemingway,
Leonard Cohen, Paulo Coelho (The
Pilgrimage, veral), o.a. en omdat dit sy pelgrimstog is, word sy siening
van godsdiens / spiritualiteit weergegee. Hoe hy as kind byvoorbeeld sy hele
Nirvana-versameling verwoes het omdat dit "duiwels" is. (Terloops,
kan ons eerder praat van selfdood, as selfmoord!)
Die boek behoort tot die sub-genre van peregrinasie-literatuur. Dit is meer as
‘n reisbeskrywing: dit is ook ‘n verslag van individuasie (daar is verwysings
na Jung), selfinsig en aanvaarding. In die woorde van James Hollis word daar
verwys na die krake in die “room beneath the floor" (die onbewuste), 28.
En die Britse psigoanalis Adam Philips: "Our lives might become a protracted
mourning for, or an endless tantrum about, the lives we were unable to live.
But the exemptions we suffer, whether forced or chosen, make us who we are”
(180). Jopseph Campbell se siening van "bliss" is ook hier (192).
'n Kernpassasie, so eerlik weergegee, staan op bladsy 195: en dit is hier
waar die leser besef hoe die skrywer sy eie stem en identiteit vind. Inderdaad
psigiese suiwering.
En dis die boodskap van hierdie boek: die lewe is dít waarmee jy jou op hierdie
presiese oomblik besig hou …
Dit is verslag (en soms hardop-dink)
van 'n jong mens wat nuut kyk na alles om hom. Maar juis hierdie aspek (soos
die erkenning dat hy nie veel geweet het van die Katolieke pelgrims en heiliges
nie) maak die boek aangrypend in sy eerlikheid.
Die Moleskine-boekie het handig te pas gekom om inligting neer te pen.
Elders verwys ook na Jeanne Goosen se Elders aan diens. En daar is 'n motto
uit Goosen se 'n Uil vlieg weg.
In die oomblik. Die skrywer bly binne in die ervaring; hy is nooit in xibipio (168) nie. Daar word vorentoe gestap
(letterlik), maar tegelykertyd terug-in-die-onthou en herinneringe oor die jeug, wat helder
weergegee word.
Om in die oomblik te leef, dis die groot triek. En kyk hoe sien hy die katedraal-onder-konstruksie
en watter sertifikaat behaag hom!
Hierom verwys hy na Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed”:
Alle pelgrims keer weer huis toe
elke swerwer kom weer tuis
ek verdwaal steeds op die grootpad
soekend na U boardinghuis (294)
Hierdie kladboek-cum-reisboek is vol “mindfulness”. 40 dae en 40 nagte …
En jy hoef nie die werklike pad te gestap het om hierdie boek te waardeer
nie.
En kry hy die laptop en selfoon weer? Lees self.
(Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Fine Music
Radio geplaas.)